duimnael|links|Karl Lagerfeld in 2011 met 'n ikoniese Swartwoud-koekoekklok, ontwerp deur Stefan Strumbel Karl Otto Lagerfeld (* 10 September 1933 in Hamburg; † 19 Februarie 2019 in Neuilly-sur-Seine) was 'n Duitse modeontwerper, fotograaf, kostuummaker (onder meer vir die Milaanse operahuis Scala en rolprente soos The Sun Also Rises, Babette’s Feast, Viva le Vie en Le Général de l’armée morteartnet.de: Karl Lagerfeld. Besoek op 21 Februarie 2019) en 'n ikoon van moderne popkultuur wat as frankofiel vanaf die ouderdom van veertien in Parys gebly het. Hier het hy teen die middel van die 1950's sy loopbaan in die Franse modebedryf begin en is deur leidende ondernemings soos onder meer Balmain, Patou en Chloé aangestel. In 1965 het hy die posisie van damesmodeontwerper vir Fendi in Rome aanvaar wat hy tot en met sy afsterwe beklee het.
Sy eie klere het hy in Paryse Dior-modewinkels gekoop. Ook het hy - wat in 2000 nog 102 kilogram geweeg en Yamamoto-XL-pakke gedra het - die strenge 3D-dieet onder toesig van sy lyfarts Jean-Claude Houdret gevolg om binne dertien maande 42 kilogram te verloor - en sodoende in die befaamde Franse modeontwerper Hedi Slimane se swart pakke te pas wat vir die mode-etiket Dior Homme ontwerp is.Die Welt, 5 Desember 2017: So hält Karl Lagerfeld sein Gewicht - seit Jahren. Besoek op 13 Maart 2019 Die Yamamoto-pakke is vervolgens in Lagerfeld se tuin begrawe om enige versoeking te voorkom.Süddeutsche Zeitung, 9 Desember 2008: Karl Lagerfeld. Besoek op 11 Maart 2019 En Hedi Slimane kon vervolgens self by Houdret se lys van welvarende klante gevoeg word.
Sedert 1974 het Lagerfeld – met kort onderbrekings – damesmode ontwerp wat onder sy eie naam bemark is. Die regte vir die mode-etikette Karl, Lagerfeld en Karl Lagerfeld, wat onder meer in Lagerfeld-modewinkels in groter metropole verkoop word, is in 2005 deur die Amerikaanse modeontwerper Tommy Hilfiger gekoop.biography.com: Karl Lagerfeld. Besoek op 7 Maart 2018
In 1983 het Lagerfeld 'n kontrak as kreatiewe direkteur vir die Franse modeonderneming Chanel onderteken. Chanel, wat in besit van twee broers is (Alain en Gérard Wertheimer), het Lagerfeld lewenslank in dié pos geplaas. Die onderneming se merkwaardige herlewing gedurende die 1980's en sy groei tot 'n internasionale rolspeler in die kosmetiek- en modebedryf met 'n omset van VSA-$9,62 miljard en 'n bedryfsinkomste van $2,69 miljard in 2017 word grotendeels aan Lagerfeld toegeskryf wat jaarliks tot twintig modereekse ontwerp het. Ná Yves Saint Laurent se afsterwe in 2008 was Lagerfeld die onbetwiste Paryse - en internasionale - modetsaar. In sy latere jare het 'n reeks bybehore en t-hemde gevolg wat deur sy kat Choupette geïnspireer is.
Lagerfeld se kenmerke was sy gepoeierde wit Mozart-poniestert, stywe bordjies en 'n donker sonbril, dikwels ook swart leerhandskoene. 'n Tyd lank het hy tydens openbare optredes ook 'n handwaaier saamgeneem. Die Franse pers het na hom respekvol en as sinspeling op sy Duitse afkoms verwys as Le Kaiser de la mode, Kaiser Karl of Karl die Grote wat die modewêreld met 'n blitzkrieg verower het.Le Figaro: Karl Lagerfeld est mort : la vie et les secrets du couturier emblématique de la mode française. Besoek op 21 Februarie 2019 Vir Alain Wertheimer, eienaar van die modehuis Chanel, was Karl danksy sy kreatiewe genius, sy grootmoedigheid en sy buitengewone intuïsie sy tyd vooruit en het juis hierdeur bygedra tot Chanel se internasionale sukses.
