John Dryden het in 1668 in sy “Essay of Dramatick Poesie” feestelik beweer dat drama 'n “lewendige beeld van die menslike natuur is, wat die passies en humor en die lot waaraan die mens onderworpe is verteenwoordig tot genot en lering van die mensdom.” (Dis veral die “lewendige beeld” wat drama anders maak as blote geskrewe stories, liedere of skilderwerke.)

Drama kom van die woord “dran” wat “om te doen” in Grieks beteken. Ons kan redeneer dat drama ontstaan het uit die mens se behoefte om 'n storie te vertel oor daaglikse gebeurtenisse. Sommige van ons is in staat om hierdie gebeure meer “dramaties” uit te beeld. Dit is veral die storievertellers tussen ons wat ons vermaak met hul vermoë om mense na te aap en gebeure met klanknabootsing, gebare en bewegings te vertel. 'n Dramatiese storie word dus deur die liggaam en stem vergestalt as karakters. Drama gebruik die mens se liggaam en stem om ander mense voor te stel in situasies. Dit is dus 'n kinestetiese of bewegende en ouditiewe of verklankte kunsvorm. Carel Trichardt, 'n bekende Suid-Afrikaanse akteur beweer dat akteurs beeldhouers in sneeu is as hul toneelspeel op die verhoog. Hulle vergestalt die werklikheid en die beelde wat hul skep, verdwyn net weer daarna.

Situasies wat deur dramas uitgebeeld word Die situasie wat uitgebeeld word in 'n drama kan die werklikheid van die lewe weergee. Hierdie werklikheid kan so waar wees dat dit as 'n dokumentêre drama beskryf kan word. Die situasie kan ook in 'n milieu plaasvind wat 'n fantasie van 'n ander tipe werklikheid is waar ander reëls of wette geld. Ons kan praat van die “wêreld van die werk”. Die drama hoef nie noodwendig tot genot van die mensdom te wees nie en ook nie noodwendig tot lering soos Dryden (1668) beweer nie. Dit kan ook net 'n uitbeelding van 'n situasie wees waarin 'n mens of mense hul bevind. Dit kan 'n gebeurtenis voorstel wat vir jou bloot net wil laat weet “so is die lewe” of wat vir jou vra “is die lewe nie maar so nie?”. Dramas kan jou laat dink oor die lewe of net 'n spieëlbeeld van die lewe voor hou.

Die drama kan gebruik word om jou in 'n situasie te plaas waar jy as deelnemer iets kan leer. Sulke opvoedkundige dramas kan dus in skoolsituasies plaasvind waar 'n deelnemer 'n geskiedkundige persoon voorstel en die ander leerlinge die persoon vrae vra oor sy geskiedenis en motiewe soos in die drama strategie, “warmplek “of “hotseating”.

Dramas kan ook gebruik word om 'n saak te beveg. Dit kan protes aanteken teen 'n huidige bestel. Dramas hoef nie noodwendig 'n logiese storielyn te volg nie. Dit kan soos musiekteater kort-kort onderbreek word deur sang of deur dans of soos in die film of teater onderbreek word deur terugflitse. Dramas wat net met beweging uitgevoer word kan as mimiek, dansdramas of fisiese teater geklassifiseer word.

Waar vind hierdie uitbeelding van die mens in verskeie situasies plaas? Dit kan plaasvind op 'n verhoog of bloot net in 'n afgebakende ruimte, binne of buite, dit kan op 'n filmdoek vasgelê word of as 'n radiodrama aangebied word.

Hoe word dramas beplan? Alle dramas word nie noodwendig vooruit beplan en vooruit geskryf nie. Daar is ook dramas waarin die speler improviseer wat gebeur. Dit beteken dat die speler net daar en dan besluit hoe die drama gaan verloop. Die drama kan ook van die gehoor 'n deelnemer maak en hul laat besluit wat verder moet gebeur. Akteurs in dramas kan dus met die gehoor kommunikeer dus interaktief wees of non-interaktief.

Die gehoor Drama kan tot nut, lering en vermaak van 'n gehoor opgevoer word of sonder 'n gehoor plaas vind. Sulke gehoorlose-dramas staan bekend as prosesdramas. In so 'n drama word die deelnemers in 'n fiktiewe situasie geplaas. Die deelnemers vergestalt die funksionaliteit van die karakter of verbeeld hierdie situasie deur dit uit die karakter se perspektief te belewe op 'n emosionele en rasionele wyse. Daarna kan die deelnemers nadink oor wat hul beleef het as die karakter en saam as 'n groep dalk tot nuwe insigte kom. In hierdie geval behoort die deelnemer dus empaties verbind te wees tot hul karakters. Hulle plaas hulself in die karakter se skoene!

