Adv. Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom (plaas Sandvlakte, distrik Willowmore, Kaapkolonie, 14 Julie 1893 – Kaapstad, Suid-Afrika, 24 Augustus 1958) was Suid-Afrika se vyfde eerste minister en die derde premier wat behoort het tot die Nasionale Party ná genl. J.B.M. Hertzog (1924–1938) en dr. D.F. Malan (1948–1954). Hy was, ná genl. Louis Botha, premier van 1910 tot 1919, die tweede eerste minister wat in die amp oorlede is. Die derde en enigste ander was dr. Hendrik Verwoerd, Strijdom se opvolger.

Sy tweede vrou, Susan, het in 1973 van hom gesê: "Daar was iets vreemd gedistingeerds in Hans Strijdom. Hy was in hart en siel 'n volksmens, maar uit die skares wat hom op die hande gedra het, het niemand hom ooit familiêr op die skouers geklop met 'n gemeensame "dag, ou Hans!" nie. Hy was vir almal wel Hans Strijdom, maar in 'n mistieke hoogagting, wat geen familiariteit geken het nie."

Van al Suid-Afrika se premiers tussen 1910 en 1961 was die "Leeu van die Noorde" moontlik die vurigste republikein. Al het hy nie lank genoeg geleef om republiekwording in 1961 te beleef nie, het hy belangrike simboliese voorbereidings vir dié staatkundige verandering getref. Hy was 'n harde politieke werker wat, volgens sy tydgenote, hom doodgewerk het. Sommige waarnemers het hom ná sy dood as 'n Bybelse Moses beskryf wat die beloofde land ('n republiek) kon sien, maar nie binne kon gaan nie. Afrikanergeskiedenis.co.za Hans Striijdom . URL besoek op 23 Junie 2017.

Herkoms Hans Strijdom was die tweede seun van die vyf seuns en vyf dogters van Petrus Gerhardus Strijdom (29 Junie 1867 – 2 Augustus 1932) en sy vrou, Ellen Elizabeth Nortier (14 September 1871 – 11 November 1938). Genealogiese besonderhede op geni.com. URL besoek op 15 Augustus 2016. Strijdom se grootmoeder aan moederskant was Mary-Ann Sarah Quinton, dogter van 'n Ier, Richard John Quinton (1818–'91). Die stamvader van die familie Strijdom in Suid-Afrika was Joost Strijdom, wat voor 1686 as skoenmaker in diens van die VOC na die Kaap gekom het en wie se tweede seun, die vryburger Matthys Stefanus Strijdom (gedoop op 14 Junie 1690), in 1711 met 'n Hugenote-dogter van Drakenstein, Elizabeth Nortier, getroud is. Genealogiese besonderhede op geni.com. URL besoek op 15 Augustus 2016.

In die loop van die agtiende eeu het die nasate van hierdie tak van die Strijdom-familie, onder andere Hans Strijdom se voorgeslag, met die veeboertrek na die Kaapse binneland beweeg. As jong seun het hy grootgeword in 'n rustige, landelike atmosfeer en so lewenslank innig verkleef gebly aan die bodem en boerdery. Ongetwyfeld het hy ook die taaie volharding geërf van 'n geslag wat 'n lewensbestaan in 'n dorre landstreek moes maak.

Skoolopvoeding Strijdom het sy laerskoolopleiding aan 'n plaasskool en op die dorp Willowmore ontvang, en sy hoërskoolopleiding op Franschhoek. Die Franschhoekse skool het, naas sy ouerhuis, die eerste groot en blywende invloed op sy lewe geword. In dié Bolandse skool het so 'n sterk vaderlandse gees geheers dat destyds van owerheidsweë gekla is oor "dislojaliteit" jeens Brittanje. Een van Strijdom se skoolhoofde was die later bekende opvoedkundige filosoof prof. G.G. Cillié van Stellenbosch, en onder sy medeskoliere was J.G. Carinus, later Kaapse administrateur, en D.B. Bosman (die gevierde taalgeleerde) en dr. S. H. Pellissier, later onderskeidelik gesant in Nederland en voorsitter van die Radioraad, kultuurleier en stigter van die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging. Die skool se geskiedenis . URL besoek op 15 Augustus 2016.

