Meksiko of Mexiko (Spaans: México, [ˈmexiko], ; Nahuatl: Mexihco, [me:'ʃiʔko]), amptelik die Verenigde Meksikaanse State (Spaans: Estados Unidos Mexicanos, ; Nahuatl: Mexihco Tlacetililli Tlahtohcayotl), is ’n federale presidensiële grondwetlike republiek geleë in Noord-Amerika. Meksiko grens in die noorde aan die Verenigde State van Amerika, in die suide en weste aan die Stille Oseaan, in die suidooste aan Guatemala, Belize en die Karibiese See en in die ooste aan die Golf van Meksiko. Meksiko strek oor ’n gebied van sowat 2 miljoen km² (sowat 760 000 myl²), is die sesde grootste land van die Amerikas wat oppervlakte betref, en die 15de grootste onafhanklike land ter wêreld. Met ’n geskatte bevolking van sowat 130 miljoen in 2024 het die land die tiende grootste bevolking ter wêreld, en is benewens die digsbevolkte Spaanssprekende land, ook die tweede mees bevolkte land in Latyns-Amerika naas Brasilië.
duimnael|links|Die Majastad Chichén Itzá op die Yucatán-skiereiland, sedert 1988 'n Unesco-Wêrelderfenisgebied Tydens die Voor-Colombiaanse tydperk, voor die aankoms van die Europeërs in die gebied van die huidige Meksiko, het verskeie belangrike beskawings soos die Olmeke, Mixteke, Tolteke, Teotihuacáne, Zapoteke, Maja, Tlaxcalteke en Asteke hier bestaan. Teen 1521 het die Spaanse Ryk met die verowering en kolonisasie van die gebied vanuit hul basis in México-Tenochtitlan begin en die Vise-Koninkryk Nieu-Spanje gestig. Met die onafhanklikheidsverklaring van Spanje op 16 September 1810 het die Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog begin, op 27 September 1821 het Meksiko sy onafhanklikheid verkry en op 28 Desember 1836 is dit deur Spanje erken. Ná die onafhanklikheidsoorlog het Meksiko sy eerste grondwet op 4 Oktober 1824 bekragtig en die huidige grondwet is tydens die Meksikaanse Rewolusie (1910–1920) op 5 Februarie 1917 aanvaar. Die oppervlakte van Meksiko is gedurende die 19de eeu met die onafhanklikheidsverklaring van die Sentraal-Amerikaanse lande en ná oorloë teen die Verenigde State van Amerika meer as gehalveer.
Die Verenigde Meksikaanse State is ’n federale presidensiële grondwetlike republiek met ’n presidensiële stelsel en ’n tweekamerparlement, bekend as die kongres van die Unie (Congreso de la Unión), wat uit die senaat van die republiek (Senado de la República) en die huis van afgevaardigdes (Cámara de Diputados) bestaan. Die land se hoofstad en grootste stad is Meksikostad, wat nie deel uitmaak van een van die 31 deelstate nie, maar sedert onlangse strukturele hervormings ’n soortgelyke status het. Die stadsregering pleit egter vir die amptelike status van ’n deelstaat.
Etimologie duimnael|links|Afbeelding van Meksiko-Tenochtitlan uit die Codex Mendoza, 15de eeu duimnael|Die Meksikaanse Onafhanklikheidsverklaring van 1821 Nadat Nieu-Spanje in 1821 sy onafhanklikheid van Spanje verkry het, is besluit om die land na sy hoofstad Meksikostad, wat in 1524 op die ruïnes van die Asteekse hoofstad Meksiko-Tenochtitlan (Nahuatl: Mēxihco Tenōchtitlan) gestig is, te vernoem. Die naam is afgelei uit die Asteekse taal Nahuatl, maar die oorspronklike betekenis daarvan is onbekend.
Mēxihco was die Nahuatl-term vir die hartland van die Asteekse Ryk, die Vallei van Meksiko, sy bevolking, die Mexica en die omliggende gebiede, wat later ’n deel van die land Meksiko geword het. Dit word in die algemeen beskou as ’n toponiem vir die Vallei, wat die primêre etnoniem vir die Asteekse Driebond geword het.
