Antonín Leopold Dvořák (8 September 1841 – 1 Mei 1904) was 'n Tsjeggiese komponis. Hy was die eerste komponis uit Boheme wat wêreldwye bewondering en erkenning verwerf het, en is veral bekend daarvoor dat hy die materiaal van die volksmusiek in die taal van die 19de-eeuse romantiese musiek verweef het. Daarmee het hy die voorbeeld van sy voorganger Bedřich Smetana gevolg, wat die Tsjeggiese nasionale musiekstyl geskep het. Sy styl is beskryf as "die volste herskepping van 'n nasionale idioom saam met dié van die simfoniese tradisie".
Dvořák se bekendste werke is die Simfonie nr. 9, Uit die Nuwe Wêreld, wat hy tydens sy jare in Amerika geskryf het, sy Tjelloconcerto in B mineur, die twee stelle Slawiese Danse, die Stabat Mater en die opera Rusalka.
Lewe Herkoms en kinderjare Dvořák was in Nelahozeves, ‘n Boheemse (nou Tsjeggiese) dorpie op die oewers van die Moldau noord van Praag, gebore. Hy het op ‘n vroeë ouderdom met musiek kennis gemaak en het as ‘n jongeling ‘n gerekende violis geword wat bygedra het tot die maak van amateurmusiek wat die danse van plaaslike paartjies vergesel het.
duimnael|Dvořák se geboortehuis in Nelahozeves. Dvořák was die oudste seun van František Dvořák (1814–1894) en sy vrou Anna, gebore Zdeňková (1820–1882), wat op 17 November 1840 getrou het. Sy vader was 'n herbergier en slagter wat ook die siter beroepsmatig gespeel het; sy moeder was die dogter van Josef Zdeněk, die balju van die vors van Lobkowicz. Van die veertien kinders van die egpaar het agt die kleinkinderjare oorleef. Dvořák is in die dorp se kerk van Sint Andreas as Rooms-Katoliek gedoop, en die jare in Nelahozeves het sowel sy sterk Christelike geloof as sy liefde vir sy Boheemse erfenis gevorm – albei van groot betekenis vir sy latere musiek.
Hy is in 1847 in die laerskool ingeskryf, waar sy onderwyser Joseph Spitz hom viool leer speel het; hy het gou in die dorpsorkes en in die kerk gespeel. Op dertienjarige ouderdom is hy in 1853 na Zlonice gestuur om by sy oom Antonín Zdeněk te woon en Duits te leer. Sy Duitse onderwyser Antonín Liehmann het hom orrel, klavier, viool en musiekteorie geleer en hom aan die komponiste van die tyd bekendgestel; Liehmann was ook die kerkorrelis van Zlonice en het die seun soms tydens dienste laat speel. Verdere onderrig in orrel en musiekteorie het hy by Franz Hanke in Česká Kamenice ontvang. Op sestien het sy vader, op aandrang van Liehmann en Zdeněk, ingestem dat hy 'n musikant word – op voorwaarde dat hy vir 'n loopbaan as orrelis sou oplei.
Opleiding en eerste betrekkings In 1857 het ‘n musiekonderwyser besef dat die jong Antonín die onderwyser se nederige vermoëns oorskry het, en derhalwe die ouer Dvořák oortuig om sy seun in te skryf by ‘n orrelskool in Praag. Dvořák het later sonder sy vader se finansiële bystand ‘n tweejarige kursus voltooi en die altviool in verskeie tavernes en saam met teatergroepe gespeel. Hy het sy karige salaris met die inkomste voortspruitende uit die aanbied van lesse aan ‘n paar private leerlinge aangevul.
duimnael|links|170px|Dvořák op 26 of 27 (1868). Ná sy aankoms in Praag in September 1857 het Dvořák aan die orrelskool by Josef Zvonař sang, by František Blažek teorie en by Josef Förster orrel studeer. Hy het in 1859 as tweede in sy klas gegradueer, maar sy aansoek om 'n pos as orrelis by die Sint-Hendrikskerk was onsuksesvol. In 1858 het hy by die orkes van Karel Komzák aangesluit, wat in Praag se restaurante en op danspartye opgetree het. Die hoë peil van die ensemble het die aandag van Jan Nepomuk Maýr getrek, wat die hele orkes vir die Voorlopige Teater in Praag in diens geneem het; Dvořák het van 1862 af altviool daar gespeel. Aangesien hy skaars konsertkaartjies kon bekostig, was die orkes ook sy geleentheid om musiek – veral opera – te hoor.