Naskoolse opvoeding Strijdom het in 1909 gematrikuleer en die volgende jaar student geword aan die Victoria-kollege (van 1918 af die Universiteit Stellenbosch). Weens die gebrek aan 'n opleidingskursus in landbou wat hom in staat sou stel om hom wetenskaplik as boer te vorm, het hy besluit om hom aan die studie van tale te wy nadat hy op skool reeds uitgeblink het in Latyn en Grieks. Aan die kollege was hy 'n aktiewe lid van die debats- en filosofiese vereniging, die Afrikaanse Taalvereniging en daarby 'n geesdriftige rugby- en tennisspeler. Onder sy tydgenote en vriende van studentedae was daar ook dr. N.J. van der Merwe, adv. S.P. le Roux, wat later 'n belangrike aandeel sou hê om Strijdom tot die politiek te laat toetree, prof. M.C. Botha, regter Henry de Villiers, ds. A.C. Stegmann en Jack Pauw.

Op Stellenbosch het Strijdom as vurige vaderlander ontluik. Hy het dadelik ingeskakel by dié deel van die studentegemeenskap wat Afrikanerbelange vooropgestel, gelyke regte vir Afrikaans wou verseker en wal gegooi het teen verengelsing. Toe dr. N.J. van der Merwe in 1912 'n Afrikaanse Taalfees in Kaapstad organiseer, was Strijdom een van diegene wat van Stellenbosch na Kaapstad gegaan het om deel te neem aan die optog, wat groot ontsteltenis onder Engelstaliges in Kaapstad veroorsaak het. Stellenboschstudente se rol in die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch. URL besoek op 15 Augustus 2016.

Die Rebellie en Eerste Wêreldoorlog Nadat Strijdom sy B.A.-graad in 1912 op 18-jarige ouderdom verwerf het, keer hy tot verbasing van al sy kennisse en vriende terug na sy eerste liefde, die boerdery. Saam met sy vader en oudste broer, Matthys, boer hy met volstruise op die familieplaas Sandvlakte, distrik Willowmore, tot die volstruisveremark in 1914 aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog in duie stort.

Daarna het hy na Pretoria gegaan en aanvanklik 'n betrekking in die staatsdiens aanvaar, moontlik omdat sy opleiding hom destyds min keuse gelaat het. As konserwatiewe Afrikaner en van huis uit Calvinis, het Strijdom innerlik met die versetbeweging van 1914 gesimpatiseer, maar ingevolge die verpligte diensregulasies van die verdedigingsmag is hy in Desember 1914 opgekommandeer omdat hy by die departement van verdediging gewerk het. Maar hy het nie kans gesien om aan krygsverrigtinge deel te neem nie en is, op eie versoek, by die ambulansafdeling ingelyf en na Suidwes-Afrika gestuur, waar hy die hele veldtog teen die Duitsers meegemaak het.

Sy tweede vrou, Susan Strijdom, het dié hoofstuk in sy lewe 15 jaar na haar eggenoot se dood as volg saamgevat: "Hy was net 'n paar maande daar, want in hierdie tyd is genl. De la Rey by Booysens in Johannesburg gedood in 'n ongeval waarvan die amptelike verklaring destyds – en soms vandag nog is – dat hy getref is deur 'n opslagkoeël tydens die skietery op die berugte Fosterbende. Hans het anders daaroor gedink, want dit was in die felle aanvangswoelinge van die Rebelliedae en genl. De la Rey is geskiet op pad na genl. Beyers. Hans se opstandige gedagtes is in sy onsimpatieke departement beantwoord met die verfynde tegniek van volslae veronagsaming. Niemand het daarna na die jong man gekyk of hom werk gegee nie. En so is hy na 'n tydjie weg om hom by prokureur Meintjies in Pretoria in te skryf as prokureursklerk."

Verdere studie en prokureursfirma Ná sy terugkeer na Pretoria in 1916 besluit hy om regsgeleerde te word, skryf hom in as klerk by 'n Pretoriase prokureursfirma en begin aan die Transvaalse Universiteitskollege (later Universiteit van Pretoria) met deeltydse studie vir die LL.B.-graad. Hy voltooi die Preliminêre LL.B. onder leiding van adv. W. Pitman aan die einde van dieselfde jaar en slaag net agt maande later in die finale graadeksamen met 'n gemiddelde persentasie van 72.

