duimnael|regs|300px|Merton-kollege se biblioteek. Letterkunde of literatuur (Latyn "Litterae" mv. van "letter") is geskrewe taalkunswerke wat op grond van gemeenskaplike taal of verwantskap, kultuur, periode, styl, lewensbeskouing of ander faktore met mekaar saamhang. Die estetiese waarde van letterkunde lê in die skoonheid van taalgebruik en/of die gevoel wat dit by die leser aanwakker. Literatuur word onderskei van lektuur of leesstof, wat alle geskrewe werk insluit, deur die estetiese universele waarde wat dit besit.

'n Letterkundige bestudeer tekste wat tot die literatuur gereken word, dus die fenomeen van literatuur in die breë sin. Iemand wat as letterkundige werksaam is, word ook 'n literator genoem, wat ook breedweg die betekenis kan dra van iemand wat homself algeheel aan die lettere wy. Ook kan 'n toegewyde skrywer, dus nie 'n ondersoeker nie maar 'n beoefenaar van die letterkunde, bekend staan as 'n letterkundige of literator.

Literatuur kan algemeen opgedeel word in twee tegnieke, prosa en poësie en twee vorme, fiksie en nie-fiksie. Nie-fiksie as kategorie sluit onder andere polemiese werke, biografieë en nadenkende essays in terwyl verbeeldingswerke tekste insluit soos fiksie, drama of poësie). Literatuur in poësie benadruk die estetiese en ritmiese kwaliteite van taal – soos klank, simboliek, en metrum – om betekenisse op te roep addisioneel tot, of in stede van die oorspronklike betekenis, terwyl literatuur in prosa-formaat gewone grammatikale strukture en die natuurlike vloei van spraak gebruik. Letterkunde kan ook geklassifiseer word volgens historiese tydperke, genres en politieke invloede. Terwyl die konsep van genre oor die eeue heen verbreed het, bestaan 'n genre oor die algemeen uit kunswerke wat binne 'n spesifieke sentrale tema val; voorbeelde van genre sluit onder meer die ridderroman, raaiselroman, misdaadfiksie, fantasie, hygliteratuur en avontuurroman in.

Vername historiese tydperkte in die Nederlandse letterkunde, sluit in die Middeleeue, Laatmiddeleeue, die Renaissance, die Frans-klassisisme en barok, die 18de-eeuse verligting, die oorgangsfase, die romantiek van die vroeg 19de eeu, die later 19de-eeuse realisme en 20ste-eeuse Modernistiese en Postmodernistiese tydperke. Belangrike intellektuele bewegings wat die literatuurstudie beïnvloed het sluit in feminisme, postkolonialisme, psigoanalise, poststrukturalisme, postmodernisme, romantiek en Marxisme.

Geskiedenis

duimnael|Ou gebinde boeke by die Oxfordse Merton-kollegebiblioteek. Die Heldedig van Gilgamesj is een van die oudste bekende literêre werke. Die Babiloniese heldedig se ontstaan spruit voort uit stories in Sumeries. Hoewel die Sumeriese stories ouer is (waarskynlik rondom 2100 v.C.), is die epiese gedig na skatting rondom 1900 v.C. saamgestel. Die epos behandel temas van heldemoed, vriendskap, verlies en die soeke na ewige lewe.

Verskillende geskiedkundige tydperke word in letterkunde weergegee. In die era voor verstedeliking oorheers nasionale en stamverwante sages, rekenskap van gebruike en die oorsprong van die wêreld, en mites wat soms morele en geestelike boodskappe vervat. Homeros se eposse dateer terug na die middel van die ystertydperk, en 'n groot aantal Indiese eposse van 'n effens latere periode bevat meer bewyse van doelbewuste literêre outeurskap wat vir lang periodes deur middel van mondelinge tradisies oorleef het voor dit neergepen is.

Met die ontwikkeling van 'n meer stedelike kultuur onder vroeë beskawings het akademies 'n platform geskep vir die oordrag van spekulatiewe en filosofiese literatuur, met die blywende vestiging van letterkunde in Antieke China, Persië, Antieke Griekeland en Rome tot gevolg. Baie werke uit die oudheid, selfs in verhalende vorm, bevat verborge morele of didaktiese doelstellings, soos die Sanskrit Panchatantra of Metamorfoses van Ovidius. Drama en satire, vir literêre produksie, het ontwikkel namate die stedelike kultuur 'n groterwordende openbare gehoor, en later lesers, verskaf het. Liriek was in teenstelling met epiek oor die algemeen die fokus van die howe en elite kringe, vernaam in Oos-Asië waar liedere deur die Chinese aristokrasie as gedigte versamel is, veral belangrik die Shih-ching of Boek van odes . Poësie van voorbeskawing ballades en liedere het oor 'n lang tydperk die literêre medium binnegedring en mettertyd beïnvloed.

