Die Indiane vorm die inheemse bevolking van die Amerikas, met uitsondering van die Inuïete en die Aleoete, wat voor Christophorus Columbus se ontdekking van die Amerikas die vasteland bevolk het. Die stamvaders het die Amerikas in die vroeë geskiedenis deur die Beringlandbrug vanaf Asië bereik en daar gevestig; gevolg deur 'n verskeidenheid aan kulture en tale.
duimnael|links|Noord-Amerikaanse kulturele streke duimnael|links|Suid-Amerikaanse kulturele streke Omdat die benaming Indiane deur die Europese koloniste ingevoer is, word dit nie deur die inheemse mense van die Amerikas gebruik nie en hulle het ook nie 'n eie versamelnaam nie. Die inheemse volke in Kanada word Eerste Nasies (Engels: First Nations, Frans: Premières nations) genoem en in die Verenigde State Inheemse Amerikansers (Native Americans). Soortgelyke terme is ook in die Portugees- en Spaanstalige lande van Latyns-Amerika gebruiklik.
Indiane vorm geen eenvormige etniese groep nie; die term sluit in nomadiese jagter-versamelaars soos die Prairie-Indiane, sedentêre landbouers en ook ryksstigtende volke soos Asteke, Inka en Maja.
Algemeen Daar word teenswoordig algemeen aanvaar dat die voorouers van die Amerikaanse inboorlinge omstreeks 30 000 jaar v.C. die kontinent vanuit Siberië binnegekom het. Die Amerikas en Asië was destyds waarskynlik nog nie deur die Beringstraat van mekaar geskei nie. Verskeie groepe het tot in Suid-Amerika getrek.
Geskiedenis duimnael|Skematiese illustrasie van moederlike (mtDNA) geenvloei in en uit Beringië, vanaf 25 000 jaar gelede tot op hede duimnael|Bolivië en Peru beskik oor 'n Indiaanse meerderheidsbevolking, insluitende mestizos Die eerste mense het die Amerikas sowat 18 000 jaar gelede oor die Beringlandbrug tussen Siberië en Alaska bereik en langs die kus tot die suide uitgebrei. Volgens 'n ander teorie het mense die Amerikas vanaf Oseanië bereik en langs die weskus versprei.
Aan die begin het hulle hul jagter-versamelaar-leefwyse behou en later landbou uitgeoefen. Belangrike voedsels sluit in aartappels en mielies. Omtrent 3000 v.C. het eerste beskawings ontstaan, soos die Maja in Meso-Amerika. Latere beskawings sluit in Caral in Peru (2627 v.C.), die Olmeke in Meso-Amerika (1500–400 v.C.), die Inka in die Andes (13de tot 16de eeu) en die Asteke in Meso-Amerika (14de tot 16de eeu).
Die term "Indiane" het ontstaan toe Christophorus Columbus gedink het dat hy Oos-Indië bereik het. Die Amerikas het uiteindelik as Wes-Indië bekend geword, 'n naam wat nog steeds gebruik word om na die eilande van die Karibiese See te verwys.
Die inheemse bevolking van die Karibiese gebied het die eerste slagoffers van die Europeërs en hul siektes geword. Nadat Columbus die Amerikas vir Spanje in besit geneem het, het die Spaanse Ryk in 1517 met die verowering van Yucatan, in 1519 met die verowering van die Asteekse Ryk en in 1532 met die verowering van die Inka-ryk begin en aansluitend groot dele van die vasteland onderwerp. Aansluitend is kolonies soos Nieu-Spanje in 1519 gestig, in 1534 het Nieu-Frankryk gevolg en in 1620 Nieu-Engeland.
Die Europese koloniste het hul godsdiens, hul kultuur en hul tale na die Amerikas gebring en die Indiane gedwing om hul leefwyse aan te neem.
Die Indiane het begin om met die Europeërs en die slawe uit Afrika te vermeng. Nadat die meeste Amerikaanse lande aan die begin van die 19de eeu hul onafhanklikheid bereik het, het die lande voortgegaan met die assimilasiebeleid.
Lande soos Chili, Meksiko en die Verenigde State het oorloë teen die inheemse bevolking gevoer en die Indiane is gedwing om in reservate te leef, veral in lande soos Brasilië, Colombia, Kanada, Panama, Paraguay, Venezuela en die Verenigde State. Die alledaagse lewe in hierdie reservate is gekenmerk deur armoede en werkloosheid.
