Vlad III van Walachye, ook bekend as Vlad Dracula of Vlad die Deurboorder (Roemeens: Vlad Țepeș; 1428/'31-1476/'77), was tussen 1448 en sy dood drie keer woiwode (prins) van Walachye. Hy was die tweede oudste seun van Vlad II Dracul, wat in 1436 die heerser van Walachye geword het.
Vlad en sy jonger broer, Radu, is van 1442 in die Ottomaanse Ryk as gyselaars aangehou om hul pa se lojaliteit aan die sultan te verseker. Vlad se pa en sy oudste broer, Mircea, is vermoor nadat Johannes Hunyadi, regent-goewerneur van Hongarye, Walachye in 1447 binnegeval het. Hunyadi het Vlad se kleinneef, Wladislaus II, as die nuwe woiwode aangestel.
Hunyadi het die Ottomaanse Ryk in 1448 aangeval, en Wladislaus het hom vergesel. Vlad het Walachye in Oktober dié jaar met Ottomaanse hulp binnegeval, maar Wladislaus het teruggekeer en Vlad het in die Ottomaanse Ryk gaan skuil. Vlad is in 1449 of 1450 na Moldawië en later na Hongarye. Hy het Walachye in 1456 met Hongaarse hulp binnegeval. Wladislaus is dood terwyl hy teen hom geveg het.
Vlad het ’n slagting onder die Walachyse bojare begin om sy posisie te versterk. Hy het teenstand gekry van die Transsilvaniese Saksers wat sy teenstanders, Wladislaus se broers Dan en Basarab Laiotă, gesteun het asook Vlad se buite-egtelike halfbroer, Vlad die Monnik. Vlad het die Saksiese dorpies geplunder, die mense na Walachye geneem en daar aan pale laat hang nadat hy hulle deurboor het (vandaar sy bynaam). Die vrede is eers in 1460 herstel.
Die Ottomaanse sultan Mehmet II het Vlad gelas om aan hom persoonlik eer te betoon, maar Vlad het die sultan se twee afgevaardigdes laat vang en deurboor. In Februarie 1462 het hy die Ottomaanse Ryk aangeval en tienduisende Turke en Bulgare vermoor. Mehmet het ’n veldtog teen Walachye geloods om Vlad met sy jonger broer, Radu, te vervang. Hoewel dit nie geslaag het nie, het al hoe meer Walachyers na Radu se kant oorgeloop. Vlad is laat in 1462 na Transsilvanië om hulp te vra by die Hongaarse koning, Matthias Corvinus, maar Corvinus het hom gevange geneem en hom daarvan beskuldig dat hy en die sultan Hongarye in die geheim wou inval.
Vlad is van 1463 tot 1475 aangehou. In dié tyd het stories oor sy wreedheid na Duitsland en Italië versprei. Hy is op versoek van Stefanus III van Moldawië in die somer van 1475 vrygelaat. Hy het in Corvinus se leër teen die Ottomane geveg, en Hongaarse en Moldawiese soldate het hom gehelp om Basarab Laiotă (wat Vlad se broer Radu onttroon het) in November 1476 te laat vlug. In dieselfde jaar nog het Basarab teruggekeer met Ottomaanse hulp en Vlad is voor 10 Januarie 1477 vermoor. Boeke waarin vertel is van Vlad se wrede dade, was van die eerste topverkopers in Duitssprekende gebiede. Sy reputasie en patroniem (vadersnaam) het aanleiding gegee tot die naam van die vampier graaf Dracula in Bram Stoker se 1897-boek, Dracula.
Naam Vlad III se bynaam, Dracula, is soms ook Dracuglia of Drakula gespel. Hy het self in die laat 1470's twee briewe onderteken as Drakulya. Dit kom van sy pa se bynaam, Vlad Dracul ("Vlad die Draak"), wat hy gekry het nadat hy lid van die Orde van die Draak geword het. Dracula is die Slawiese genitief van Dracul en beteken dus "(seun) van Dracul" of "van die Draak". In moderne Roemeens beteken dracul "die duiwel", wat bygedra het tot Vlad se berugtheid.
Vlad III is in Roemeens bekend as Vlad Țepeș ("Vlad die Deurboorder") omdat hy sy vyande met pale laat deurboor het.
Vroeë lewe Vlad was die tweede oudste wettige seun van Vlad II Dracul, 'n buite-egtelike seun van Mircea I van Walachye. Vlad II het die bynaam "Dracul" gekry vanweë sy lidmaatskap van die Orde van die Draak, 'n militante broederskap wat deur keiser Sigismund van die Heilige Romeinse Ryk gestig is om die inval van die Ottomane in Europa stop te sit.