In Julie 1863 het hy in 'n program gespeel wat aan Richard Wagner gewy was en deur die komponis self gedirigeer is; Dvořák het Wagner sedert 1857 grensloos bewonder. In 1866 het Bedřich Smetana Maýr as hoofdirigent opgevolg. Om sy karige inkomste aan te vul, het Dvořák klavierlesse gegee, en dit was deur dié lesse dat hy sy toekomstige vrou ontmoet het. Hy was eers verlief op haar suster Josefína Čermáková, sy leerling en 'n aktrise van die Voorlopige Teater, vir wie hy vermoedelik die liedsiklus Sipresse gekomponeer het; sy het sy liefde egter nie beantwoord nie en later met graaf Václav Robert von Kaunitz getrou.
Die moeilike 1860's Die 1860’s was ‘n moeilike tyd vir Dvořák, wat onder druk verkeer het m.b.t. beide sy tyd en hulpbronne, soveel so dat selfs papier en ‘n klavier ten einde hom in staat te stel om te komponeer kosbare kommoditeite was. Hy het gedurende sy latere jare gesê dat hy min kon onthou van wat hy in daardie dae geskryf het, maar teen die einde van die dekade het twee simfonieë, ‘n opera, en verskeie liedere onuitgevoer op sy tafelblad gelê. Die verskeidenheid musiek van die tydperk toon egter dat sy vroeëre musikale styl, wat geneig het na die musiek van Ludwig van Beethoven en Franz Schubert, in toenemende mate ingekleur was deur die invloed van Richard Wagner en Franz Liszt. In November 1873, toe ‘n paar suksesvolle konserte van sy werke uitgevoer is en hy ‘n mate van bekendheid in Praag verwerf het, het hy met Anna Čermáková getrou. Sodoende het ‘n buitengewoon gelukkige gesinslewe begin.
Huwelik en gesin Anna was die jonger suster van Josefína. Uit die huwelik is nege kinders gebore, waarvan verskeie as babas gesterf het; die oudste seun Otakar het in 1877 op driejarige ouderdom gesterf. Sy dogter Otýlie, self 'n komponis, het in 1898 met sy student Josef Suk getrou, maar het sewe jaar later gesterf.
Eerste sukses en die Oostenrykse staatsprys duimnael|regs|180px|Die Sint-Adalbertkerk in Praag, waar Dvořák van 1874 tot 1877 orrelis was. Dvořák het die orkes van die Voorlopige Teater in 1871 verlaat om meer tyd vir komposisie te hê, en ná sy huwelik die pos van orrelis by die Sint-Adalbertkerk in Praag onder sy ou onderwyser Josef Förster aanvaar. Die betaling was skraps, maar 'n welkome aanvulling vir die jong egpaar. Sy eerste werk wat in 'n konsert gespeel is, was die Klavierkwintet in A majeur, op. 5, in November 1872, en in Maart 1873 is sy patriotiese kantate Die erfgename van die Wit Berg deur die Praagse Hlahol-koor van 300 sangers onder sy vriend Karel Bendl uitgevoer, met 'n warm ontvangs by sowel die gehoor as die kritici.
Toe Dvořák in 1874 drie-en-dertig geword het, was hy buite Praag en die omgewing nog byna heeltemal onbekend. Daardie jaar het hy aansoek gedoen om die Oostenrykse staatsprys vir komposisie, wat in Februarie 1875 aan hom toegeken is deur 'n paneel bestaande uit die kritikus Eduard Hanslick, Johann Herbeck, direkteur van die staatsopera, en Johannes Brahms. Sy inskrywing was 'n omvangryke bundel van vyftien werke, waaronder twee simfonieë, verskeie ouvertures en 'n liedsiklus; die amptelike verslag noem hom 'n behoeftige musiekonderwyser wat "'n onmiskenbare talent" toon en 'n toelae verdien om hom van bekommernis in sy skeppende werk te bevry. Hy het toe nog nie 'n eie klavier besit nie.
Hy het die prys ook in 1876 en weer in 1877 gewen. Ná die derde oorwinning het hy 'n persoonlike brief van Hanslick ontvang wat hom vir die eerste keer laat weet het dat Brahms en Hanslick op die paneel dien en wat die aanbod van hulle hulp gedra het om sy musiek buite sy Tsjeggiese vaderland bekend te stel. Binne dieselfde maand het Dvořák sy Strykkwartet nr. 9 in D mineur geskryf en dit aan Brahms opgedra.
