Die volgende artikel dien as 'n basiese opsomming van Afrikaanse taalleer. Die artikel bespreek onder meer die onderskeie sinonieme vir Afrikaanse begrippe, algemene taalfoute, spelpatrone, die los- en vasskryf van woorde en skryf- en leestekens. Verder bespreek dit die gebruik van woordeboeke, afkortings en akronieme, die verskillende tipes woorddele wat 'n mens in Afrikaans aantref, geslag, meervoud en verkleining asook intensiewe vorme, leenwoorde en taalbegrippe. Die artikel fokus ook op die verskillende woordsoorte wat in die Afrikaanse taal gevind word, sinsleer en sinsontleding, gee 'n oorsig oor letterkundige terminologie en fokus laastens op figuurlike en retoriese taal- en literêre stylmiddels.
Standaardafrikaans Soos in meeste ander lande, het ons streekstaal, maar ook skryftaal. Sekere uitdrukkings in streekstaal word soms nie deur mense in ander streke goed verstaan nie; daarom het ons skryftaal in Afrikaans, wat Standaardafrikaans is, sodat almal minstens kan lees en verstaan wat geskryf is. Standaardtaal is ook die taal wat in die woordeboeke en meeste tydskrifte en koerante gebruik word.
Sinonieme vir begrippe Baie van die begrippe wat jy in Afrikaans gaan leer, het sinonieme. Dit sal telkens aangedui word. Dit beteken jy kan enige een van die begrippe gebruik:
Voorbeelde van sinonieme vir begrippe Byvoeglike naamwoord – adjektief Lydende en bedrywende vorm – passief en aktief Voegsel – verbindingsklank Kompleks – gelede woord Basisvorm - stam, simpleks, ongelede woord Voorvoegsel – premorfeem, prefiks Agtervoegsel – postmorfeem, suffiks Affiks – voor- of agtervoegsel
Taalfoute 'n Mens hoor daagliks lelike taalfoute in advertensies wat jy moet probeer om nie te gebruik nie. Een van die aakligstes is uitmis. Die lelike woorde word dikwels na aanleiding van die Engels “Don’t miss out on it!” gebruik in 'n sin soos: Moenie uitmis op die geleentheid nie. Diere mis uit – nie mense nie. 'n Baie beter sin sou wees: Moenie die geleentheid laat verbygaan nie. Jy kan wel die woord mis in 'n sin gebruik, bv. Jy moenie die geleentheid mis /misloop nie. Net nie uitmis nie! Australiërs woon in Australië – NIE Australianers nie. Die mense wie jy moet bedank... is verkeerd. Die mense wat jy moet bedank... is korrek. Moet jou nie komkommer nie - X. Korrek: Moet jou nie bekommer nie. Kom saam my - X Kom saam met my. (Die fout kom na aanleiding van die Engels: Come with me.) In die skryftaal gebruik ons slegs was vir die verlede tyd en nie is gewees, was gewees of gewees het NIE bv. Hy was gister siek. Tyd word gewoonlik met 'n dubbelpunt geskei, bv. 22:00 of die meer wetenskaplike styl 22h00. Moenie sms-taal in jou skryfwerk gebruik nie.
Maklikste maniere om spelling aan te leer
Spelpatrone Daar is vier grondbeginsels vir die Afrikaanse spelling of redes waarom ons woorde op 'n sekere manier spel: Baie woorde is uit Nederlands oorgeneem en daarom is dit tradisie om bv. sekere woorde met v of f te spel of met y of ei. Ons skryf in Standaardafrikaans. Daar word verskillende soorte Afrikaans (dialekte) gepraat, maar as ons skryf, skryf ons Standaardafrikaans, sodat alle Afrikaanssprekers dit kan verstaan. Ons skryf volgens die beginsel van gelykvormigheid. Dit beteken dat ons nie altyd skryf soos wat woorde klink nie. Ons hoor bv. hont, maar ons spel dit hond, omdat die meervoud honde is en nie honte nie. Die spelling van die enkelvoud en meervoud mag nie verskil nie. Indien jy twyfel of 'n woord los of vas geskryf word, skryf dit vas. Dit sal 99$ van die keer korrek wees. Die goue reël is: een begrip, een woord. Bv. artilleriekolom, nie artillerie kolom nie; rusperwiele, nie rusper wiele nie.
Vokale a,e,i,o,u
Konsonante Al die ander alfabetletters
Diftonge Ook genoem tweeklanke; jy voel hoe jou mond die klank verander: ou, oei, ooi, y, ei, eeu, oi, ui, ai, aai
Klanke wat soos diftonge lyk, maar net vokale is: ie, oe, eu. Jou mond verander nie wanneer jy die klanke uitspreek nie. Onthou die rympie; die toe deur. Dit lyk soos diftonge, maar is vokale.
