Senegal (Arabies: السنغال, al-Sinigāl; Fula: 𞤅𞤫𞤲𞤫𞤺𞤢𞥄𞤤𞤭, Senegaali; Frans: Sénégal, ; Serer: Senegaal; Wolof: Senegaal), amptelik die Republiek Senegal (Arabies: جمهورية السنغال, Jumhūriyya al-Sinigāl; Frans: République du Sénégal; Fula: 𞤈𞤫𞤲𞤣𞤢𞥄𞤲𞤣𞤭 𞤅𞤫𞤲𞤫𞤺𞤢𞥄𞤤𞤭, Renndaandi Senegaali; Wolof: Réewum Senegaal), is 'n land suid van die Sénégalrivier in Wes-Afrika. Senegal word begrens deur die Atlantiese Oseaan in die weste, Mauritanië in die noorde, Mali in die ooste en Guinee en Guinee-Bissau in die suide. Gambië vorm 'n enklawe binne Senegal om die Gambiërivier vir meer as 300 km in die binneland in. Die Kaap Verde-eilandgroep lê ongeveer 560 km wes van die Senegalese kus af.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Senegal Senegal beslaan 'n oppervlakte van 196 722 km² en het in 2024 'n bevolking van 18 847 519 gehad. Die hoofstad en grootste stad is Dakar aan die westelikste punt van die Afrikavasteland. Sedert 2014 word in Diamniadio 'n tweede regeringsetel opgerig. Ander belangrike stede sluit in Thiès en Touba. Senegal vorm die mees westelike land op die vasteland van die Ou Wêreld en Afrika-Eurasië. Janet H. Gritzner, Charles F. Gritzner – 2009, Senegal – bl. 8 Die kremetartboom en die leeu vorm die twee nasionale simbole van Senegal; albei is in erkenning aan dié land se ryk natuurlewe gekies.

Die gebied van Senegal vorm sedert die 12de eeu deel van die Islamitiese wêreld en is sedertdien deur verskeie Afrikaryke oorheers. In 1895 het dit 'n Franse kolonie geword en in 1946 deel van die Franse Unie. Op 4 April 1959 het Senegal saam met Mali die Mali-Federasie gevorm en op 4 April 1960 van Frankryk onafhanklik geword, maar dié federasie is reeds op 20 Augustus 1960 weer ontbind. Op 1 Februarie 1982 het Senegal saam met Gambië die Senegambiese Konfederasie gestig, wat op 30 September 1989 weer ontbind is nadat Gambië geweier het om nader aan 'n unie te beweeg. Senegal spog met 'n stabiele demokrasie en ekonomiese groei. Dit is 'n lid van die Afrika-unie, die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS) en die Organisasie van Islamitiese Samewerking (OIS).

Etimologie Die landsnaam is afgelei van die Sénégalrivier wat dié land in die noorde en ooste begrens. Die naam "Senegal" is dalk ontleen aan die Wolof-woord Sunuu Gaal wat "ons boot" beteken. Volgens 'n ander teorie het die naam sy oorsprong in 'n Portugese transliterasie van die Zenaga, ook bekend as Sanhaja, se naam of 'n kombinasie van die opperste godheid in die Serer-godsdiens (Rog Sene) en o gal wat "waterliggaam" in die Serer-taal beteken.

Geskiedenis duimnael|links|Prehistoriese megaliete in Senegal duimnael|links|Kaart van Wes-Afrika in 1625 duimnael|links|Kaart van Senegambië in 1707 duimnael|links|upright|Slawehandelaars op Gorée, 18de eeu duimnael|links|Senegal se Gorée-eilandhawe net suid van Dakar, vroeër die sentrum van slawehandel in Wes-Afrika Argeologiese ontdekkings in die hele gebied dui aan dat Senegal in prehistoriese tye bewoon was. Islam, die dominante geloof in Senegal, kom vir die eerste keer na die gebied in die 11de eeu, toe die Almoravide-dinastie van Noord-Afrika veldtogte in die hedendaagse Senegal geloods het. Vandag is 95% van die land se bevolking Moslems. In die 13de en 14de eeue kom die gebied onder die invloed van die Mandingo-ryke oos daarvan; die Jolof-ryk van Senegal word ook in die tydperk gestig. Van die ander mededingende ryke sluit in Mali en Songhai. Verskeie Europese moondhede soos Portugal en Nederland kom na die gebied vanaf die 15de eeu, totdat Frankryk in besit kom van wat 'n belangrike vertrekpunt binne die Atlantiese slawehandel sou word. Geriewe op die eiland Gorée net suid van Dakar getuig tot vandag toe daarvan.