Brahms en Simrock In Februarie 1875 is ‘n staatstoelae deur die Oostenrykse regering aan Dvořák toegeken. Die toekenning het hom in kontak met die groot meester Johannes Brahms gebring met wie hy ‘n noue en ryke vriendskap sou vorm. Brahms het nie slegs aan hom waardevolle tegniese raad gebied nie, maar het ook vir hom ‘n invloedryke uitgewer in die vorm van Fritz Simrock gevind. Dit was danksy dié Berlynse firma se publikasie van die Morawiese Duette (1876) vir sopraan en alt en die Slawiese Danse (1878) vir klavierduet dat Dvořák die eerste keer wêreldwye aandag na homself en die musiek van sy vaderland begin trek het. Die bewondering van die voorste kritici, instrumentaliste, en dirigente van die dag het voortgegaan om sy reputasie oorsee te versprei, wat op sy beurt tot selfs groter prestasies en triomfe in sy eie land gelei het.
Internasionale deurbraak Brahms en Hanslick was albei sterk beïndruk deur die Morawiese Duette, en Brahms het dit by sy uitgewer Fritz Simrock in Berlyn aanbeveel, wat dit met sukses gepubliseer het. Met sy eie goed ontvangde Hongaarse danse in gedagte het Simrock Dvořák toe gevra om iets van dieselfde aard te skryf. Die gevolg was die Slawiese Danse, op. 46, van 1878 – eers vir klavier vierhandig en daarna, op Simrock se versoek, ook in 'n orkesverwerking. Op 15 Desember 1878 het die vooraanstaande kritikus Louis Ehlert in die Berlynse Nationalzeitung geskryf dat die danse hul weg "om die wêreld" sou vind en dat "'n hemelse natuurlikheid deur dié musiek vloei". Daar was 'n stormloop op die Duitse musiekwinkels na die danse en duette van dié tot dan onbekende komponis, en in 1879 is die danse in Frankryk, Engeland en die Verenigde State uitgevoer.
In 1879 het Dvořák sy Stryksekstet geskryf. Simrock het die partituur aan die leidende violis Joseph Joachim gewys, wat dit in November van daardie jaar saam met ander gepremière het en 'n hoofkampvegter vir Dvořák se kamermusiek geword het. In dieselfde jaar het Dvořák sy Vioolconcerto geskryf en dit aan Joachim opgedra, maar dié was nooit tevrede daarmee nie en het dit ondanks twee latere reëlings nooit self gespeel nie; die concerto is in Oktober 1883 in Praag deur František Ondříček gepremière.
Hans Richter het Dvořák gevra om sy Simfonie nr. 6 vir die Weense Filharmonieorkes te komponeer met die oog op 'n première in Desember 1880. Lede van die orkes was egter weens anti-Tsjeggiese gevoel daarteen gekant om twee opeenvolgende seisoene werke van dieselfde komponis uit te voer, sodat Adolf Čech die première uiteindelik op 25 Maart 1881 in Praag gelei het. Richter het die werk wel in 1882 in Londen gedirigeer en tot die einde in Dvořák se musiek belanggestel.
Brittanje In 1884 het hy die eerste van tien besoeke aan Engeland afgelê waar die sukses van sy werke, en vernaam sy korale werke, ‘n bron van groot trots was, alhoewel slegs die Stabat Mater (1877) en Te Deum (1892) sou voortgaan om ‘n voorste posisie te hou wat werke van hul aard betref.
duimnael|links|170px|Dvořák met sy vrou Anna in Londen, 1886. Die Stabat Mater, Dvořák se eerste werk van godsdienstige aard, is in 1880 in Praag gepremière, maar dit was die uitvoering in die Royal Albert Hall in Londen op 10 Maart 1883 onder Joseph Barnby wat 'n hele reeks uitvoerings in Engeland en die Verenigde State ontketen het – 'n jaar voordat die werk in Duitsland en Oostenryk waardering gekry het. Dvořák is na Brittanje uitgenooi, waar hy in 1884 met groot toejuiging opgetree het. Die Londense Filharmoniese Vereniging het by hom 'n werk bestel, en die gevolg was die Simfonie nr. 7, wat hy op 22 April 1885 in die St James's Hall self gepremière het.
Later in 1885 het hy sy kantate Die spook se bruid op 27 Augustus in Birmingham aangebied. Hy het 'n week vroeër aangekom om die koor van 500 stemme en die orkes van 150 spelers in te oefen. Die uitvoering was 'n groter triomf as enige wat hy tot op daardie stadium beleef het, en koorverenigings in die Engelssprekende wêreld het hulle daarna gehaas om die werk in te studeer. In 1887 het Richter die Simfoniese Variasies in Londen en Wene met groot sukses gedirigeer – 'n werk wat tien jaar tevore geskryf is en wat Dvořák ná die aanvanklike gebrek aan belangstelling van uitgewers laat vaar het. Richter het aan hom geskryf dat van die honderde konserte wat hy in sy lewe gedirigeer het, geen nuwe werk so suksesvol was nie.