duimnael|Shaker-skuur met drie verdiepings in Hancock Shaker Village, Massachusetts - 'n voorbeeld van baanbrekende vernuwing deur bekwame Shaker-ambagsmanne en boumeesters. Danksy die ongewone ronde ontwerp kon 'n enkele plaaswerker 52 koeie vanuit sy sentrale staanplek in die middel van voer en water voorsien duimnael|Die skuur se interieur Die United Society of Believers in Christ's Second Appearing, algemeen bekend as Shaking Quakers, meestal kortweg Shakers na aanleiding van hul soms ietwat ekstatiese ritueel-godsdienstige danse, soms ook kort Believers genoem, is 'n charismatiese Christelike beweging wat sy wortels in 'n 18de eeuse stroming binne die Kwakerbeweging in Engeland, en, meer algemeen, in die Protestantse Hervorming en die Verligting het.
Die Shaker-gemeenskap, wat in 1747 deur Jane en James Wardley gestig is, is moontlik beïnvloed deur die Franse Kamisarde-beweging, 'n radikale stroming binne die Franse Hugenote wat sy oorsprong in die Cevennes-bergreeks het. Die Kamisarde, na wie ook as Franse Profete verwys is, het geglo dat hul spraakorgane deur 'n bonatuurlike krag oorgeneem kon word. So het hul rituele praktyke tydens kerkdienste onder meer skudbewegings, uitgelate skreeue, werwel- en ander danse en sang in vreemde tonge ingesluit. Ná die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het groepe Kamisarde hulle as godsdienstige en politieke vlugtelinge in Engeland gevestig. Hier het hulle voortgegaan om halfgeheime kerkdienste te hou, en blykbaar het ook die Wardleys in 1748 in aanraking gekom met hul geloofsbeginsels.
Die Shaker-gemeenskap se godsdienstige leerstellings is neergelê deur Ann Lee («Mother Ann», 1736–1784), 'n ongeletterde tekstielwerker wat as die tweede van agt kinders vir John Lees, 'n smid en sy vrou in Toad Lane (tans Toad Street), Manchester, Engeland gebore is.Richard Francis: Ann the Word: The Story of Ann Lee, Female Messiah, Mother of the Shakers, the Woman Clothed with the Sun. New York: Arcade Publishing 2013, bl. 3
As een van die Nuwe Wêreld se belangrikste utopiese Christelike gemeenskappe was die leefstyl van Shakers onlosmaaklik verbonde met dié van landelike Amerika. Vir hul voortbestaan was Shaker-gemeenskappe as hoogs gespesialiseerde kommunalistiese nedersettings en landbouprojekte aangewese op bekwame vaklui en landboudeskundiges wat by hulle aangesluit het. Albei leefstyle - dié van afgesonderde gemeenskappe wat saamgesnoer is deur hul geloofsoortuigings en dié van oorwegend selfversorgende landelike boerderye - het in die loop van die 20ste eeu, met die toenemende industrialisering, verstedeliking en individualisering van die Amerikaanse samelewing, hul ondergang tegemoet gegaan.
Geskiedenis duimnael|links|Lewe van die arbeidsame ShakersShaker Historical Society duimnael|links|Die godsdienstig-rituele dans van die ShakersShaker Historical Society Moeder Ann (Mother Ann) of "Ann die Woord" (Ann the Word ), soos sy deur haar volgelinge genoem is, het haar ná 'n moeilike huwelik en probleme tydens haar swangerskappe (haar vier kinders het almal op 'n jong leeftyd gesterf) in September 1758 by die Shaking Quakers aangesluit, 'n groep godsdienstig andersdenkendes onder leiding van Jane en James Wardley (alternatiewe spellings soos Wardlaw kom voor in dokumente), 'n egpaar wat as kleremakers in Bolton-on-the-Moors, 'n klein nedersetting twaalf myl noordoos van Manchester, werksaam was.. Weens haar deelname aan luidkeelse kerkdienste is sy aan godsdienstige vervolging blootgestel en het - saam met ander Shaking Quakers - selfs in die tronk beland nadat die groep met £20 beboet is weens versteuring van die Sondagsrus en nie in staat was om dié boete te betaal nie.
Na bewering het sy in dié tyd 'n reeks openbarings oor haar ware natuur ontvang. Sy en haar volgelinge het haarself vervolgens as 'n soort profeet en spirituele leier beskou wat - nadat sy die Heilige Gees ontvang het - die vroulike aspek van God se tweeledige (dit wil sê manlike en vroulike) natuur as Vader en Moeder (in teenstelling met die suiwer manlike Drie-eenheid) versinnebeeld het, en as die tweede inkarnasie van Christus (dit wil sê die verwesenliking en verpersoonliking van die Nuwe Testament se sentrale boodskap van liefde).
