Brasilië (Portugees: Brasil, [bɾaˈziw], ), amptelik die Federatiewe Republiek Brasilië (República Federativa do Brasil, ), is die grootste land en ook dié land met die grootste bevolking in Latyns- en Suid-Amerika. Dit is verder ook die vyfde grootste land in die wêreld ten opsigte van bevolking en grondgebied. Dié land strek oor die uitgestrekte gebied vanaf Sentraal-Suid-Amerika en die Atlantiese Oseaan. Dié land strek die verste oos van al die lande in die Amerikas en grens aan Uruguay, Argentinië, Paraguay, Bolivië, Peru, Colombia, Venezuela, Guyana, Suriname en die Franse département Frans-Guyana. Brasilië grens inderwaarheid aan bykans elke Suid-Amerikaanse land behalwe vir Ecuador en ChiliHAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, en beslaan 47,3% van dié vasteland se oppervlak.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Brasilië duimnael|links|Sonop in die Nasionale Serra dos Órgãos-park, deelstaat Rio de Janeiro. In die agtergrond: die bergpiek Dedo de Deus («Vinger van God») duimnael|links|Kunsvolle inheemse tekstiele in die museum Memorial dos Povos Indígenas, Brasília Brasilië bevat uitgebreide landbougebiede en reënwoude. Met sy baie natuurlike hulpbronne en groot arbeidsmark is dié land Suid-Amerika se leidende ekonomiese moondheid.

Omdat dit 'n kolonie van Portugal was, is Portugees die amptelike taal van Brasilië Brasiliaanse Federale Grondwet, artikel 13 "Constituição Federal" , Brasiliaanse Regering (amptelike teks). Besoek op 17 Mei 2007. – die grootste Portugeessprekende land in die wêreld en die enigste een in die Amerikas. Die naaste Portugeessprekende land is Kaap Verde in Afrika en noordoos van Brasilië geleë.

Brasilië het die wêreld se tweede grootste Christen-bevolking na die Verenigde State (151 miljoen) en ook die wêreld se grootste Rooms-Katolieke bevolking, 'n sterk geskiedkundige band wat nagelaat is deur die Rooms-Katolieke Portugese koloniste.

Etimologie duimnael|links|Die rooi bas van die brasielhoutboom (Caesalpinia echinata) Die Portugese landsnaam Brasil het sy oorsprong in die brasielhoutboom (Caesalpinia echinata), in Portugees pau-brasil genoem, wat in bosse langs die Atlantiese kus aangetref word en deur die inheemse Indiaanse bevolking vir die vervaardiging van pyle en boë gebruik is. Die rooi kleurstof, wat uit die hout ontgin kon word en waarin mans hul liggame geverf het, het 'n belangrike rol in rituele en in oorlogstye gespeel.

In die vroeë koloniale tydperk was brasielhout 'n gesogte uitvoerproduk wat die voorindustriële Europese tekstiel- en wolbedryf van 'n karmosynrooi kleurstof voorsien het. Die hout is tot in die 19de eeu ontgin – tot so 'n mate dat die brasielhoutboom destyds as uitgestorwe beskou is. Eers in 1928 is dit herontdek in Pernambuco. Die brasielhoutboom is tans een van die bedreigde spesies in die laaste oorblyfsels van Brasilië se oorspronklike Atlantiese kusbosse, die Mata Atlántica.

Die Portugese term brasa kan vertaal word as "gloed" of "gloeiende kole"; die byvoeglike naamwoord brasil ("gloedagtig") verwys na die kleur van brasielhout – dit is helder oranjerooi in sy natuurlike toestand, maar verander ná blootstelling – sodra dit gesny word – tot 'n diep rooibruin.

