Aboe Moesa Djabir ibn Hajjan (Latyn: Geber; 721? Toes, Iran – 815? Al-Koefa, nou Irak) word as die grootste alchemis van die Islamitiese wêreld beskou. Sy werk word selfs deur sommige as die begin van die chemie beskou, daar is egter ook geleerdes wat selfs oortuig is hy het nooit bestaan nie en dat agter sy naam 'n groep anonieme alchemiste skuil. Daar is meer as duisend geskrifte wat aan Djabir toegeskryf word, maar die meeste verraai dat hulle baie later geskryf is met terme wat uit 9de-eeuse Grieks vertaal is of terme wat geleerdes vermoed van die Isma’ili-sekte afkomstig is.

Djabir se pa kom van Chorasan in die ooste van Iran en was 'n Sjia-aanhanger en apteker. Hy ondersteun die magtige Abbasidiese dinastie. Djabir raak omstreeks 750 n.C. bekend met die wisier van die Abbasiede nadat hulle die mag oor die kalifaat van die Omajjade oorgeneem het. Djabir kom hierdeur aan die hof van Haroen-al-Rasjied.

Die meeste boeke van Djabir gaan oor alchemie, maar daar is tekste oor vele ander onderwerpe soos medisyne, wiskunde, magie, musiek en filosofie. Die belangrikste boeke is die Kitab-al-sabin ("Die sewentig boeke") en die Kitab al-mizan ("Die boek van die skale").Dictionary of World Biography: The Middle Ages, Deel 2, , Routledge, 1998, ,

Hoewel hy 'n mistikus en Soefi was, beklemtoon hy die belang van sistematiese eksperimentele werk. Hy het talle metodes, glaswerk en chemiese stowwe ontdek en ontwikkel wat vandag nog as onderdeel van die chemie beskou word, soos: Distillasie Die alembiek wat distillasie prakties maak Kristallisasie om stowwe te suiwer Swaelsuur Salpetersuur Soutsuur Koningswater Sitroensuur Asynsuur Wynsteensuur Verbeterings in looibewerkings van leer

Hy het ook begin om stowwe te kategoriseer, soos vlugtige stowwe teeoor metale, en ten derde materiale wat tot 'n poeier fygestamp kon word.

Verwysings

Kategorie:Iraniërs Kategorie:Islamitiese geleerdes Kategorie:Alchemici Kategorie:Astroloë Kategorie:Chemici Kategorie:Filantrope Kategorie:Filosowe Kategorie:Fisici Kategorie:Geneeskundiges Kategorie:Sterrekundiges Kategorie:Geboortes in 721 Kategorie:Sterftes in 815