In Januarie 1918 is hy formeel tot die Kaapse balie toegelaat, maar praktiseer nooit as advokaat nie, want nog in dieselfde jaar word hy prokureur. Sy aansoek hiertoe was die eerste wat in Afrikaans by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is. Teen alle verwagtings in het Strijdom hom nie in Pretoria gevestig waar hy goed bekend was nie, maar besluit om liewer 'n eie, onafhanklike praktyk op ’n kleiner plek te begin. Hy het is eers na Dullstroom, maar die kaal Hoëveldse wêreld het hom nie aangetrek nie en so het hy op Nylstroom beland. Volgens mev. Susan Strijdom het Nylstroom, met die Waterberg, "sy skoonheidsaanvoeling so geroer – miskien omdat dit hom ook heimnisvol herinner het aan die Baviaanskloof by die Langeberge waar hy grootgeword het – dat Hans Strijdom volkome, lewenslank, opgegaan het in Waterberg en Waterberg deel van homself geword het". In Mei 1918 het hy hom dus gevestig as dorpsprokureur op Nylstroom, waar hy mettertyd 'n eie firma van die grond af opgebou het. Dit was moeilike jare en Strijdom het noustrop getrek. Boonop het hy tydens die griepepidemie ernstig siek geword. Hy het herstel, maar sy hart en longe het 'n ernstige knou verduur.

Toetrede tot die politiek duimnael|Adv. Strijdom voor hy premier geword het. Hoewel Strijdom sterk gevoel het vir die jong Nasionale Party (NP) onder leiding van genl. J.B.M. Hertzog, het hy aanvanklik nie begeer om hom in die politiek te begewe nie. Nietemin het P. le Roux van Niekerk hom omgepraat en het hy in 1918 afdelingsekretaris van die NP in Waterberg geword. Dit was hoofsaaklik danksy sy intensiewe reorganisasiewerk dat die NP-meerderheid in dié kiesafdeling tydens die verkiesing van 1920 tot 428 stemme toegeneem het. Waterberg was een van die oorspronklike setels in die eerste volksraad ná Uniewording in 1910. Die eerste Waterbergse LV was R.G. Nicholson van die Regerende Party (die voorloper van die NP sowel as die SAP wat in 1910 se algemene verkiesing onbestrede verkies is. In die 1915-verkiesing het P.W. le Roux van Niekerk die setel met ’n meerderheid van drie stemme op die SAP-kandidaat verower. In ’n tussenverkiesing op 12 Januarie 1916 het Van Niekerk sy meerderheid opgeskuif tot 20 en in die 1920-verkiesing tot 428.

Met sy toetrede tot die politieke veglinie het Strijdom die geleentheid gekry om die kiesers van Waterberg te leer ken en in die binnekringe van die NP te beweeg. Meer nog het hy sy politieke vuurdoop gekry in die harde skool wat sy beste eienskappe na vore gebring het en so het hy ontluik in ’n doeltreffende spreker. Uit die staanspoor het hy 'n sterk republikeinse gevoel geopenbaar wat kensketsend van sy politieke loopbaan sou word. Op 19 Oktober 1923 het hy in Ons Vaderland geskryf 'n republiek is 'n ideaal wat in die siel van die Afrikaner leef, na die verwesenliking waarvan hy vir ewig en altyd sal strewe. Sy vrou sou dekades later skryf: "Hans Strijdom se politieke lewe, stryd en strewe is te bekend dat ek daaroor sal uitwei, behalwe net om te sê dat diegene wat sy onverwoesbare republikeinse idealisme en doelgerigtheid in sy latere bekende loopbaan wil verstaan, daardie brief moet lees wat hy al in 1923 in Ons Vaderland geskrywe het oor "Die Toekoms van Suid-Afrika", sy eerste openbare politieke geloofsbelydenis wat deur sy lewe onveranderd gebly het."

Ook het hy die stryd vir die volwaardige erkenning van Afrikaans op Nylstroom voortgesit. Kort ná sy aankoms aldaar het hy 'n huwelikskontrak in Afrikaans by die Aktekantoor laat indien met die oog op registrasie. Die registrateur het die registrasie geweier en eers nadat Strijdom hom met 'n mandamus van die hooggeregshof gedreig het, het hy ingewillig om die kontrak te registreer. Hierdie optrede van Strijdom het nie net ’n skans afgebreek in die pad van Afrikaans na erkenning as regstaal nie, maar het die aandag gevestig op sy morele moed om op beginselgrondslag teen die stroom te beweeg.

Namate sy regspraktyk floreer het, het sy belangstelling in boerdery herleef. Hy het die plaas Elsjeskraal op die Springbokvlakte gekoop en later saam met sy broer Raymond 'n stoetplaas naby Warmbad begin. Sy belangstelling in boerdery het daartoe gelei dat hy in 1923 tot voorsitter van die Waterberg-landbougenootskap verkies word, 'n amp wat hy tot 1929 beklee het.