Geografie duimnael|links|Topografiese kaart van Brasilië duimnael|Die Amasone se rivierloop in die tropiese reënwoud duimnael|Rio de Janeiro, die tweede grootste stad in Brasilië Brasilië word geografies deur twee groot landskapsvorme gekenmerk – die uitgebreide laagliggende Amasone-reënwoud in die noorde en die hoogplato in die sentrale gedeelte en die suide van dié land. Die laasgenoemde is 'n meer oop terrein bestaande uit heuwels en lae berge – tuiste van die oorgrote meerderheid van die Brasiliaanse bevolking en ook die gebied waar die landbou hoofsaaklik plaasvind. Langs die Atlantiese kus is daar ook verskeie bergreekse wat hoogtes van soveel as 2 900 meter bo seevlak bereik. Die hoogste piek is Pico da Neblina wat 3 014 meter bo seespieël in die Guyaanse hooglande uitstyg. Die langste riviere sluit in: die Amasone, die grootste rivier in die wêreld in terme van vloeiende watervolume en die tweede langste in die wêreld ná die Nylrivier in Afrika; die Paraná en sy hoofvertakking, die Iguaçurivier, waar die indrukwekkende Iguaçu-waterval (Portugees: Cataratas do Iguaçu) gevind kan word; die Rio Negro-, São Francisco-, Xingu-, Madeira- en die Tapajós-riviere.

Brasilië is hoofsaaklik in die trope geleë en daarom toon die klimaat baie min seisoenale veranderinge. In die suidelikste deel van Brasilië kry 'n mens 'n subtropiese gematigde klimaat, wat nou en dan selfs ryp en sneeu in die hoër dele kan ervaar. Neerslag is oorvloedig in die vogtige Amasonekom, maar daar word ook droër dele aangetref, veral in die noordooste van dié land.

'n Aantal eilande in die Atlantiese Oseaan is ook deel van Brasilië: Sint Petrus en Sint Paulus-argipel Rocas Atol Fernando de Noronha Trinidade en Martim Vaz

Die Brasiliaanse vasteland word oor die algemeen geografies in vyf kenmerkende streke verdeel: die Noordelike streek, die Noordoostelike streek, die Sentraalwestelike streek, die Suidoostelike streek en die Suidelike streek. Die Noorde beslaan sowat 45,27% van die oppervlakte van Brasilië en is ook die streek met die kleinste bevolking. Daar is min nywerheidsontwikkelinge en die streek is redelik onderontwikkel (met die uitsondering van Manaus, wat 'n belastingvrye nywerheidsone bevat). Die streek bevat ook die grootste reënwoude in die wêreld, die Amasone waar baie inheemse stamme van Brasilië woon. Die Noordoostelike streek bevat 'n derde van Brasilië se bevolking. Die mense daar het diverse kulture met sommiges wat sterk wortels het uit die Portugese koloniale tydperk en ander met 'n sterk Afro-Brasiliaanse kultuur en dan is daar ook diegene wie se kultuur deur hul inheemse Brasiliaanse Indiaanse afkoms beïnvloed word. Dit is ook die armste streek van Brasilië en beleef lang droë klimaatstoestande. Die Sentraalwestelike streek is die tweede grootste streek in Brasilië maar het 'n lae bevolkingsdigtheid. Dit is hier waar die Brasiliaanse hoofstad Brasília geleë is. Die streek bevat die Pantanal, die wêreld se grootste moerasgebied, asook 'n klein deel van die Amasone-reënwoud in die noordwestelike deel daarvan. 'n Groot deel van die streek is begroei deur die Cerrado, die grootste grasvlakte in die wêreld, wat twee duidelik onderskeibare seisoene beleef: 'n reënseisoen (vanaf Oktober tot April) en 'n droë seisoen (vanaf Mei tot September). Dit is ook die belangrikste landbougebied in dié land. Die belangrikste stede hier is: Brasília, Goiânia, Campo Grande en Cuiabá. Die Suidoostelike streek is die welvarendste en digbevolkste streek. Dit het meer inwoners as enige ander Suid-Amerikaanse land en bevat een van die grootste metropolitaanse gebiede in die wêreld, waarvan die hoofstede dié land se twee grootstes is; São Paulo en Rio de Janeiro. Die streek bevat 'n groot diversiteit insluitende die groot sakegebied van São Paulo, die geskiedkundige stede van Minas Gerais, die wêreldbekende strande van Rio de Janeiro en die hoogs aangeskrewe kus van Espírito Santo. Die Suidelike streek is die welvarendste (in terme van die BBP per capita), met die hoogste lewenstandaard in dié land. Dit is ook die koudste streek van Brasilië. Baie Europese immigrante het hulself hier gevestig, naas Portugese van die Europese vasteland en Asoreane hoofsaaklik Duitsers, Italianers en mense van Slawiese afkoms. Die inwoners van hierdie streek se kultuur toon sterk invloede vanuit dié kulture.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|Grottekeninge in die nasionale park Serra da Capivara duimnael|Kaart van die inheemse volke op die vooraand van kolonialisme Daar word geglo dat Brasilië vir ten minste 10 000 jaar lank deur semi-nomadiese stamme bevolk was voordat die eerste Portugese ontdekkingsreisigers onder leiding van Pedro Álvares Cabral vroeg saans op 22 April 1500 daar voet aan wal gesit het. Britannica, Pedro Álvares Cabral, besoek op 20 Junie 2007 Die vroegste spore van menslike lewe is in die deelstaat Piauí ontdek. Terwyl navorsers aanneem dat Paleo-Indiaanse groepe omstreeks 10 000 v.C. die suidpunt van die Suid-Amerikaanse vasteland bereik het, word die oudste menslike oorskot, wat deur argeoloë in Brasiliaanse kusgebiede opgegrawe is, gedateer op omstreeks 8 000 v.C.