Vandag vorm Mestizo's die bevolkingsmeerderheid in verskeie lande van die Amerikas, veral in die Sentraal-Amerikaanse lande van Belize, Costa Rica, El Salvador, Guatemala, Honduras, Nicaragua en Panama. Tot vandag toe vorm Indiane groot dele van die bevolking in lande soos Bolivië, Chili, Colombia, Ecuador, Groenland, Guatemala, Meksiko en Peru.
Ten minste 'n duisend verskillende inheemse tale word in die Amerikas gepraat. Sommige, soos Quechua, Guaraní, Aymara en Nahuatl, word deur miljoene se mense gepraat. Ander belangrike tale sluit in Mayathan en Mapudungun.
Prehistoriese kulture duimnael|Die Peruaanse Caral is van die oudste Indiaanse beskawings in die Amerikas duimnael|Monk's Mound is die grootste aardpiramide noord van Meksiko en deur die Moundbuilders-kultuur opgerig In omstreeks 20 000 v.C. het die sogenaamde Folsomkultuur in die suidweste van die Verenigde State ontstaan. Die Indianevolk wat hiertoe behoort het, was jagters wat van spiese met punte van steen gebruik gemaak het en onbekend was met die pyl en boog. In omstreeks 1000 v.C. het die Cochisekultuur in Arizona en Nieu-Meksiko ontstaan, wat op die versamel van veldkos berus maar ook 'n beskeie begin met akkerbou (mielies) gemaak het.
Dit het die grondslag gelê vir die groot suidwestelike landboukulture wat bekend staan as Mogollon-Mimbres, Pueblo en Hohokam. Talle stamme uit die gebied was ook bedrewe mandjievlegters, wat meegebring het dat hulle ook soms die mandjie-makervolk genoem word. Sowat 1000 jaar n.C. het 'n nuwe kultuur in die suidweste ontstaan, naamlik die van die rotsbewoners (Cliffdwellers-kultuur). Dit is waarskynlik veroorsaak deurdat aggressiewe stamme uit die noorde (vermoedelik die voorouers van die Apache en die Navajo) die gebied binnegeval en baie stamme gevolglik hulle toevlug tot die splete in groot rotsmassas geneem het, waar hulle wonings, torings en skanse gebou het.
'n Ander belangrike prehistoriese kultuurgebied het van die suidooste al langs die Mississippirivier op tot by die Groot Mere langs die Kanadese grens gestrek. Dit was die gebied van die sogenaamde heuwelbouers (Moundbuilders-kultuur).
Voorwerpe wat in talle kunsmatige heuwels gevind is, toon duidelike ooreenkomste met die van Indiaanse beskawings in Sentraal-Amerika. Die Natchez-stamme was die laaste verteenwoordigers van hierdie kultuur, wat reeds eeue voor die koms van die blankes deur primitiewer stamme vernietig is.
Die koms van die blankes duimnael|Territoriale ontwikkeling van Noord-Amerika sedert 1750 duimnael|Territoriale ontwikkeling van Suid-Amerika sedert 1700 Toe die ontdekkingsreise van Christophorus Columbus ’n nuwe fase vir die Noord-Amerikaanse kontinent ingelui het, was die gebied deur sowat een miljoen mense bewoon. Buite die suidwestelike en suidoostelike kultuurgebiede het ook nog 'n aantal ander Indianestamme voorgekom wat van veldkos, visvangs, jag en in sommige gevalle van akkerbou geleef het.
Die Indiane het tot 'n groot aantal verskillende taalgroepe behoort en dit het dikwels gebeur dat stamme van dieselfde taalgroep ver van mekaar gewoon en niks van mekaar geweet het nie. Die godsdienstige opvattinge en die ekonomiese, politieke en sosiale strukture was by die koms van die blankes meer uiteenlopend en ongelyk ontwikkel as wat dit destyds in Europa die geval was.
Baie Indiaanse kulture het reeds in die aanvangstydperk van die blanke kolonisasie verdwyn, maar in sommige gevalle het die kontak met blankes ook tot nuwe vorme van kulturele bloei gelei. Die bekendstelling van perde en vuurwapens het byvoorbeeld die beroemde prêriekultuur tot gevolg gehad, terwyl die gebruik van moderne metaalwerktuie die houtsnykuns in die noordweste tot groot hoogtes gevoer het.
Noordweskus duimnael|Tlingittotem in Ketchikan, Alaska Die Indianekultuur langs die Amerikaanse noordweskus was vroeër hoogs ontwikkel. Die belangrikste stamme in die gebied was die Tlingit van Alaska en die Haida, Tsimshian en Kwakiutl van Kanada. Eersgenoemde twee stamme het tot die Athapaskiese taalgroep behoort, terwyl die Tsimshian deel was van die Penutian-taalgroep en die Kwakiutl van die Mosan-taalgroep. Hoewel hierdie stamme en die talle ander van die gebied in baie opsigte van mekaar verskil het, het hulle tog 'n taamlik eiesoortige kultuur verteenwoordig.
