duimnael|links|Rosa Luxemburg (regs) en Clara Zetkin in 1910 duimnael|300px|links|Rosa Luxemburg, 1895

Rosa Luxemburg (1871–1919), wat volgens haar geboortesertifikaat op 5 Maart 1871 as Rosalia Luksenburg in Zamość, Pole van Joodse afkoms gebore is; was een van die belangrike leiers van die Europese arbeidersbeweging en 'n vasbeslote voorstander van die proletariese internasionalisme.

Sy lewer veral in die Poolse en Duitse sosiaal-demokratiese beweging 'n groot bydrae tot die Marxistiese teorie en tree as 'n baie aktiewe antimilitariste op. As 'n protes teen die Duitse deelname in die Eerste Wêreldoorlog stig sy in 1914 die Gruppe Internationale en word saam met Karl Liebknecht leier van die latere Spartakusbund, wat as opvolger van die Gruppe Internationale optree.

As politieke skrywer gee sy 'n groot aantal essays, wat die beleid van haar tydperk kritiseer, en ekonomiese analises uit. Sy word later mede-uitgewer van die linkse koerant Die Rote Fahne.

Teen die einde van die jaar 1918 is sy een van die stigters van die Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en stel sy partyprogram saam. Na die mislukte Spartakus-opstand van 1919 is Rosa Luxemburg saam met Karl Liebknecht op 15 Januarie deur anti-republikeinse Freikorpslede in Berlyn vermoor. Die presiese omstandighede van hierdie politieke moord is nie bekend nie.

Rosa Luxemburg se teoretiese en praktiese werk vir die sosialistiese beweging en die internasionale solidariteit van die arbeidersklas en haar optrede teen militarisme en oorlog maak van haar een van die belangrikste politici van die vroeë 20ste eeu, wat ook buite haar party en Duitsland groot erkenning geniet.

Die jaarlikse herdenking van die moord op Rosa Luxemburg en Karl Liebknecht, wat op die tweede Sondag van Januarie in Berlyn plaasvind, is nog steeds een van die grootste politieke betogings van Duitsland. Sedert die hereniging van Duitsland het dit egter afgeneem. Op 13 Januarie 2008 byvoorbeeld het 'n LLL-betoging volgens die pers 10 000 en volgens die Duitse owerhede net 3 500 deelnemers gehad.

Bronnelys Feliks Tych: Luksemburg (Rosalia). In: Polski Slownik Biograficzny. T. III/1. Wroclaw. 1973 I. Jashborowskaja, J. Jewserow: Rosa Luxemburg. Biographische Skizze. Moskou. 1974 Gilbert Badia: Rosa Luxemburg. Journaliste, Polémiste, Révolutionaire. Parys. 1975 Aleksander Kochanski: Róza Luksemburg. Warskou. 1976 Richard Abraham: Rosa Luxemburg. A life for the International. Oxford, Engeland. 1989 Elzbieta Ettinger: Rosa Luxemburg. Ein Leben. Norman Geras: Rosa Luxemburg. Kämpferin für einen emanzipatorischen Sozialismus. Londen. 1976 Donald E. Shepardson: Rosa Luxemburg and the Noble Dream. Peter Lang Publications. New York. 1996.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Duitsers in die Eerste Wêreldoorlog Kategorie:Duitse aktiviste Kategorie:Duitse essayiste Kategorie:Duitse Jode Kategorie:Duitse politici Kategorie:Duitse skrywers Kategorie:Poolse Jode Kategorie:Kommuniste Kategorie:Rewolusioniste Kategorie:Geboortes in 1871 Kategorie:Sterftes in 1919