Talcott Parsons (Colorado Springs – Colorado), 13 Desember 1902 – München, 8 Mei 1979) was 'n Amerikaanse sosioloog.

Lewe Parsons was deel van 'n protestantse gesin. Sy vader was predikant. As 'n voorgraadse student studeer hy biologie, sosiologie en filosofie aan die Amherst Kollege en behaal sy B.A.-graad in 1924. Hy studeer onder andere ook as gevolg van 'n studenteuitruilskema in Europa. Tydens hierdie tydperk word hy veral beïnvloed deur die werke van Émile Durkheim, Vilfredo Pareto, Max Weber en Alfred Marshall. In 1927 keer hy terug na die VSA en word hy dosent aan die universiteit van Harvard. Eers in ekonomie, maar in 1931 word hy ook benoem as hoogleraar in sosiologie. In 1942 word hy voorsitter van die American Sociological Association.

Hy is veral bekend vir sy 1951-werk The Social System. Daarin argumenteer hy dat die essensiële eienskap van die samelewing, beskou vanaf 'n biologiese gesigspunt, homeostase is (handhawing van 'n stabiele staat). Voorts stel hy dat dele van die samelewing hulself slegs in terme van die geheel kan begryp. Saam met Niklas Luhmann word Parsons gereken as die grondleggers van die sosiale stelselteorie.

Werk The Structure of Social Action Parsons skryf die werk The Structure of Social Action in 1937 en dit omvat 'n oorsig van al die verskillende sosiologiese teorieë tot op daardie stadium. Die doel van die werk is om uit te kom by 'n oorhoofse teorie (Grand Theory). Hy lê hier dan ook die grondslag vir sy optredesisteem wat hy later meer volledig sou uitwerk. Parsons ontwerp 'n viervoudige klassifikasie-stelsel (AGIL), wat staan vir Adaption, Goal Attainment, Integration en Latency. Die stelsel was bedoel om die sosiale realiteit te kan organiseer en verklaar. Hy keer hierna terug in verskeie van sy werke.

Siening van verandering Parsons fokus ook op die bestudering van sosiale evolusie in die samelewing en stel 'n paradigma van evolusionêre verandering voor. Volgens hom bestaan die samelewing uit verskillende sub-stelsels, waarvan daar voortdurend nog steeds nuwes bygevoeg word deur die evolusie van die samelewing. Hierdie nuwe sub-stelsels sorg vir 'n steeds groter wordende verskeidenheid in die samelewing. Hierdie verskeiedenheid sorg daarvoor dat die mens homself/haarself nie kan veroorloof om vaardighede verlore te laat gaan nie, wat daarvoor sorg dat groepe wat voorheen uitgesluit word uit die samelewing, die kans kry om daarrin opgeneem te word. Hiervoor is dit nodig dat die mens die waardestelsels voortdurend moet aanpas.

Burgerskap Burgerskap moet 'n vrywillige keuse wees volgens Parsons. Hy ondersoek waarom swartes in die VSA uitgesluit word van volwaardige burgerskap. Dit doen hy deur 'n studie te maak van ander groepe, soos die Jode en die katolieke Iere. Hierdie groepe voldoen immers ook nie aan die ideaalbeeld van die VSA nie, maar word tog as volwaardige burgers beskou. Die Jode was opgeneem weens hul sukses op ekonomiese vlak. Die Iere omdat hulle net soos die protestante anti-kommunisties was, wat vir toenadering tussen beide groepe gesorg het. Die probleem was egter dat die swartes as slawe ingebring is in die VSA, en dus nie vrywillig gearriveer nie, dit sorg vir 'n onderskeid met die ander. Hulle word as minderwaardig beskou en die blanke vrees dat die nasie in status sou daal as die swartes volwaardige burgerregte bekom. Die oplossing is volgens Parsons dat die swartes hulself moet opwerk deur skoling en hulself op hierdie manier van die “stigma” te bevry.

Invloed Parsons was die leermeester van 'n aantal invloedryke sosioloë, waaronder Robert Bellah en Clifford Geertz. Hoewel hy gedurende die middel van die twintigste eeu 'n invloedryke wetenskaplike was, is sy invloed tans minder merkbaar. Redes daarvoor is dat Parsons en andere funksionaliste weinig aandag verleen het aan konflikterende belange in 'n samelewing en ook dat daar in die sosiologie 'n groot weersin heers ten opsigte van teorieë wat voorgee dat alle sosiale fenomene verklaar kan word.

Publikasies Parsons het talle boeke en artikels geskryf, waaronder: 1937. The Structure of Social Action 1940. Action, Situation and Normative Pattern 1951. The Social System 1951. Toward a General Theory of Action. Met Shils en Kluckhohn 1953. Working Papers in the Theory of Action. Met Robert F. Bales en Edward A. Shils. 1954. Essays in Sociological Theory 1955. Family, Socialization and Interaction Process. Met Robert F. Bales en James Olds. 1956. Economy and Society. Met N. Smelser 1960. Structure and Process in Modern Societies 1961. Theories of Society. Met Edward Shils, Kaspar D. Naegele en Jesse R. Pitts 1964. Social Structure and Personality 1966. Societies: Evolutionary and Comparative Perspectives 1967. Sociological Theory and Modern Society 1969. Politics and Social Structure 1971. The System of Modern Societies 1973. The American University. Met Gerald Platt. 1977. Social Systems and the Evolution of Action Theory 1978. Action Theory and the Human Condition 1983. The Structure and Change of the Social System Redaksie deur Washio Kurata 1978. The Theory of Social Action: the Correspondence of Alfred Schutz and Talcott Parsons redaksie deur R. Gatthoff. 1986. Social Science: A Basic National Resource Redaksie deur S.Z. Klausner & Victor Lidz 1991. The Early Essays (essays uit die jare 1920 en 1930). Redaksie deur Charles Camic. 1993. On National Socialism (essays uit die jare 1920, 1930 en 1940). Redaksie deur Uta Gerhardt. 2007. American Society: Toward a Theory of Societal Community Redaksie deur Giuseppe Sciortino. Paradigm .

Verwysings Hierdie artikel is vertaal van die Nederlandse Wikipedia

Eksterne skakels

Talcott Parsons 1902–1979

Kategorie:Amerikaanse filosowe Kategorie:Geboortes in 1902 Kategorie:Sterftes in 1979