Aangesien Vlad in 1448 oud genoeg was om 'n aanspraakmaker op die troon van Walachye te wees, moes hy tussen 1428 en 1431 gebore gewees het. Hy is waarskynlik gebore nadat sy pa in 1429 in Transsilvanië gaan woon het. Die historikus Radu Florescu skryf Vlad is in die Transsilvanies-Saksiese dorp Sighisoara (toe in die Koninkryk Hongarye) gebore, waar sy pa van 1431 tot 1435 in 'n steenhuis van drie verdiepings gewoon het. Moderne historici identifiseer Vlad se ma as óf 'n dogter óf 'n ander familielid van Aleksander I van Moldawië, of as sy pa se onbekende eerste vrou.
links|thumb|links|220px|Die huis op die hoofplein van Sighisoara waar Vlad se pa van 1431 tot 1435 gewoon het. Vlad II Dracul het Walachye oorgeneem ná die dood van sy halfbroer Aleksander I Aldea in 1436. In een van sy handveste (wat op 20 Januarie 1437 uitgereik is) word melding gemaak van Vlad III en sy ouer broer, Mircea, en word hulle hulle pa se "eersgebore seuns" genoem. Tussen 1437 en 1439 is hulle in nog vier dokumente genoem. In die laaste een word ook na hulle jonger broer, Radu, verwys.
Ná 'n vergadering met Johannes Hunyadi, woiwode van Transsilvanië, het Vlad II Dracul nie 'n Ottomaanse inval van Transsilvanië in Maart 1442 ondersteun nie. Die Ottomaanse sultan, Murat II, het hom gelas om na Gallipoli te kom en sy trou te bewys. Vlad en Radu het hulle pa vergesel op sy reis na die Ottomaanse Ryk, waar hulle almal gevange geneem is. Vlad Dracul is voor die einde van die jaar vrygelaat, maar Vlad en Radu het gyselaars gebly om sy lojaliteit te verseker. Volgens Ottomaanse kronieke is hulle in die fort Eğrigöz (nou Doğrugöz) aangehou.
Hulle lewens was veral in gevaar nadat hulle pa Wladislaus, koning van Pole en Hongarye, teen die Ottomaanse Ryk gesteun het tydens die Kruistog van Varna in 1444. Vlad II Dracul was oortuig daarvan dat sy twee seuns vermoor is "ter wille van Christelike vrede", maar nie een van hulle is vermoor of vermink oor hulle pa se rebellie nie.
Vlad Dracul het weer die sultan se opperheerskappy in 1446 of 1447 erken en beloof om 'n jaarlikse heffing aan hom te betaal. Johannes Hunyadi (wat in 1446 regent-goewerneur van Hongarye geword het) het Walachye in November 1447 binnegeval. Die Bisantynse historikus Michael Critobulus het geskryf Vlad en Radu het na die Ottomaanse Ryk gevlug, wat daarop dui dat die sultan hulle na Walachye laat terugkeer het nadat hulle pa hulde aan hom betoon het. Vlad Dracul en sy oudste seun, Mircea, is vermoor. Hunyadi het Wladislaus II (seun van Vlad Dracul se neef, Dan II) as heerser oor Walachye aangestel.
Bewinde Eerste bewind thumb|220px|Die grondgebied wat omstreeks 1390 deur Vlad die Deurboorder se oupa, Mircea I van Walachye, regeer is. Die grond regs van die Donau is voor Vlad se bewind aan die Ottomane afgestaan.
Met die dood van sy pa en ouer broer het Vlad 'n moontlike troonopvolger van Walachye geword. Wladislaus II van Walachye het Johannes Hunyadi vergesel toe Hunyadi in September 1448 'n veldtog teen die Ottomaanse Ryk voer. Vlad het gebruik gemaak van sy teenstander se afwesigheid en Walachye vroeg in Oktober binnegeval.
Die Ottomane het Hunyadi se leër tussen 17 en 18 Oktober by die Slag van Kosovo verslaan. Hunyadi se onderleier, Nikolaas Vízaknai, het 'n beroep op Vlad gedoen om hom in Transsilvanië te ontmoet, maar Vlad het geweier. Toe Wladislaus na Walachye terugkeer, moes Vlad (voor 7 Desember 1448) na die Ottomaanse Ryk vlug.
In bannelingskap Vlad het eers in Edirne in die Ottomaanse Ryk gaan woon ná sy val. Nie lank daarna nie is hy na Moldawië, waar Bogdan II (sy pa se swaer en moontlik sy oom aan moederskant) die troon in die herfs van 1449 bestyg het met die steun van Hunyadi. Nadat Bogdan in Oktober 1451 vermoor is, het sy seun, Stefanus, saam met Vlad na Transsilvanië gevlug om Hunyadi se hulp te vra. Hunyadi het egter op 20 November 1451 'n wapenstilstand met die Ottomaanse Ryk gesluit, en daarvolgens erken hy die Walachyers se reg om 'n opvolger te kies as Wladislaus II sou sterf.