In antieke China het vroeë letterkunde primêr gefokus op filosofie, geskiedskrywing, krygswetenskappe, landbou en digkuns. China, die oorsprong van papiervervaardiging en blokdruk, het een van die wêreld se eerste drukkerskulture opgelewer. 'n Groot hoeveelheid van die Chinese literatuur dateer uit die Honderd skole van denke periode gedurende die Oostelike Zhou Dinastie (769-269 v.C.). Die belangrikste hiervan sluit die klassieke werke in van Konfusianisme, Taoïsme, Mohisme, Legalisme en werke van krygswetenskappe (byvoorbeeld Sun Tzu se Die kuns van oorlogvoering ) en Chinese geskiedenis (byvoorbeeld Sima Qian se Optekeninge van die hofgeskiedskrywer). Antieke Chinese letterkunde het geweldig klem gelê op geskiedskrywing, met soms uiters gedetailleerde hofrekords. 'n Uitstaande stuk verhalende geskiedenis oor Antieke China is die Zuo Zhuan, wat nie later as 389 v.C. saamgestel kon gewees het nie, en toegedeel word aan die blinde 5de eeu v.C. historikus Zuo Qiuming.

In Antieke Indië ontstaan letterkunde uit stories wat oorspronklik mondelings oorgedra is. Vroeë genres sluit in drama, fabels, soetras en heldedigte. Sanskrit-literatuur begin met die Vedas wat terugdateer na 1500-1000 v.C., en gaan voort met die Sanskrit-eposse van Ystertydperk-Indië. Die Vegas tel onder van die oudste heilige geskrifte. Die Samhitas (Vediese versamelings) dateer rofweg terug na 1500-1000 v.C., en die “sirkum-Vediese” tekste, asook die redigering van die Samhitas, dateer terug na circa 1000-500 v.C. wat gevolglik uitloop op 'n Vediese periode, wat strek vanaf die middel 2de tot middel 1ste eeu v.C., of die Laat-Bronstydperk en Ystertydperk. In die tydperk van ongeveer die 6de tot die 1ste eeu v.C. geskied die samestelling en redigering van die twee invloedrykste Indiese eposse, die Mahabharata en die Ramayana, met latere redigering wat volg tot die 4de eeu n.C.

In Antieke Griekeland is die eposse van Homeros, wat die Ilias en Odussee geskryf het, asook Hesiodos se Werke en dae en Theogonia, van die vroegste en mees invloedryke Antieke Griekse literatuur. Klassieke Griekse genres sluit in filosofie, poësie, historiografie, komedie en drama. Plato en Aristoteles het filosofiese tekste neergepen wat die fondament van Westerse filosofie geword het, Sappho en Pindaros was invloedryke liriese digters en Herodotos en Thukydides was vroeë Griekse historici. Hoewel dramas baie populêr was bestaan van die honderde tragedies wat geskryf en opgevoer is in die klassieke oudheid, nog slegs 'n beperkte aantal opvoerings deur drie skrywers: Aeschylus, Sophokles en Euripides. Aristophanes se opvoerings verskaf die enigste werklike voorbeelde van 'n genre van komedie bekend as Ou komedie, die vroegste vorm van Griekse komedie, en word as’t ware gebruik om die genre te definieer.

duimnael|links|220px|Johann Wolfgang von Goethe, Duitse skrywer en outeur van die Faust- boeke. Romeinse geskiedenis en biografieë het die uitgebreide Middeleeuse literatuur oor die lewens van heiliges en wonderbaarlike kronieke vooruitgeloop, maar die mees kenmerkende vorm van die Middeleeue was die ridderroman, 'n avontuurbelaaide en soms magiese verhaal met 'n sterk populêre inslag. Kontroversiële, religieuse, politieke en instruktiewe literatuur het tydens die Renaissance vermenigvuldig as gevolg van die drukpers, terwyl Middeleeuse ridderfiksie ontwikkel het in 'n meer karaktergebaseerde en sielkundige verhaalvorm, die roman, waarvan vroeë vername voorbeelde die Chinese Aap en die Duitse Faust-boeke is.

