Ds. Johannes Gerrit Hendrik van der Walt (waarskynlik Ladybrand, Oranje-Vrystaat, 9 November 1873 – Middelburg, Kaap, 6 Februarie 1956) was die eerste Vrystater wat sy teologiese studie aan die Teologiese Skool Burgersdorp voltooi het en daarna predikant in twee gemeentes van die Gereformeerde Kerk, albei in die huidige provinsie Oos-Kaap: Barkly-Oos van 1899 tot 1904 en daarna Middelburg tot hy sy emeritaat 1939 aanvaar het.
Herkoms Ds. Van der Walt se vader was omstreeks 1870 ouderling van die Gereformeerde kerk Ladybrand. In 1891 het hy sy 18-jarige seun met kar en perde na Burgersdorp gebring vir sy opleiding. Einde 1897 het hy sy teologiese studie saam met ds. J.C. Krüger (oorlede in Junie 1905 in die amp as leraar van Ladybrand), dr. P.C. Snyman (oorlede in Mei 1915 in die amp as leraar van Steynsburg) en prof. J.A. du Plessis, oorlede in 1935; dus is al drie sy medeafgestudeerdes oorlede voor ds. Van der Walt sy emeritaat aanvaar het. Van sy ander medestudente was ds. Dirk Postma (later jare lank leraar van Burgersdorp en prof. Ferdinand Postma.
Lewensoorsig duimnael|270px|regs|Ds. Van der Walt en sy eerste vrou, Finnie. Sy is in 1937 oorlede, waarna hy weer getroud is.
duimnael|links|220px|'n Groep Burgersdorpse studente, Oktober 1896. Agter (van links): J.G.H. van der Walt, J.A. du Plessis, J.C. Krüger, Willem Postma. Tussen-in: G.H.J. Kruger. Voor: P.J. Snyman en J.D. du Toit.
Prop. Van der Walt het nie dadelik 'n beroep ontvang nie en hom toe onledig gehou deur joernalistieke werk in Bloemfontein te doen. Met die laaste Nagmaalsviering van 1898 is hy na Barkly-Oos uitgenooi. Sy vreugde was groot toe hy ná die voorbereidingsdiens met feitlik algemene stemme daarheen beroep word. Begin 1899 is hy dan tot herder en leraar daar bevestig. Die eerste jare van sy bediening was besonder veeleisend veral ook weens die Driejarige Oorlog wat veel ontwrigting veroorsaak het.
In Oktober 1904 het hy 'n beroep na Middelburg, Kaap opgevolg. Vir die res van sy bedieningstyd sou hy in Middelburg bly. Ds. Van der Walt het sy emeritaat op 16 April 1939 aanvaar ná ’n geseënde dienstyd van sowat 40 jaar, waarvan nagenoeg 35 jaar op Middelburg. Ná sy aftrede het hy en sy tweede vrou op Rus-’n-Bietjie, hul eie woning naby Bloemfontein, gaan woon. Hy het dit self as "’n uitspanplekkie langs die pad" beskryf. Die verblyf so ver van sy laaste werkkring was egter van korte duur, want hy het kort voor lank na Middelburg teruggekeer en sy laaste lewensjare daar deurgebring. Tot omstreeks 1952 was hy nog bereid om veral gedurende tye van vakantskap met prediking en siekebesoek te help.
As leraar van Middelburg in 'n tyd toe Gereformeerde kerke in die weste van die destydse Kaapprovinsie dun gesaai en predikante selfs minder was, het ds. Van der Walt se hele lewe in diens van die kerke in Kaapland gestaan. Vanuit Middelburg het sy voetstappe tot selfs in Angola gelei. As konsulent het hy opgetree by die stigting van die gemeentes in Kaapstad en Port Elizabeth. Ten tyde van sy dood was daar in dié streek reeds vier predikante en ses gemeentes. Met merkwaardige trou het hy ook die verspreidwonende ldimate op Cradock en elders besoek.
Die Gereformeerde kerk Worcester is in 1954 gestig en het in 1956 sy eerste predikant ontvang; daarom het ds. Van der Walt jare lank vanuit Middelburg in die beherende liggaam van die Skool vir Blindes op Worcester gedien. Jare lank het hy ook in die kuratorium van die Teologiese Skool Potchefstroom waardevolle werk verrig. Hy word beskryf as "'n ware kragsfiguur" op die Algemene Vergaderings en Partikuliere Sinodes. Jare lank was hy penningmeester van al die kasse in Kaapland asook voorsitter van die korresponderende kerkraad van die Westelike Klassis.