Hy was bewus van die grondbeginsels wat Coco Chanel, rewolusionêre stigteres van die modehuis, beliggaam het: onafhanklikheid, vryheid en moderniteit.vogue.com, 19 Februarie 2019: Legendary Designer Karl Lagerfeld Has Died. Besoek op 21 Februarie 2019 As grys eminensie van die modewêreld kon hy die bedryf se reëls verbreek. Hy was een van die eerste groot modeontwerpers wat die massamark getoets het - met die bekostigbare, maar (volgens die wens van die onderneming) beperkte modereeks Karl Lagerfeld for H&M vir die Sweedse fast fashion-winkelketting H&M in 2004. Hierdie modes was binne enkele dae uitverkoop.GQ, 19 Februarie 2019: Nachruf auf Karl Lagerfeld - Die Ikone. Besoek op 21 Februarie 2019 Volgens persberigte was Lagerfeld ontevrede oor die insluiting van grootte XL by die reeks.www.rollingstone.de, 19 Februarie 2019: Karl Lagerfeld im Porträt. Besoek op 27 Februarie 2019
Ook het hy die konsep van rondreisende voorseisoen-modeskoue ontwikkel - met vertonings in Versailles; West Lothian, Skotland; Dallas, Texas; Seoel; en Havana, Kuba.vogue.com, 19 Februarie 2019 Die laasgenoemde gebeurtenis was net so opspraakwekkend soos Chanel-modeskoue in die Paryse Grand Palais. Waarnemers het opgemerk dat Lagerfeld verwagtinge eintlik nog net sou kon oortref deur 'n ekspedisie na die ruimte. En inderdaad het Lagerfeld ter geleentheid van die Paryse Modeskou in 2017 'n vuurpyl met 'n hoogte van 37 meter gelanseer.www.welt.de, 11 Maart 2017: Und bei Chanel hob wirklich die Rakete ab. Besoek op 21 Februarie 2019 Die skou van 2018, waarvoor 'n kunsmatige strandlandskap met branders geskep is, sou sy laaste groot optrede as modeskepper wees.
Karl Lagerfeld se laaste ontwerpe vir Chanel is op 5 Maart 2019 in Parys vertoon, temidde van 'n coulisse met Alpynse boukuns.WWD.com, 23 Februarie 2019: Karl Lagerfeld Cremated in Nanterre. Besoek op 24 Februarie 2019 Toekomstige Chanel-modereekse sal deur Lagerfeld se langjarige medewerker Virginie Viard ontwerp word.focus.de, 20 Februarie 2019: Mode-Legende Karl Lagerfeld ist tot. Besoek op 20 Februarie 2019 Viard, wat deur Lagerfeld as sy "geheime wapen" en sy "belangrikste persoonlikheid" beskryf is, het sy modesketse in werkbare bloudrukke vir naaisters omgesit en ten nouste vertroud geraak met die ontwerper. Viard was ook betrokke by die ontwerpe vir die modetsaar se laaste modereeks. Vroeg in Mei 2019 het sy haar eerste reeks, Chanel Cruise 2020, met die leuse Destination Chanel bekend gestel - teen die agtergrond van 'n gestileerde Belle Époque-treinstasie wat in die Paryse Grand Palais ontstaan het.Mail Online, 3 Mei 2019: Chanel models storm the Cruise 2020 runway in romantic ruffles and flirty florals as new director Virginie Viard transforms the Parisian Grand Palais into a VERY chic train station for her first show since Karl Lagerfeld's death. Besoek op 5 Mei 2019
Lewe Ouers en geboorte duimnael|Otto en Elisabeth Lagerfeld maak die geboorte van hul seun Karl Otto bekend duimnael|Sy ambisieuse moeder het Karl reeds in sy tienerjare na Parys geneem. So was sy geboortestad Hamburg eerder 'n poort tot die wêreld as 'n plek wat hy in sy latere lewe as tuiste beskou het. Sy laaste groot projek daar was die vertoning van sy Métiers d'arts-modereeks, wat vir Chanel ontwerp is, in die Hamburgse Elbphilharmonie (foto) se Groot konsertsaal in Desember 2017. Hy het, soos hy self beweer het, steeds emosioneel geraak oor die blaas van skeepshorings in Hamburg se hawe - 'n klank wat hy met sy kinderjare verbind het duimnael|Medewerkers in Lagerfeld-modewinkels betuig hul dank teenoor hul oorlede baas met plakkate in die toonvensters Karl Lagerfeld is in 'n welvarende Noord-Duitse familie gebore, maar het sy presiese geboortedatum steeds geheim gehou of beweer dit sou 1935 of 1938 wees. Die laasgenoemde geboortejaar word op Karl Lagerfeld se amptelike webtuiste genoem. Die amptelike Hamburgse doopregister gee nogtans 10 September 1933 as sy geboortedatum. Joernaliste het daarnaas die oorspronklike geboortekaartjies opgespoor wat sy ouers destyds rondgestuur het. Sy pa, Otto Lagerfeldt (1881−1967, die "t" in Lagerfeldt is later geskrap - na bewering omdat die van só meer kommersiële sukses sou belowe), was oorspronklik 'n koopman van beroep.