Tweede bewind Konsolidasie Dit is onseker hoe en wanneer Vlad na Walachye teruggekeer het. Hy het Walachye in óf April óf Julie óf Augustus 1456 met Hongaarse steun binnegeval. Wladislaus II is tydens die inval dood. Vlad het sy eerste brief as woiwode van Walachye wat bewaar gebly het, op 10 September aan die burgers van Brașov gestuur. Hy het belowe om hulle te help as die Ottomaanse Ryk Transsilvanië aanval, maar wou ook hulle hulp hê as die Ottomane Walachye binneval.
Verskeie bronne (insluitende Laonikos Chalkokondyles se kroniek) noem dat honderdduisende mense aan die begin van Vlad se bewind op sy bevel vermoor is. Hy het met 'n suiwering begin onder die bojare wat aan die moord op sy pa en ouer broer deelgeneem het, of wat hy vermoed het teen hom saamsweer. Volgens Chalkokondyles het Vlad "vinnig 'n groot verandering teweeggebring en die sake van Walachye heeltemal gerevolusioneer" deur die "geld, eiendom en ander besittings" van sy slagoffers aan sy onderhoriges te gee. Die lyste van lede van die prinslike raad tydens Vlad se bewind wys ook net twee van hulle (Voico Dobrița en Iova) kon tussen 1457 en 1461 hulle posisies behou.
Konflik met die Saksers Vlad het die gebruiklike heffing aan die sultan betaal. Ná Johannes Hunyadi se dood op 11 Augustus 1456 het sy oudste seun, Ladislaus Hunyadi, die kaptein-generaal van Hongarye geword. Hy het Vlad in 'n brief aan die burgers van Brașov daarvan beskuldig dat hy "geen bedoeling gehad het om lojaal te bly" aan die koning van Hongarye nie. Hy gee hulle ook opdrag om Wladislaus II se broer, Dan, te steun eerder as vir Vlad. Die burgers van Sibiu het 'n ander aanspraakmaker gesteun: "'n priester van die Roemene wat homself 'n prins se seun noem". Laasgenoemde (wat geïdentifiseer is as Vlad se buite-egtelike broer, Wlad die Monnik) het Amlaș verower wat gewoonlik deur die leiers van Walachye in Transsilvanië beheer is.
thumb|links|220px|Middeleeuse setels (of administratiewe eenhede) van die Transsilvaniese Saksers. Ladislaus V van Hongarye het Ladislaus Hunyadi op 16 Maart 1457 laat teregstel. Hunyadi se ma, Erzsébet Szilágyi, en haar broer, Michael Szilágyi, het 'n rebellie teen die koning aangevuur. Vlad het gebruik gemaak van die burgeroorlog in Hongarye om Stefanus, seun van Bogdan II van Moldawië, te steun in sy poging om Moldawië in Junie 1457 te verower. Vlad het ook Transsilvanië binnegeval en strooptogte uitgevoer op die dorpe om Brașov en Sibiu. Volgens die vroegste Duitse stories oor Vlad het hy "mans, vroue, kinders" van 'n Saksiese dorp na Walachye geneem en hulle laat deurboor. Omdat die Transsilvaniese Saksers lojaal aan die koning gebly het, het Vlad se aanval teen hulle die posisie van die Szilágyi's versterk.
Vlad se verteenwoordigers het deelgeneem aan die vredesonderhandelings tussen Michael Szilágyi en die Saksers. Volgens hulle verdrag het die burgers van Brașov ingestem om Dan uit hulle dorp te verban. Vlad het belowe die handelaars van Sibiu sou vryelik goedere in Walachye kon "koop en verkoop" in ruil vir "dieselfde behandeling" vir Walachyers in Transsilvanië. Vlad het op 1 Desember 1457 na Michael Szilágyi in 'n brief verwys as sy "meester en ouer broer".
Ladislaus Hunyadi se jonger broer, Matthias Corvinus, is op 24 Januarie 1458 tot koning van Hongarye verkies. Hy het die burgers van Sibiu op 3 Maart gelas om die vrede met Vlad te bewaar. Vlad het homself op 20 September 1459 genoem "heer en leier van die hele Walachye, en die hertogdomme Amlaș en Făgăraș". Hy het daarmee gewys hy het besit geneem van dié twee tradisioneel Transsilvaniese leengebiede van die heersers van Walachye. Michael Szilágyi het die bojaar Michael ('n amptenaar van Wladislaus II van Walachye) en ander Walachyse bojare toegelaat om laat in Maart 1458 in Transsilvanië te gaan woon. Kort daarna het Vlad die bojaar Michael laat vermoor.