Kalsiumglukonaat is 'n mineraal-aanvulling en medikasie. As 'n medikasie word dit binneaars gebruik as 'n behandeling vir hipokalsemie, hiperkalemie en magnesiumvergiftiging. Kalsiumaanvulling is oor die algemeen slegs nodig wanneer daar nie genoeg kalsium in die dieet ingeneem word nie, en kan gedoen word om osteoporose of ragitis te behandel of te voorkom. Dit kan ook mondelings geneem word, maar word nie aanbeveel vir intramuskulêre inspuiting nie.
Newe-effekte van kalsiumglukonaatinspuitings sluit in stadige hartklop, lokale pyn by die inspuitingspunt, en lae bloeddruk. Newe-effekte van orale kalsiumglukonaat kan hardlywigheid en naarheid insluit. Die bloed se kalsiumvlakke moet gemeet word wanneer dit gebruik word en ekstra sorg moet geneem word in diegene met 'n geskiedenis van nierstene. By normale dosisse word dit as veilig beskou tydens swangerskap en borsvoeding. Kalsiumglukonaat word vervaardig deur kalsiumkarbonaat of kalsiumhidroksied by glukoonsuur te voeg.
Kalsiumglukonaat het in die 1920's in mediese gebruik gekom. Dit is op die WGO se lys van noodsaaklike medisyne: die lys van doeltreffende en veilige medisyne wat nodig is in 'n gesondheidsorgstelsel. Dit is ook beskikbaar as 'n generiese medikasie.
Mediese gebruik
Hipokalsemie 10% Kalsiumglukonaatoplossing is die mees algemene behandeling vir lae bloedkalsium (hipokalsemie). Dit word binneaars toegedien. Hierdie vorm van kalsium word nie so goed geabsorbeer as kalsiumkarbonaat nie, en dit bevat slegs 0.93% kalsium (m/v). Daarom word kalsiumchloried eerder gebruik vir akute en ernstige hipokalsemie.
Hiperkalemie Kalsiumglukonaat word as 'n hartbeskermende middel gebruik in gevalle van hoë kalium vlakke in die bloed (hiperkalemie), maar kalsiumchloried is hier ook 'n alternatiewe behandeling. Dit word aanbeveel wanneer kaliumvlakke 6.5 mmol/L oorskry, of wanneer die elektrokardiogram (EKG) tekens van hiperkalemie wys.
Alhoewel dit geen uitwerking op kaliumvlakke in die bloed het nie, verminder dit die prikkelbaarheid van kardiomiosiete (hartspierselle), wat die waarskynlikheid van kardiale aritmieë verlaag.
Magnesiumsulfaatoordosis Dit word ook gebruik om oordosisse van magnesiumsulfaat (Engelse sout) teen te werk. Magnesiumsulfaat word dikwels aan swanger vroue toegedien om stuiptrekkings te voorkom, byvoorbeeld as gevolg van pre-eklampsie. Magnesiumsulfaat is vroeër toegedien aan swanger vroue wat vroeg in kraam gaan om hulle kontraksies te beheer of te keer, maar deesdae word ander tokolitiese medikasie met 'n hoër doeltreffendheid en beter newe-effekprofiel eerder gebruik. Oormatige kalsiumsulfaat kan toksiese uitwerkings hê, byvoorbeeld asemhalingsonderdrukking en 'n verlies aan dieptendonreflekse (hiporefleksie).
Fluoorsuur-brand duimnael|'n Buis van kalsiumglukonaat jel Kalsiumglukonaat jel word gebruik om fluoorsuur-brandwonde te behandel. Dit is omdat kalsiumglukonaat met fluoorsuur reageer om onoplosbare, nie-giftige kalsiumfluoried te vorm.
Knopiespinnekopbyte Binneaarse kalsiumglukonaat is vroeër gebruik as 'n teenmiddel vir knopiespinnekopbyte, dikwels in samewerking met spierverslappers.Pestana, Carlos Dr. Pestana Surgery Notes Kaplan Medical 2013 Hierdie terapie is egter sedertdien as oneffektief bewys.
Hartstilstand Alhoewel binneaarse kalsium in gevalle van hartstilstand gebruik is, word sy algemene gebruik nie aanbeveel nie. Gevalle waar dit nog steeds aanbeveel word sluit in hiperkalemie, hipokalsemie (wat soms die gevolg van bloedoortappings is), en kalsiumkanaalblokker-oordosis. Algemene gebruik kan egter tot swakker uitkomste lei. Waar kalsium gebruik moet word, is kalsiumchloried normaalweg die aanbevole vorm.
Newe-effekte Kalsiumglukonaat se newe-effekte is onder andere naarheid, hardlywigheid, en omgekrapte maag. Vinnige binneaarse inspuitings van kalsiumglukonaat kan hiperkalsemie veroorsaak, wat vasodilatasie, kardiale aritmieë, verlaagde bloeddruk en bradikardie tot gevolg kan hê. As kalsiumglukonaat buite die bloedvat in weefsels indring, kan dit sellulitis veroorsaak. Binnespierse inspuitings kan plaaslike nekrose en absesvorming veroorsaak.
Dit is ook al berig dat hierdie vorm van kalsium kan lei tot verhogings in renale plasmavloei, diurese, natriurese, glomerulêre filtrasie, en prostaglandien E2 en F1-alfavlakke.
Verwysings
Kategorie:Verbindings van kalsium Kategorie:Wêreldgesondheidsorganisasie se essensiële medisynelys