Oop en geslote lettergrepe Oop lettergrepe eindig op 'n vokaal of diftong, bv. dro-me, meeu-e;
geslote lettergrepe eindig op 'n konsonant, bv. tuin, skool.
Onthou die volgende, dan is spelling maklik:
Spelreëls
Vokale Lang klanke in geslote lettergrepe word dubbeld geskryf, soos boom, skool, muur. Lang klanke in oop lettergrepe (behalwe by u soos skuuste) word enkel gekryf, bv. bome, skole, mure.
Konsonante Die konsonant verdubbel wanneer: Dit tussen 'n kort beklemtoonde vokaal en nog 'n vokaal staan, soos manne, bakke, balle; Die basis by die oortreffende trap op –s eindig, bv. snaaksste; By saamgestelde woorde waar een woord met –s eindig en die volgende woord met –s begin, bv. lappop, gronddam. Wanneer woorde op –s 'n afleiding kry, bv. adresseer, bypassend Wanneer 'n kort klinker nie die hoofklem dra nie, word dit nie verdubbel nie, bv, huwelike, heerlike. Baie belangrik: by woorde soos seunskool en meisieskoen, word net een –s geskryf, want dit is seun+skool en meisie+skoen. Die i- en ie-klanke
Woorde wat van ander tale ontleen is, kry –i, bv. idee, titel, maar dié wat nie ontleen is nie, kry –ie, soos mielie, kierie, bietjie.
Wisselvorme in spelling Daar is woorde wat op twee maniere gespel kan word, soos pawiljoen en paviljoen; tsunami en tsoenami.
Die Los- en vasskryf van woorde
Vasskryf Woorde wat een begrip is, word in Afrikaans (anders as bv. in Engels) vas geskryf, bv. Afrikaansonderwyser.
Onthou: 'n koppeltekenwoord is ook een woord.
Samestellings word as een woord geskryf, bv. 'n naamwoord + naamwoord, bv. skoolkind 'n naamwoord + voornaamwoord, bv. pa-hulle, Naledi-hulle 'n naamwoord + voorsetsel, bv. stroomop, kopaf, bergop 'n naamwoord en werkwoord, bv. perdry, asemskep 'n naamwoord + byvoeglike naamwoord, bv. kiemvry, vuurvas 'n byvoeglike naamwoord + byvoeglike naamwoord, bv. donkergroen, stomverbaas Samestellings met 'n afkorting, simbool of syfer as eerste deel, word met 'n koppelteken geskryf, bv. B-span, 2016-verkiesing, R100-donasie.
Eiename met verbindings kan op verskillende maniere gespel word, bv. Klerksdorphospitaal, Klerksdorp-Hospitaal, Klerksdorp-hospitaal, Klerksdorp Hospitaal.
Eiename met 'n syfer of simbool as eerste deel, kry 'n koppelteken, bv. 4x4-Toyota
Taalname word vas geskryf, bv. Standaardafrikaans, Praatafrikaans.
Plant-en diername, bv. geelslang, blouaap, witstinkhout
Woorde met -eens, bv. meteens
Bywoorde + toe, bv. vorentoe, agtertoe boontoe, ondertoe
Losskryf van woorde Saamgestelde taalname waar die eerste deel verbuig word, bv. Kaapse Afrikaans Woordgroepe, bv. op groot skaal, gevange neem Verbindings van byvoeglike en selfstandige naamwoorde, bv. 'n blink plan, 'n groen rok Rangtelwoorde in name, bv. 3e Laan; 33ste Straat Telwoord + die woordjie al, bv. al twintig kinders. verbinding van 'n selfstandige naamwoord + toe, bv. huis toe, skool toe, dorp toe, Kaap toe
Telwoorde Dit kan op verskillende maniere geskryf word:
Los of vas: drie en twintig OF drie-en-twintig; twee duisend twee honderd OF tweeduisend tweehonderd
Skryf- en Leestekens Skryftekens is deel van die woord en leestekens staan tussen woorde.
Skryftekens Skryftekens is die deelteken, koppelteken, kappie, afkappingsteken, aksenttekens. Skryftekens (ook genoem diakritiese tekens) word gebruik om uitspraak van bepaalde letters aan te dui.