Tydens die verligting is filosofiese verlope en spekulasies oor geskiedenis en die menslike natuur in die literatuur geïntegreer saam met sosiale en politieke verwikkelinge. Die onvermydelike gevolg was die ontploffing van Romantiek in die latere helfte van die 18de eeu wat die verbeeldingryke en fantastiese subjektiwiteit van die ou romantiek en volksliteratuur teruggebring het, en die voortreflikheid van individuele ondervinding en emosie bevestig het. Soos die 19de eeu uitgeloop het, het Europese fiksie egter ontwikkel tot realisme en naturalisme, die noukeurige dokumentering van die werklike lewe en sosiale neigings. Heelwat van die naturalistiese uitsette was implisiet polemies en het sosiale en politieke verandering beïnvloed. 20ste-eeuse fiksie en drama het weer teruggetree na die subjektiewe, met fokus op onderbewuste dryfvere en sosiale en omgewingsdruk op die individu. Skrywers soos Proust, Elliot, Joyce, Kafka en Pirandello vergestalt die neiging om interne eerder as eksterne realiteite neer te pen.

Genre-fiksie, ten spyte van sy vaste formules, bewys ook dat dit die werklikheid kan bevraagteken in sy 20ste-eeuse formaat, deur die ondersoeke en vrae van die skeptiese speurder en die alternatiewe realiteite van wetenskapsfiksie. Die skeiding tussen “hoofstroom”- en genrevorms (joernalistiek ingesluit) gaan voort om te vervaag tydens die periode tot vandag. William S. Burroughs, in sy vroeë werke, en Hunter S. Thompson verbreed dokumentêre verslaggewing tot sterk subjektiewe verklarings na die Tweede Wêreldoorlog, en postmoderne kritici bekritiseer oor die algemeen objektiewe realisme.

Poësie

'n Gedig is 'n komposisie wat in vers geskryf is (hoewel epiek en dramatiese fiksie ook al van die formaat gebruik gemaak het). Gedigte gebruik die estetiese aard van taal om veelvuldige betekenisse te belig en emotiewe reaksie te ontlok. Gedigte steun sterk op beeld en metafoor, en kan 'n ritmiese struktuur besit gebaseer op beklemtoonde patrone (metrum) of patrone van wisselvallige lettergreeplengtes (soos met klassieke prosodie); en kan van rym gebruik maak. Vanweë die uiteenlopendheid van poëtiese vorme en strukture, is poësie moeilik om te karakteriseer en omskryf. As 'n literatuursoort maak poësie egter tipies gebruik van die formele eienskappe van die woorde waarmee dit werk – die eienskappe van die geskrewe en gesproke vorms van die woorde, onafhanklik van hul betekenis. So byvoorbeeld kan ritme vasgelê word deur die aantal lettergrepe in die woorde, of hoe die lettergrepe beklemtoon word; rym en alliterasie is afhanklik van die klanke van die woorde.

Bes moontlik gaan digkuns enige ander vorme van literatuur vooruit. Vroeë voorbeelde sluit in die Sumeriese Gilgamesjepos (rondom 2700 v.C.), dele van die Bybel, die oorblywende werke van Homeros (die Ilias en die Odussee), en die Indiese eposse Ramayana en Mahabharata. By kulture wat vernaam van mondelinge tradisies gebruik maak het die formele eienskappe van digkuns baie maal 'n mnemoniese (geheuevaslegging) funksie, en belangrike tekste: regtelik, genealogies of moreel kan byvoorbeeld eerste in versvorm verskyn.

Sekere poësie gebruik baie spesifieke vorme, soos die haikoe, limeriek en sonnet. 'n Tradisionele haikoe in Japannees geskryf hou verband met die natuur, bevat sewentien onji (lettergrepe) wat oor drie reëls versprei is in groepe van vyf, sewe en vyf, en besit 'n kigo, 'n spesifieke woord wat seisoen aandui. 'n Limeriek het vyf versreëls, met 'n AABBA rymskema, en lengtes van 3,3,2,2,3 beklemtoonde lettergrepe. Dit het tradisioneel 'n minder eerbiedige houding jeens die natuur. Digkuns wat nie by die formele poëtiese strukture hou nie word “vrye vers” genoem.