Die amptelike naam van die land is saam met die regeringsvorm verander. Tydens twee geleenthede (1821–1823 en 1863–1867) het die land bekend gestaan as Imperio Mexicano ("Meksikaanse Keiserryk"). Al drie federale grondwette (van 1824, 1857 en 1917, die huidige) het die naam Estados Unidos Mexicanos ("Verenigde Meksikaanse State") gebruik. Met die grondwet van 1824 het die land ’n federale republiek met die amptelike name Nación Mexicana ("Meksikaanse Nasie") en Estados Unidos Mexicanos ("Verenigde Meksikaanse State") geword. In die grondwette van 1836 en 1857 is die amptelike naam ná República Mexicana ("Meksikaanse Republiek") verkort, maar vir amptelike geskrifte het die langnaam steeds in gebruik gebly. Met die huidige grondwet van 1917 is die langnaam "Verenigde Meksikaanse State" weer ingevoer.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis
duimnael|links|’n Model van die Asteekse hoofstad Tenochtitlan waar Meksikostad tans geleë is duimnael|Territoriale ontwikkeling van Meksiko sedert die Onafhanklikheid van 1821 Die eerste spore van menslike beskawing is in die Vallei van Meksiko gevind en is meer as 23 000 jaar oud. Eers is mielies en bone gekweek en omstreeks 7000 v.C. het die eerste nedersettings ontstaan. In 1500 v.C. is die stad Tlatilco gestig, wat eers in die 4de eeu n.C. weer ontruim is.
Komplekse kulture het tussen 900 en 300 v.C. ontwikkel en tussen 100 en 900 n.C. het die Meso-Amerikaanse beskawings soos die Asteke, Maja, Mixteke, Olmeke, Tlaxcalteke en Tolteke ontstaan. Tydens die vroeë post-klassieke tydperk het die Tolteke Sentraal-Meksiko en die Mixteke Oaxaca oorheers, en die laagland as Maja-gebied het belangrikste sentrums in Calakmul, Chichén Itzá, Mayapán, Palenque en Uxmal gehad. Omstreeks 1500 het die Asteke in die gebied van die huidige Meksiko geheers.
Meksiko het daarmee ’n lang geskiedenis waar die Asteke en Maja onder die Amerikaanse hoogkulture van die Middeleeue in Meso-Amerika tel. Die sentrum van die Asteke was Tenochtitlan op die gebied van die huidige hoofstad Meksikostad. Die sentrum van die Maja was Chichén Itzá op die Yucatán-skiereiland. Die meeste kennis omtrent die geskiedenis van die Asteke en Maja is aan verskeie codexe ontleen.
Die Spaanse koloniale bewind
duimnael|links|Kaart van Nieu-Spanje in 1794 duimnael|Kaart van Nieu-Spanje in 1819 Met die ontdekking van die Amerikas deur Christophorus Columbus op 12 Oktober 1492 het die Europese verowering van die twee kontinente begin. Tussen 1517 en 1518 het die eerste Spaanse ekspedisies onder Francisco Hernández de Córdoba en Juan de Grijalva die Yucatan-skiereiland bereik. Die "nuutontdekte" beskawings en die rykdom aan goudvoorwerpe het die tierra firme, die vasteland, vir die Spanjaarde aanloklik gemaak.
Tussen 1519 en 1521 het Hernán Cortés die Asteekse Ryk met behulp van talle inheemse bondgenote vernietig, die gebied vir Spanje verower en Nieu-Spanje gestig. Gelyktydig het Francisco de Montejo die Yucatan-skiereiland en Pedro de Alvarado vir Guatemala verower en die laaste Majastede vernietig. Die kolonie was weens sy goud- en silwerrykdom onder die belangrikste oorsese besittings van Spanje. Oor die volgende drie eeue heen het die Spanjaarde en hul sendelinge die Rooms-Katolieke Kerk en die Spaanse taal in Meksiko gevestig.
Vanaf Onafhanklikheid tot Rewolusie duimnael|Die Republiek van Meksiko in 1824 duimnael|links|upright|Agustin de Iturbide het Meksiko tussen 1821 en 1822 as regent, en vanaf 1822 tot 1823 as keiser Augustin I regeer Ná die voorbeelde van die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring tydens die Amerikaanse Rewolusie op 4 Julie 1776 en die Franse Rewolusie op 14 Julie 1789, het die Meksikaanse Onafhanklikheidsverklaring op 16 September 1810 die Onafhanklikheidsoorlog teen die Spaanse heerskappy begin, terwyl Spanje deur die Franse besetting (1808–1814) onder Napoleon Bonaparte verswak is. Op 27 September 1821 het Meksiko onafhanklik geword en die Eerste Meksikaanse Keiserryk (1821–1823) is onder Agustin de Iturbide gestig, terwyl Spanje tot 1829 gepoog het om Meksiko te herower. Spanje het die onafhanklikheid van Meksiko eers op 28 Desember 1836 amptelik erken.