Leefwyse Die Indiane van die noordweskus het hoofsaaklik van visvangs geleef aangesien die riviere en die see ryk was aan kabeljou, haring, heilbot en salm. Hulle het ook robbe, seeleeus, walrusse en walvisse en landdiere soos elande, kariboes en bere gejag. Die vroue het vrugte, bessies en eetbare wortels versamel. Die wonings, wat dikwels baie ruim was, is van sederhout gebou. Die kleredrag was baie beperk.
Wanneer die weer dit toegelaat het, het die mans kaal geloop, terwyl die vroue net 'n voorskoot van sederboombas gedra het. In die reënseisoen is skouermantels van bas gedra, terwyl die winterklere uit ’n verskeidenheid huide en pelse vervaardig is. Die komberse wat by feestelike geleenthede gedra is, was ook van sederboombas. Die geel komberse van die Tlingit was besonder opvallend, aangesien dit met motiewe beskilder is wat in ’n ritmiese patroon herhaal is.
Sosiale struktuur Die Noordweskus-Indiane het in dorpe gewoon wat politieke eenhede gevorm het. Onderlinge bondgenootskappe tussen dorpe is selde aangegaan, maar bloedige gevegte was algemeen, soms selfs tussen dorpe wat tot dieselfde stam behoort het. Die samelewing was streng hiërargies georden. Elke stam het uit 'n aantal sibbes bestaan wat tot dieselfde totem behoort het.
Dit was 'n mitiese voorouer wat dikwels in die vorm van 'n dier (byvoorbeeld ’n walvis, beer, arend of bewer) voorgestel is. Die sibbes was weer onderverdeel in statusgroepe waarvan die lede verskillende range en oorerflike titels gehad het. Die slawe, wat deurgaans krygsgevangenes of ontvoerde Indiane van ander stamme was, is van die sosiale organisasie uitgesluit.
Die uitleg van 'n dorp is bepaal deur die onderlinge verhoudinge wat die sibbes gehandhaaf het. ’n Enkele woning het soms tot 20 gesinne van verskillende sibbes gehuisves wat mekaar goedgesind was. Voor die huise het die totempale gestaan waarop die totemsimbole van die inwoners uitgekerf was. So 'n paal kon meer as 30 m hoog wees. Kenmerkend vir die kultuurgebied langs die noordweskus was die dra van maskers. Dit was 'n verdere aanduiding van die sibbe en rang waartoe iemand behoort het.
Maskers is ook deur lede van die verskeie magtige "geheime genootskappe" gedra wat binne die hoogste stande gevorm is en wat ’n groot invloed op die sosiale lewe van 'n stam uitgeoefen het. Die lidmaatskap van 'n sibbe, statusgroep of rang het onder meer bepaal aan watter rituele, danse en liedere 'n individu mag deelneem. Sommige van hierdie voorregte kon aan ander oorgedra word, maar die skenker kon dit dan self nie meer benut nie.
Potlatch duimnael|Waterverf deur James G. Swan wat die Klallam-mense onder die leier Chetzemoka by Port Townsend uitbeeld, met een van Chetzemoka se vroue wat potlatch versprei duimnael|Edward Curtis se foto van 'n Kwakwaka'wakw-potlatch met dansers en sangers duimnael|Wawadit'la-potlatch in Thunderbird Park, Victoria, Brits-Columbië, Kanada, 'n groot hut wat deur Mungo Martin in 1953 opgerig is Om besittings, hetsy materieel al dan nie, weg te gee, was 'n algemene gebruik onder die Indiane van die noordweskus en het verband gehou met hul sterk drang na aansien. Hierdie strewe het veral uiting gevind in die sogenaamde potlatch (afgelei van die woord patshatl = “om te gee"), wat ’n feestelike byeenkoms was waarby die gasheer sy gaste met geskenke oorlaai en dikwels van sy eiendom vernietig en slawe vermoor het.
Hoe meer hy kon weggee en vernietig, hoe groter was sy aansien onder sy gaste. Potlatch-feeste is egter so dikwels oor en weer gehou dat baie van die geskenke terugontvang is. In wese was dit dus niks anders as verbloemde ruilhandel nie, maar dit het bygedra tot die indrukwekkende kulturele bloei van die noordwestelike beskawing: Om sy gaste te beïndruk, het die gasheer moeite gedoen om met die mooiste en kleurrykste goedere vorendag te kom.
Godsdiens