Deur Moeder Ann Lee se roeping en sendingwerk is 'n spirituele ewewig bereik nadat die eerste Christus, Jesus van Nasaret, manlik was.Bathtub Bulletin - Shakerism and the God Head. Besoek op 6 Augustus 2020 Ann Lee het 'n omvangryke teologiese fondament vir haar geloof ontwikkel en die selibaat as grondbeginsel van haar gemeenskap gevestig. Die wederkoms van Christus is as 'n spirituele gebeurtenis beskou wat in die harte van gelowiges plaasvind.
In verdere openbarings is aan haar die opdrag gegee om in verwagting van die Duisendjarige Hemelse Ryk te lewe en hiervoor 'n millennariese kerk in die Nuwe Wêreld te vestig. Saam met agt volgelinge het Moeder Ann in 1774 in Liverpool aan boord van The Mariah gegaan, 'n skip wat hulle na Noord-Amerika geneem het. Op 6 Augustus het hulle in New York voet aan wal gesit.
Die groep het in 1776 'n permanente nedersetting in Niskeyuna (tans Watervliet) in die deelstaat New York gestig - in 'n distrik waar net op dié tydstip 'n onafhanklike godsdienstige herlewingsbeweging tot die breë algemene publiek se belangstelling vir die klein Shaker-gemeenskap gelei het. Binne vyf jaar het duisende gelowiges by hulle aangesluit om uiteindelik in altesaam 18 utopiese gemeenskappe en onder die spirituele leiding van Moeder Ann Lee een van die mees ongewone en langdurige godsdienstige eksperimente in die Amerikaanse geskiedenis te begin.Public Broadcasting Service (PBS): About the film Hands to Work, Hearts to God. Besoek op 2 Augustus 2017
Ná Moeder Ann se afsterwe in 1784 het Elder Joseph Meacham en Eldress Lucy Wright as kerkleiers gedien en die kenmerkende sosiale organisasiestruktuur van die beweging gevestig wat voorsiening gemaak het vir selibatêre gemeenskappe van mans en vroue, huisvesting in slaapsaalagtige wonings en gemeenskaplike besit van alle goedere. Die eerste Shaker-nedersetting, wat volgens dié beginsels in New Lebanon, New York gevestig is, het as voorbeeld gedien vir die stigting van verdere gemeenskappe dwarsoor Nieu-Engeland, en verder weswaarts in Kentucky, Ohio en Indiana. In 1826 was daar 18 Shaker-nedersettings in agt deelstate.
Shaker-gemeenskappe het volgens die beginsels van pasifisme, natuurlike gesondheid en higiëne geleef. In alles wat hulle gedoen het, het Shakers gestrewe na eenvoudigheid en volmaaktheid. Volgens hul eie leuse was hul hande aan hul werk en hul harte aan God gewy. Al was Shakers ook in die Nuwe Wêreld dikwels aan godsdienstige vervolging blootgestel, onder meer vanweë hul pasifistiese oortuiging, of nadat hulle ten onregte van snaakse oortuigings beskuldig is, het die gemeenskap by tydgenote nogtans groot bewondering uitgelok vir sy modelplase, die netjiese voorkoms van sy welvarende nedersettings (wat kommunalistiese en monastiese trekke gehad het), en hul opregte optrede teenoor ander (na wie Shakers verwys het as the world's people - "mense van die wêreld"). Hul beginsel van gelykheid tussen die geslagte en rasse was radikaal en baanbrekend in die 18de eeuse konteks.
Naas sosiale en maatskaplike veranderinge, wat Shaker-leerstellings minder aantreklik gemaak het, het Shaker-gemeenskappe met hul selibatêre leefstyl - geen nuwe lede is in gemeenskappe gebore nie, groei kon net geskied deur die bekering van buitestaanders. Tydens hul bloeitydperk in die middel van die 19de eeu het Shaker-gemeenskappe tussen 4 500 en 6 000 lede getel.