Deelteken Dit word gebruik by: twee of meer vokale wat aan verskillende lettergrepe behoort; hier dui die deelteken die begin van die nuwe lettergreep aan, bv. reën = re-en, geëis = ge-eis, voëls = vo-els. woorde waar verwarring van uitspraak kan voorkom, bv. sosioëkonomies (of sosio-ekonomies), koöperasie (of ko-operasie), mikroörganisme (of mikro-organisme) leenwoorde met aër, bv. aërodinamika meervoude van woorde wat op ee, i, ie, oe of g na enige vokaal, en die meervoud op –e eindig, bv. feë, knieë, boë, ploeë, vlieë
Koppelteken Onthou: 'n koppeltekenwoord is nog steeds een woord
Dit word gebruik: om lees te vergemaklik by opeenhoping van vokale, bv. na-aap by woorddele van vreemde herkoms, bv. hidro-elektries (ook hidroëlektries gespel) waar dubbelsinnigheid kan wees, bv. bo-sluis (teenoor bosluis) by lang samestellings om lees te vergemaklik, bv. ontwikkelingspelerspan-afrigting by verbindings met syfers en simbole, afkortings en akronieme, bv. BTW-syfers, e-pos by herhalingsvorme, bv. lag-lag, so-so by woordgroepkoppelings, bv. klem-in-die-kaak, piet-my-vrou samestellings van 'n woordgroep, bv. ruk-en-rol-orkes wanneer –hulle met 'n selfstandige naamwoord verbind word, bv. Thabo-hulle, ma-hulle indien eks-, nie-, non-, en oud- voor 'n eienaam staan, bv. oud-Matie (maar oudleerder) by sekere eiename, bv. Aliwal-Noord, Pretoria-Oos, Nieu-Seeland saamgestelde range, bv. generaal-majoor by weglating van 'n woorddeel, bv. sokkerspelers en –afrigters, Moot- en Vinkstraat (nie strate nie, want die woord straat word herhaal en nie strate nie)
Kappie Dit word op die vokale o, i, e en u gebruik: wanneer die vokaal in 'n oop lettergreep voorkom, verleng die kappie die klank, bv. wêreld, lêer, môre wanneer e in 'n geslote lettergreep voorkom wat op 'n enkele konsonant eindig, bv. skêr, miljoenêr, sekondêr
Afkappingsteken Dit word gebruik by meervoudvorme en verkleinwoorde : wat op i, o en u eindig, bv. ma’s, foto’tjie, skadu’s, Israeli’s (maar nie as dit deel is van 'n diftong nie, bv. koeitjie, leeus of waar woorde op dubbelvokale eindig, soos komitees) van eiename wat op e en (r)s eindig wat nie uitgespreek word nie bv. Marais’s, Du Plessis’tjie meervoudvorme en verkleinwoorde van afkortings waar die letters afsonderlik uitgespreek word, bv. BMW’s, TV’s van letters, bv. a’s, m’e, m’etjie van syfers en getalle, bv. 8’s, 21’s dit word gebruik waar klanke uitgelaat is, bv, s’n (vir syne); g’n (vir geen)
Aksenttekens: akuut en gravis Die akuutaksent word by Afrikaanse woorde net op vokale geplaas om die woord te beklemtoon, bv. néé, móét. Dit word net op die i geplaas as dit die enigste vokaal is, bv. wíl, maar nie op die i in lúi nie. Dit word by sekere woorde van vreemde herkoms geplaas, bv. cliché Die gravisaksent word net op vier Afrikaanse woorde gebruik, nl. nè, dè, hè en appèl en ook op woorde van vreemde herkoms, soos première, ampère en op name soos Adèle.
Leestekens / punktuasie Leestekens vergemaklik lees. Dit is kommas, punte, kommapunte, aanhalingstekens, uitroeptekens, vraagtekens, dubbelpunte, hakies, ellips en aandagstrepe.
Punt Die punt word aan die einde van 'n sin en by afkortings gebruik.
Komma Die komma word gebruik: tussen twee of meer selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde of werkwoorde, bv. Ek het penne, potlode, boeke, 'n liniaal en uitveër in my skooltas. tussen twee werkwoorde wat afsonderlike gesegdes vorm, bv. Nadat ons geëet het, het ons gerus. voor of na die naam van die aangesprokene, bv. Magda, waarom huil jy? Wanneer gaan jy huis toe, Ben? om 'n inlassin (parentese) aan die dui, bv. Mnr. De Wet, hoof van die skool, is baie dinamies. na 'n tussenwerpsel met 'n uitroepteken aan die einde van die sin, bv. Sjoe, dis warm vandag! tussen rand en sent in geldbedrae, bv. R99,99
Kommapunt Die kommapunt: vervang soms die voegwoorde en, maar en want, bv. Ek kan nie kom nie; ek is siek. word voor die voegwooorde dus, daarom, gevolglik, nogtans, tog, nietemin en inteendeel gebruik, bv. Hy het my diep teleurgestel; nogtans sal ek hom help.
Dubbelpunt Die dubbelpunt word gebruik: wanneer 'n reeks dinge opgenoem word, bv. Bring die volgende saam: jou swemklere, sonbrandmiddel, hoed, rugsak en gemaklike skoene. voor woorde wat in die direkte rede aangehaal word, bv. Hy sê: “Die busse vertrek 06:00.” voor 'n verduideliking, bv. Onthou altyd: onderwysers gee om vir jou. in tydsaanduidings, bv. 08:15 by verwysings na Bybelverse, bv. Psalm 23:6
Aanhalingstekens