Die NZASM 13-tonner 0-4-0ST van 1889 was 'n 13-ton Suid-Afrikaanse saaltenklokomotief van die negentiende eeu en die eerste lokomotief van die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR).
Alle NZASM-lokomotiewe is volgens hul gewig benoem dus staan hierdie lokomotief as die 13-tonners bekend.
Nadat goud in 1886 op die Witwatersrand ontdek is, ontwikkel verskeie bedrywe hier. Steenkool is in Boksburg gemyn, maar dit lê 26 km vanaf Johannesburg. Op 20 Julie 1888 kry die Nederlandsche-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij 'n toegewing om 'n spoorlyn tussen die twee stede te bou. Die spoorlyn is op 17 Maart 1890 amptelik geopen. Nadat die toegewing hersien is, is die spoorlyn uitgebrei en vanaf Boksburg tot by Springs in die ooste en van Johannesburg tot by Krugersdorp in die weste verleng.
Anders as ander spoorwegkonstruksieprojekte, moes alle toerusting deur ossewaens oor land vervoer word. 'n Monteerfabriek is in Elandslaagte (deesdae se Germiston) gebou waar die eerste NZASM-lokomotiewe saamgestel is. Ses lokomotiewe is deur die vervaardigers Maschienenfabriek Esslingen gelewer. Vyf van hulle is 14-tonners en die sesde was hierdie 13-tonner. Die 13-tonner, wat die laagste fabrieknommer gekry het, is amper dieselfde as die 14-tonners, maar het 'n kleiner steenkoolkas en 'n kleiner watertenk gehad.
Verwysings
Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika Kategorie:Treine