Bediening in Middelburg, Kaap Oorsig Die gemeente is diep aangegryp deur die dood van ds. Stephanus Postma op 8 Februarie 1904. In Mei besluit die kerkraad om weer te roep en so is ’n beroep op 27 Mei 1904 op ds. Dirk Postma van Rustenburg uitgebring. Nadat hy vir die beroep bedank het, is ds. J.G.H. van der Walt met 'n groot meerderheid van stemme op 16 Julie 1904 beroep; op 26 Augustus kon die kerkraad met dank kennis neem daarvan dat die beroep aanvaar word. Ds. Van der Walt is op 9 Oktober 1904 op Middelburg bevestig, die begin van ’n besonder lang bedieningstyd, wat strek tot aan sy emeritaatsaanvaarding op in April 1939. Hy het dus sowat 35 lank voltyds in die gemeente gewerk en eindelik sowat 50 jaar op die dorp gewoon.
Ds. Van der Walt moes leiding gee in die moeilike jare ná die Tweede Vryheidsoorlog; hy moes uit die Bybel koers aandui in die moeilike tye van die griepepidemie en depressie; hy moes aan die roer staan tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) en die Rebellie van 1914.
Sendingwerk duimnael|regs|320px|1909: Die halfeeufees van die Gereformeerde kerk Burgersdorp. Eerste ry: Di. P.W. Bingle, G.H.J. Kruger, dr. P.C Snyman, di. D. Postma, J.G.H Van der Walt, H.P.J. Pasch. Tweede ry: Ds. W.J. de Klerk, drr. S.O. Los, J.D. du Toit, di. W.J. Snyman, L.J. Du Plessis, kerkraadslede J.P. Kruger, J.P. Kruger, D.J. Coetzee. Derde ry: Kerkraadslede A.M. Venter, T.L. Eloff, J.C. van Rooy, P.J. Aucamp, A.G. Nienaber, T. Aucamp, J.C. Lessing en M.A. Hechter.
Al het die gemeente nie daadwerklik 'n plaaslike sendingaksie geloods nie, het die kerkraad nie afsydig gestaan teenoor die sendingsaak nie. Die intieme meelewing met die sendingwerk is veral daardeur tot stand gebring dat die Algemene Vergadering in 1911 die sendingwerk aan die deur van die kerk alhier kom neerlê het. Op 24 Maart 1911 rapporteer oudl. D. van der Walt, wat as deputaat van Middelburg op die Algemene Vergadering teenwoordig was, soos volg: "De gemeente Burgersdorp, aan wie de zending te Humpata door de Sinode werd opgedragen, heeft 't niet mogelijk gevonden dat werk onder haar toezicht te nemen omdat de vrije school in die gemeente al haar aandacht eist. De A.V. heeft hierom deze gemeente verzocht 't zendingwerk in Humpata onder haar toezicht te nemen". Hieroor word besluit: “de toezicht over de zending te Humpata te aanvaarden. Tevens wordt besloten de zendingkommissie op te dragen namens de kerkeraad in zake de zending te korresponderen en van tyd tot tyd by de kerkeraad verslag te doen."
Op die kerkraadsvergadering van 12 Mei 1911 is meegedeel dat £14 van die jaarlikse salaris (£50) van br. Graphorn wat die werk in Humpata verrig het, deur die gemeentes van Kaapland voorsien moes word. Dis in die vooruitsig gestel dat die gemeentes van Kaapland kort voor lank verantwoordelikheid vir die volle £50 per jaar sou moes aanvaar. Telkens is uit Humpata berig ontvang en “goede vooruitgang” aan die kerkraad gerapporteer. Dit het waarskynlik nie tot baie groot resultate gelei nie, want dit lyk of die saak van die sendingwerk te Humpata mettertyd nie meer op die kerkraadsagenda verskyn het nie. In die notule van 15 Mei 1914 is die mededeling dat br. Graphorn om gesondheidsredes die werk nie meer kon doen nie; dan ook "daar er op 't ogenblik met die (inboorlinge) oorlog in Angola is en, volgens de nieuwsbladen de zendelingen gevlucht zijn" dat daar in daardie stadium nie iemand in die plek van br. Graphorn gestuur sou word nie. So het die sendingwerk in Angola doodgeloop.