Ná die Rewolusie op 19 Maart 1823 het Meksiko ’n republiek geword, terwyl die Sentraal-Amerikaanse lande Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras en Nicaragua ook hul onafhanklikheid verklaar en die Federale Republiek van Sentraal-Amerika op 1 Julie 1823 gestig het, wat reeds op 31 Mei 1838 weer ontbind is. Chiapas is op 14 September 1824 deur Meksiko geannekseer, gevolg deur Soconusco in 1842 en Sonora op 8 Mei 1854.
duimnael|Die Republiek van Texas met geëiste gebiede In 1835 het die Verenigde State probeer om Texas en Kalifornië van Meksiko te verkry. Op 2 Oktober 1835 het die Texaanse Onafhanklikheidsoorlog begin, wat op 21 April 1836 met die onafhanklikheid van die Republiek van Texas, wat op 2 Maart 1836 gestig is, beëindig is. Tydens die Koekoorlog vanaf 16 April 1838 tot 9 Maart 1839 het Frankryk om ’n kompensasie vir ’n Franse bakkery, wat deur Meksikaanse beamptes verwoes is, geveg. Ná sentralisering van die regering is die Republiek van die Rio Grande op 17 Januarie 1840 gestig, wat reeds op 6 November 1840 geannekseer is. ’n Wyle later is op 16 Maart 1841 die Republiek van Yucatán gestig, wat ná die uitbreek van die Kasteoorlog deur die inheemse Majabevolking in 1847, militêre steun van Meksiko gesoek en ná die toestemming weer by Meksiko aangesluit het. Meksiko sou eers op 22 Januarie 1901 die hele Yucatan-skiereiland terugwen.
duimnael|links|Die Meksikaanse sessie van 1848 volgens die Verdrag van Guadalupe Hidalgo ná die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog Op 25 April 1846 het die Meksikaans-Amerikaanse Oorlog begin, wat op 2 Februarie 1848 met die anneksasie van die Republiek van Kalifornië, die gebied van die huidige Amerikaanse deelstate Arizona, Kalifornië, Nevada, Utah en die dele oos van die Rio Grande-rivier van Colorado, Nieu-Meksiko en Wyoming deur die Verenigde State beëindig is. Met die Verdrag van Guadalupe Hidalgo het die Rio Grande-rivier die huidige grens tussen Meksiko en die Verenigde State geword.
duimnael|Kaart van die Gadsden-aankoop deur die Verenigde State in 1853 Gadsden, ’n gebied suid van die Gilarivier wat vir ’n beplande, maar nie-geboude spoorwegverbinding benodig was, is op 30 Desember 1853 vir 10 miljoen VS-dollar (sowat $260 miljoen in 2010) aan die Verenigde State verkoop. Die gebied maak deel uit van die huidige suidelike Amerikaanse deelstate Arizona en Nieu-Meksiko.
duimnael|links|upright|Ferdinand Maximilian Joseph Maria van Oostenryk het Meksiko tussen 1864 en 1867 as keiser Maksimiliaan I regeer Tydens die Hervormingsoorlog is op 5 Februarie 1857 ’n liberale grondwet in Meksiko afgekondig wat die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk beperk het, waarteen konserwatiewe kragte gestry het. In die winter van 1861/62 het Meksiko in ’n skuldkrisis beland wat tot die besetting van dele van die golfkus deur Frankryk, Spanje en die Verenigde Koninkryk gelei het. Op 1 Desember 1861 het die Franse inval onder keiser Napoleon III van Frankryk begin en die Tweede Meksikaanse Keiserryk (1864–1867) met die Oostenrykse aartshertog Maksimiliaan I van Habsburg as keiser is gestig. Die Republikeine onder Benito Juárez het na Monterrey gevlug. Ná die uitsetting van Franse soldate deur die Verenigde State en die teregstelling van Maksimiliaan I is die Tweede Republiek in 1867 uitgeroep, nadat Meksikostad op 15 Julie 1867 deur Benito Juárez bevry is.
duimnael|Ligging van die Clipperton-eiland voor die kus van Meksiko In 1905 is die suidelike Clipperton-eiland beset, wat ná ’n bemiddeling van die Italiaanse koning Viktor Emanuel III in 1931 aan Frankryk oorhandig en op 12 Junie 1935 amptelik in besit geneem is.
Sedert die Meksikaanse Rewolusie duimnael|links|Rebelle-gebiede tydens die Meksikaanse Rewolusie tussen 1916 en 1920 Die lang diktatuur van Porfirio Diaz het in 1910 tot die Meksikaanse Rewolusie en sy bedanking gelei. Tydens die rewolusie is op 5 Februarie 1917 die huidige liberale grondwet ingevoer. ’n Opstand teen antiklerikale bepalings van die grondwet het tot die Cristero-oorlog tussen 1926 en 1929 gelei, maar die bepalings is eers met ’n omvattende grondwetlike hervorming in 1992 afgeskaf.
In Januarie 1917 het die Duitse Keiserryk tydens die Eerste Wêreldoorlog ’n alliansie met Meksiko teen die Verenigde State probeer smee wat een van die oorsake van die Verenigde State se toetrede tot die oorlog en die besetting van die hawestad Veracruz was.