Wat is die verskil tussen die term "drama" en "teater"? Die geskiedenis van die teater en die drama is ineengevleg. In Suid-Afrikaanse skole word die vak wat die dissipline van die teater en die drama bestudeer, “dramatiese kunste” genoem. Die term “teater” stem baie ooreen met die term “drama”. Volgens Carlson (2011) in sy “Journal of Dramatic Theory and Criticism” is die teater 'n vorm van die skone kunste wat akteurs en aktrises gebruik om 'n ervaring wat fantasties of realisties van aard is voor 'n lewendige gehoor op 'n spesifieke geallokeerde plek, soos 'n teater, uit te beeld. Die uitbeelding vind plaas deur middel van gebare, spraak, sang en selfs dans. Tegniese hulpmiddelle soos dekor, beligting, klank, kostuums, grimering en spesiale effekte kan gebruik word om die ervaring wat uitgebeeld word meer geloofbaar te maak. Die benaming teater word dus nie in ons inligtingstuk gebruik as vakbeskrywing nie omdat dit die drama beperk tot lewendige teater terwyl ons graag die filmmedium en die van die radiodrama ook wil insluit. Ons gebruik dus die term “drama” as die oorkoepelende term vir ons doeleindes.

Hoofstyle van die dramatiese kuns Die genres of hoofstyle in die letterkunde en in die dramatiese kunste soos in drama en film stem redelik ooreen. Dit sluit die hoofstyle van die skilderkuns uit. Dit gee ons dus 'n idee hoe baie verskillende tipe stories daar op aarde bestaan.

Komedies: Daar is byvoorbeeld talle verskillende komedies wat mens laat lag of met die lewe en mense spot. Daar is Comedy of Manners of Komedie van Maniere wat 'n sosiale skandaal uitgebeeld. Daar is gewoonlik baie misverstande wat voorkom en die karakters is gewoonlik die tiperings van mense op 'n karikatuuragtige wyse, soos byvoorbeeld die tipiese “dom, blonde meisie”, daar is die streng pa en die ma wat die rol van moederhen speel en oorbeskermend is, die windlawaai seun met te veel selfvertroue of die tiener dogter wat glo dat alles net om haar draai en die verstrooide vergeetagtige ouma. Hierdie komedies kom al van die Romeinse teater. Shakespeare het ook so 'n komedie geskryf genaamd Much ado about nothing. Ons kyk daagliks na sulke komedies in die “sitkom-televisie dramas”. Onder die genre komedies kan komiese fantasie wees soos ons in talle animasiefilms. Vele kinderstories soos die van Roald Dahl, byvoorbeeld Matilda is 'n voorbeeld van komiese fantasie. Verder is daar die romantiese komedies wat 'n ligte liefdesverhaal uitbeeld waarin die meisie die ou ontmoet, hul eers 'n klomp misverstande beleef en dan vir altyd daarna gelukkig en tevrede saamleef. Verder is daar die swart komedies. Hierdie verhale spot met ernstige goed soos die dood, siekte en moord. 'n Tipiese voorbeeld van so 'n komedie is die film “Throw Momma from the Train” (1987) waarin Billy Chrystel speel. 'n Mens kry ook Zombie Komedie en Komediese Wetenskapsfiksie genres. 'n Klug is nog 'n vorm van komedie wat totaal laf is. Dit is die tipiese roomkoek komedie waarin die karakters baie keer 'n nar-agtige style aanneem. Dink aan Charlie Chaplin se films of die klugte van Molière ('n 17e eeuse dramaturg) of 'n klugtige drama soos geskryf deur P.G. du Plessis, ‘n Seder val in Waterkloof.

Die satire: Dit is ook 'n uitvoerende kunste genre. Dit is as daar gespot word met mense of 'n saak maar op 'n meer ernstige wyse om eerder 'n bitterheid oor 'n kwessie bekend te maak as net om mense bloot te laat lag. Die saak waarmee gespot word wys op die ironie van 'n kwessie of situasie. 'n Goeie voorbeeld van 'n satire is die kortverhaal van Ettienne le Roux, ‘n Dag in Berg-en-Dal waarin daar met die valsheid van die mense gespot word.