Tydens die Sewejarige Oorlog (1756–1763) is die gebied van Senegal deur die Koninkryk van Groot-Brittanje beset en met die daaropvolgende Verdrag van Parys in 1763 deur Frankryk afgestaan. Nadat Frankryk die jonge Verenigde State van Amerika tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog (1775–1783) teen die Verenigde Koninkryk ondersteun het, het Senegal met die Vrede van Parys in 1783 'n Franse kolonie geword, terwyl Gambië by die Britse Ryk ingelyf is. Tussen 1902 en 1904 het die kortstondige Senegambië en Niger onder Franse koloniale gesag bestaan.

In Januarie 1959 smelt Senegal en Frans-Soedan saam om die Mali-Federasie te vorm wat ten volle onafhanklik word op 20 Junie 1960, as 'n uitvloeisel van die "Onafhanklikheid en oordrag van mag"-ooreenkoms wat op 4 April 1960 met Frankryk geteken is. As gevolg van politieke struikelblokke ontbind die Federasie op 20 Augustus 1960. Senegal en Frans-Soedan (herdoop tot die Republiek Mali) verklaar onafhanklikheid. Léopold Sédar Senghor word in Augustus 1960 verkies as Senegal se eerste president. Hy het die teks van die Senegalese volkslied, Le Lion rouge ("Die rooi leeu"), persoonlik geskryf.

Ná die ontbinding van die Mali-Federasie regeer president Léopold Sédar Senghor en eerste minister Mamadou Dia saam in 'n parlementêre stelsel. In Desember 1962 lei hulle politieke wedywering tot 'n staatsgreeppoging deur eerste minister Dia. Hoewel dit sonder bloedvergieting onderdruk is, word Dia gearresteer en tronk toe gestuur. Senegal neem 'n nuwe grondwet aan wat die president se mag konsolideer. In 1980 besluit president Senghor om uit die politiek te tree en handig die leisels in 1981 aan sy keuropvolger, Abdou Diouf, oor.

Senegal verenig met Gambië in 'n nominale konfederasie, Senegambië, op 1 Februarie 1982. Die unie word egter in 1989 ontbind. Ten spyte van vredesamesprekinge bots 'n suidelike separatistegroep in die Casamance-omgewing sedert 1982 sporadies met regeringsmagte. Senegal het 'n lang geskiedenis van deelname in internasionale vredebewaring.

Abdou Diouf was president tussen 1981 en 2000. Hy moedig breër politieke deelname aan, verminder regeringsbetrokkenheid by die ekonomie en verbreed Senegal se diplomatieke betrekkinge, veral met ander ontwikkelende lande. Binnelandse politiek loop per geleentheid oor tot straatgeweld, grensspanning en 'n gewelddadige separatiste beweging in die suidelike streek, Casamance. Nogtans versterk Senegal sy verbintenis tot demokrasie en menseregte. Diouf dien vier termyne as president. In die presidensiële verkiesing van 2000 word hy verslaan, in 'n vrye en regverdige verkiesing, deur opposisieleier Abdoulaye Wade. Senegal ondervind sy tweede vreedsame oorgang in mag en die eerste van een politieke party tot 'n ander. Op 22 Januarie 2001 is die vierde en huidige grondwet van Senegal na 'n referendum goedgekeur.

Op 30 Desember 2004 kondig president Abdoulaye Wade aan dat hy 'n vredesverdrag met die separatistegroep in die Casamancegebied sou teken. President Macky Sall het in Desember 2012 vredesgesprekke met rebelle in Rome gevoer. "Uppsala Conflict Data Program: Senegal: Casamance, In-depth Developments since 2005" , Conflict Encyclopedia

In Maart 2012 is Macky Sall tot nuwe president van Senegal verkies en het Abdoulaye Wade opgevolg. Hierdie vreedsame en demokratiese oorgang is deur baie buitelandse waarnemers, soos die Europese Unie, verwelkom en as 'n voorbeeld vir Afrika geloof. Tydens die 2019-verkiesings is Sall herkies vir 'n verminderde termyn van vyf jaar.

Van 3 Maart 2021 is Senegal deur massaproteste geraak ná die inhegtenisname van Ousmane Sonko weens beweerde verkragting en mishandeling tydens die Covid-19-pandemie. In Junie 2023 het die reaksie op die proteste verskerp, volgens Amnestie Internasionaal is 23 mense dood, waarvan die meeste deur polisiepatrone of gewapende polisiemedewerkers. Die 2024-presidentsverkiesing is deur Bassirou Diomaye Faye, wat pleks van die geskorste Sonko gestaan het, van die PASTEF gewen en hy is op 2 April 2024 ingesweer. Een dag later het die nuwe president die opposisieleier Ousmane Sonko tot nuwe eerste minister benoem. In Mei 2026 het president Diomaye Faye hom met Ahmadou Al Aminou Lo vervang.