Geografiese en klimatiese besonderhede is oorspronklik as rede aangevoer vir die beweerde feit dat groter, hoogs ontwikkelde beskawings met hoër bevolkingsdigtheid, vergelykbaar aan die Inka-beskawing in die Andes-bergreeks, in die Amasonebekken nooit kon ontstaan nie. So is oorspronklik aangeneem dat Brasilië in die voorkoloniale periode 'n yl bevolkte gebied was met klein groepe nomadiese en halfnomadiese bewoners – hoofsaaklik jagters en vissers. Tot 'n beperkte mate is – volgens ouer hipoteses – grond bewerk.

Meer onlangse navorsing deur Brasiliaanse en Britse wetenskaplikes van die Universiteit van Exeter in Engeland, waarvan eerste bevindings in 2018 gepubliseer is, dui egter daarop dat randgebiede in die suidelike Amasonebekken, geleë in die deelstaat Mato Grosso, deur voor-kolumbiaanse bevolkings ontsluit is vir intensiewe boerdery. 'n Stelselmatig beplande netwerk van paaie het nedersettings in 'n gebied van 400 000 km2 met mekaar verbind – as deel van 'n infrastruktuur vir 'n beraamde bevolking van een miljoen. spiegel.de, 28 Maart 2018: Amazonas – Reste von 81 alten Siedlungen entdeckt. Besoek op 8 Julie 2018 University of Exeter – Research news: Parts of the Amazon thought uninhabited were actually home to up to a million people. Besoek op 8 Julie 2018

Koloniale tydperk Portugese verkenning en vroeë koloniale beleid duimnael|Pedro Álvares Cabral land in Porto Seguro, 1500 duimnael|Antieke kaart van Brasilië wat in 1519 deur Portugese ontdekkersreisigers opgestel is Volgens die Verdrag van Tordesillas, wat deur bemiddeling van die pous in 1494 tussen Spanje en Portugal gesluit is, het die destyds nog onbekende Brasilië deel uitgemaak van Portugal se eksklusiewe belangesfeer in die Nuwe Wêreld. As 'n feitlik onbekende land was Brasilië aanvanklik van min belang vir Portugal, maar sou nogtans tot sy grootste en belangrikste kolonie ontwikkel. Oor die loop van drie eeue is dit deur die Portugese hervestig en is die houtbronne eers ontgin en later ook landboubedrywighede in die vorm van suikerriet en koffiebone gevestig en is goud ook daar ontgin. Die kolonie se mannekrag het aanvanklik bestaan uit slawe vanuit die oorspronklike boorlinge en ná 1550, hoofsaaklik vanuit Afrika. Unesco Slavery in Brazil, besoek op 20 Junie 2007

Admiraal Cabral se vloot het in Maart 1500 die hawe van Lissabon verlaat en was met dertien skepe en 'n bemanning van 1 500 die grootste wat tot dusver na die Suid-Atlantiese gebiede gestuur is. Die Portugese was van plan om hulle handelsbelange in Indië met swaar gewapende skepe teen Arabiese mededingers en plaaslike heersers te beskerm. Die ontdekking van Brasilië was min of meer 'n toeval: op 2 April 1500 het Cabral se manne naby die huidige Porto Seguro vir die eerste keer land raakgesien. Op 22 April 1500 het die Portugese voet aan wal gesit en op vreedsame Indiane afgekom, maar daar was klaarblyklik geen rykdomme in hierdie land nie. Op 3 Mei het Cabral weer seile gespan om Indië betyds te bereik.