Die Christelik-nasionale onderwys Blykbaar was die groot tyd van die CNO in die tweede halfeeu van die bestaan van die plaaslike kerk (1910–1960) reeds agter die rug. Hoewel dit vermoedelik so was, het dié lewensbelangrike saak die kerkraad in die tweede halfeeu tog nie koud gelaat nie. Reeds op 11 Mei 1906, twee jaar ná ds. Van der Walt se koms, het die notule van die kerkraadsvergadering gemeld "dat de kerkraad reeds werkt in de richting van het oprichten van een Nationale School". Op 5 Oktober 1906 is besluit om 'n vereniging ter bevordering van CNO te stig. Hierdie vereniging sou in Januarie 1907 vergader (dis nie bekend of dit gebeur het nie). Dit is nie duidelik uit die kerkraadsnotule of die aktiwiteite van hierdie vereniging uitgeloop het op skoolstigting of nie. Vanaf Mei 1907 verskyn die saak van "Normaalklasse aan de School te Steynsburg" in die notule. Dit was 'n gedurige worsteling om die nodige geld bymekaar te kry. In November van dieselfde jaar is aan die kerkraad gerapporteer dat die kerk van Middelburg £30 per jaar vir die skool op Steynsburg moes stort. Die kerkraad besluit om dit te doen en "dat dit morgen namiddag aan de Gemeente zal worden medegedeeld". Verder word in die notule nie belangrike besluite in verband met CNO gevind nie, behalwe dat ds. Van der Walt op 19 Augustus 1911 die volgende aan die kerkraad gemeld het: "dat hij 10 broeders uit de gemeente (uit elke wijk een) heeft verzocht zich tot een kommissie te vormen om te werken voor 't Kristelik nationaal onderwijs, hoofdzakelik met de bedoeling om fondsen bijeen te verzamelen om tot de oprichting van een plaatselijke C.N.O. school te komen". Vermoedelik het die aksie wat in Mei 1906 van stapel gestuur is, doodgeloop. In later jare meld die notule nog net dat dit gaan om die steun aan die opleidingskool op Steynsburg – tot die skool helaas ook weens gebrek aan ondersteuning in 1950 gesluit moes word.
Halfeeufees duimnael|regs|230px|Di. J.G.H. van der Walt, G.H.J. Kruger en dr. P.C. Snyman, omstreeks 1910. Reeds in 1907 het die kerkraad aandag begin gee aan die naderende halfeeufees, maar die notule maak dit nie altyd duidelik watter halfeeufees doel word nie, die Kerkverband s’n in 1909 of die Middelburgse kerk s’n in 1910. Die halfeeufees van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het ook toe al binne die gesigskring gekom – en dan ook plaasgevind voor die halfeeufees van die kerk van Middelburg s'n. Eers ná Februarie 1909 was dit duidelik dat dit beslis handel oor die halfeeufees van die plaaslike kerk. Voor daardie datum het dit vermoedelik oor die halfeeufees van die hele Kerk in Suid-Afrika gegaan.
Op 4 Oktober 1907 word geskryf: "Daar het 50 jarige bestaan onzer kerk over een jaar feestelijk herdacht zal worden …" Dit het waarskynlik te doen met die Kerk in Suid-Afrika, maar gereken vanaf Oktober 1907 was dit oor 'n jaar en vier maande. Toe is in besluit om met die oog daarop 'n vleuel aan die kerk aan te bou as "blijvende herinnering aan voormelde heugelijke gebeurtenis".
Toe hierdie besluit van aanbou geneem is, was die probleem om die geld vir hierdie doel byeen te kry. 'n Skatting deur die respektiewe wyksdiakens kom te staan op £1 550. Die geld kon egter nie gevind word nie sodat op 3 April 1908 alreeds besluit word "dat die lijsten vernietigd worden en in plaats daarvan besluit de gemeente een dankoffer bijeen te verzamelen bij de feestviering onzer Kerk in 1909 dat gestort zal worden bij de Bouwfonds".
Die Jongeliedevereniging het ook deel gekry aan die halfeeufees. Art. 21 van die notule van 22 Januarie 1909 sê "dat het de Jongelieden der gemeente geoorloofd is als 'n blijk van dankbaarheid bij 't 50-jarig bestaan van de Geref. Kerk in Zuid Afrika de Kerk met twee luchtpompen te voorzien". Die "luchtpompen" was waarskynlik ventilators wat op die dak van die Kerk aangebring is.