Die laaste aktiewe Shaker-gemeenskap, Sabbathday Lake Shaker Village in New Gloucester, Maine, het laat in 2016 nog uit slegs drie lede bestaan. Op 2 Januarie 2017 is die afsterwe van Suster Frances Carr vermeld.Sabbathday Lake Shaker Village - News: Sister Frances Carr. Besoek op 2 Augustus 2017 Die laaste oorlewende Shakers is Suster June Carpenter en Broeder Arnold Hadd.TimesUnion, 3 Januarie 2017: Sister Frances Carr, one of last three Shakers, has died. Besoek op 2 Augustus 2017 Hulle wil graag die bewys lewer dat hul geloofsoortuigings meer is as 'n blote historiese voetnota.Smithsonian Magazine, 6 Januarie 2017: There Are Only Two Shakers Left in the World. Besoek op 6 Augustus 2020
Bydraes tot die Amerikaanse samelewing duimnael|links|Die meubilering van die Kerkfamiliehuis, Mount Lebanon, New York duimnael|Briefkop van die Shaker Seed Company duimnael|Shakers besig om hul befaamde kruie te oes 'n Groot verskeidenheid uitvindings, wat gewoonlik nie gepatenteer is nie, het voortgespruit uit die werksywer, toegewydheid en tegniese vernuf van Shaker-gemeenskappe, insluitende die skroef, babbittmetaal, 'n roterende eg, 'n outomatiese veer, 'n turbine-waterwiel, 'n dorsmasjien, die sirkelsaag en die wasgoedpen. Die tegniese uitdaging om gemeenskappe van tussen vyftig en honderd Believers van byvoorbeeld skoon klere en beddegoed te voorsien, het van meganisering 'n maklike keuse gemaak vir Shaker-nedersettings wat oor die nodige vaardighede, kapitaal en wil beskik het - so is in 1858 'n verbeterde wasmasjien gepatenteer wat in Mount Lebanon ontwikkel is. Die wetenskaplike tydskrif Scientific American het in 1860 sy titelblad aan die uitvinding gewy en na hotelle verwys wat uiters tevrede was met die masjien.Shaker Museum | Mount Lebanon: The Shaker Improved Washing Machine. Besoek op 6 Augustus 2017 Shakers was die eerste wat met hul eie onderneming, Shaker Seed Company, saad in pakkies verkoop het en was daarnaas 'n tyd lank die grootste produsente van medisinale kruie in die Verenigde State.
Hul kulturele erfenis sluit gesofistikeerde meubels en boukuns, handvervaardigde produkte, kookkuns en aantreklike musiek soos himnes en danse in. Shaker-danse en -sange maak deel uit van die Amerikaanse volkskuns, terwyl die eenvoudige mooiheid, funksionalisme, tegniese vaardigheid en bedrewenheid, wat in hul vergadersale, skure en gebruiksvoorwerpe weerspieël word, 'n blywende invloed op Amerikaanse ontwerpkuns het. As ambagsmanne het Shakers volmaaktheid bereik met hul meubels.
Om elke taak met groot sorgvuldigheid te verrig was deel van die Shakers se geloofsbelydenis. Juis hieruit het die gemeenskap se kenmerkende bou-, ontwerp- en dekoratiewe kunste voortgespruit wat op eenvoudigheid, hoë gebruikswaarde en volmaakte vakmanskap gegrond was. Hul sin vir skoonheid, netjiesheid, keurigheid, versorgdheid, presiesheid en ordelikheid vind uitdrukking in die suiwer lyne en gebrek aan oorbodige versierings van Shaker-ontwerpkuns. Shakers was baanbrekers vir die beginsel van "vorm volg funksie" wat later ingang gevind het tot die werk van argitekte en ontwerpers soos John Ruskin (1819–1900) en Louis Sullivan (1856–1924).
Organisasiestruktuur en uitleg van nedersettings: Hemel op aarde duimnael|Elke gemeenskap het oor 'n besondere gebou vir vergaderings beskik. Die foto toon die vergaderplek van Canterbury Shaker Village in New Hampshire duimnael|links|Shaker-kombuis, Hancock Shaker Village, Massachusetts duimnael|Interieur van die Senterfamilie se woonhuis, Pleasant Hill, Kentucky - 'n leefruimte vol natuurlike lig wat reinheid versinnebeeld. Shaker-boukuns volg tegelykertyd funksionele en estetiese beginsels en weerspieël die tweeledige doel van hul strewe na perfeksionisme - om 'n omgewing te skep waarin die natuurlike en spirituele wêreld mekaar volledig deurdringHenry Plummer: Stillness & Light. The Silent Eloquence of Shaker Architecture. Bloomington; Indiana University Press 2009, bl. 2 duimnael|'n Shaker-kamer in die Metropolitan Museum of Art, New York