Geografie duimnael|Kaart van Senegal Senegal is geleë aan die weste van die Afrika-vasteland. Die Saharawoestyn is net noord een oos van van Senegal geleë en word deur die gelyknamige rivier van dié land geskei; Senegal maak dus deel uit van Afrika suid van die Sahara. Die noorde word deur die minder droë en meer vrugbare Sahel gekenmerk en die suide deur die Soedangebied. Laasgenoemde ontvang meer reënval as die Sahel en is geskik vir landbou.

Die Senegalese landskap bestaan hoofsaaklik uit golwende sanderige vlaktes van die westelike Sahel wat tot voetheuwels in die suidooste styg. Hier word ook Senegal se hoogste punt aangetref, 'n andersins naamlose 581 m hoë punt naby Nepen Diakha. Die noordelike grens word gevorm deur die Sénégalrivier, ander riviere sluit in die Gambia en die Casamancerivier. Die hoofstad Dakar lê op die Cap-Vert-skiereiland, die mees westelike punt van die Afrikavasteland.

Klimaat duimnael|links|Klimaatsones in Senegal volgens die Köppen-klimaatklassifikasie duimnael|Die Gambiërivier kronkel deur die Niokolokoba Nasionale Park, Senegal Senegal beskik oor 'n tropiese klimaat met aangename warmte dwarsdeur die jaar met goed gedefinieerde droë en vogtige seisoene wat die gevolg is van noordoostelike winterwinde en suidwestelike somerwinde. Die droë seisoen (Desember tot April) word oorheers deur warm en droë harmattan-winde.

Dakar se jaarlikse reënval van omtrent 600 mm kom tussen Junie en Oktober voor wanneer die gemiddelde temperature wissel tussen maksimaal 30 °C (86 °F) en minimaal 24,2 °C (75,6 °F); die kwik bereik tussen Desember en Februarie 'n maksimum van 25,7 °C (78,3 °F) en 'n minimum van 18 °C (64,4 °F).

Binnelandse temperature is hoër langs die kus (byvoorbeeld is die gemiddelde daaglikse temperatuur in Kaolack en Tambacounda 30 °C (86 °F) en 32,7 °C (90,9 °F), onderskeidelik, vergelyk met Dakar se 23,2 °C (73,8 °F), en die reënval styg aansienlik verder suid, met jaarliks hoogstens 1500 mm (59,1 in) in sommige gebiede.

In die verre binneland van Tambacounda, veral langs die grens met Mali waar die woestyn begin, kan die kwik tot 54 °C (129,2 °F) styg. Die noordelikste gedeelte van die land beskik amper oor 'n warm woestynklimaat, die sentrale gedeelte het 'n warm halfdroë-klimaat en die suidelikste gedeelte 'n tropiese nat en droë-klimaat. Senegal is hoofsaaklik 'n sonnige en droë land.

Administratiewe verdeling duimnael|Die 14 Senegalese streke of regions duimnael|Die Conseil Régional-gebou in Ziguinchor. Streke, in teenstelling met departmente of arrondissements (maar soos gemeentes), definier administratiewe en politieke mag in Senegal. Senegal is onderverdeel in 14 streke of regions, Statoids page on Senegal (let wel dat op 10 September 2008 drie nuwe streke gestig is). elkeen word deur 'n Conseil Régional (plaaslike raad) geadministreer wat deur die bevolking op Arrondissement-vlak verkies word. Die land is verder verdeel in 45 Départements, 113 Arrondissements (geen van hulle het 'n administratiewe funksie nie) en Collectivités Locales, wat administratiewe beamptes kies. List of current local elected officials van Union des Associations d' Elus Locaux (UAEL) du Sénégal. Code des collectivités locales , Loi n° 96-06 du 22 mars 1996.

Tot dusver is al die streeksname van hul plaaslike hoofstede ontleen.

Streek Hoofstad Oppervlakte(km²) Bevolking(2013-sensus) Senegal op GeoHive. Dakar Dakar 547 3 137 196 Ziguinchor Ziguinchor 7 352 549 151 Diourbel Diourbel 4 824 1 497 455 Saint-Louis Saint-Louis 19 241 908 942 Tambacounda Tambacounda 42 364 681 310 Kaolack Kaolack 5 357 960 875 Thiès Thiès 6 670 1 788 864 Louga Louga 24 889 874 193 Fatick Fatick 6 849 835 352 Kolda Kolda 13 771 714 392 Matam Matam 29 445 562 539 Kaffrine Kaffrine 11 262 566 992 Kédougou Kédougou 16 800 152 357 Sédhiou Sédhiou 7 341 452 944

Plaaslike administrateurs word almal aangestel en is verantwoordelik aan die president.

Politiek duimnael|links|Hutte op die platteland duimnael|upright|Bassirou Diomaye Faye dien sedert 2024 as president van Senegal