Karl se moeder, Elisabeth Bahlmann (1897−1978), is in Beckum, Münsterland (tans deelstaat Noordryn-Wesfale) in 'n gesiene familie gebore. Haar vader, Heinrich Maria Karl Bahlmann, was 'n distriksamptenaar. Elisabeth het 'n lewe op die platteland as vervelend beskou en as jong dame aangetrokke gevoel tot Berlyn en sy opwindende kulturele lewe. Hier is sy aangestel as verkoopster vir damesmodes, hoofsaaklik onderklere - 'n beroep wat vir haar 'n inkomste en selfstandigheid gewaarborg het.Die Welt, 7 Julie 2013: Der große Karl wird doch schon 80. Besoek op 7 Maart 2019
Op die ouderdom van 33 het sy kennis gemaak met Otto Lagerfeld met wie sy sou trou. Net soos ander jong mans in die hawestad Hamburg het Otto 'n tyd lank in die buiteland gebly - aanvanklik in Venezuela, later in San Francisco waar hy werksaam was vir die Carnation Company, 'n vervaardiger en grootskaalse uitvoerder van kondensmelk. Ná sy terugkeer na Hamburg het Otto begin om Carnation se melk in te voer. Vervolgens het hy begin om self kondensmelk plaaslik te vervaardig en onder die handelsmerk Glücksklee te bemark - 'n sake-idee wat 'n fortuin aan hom besorg het.Alfons Kaiser: Karl Lagerfeld. Ein Deutscher in Paris. München: C.H. Beck 2020, bl. 17 So kon hy vir sy vrou en kinders 'n aangename lewe met bediendes bied in 'n villa in die elegante Hamburgse voorstad Blankenese. Die Duitse weermag was een van sy klante, alhoewel hy gedurende die Nasionaalsosialistiese bewind polities nie aktief was nie.
Karl se jonger suster is in 1931 gebore en het vanaf 1957 in die Verenigde State gebly waar sy laat in 2015 oorlede is.
Lewensmaats Ná sy platoniese verhouding met die Franse adellike Jacques de Bascher (1951−1989) het hy verkies om as alleenstaande man te lewe. Hy word oorleef deur Choupette, sy geliefde Heilige Birmaanse kat (* 2011) wat oorspronklik aan die Franse fotomodel Baptiste Giabiconi behoort het en tydens 'n verblyf in die buiteland deur Lagerfeld versorg is en uiteindelik aan hom afgestaan is. Die modetsaar was mal oor Choupette wat onlosmaaklik deel sou word van sy lewe. Die kat, wat deur Lagerfeld op reise saamgeneem is, het as sy fotomodel vir advertensieveldtogte vir onder meer motorvervaardigers en Japannese kosmetika miljoene verdien en is deur Lagerfeld as "welvarende meisie" beskryf. Karl se fortuin is in 2019 op €400 miljoen beraam.VermögenMagazin, 19 Februarie 2019: Karl Lagerfeld: Das hinterlassene Vermögen des Modegotts. Besoek op 21 Februarie 2019 Alhoewel Choupette volgens Franse reg self geen erfreg het nie, sal sy na verwagting steeds deur die twee katsitters versorg word wat Karl Lagerfeld vir haar aangestel het.
Vertroudes Sébastien Jondeau duimnael|Karl Lagerfeld en sy lyfwag Sébastien Jondeau tydens die Volkswagen People's Night, Berlinale-filmfees 2008 in Berlyn In die 1990's het 'n vyftienjarige Parysenaar op 'n dag saam met sy skoonvader meubels na een van sy klante vervoer. Die klant was Karl Lagerfeld wat vir hom 'n fooitjie van 500 frank gegee het. Ná die voltooiing van sy diensplig is Sébastien aangestel as Lagerfeld se lyfwag. Later het hy ook as model vir Chanel begin werk. Jondeau sou twintig jaar lank Karl Lagerfeld se toegewyde assistent en privaat sekretaris wees wat elke dag twee uur lank met die modetsaar gekommunikeer het. In hierdie tyd was daar geen tyd vir 'n privaat vakansie of 'n aandete met vriende nie.
Afsterwe Toe Karl Lagerfeld laat in November 2018 saam met die Paryse burgemeesteres Anne Hidalgo die Seinemetropool se kersbeligting amptelik ingeskakel het, het sy onversorgde gebit met ontbrekende tande - 'n ongewone gesig aangesien die modeskepper bekend gestaan het vir sy altyd perfekte voorkoms - verbasing uitgelok. Daar is oor 'n moontlike tandbehandeling gespekuleer. Ook het vir die eerste keer in jare hy sonder sy geliefde sonbril in die openbaar opgetree. In 'n laaste video-opname vir sy aanhangers het hy kwesbaar en uitgeput gelyk.