Die tragedie: Daar is ook genres soos die tragedie waar ernstige dramatiese spel navore kom. Die Grieke het veral gekonsentreer op tragedies wat gehandel het oor groot veldslae, soos byvoorbeeld die tragedie Die vroue van Troje deur Euripedes. In sulke dramas is daar altyd 'n tragiese held wat as gevolg van een fout in sy karakter homself op die ou end in die voet skiet soos in die Griekse drama Koning Oedipus deur Sophokles.

Hier volg 'n lys van talle ander genres wat in die letterkunde en dramatiese kunste voorkom:

Die tragie-komedie: Dit is daardie tipe stories wat ons kan beskryf as “lag met 'n traan” stories.

Absurde genre: Hierdie genre kan ook sur-realisme insluit. Hierdie genre beeld gewoonlik karakters uit wat geen ware doel in die lewe kan vind nie. Die lewe is vir hulle doelloos en betekenisloos soos in die drama Waiting for Godot deur Samuel Beckett.

Aksie drama: Dit sluit stories in waarin die hoofkarakter of protagonis (die goeie outjie) sy lewe waag in gevaarlike situasies om ander te red. Dis die tipiese James Bond-dramas.

Avontuur drama: Hierdie genre sal uitbeeld hoe die hoofkarakter op 'n lang reis gaan om 'n belangrike taak te vermag. Die dramas met super helde val ook in hierdie genre.

Speurgenres: Dit is soos hofdramas, bende dramas en dramas waar 'n moord opgelos moet word. Dink maar aan die film wat deur Gerrit Schoonhoven gemaak is, Twee grade van moord wat op die oog op slag onder speurdramas geklassifiseer kan word maar ook op die ou end 'n liefdesverhaal is en 'n sielkundige drama wat die motiverings van mense agter hul dade ondersoek.

Fantasie: Hierdie genre kan baie stories insluit wat 'n “magiese” of “bo-natuurlike” element insluit. Daar is natuurlik fabels (verhale waarin diere kan praat en vir mense lesse leer), feeverhale, epiese verhale soos die Lord of the Rings tipe verhale. Legendes of stories van helde uit die ou dae en mites wat oor dinge gaan wat gode doen, en natuurlik wetenskapsfiksie.

Die historiese drama: Hierdie genre beeld 'n tydperk in die geskiedenis van 'n volk uit soos Braveheart (1995) . Die dramas is op die werklikheid gebasseer. Ons kan ook noem dat daar in die filmgenres oorlogsdramas is wat baie gewild is, soos byvoorbeeld die film Platoon of die toneelstuk wat War Horse.

Die riller drama: Voorbeelde hiervan is die Engelse drama Baggage Claim deur Simon Parker en The Basement deur Ashley Nader. Onder hierdie genre val dus die tipiese vampier verhale en spookstories ook.

Magiese Realisme: Dit is 'n genre wat byvoorbeeld voorkom in die Afrikaanse toneelstuk Mis deur Reza de Wet. In sulke genres is daar die bo-natuurlike of fantastiese elemente wat met die werklikheid vervelg is.

Naturalisme: Hierdie genre gee die werklikheid baie realisties weer. Dit word ook die genre “slice of life” genoem. 'n Stuk van die werklike lewe word verbeeld soos in die toneelstukke van Anton Tsjechof gedoen is byvoorbeeld in die stuk Die drie susters.

Hierdie lys is ver van volledig. Daar is nog soveel ander genres wat 'n mens kan ontdek beide in die film, drama, letterkunde en musiek!

Die ontwikkeling van die drama as 'n kunsvorm deur die eeue Die aard van die dramatiese kunsvorm verander en ontwikkel deur die eeue: Die konvensionele indeling van die drama volgens die geskiedkundige ontwikkelling daarvan kan so gelys word: Griekse drama Romeinse drama Sanskrit of die teater van Indië Chinese teater Drama van die Middeleeue Die post-klassieke drama (15de tot die 19de eeue) van die Weste bestaan uit die volgende ontwikkelings: Die Commedia dell’arte, Elizabethaanse teater, Romantisisme, Melodrama, die “Well-made play”, Naturalisme, Probleemdramas, Realisme, Simbolisme, Ekspresionisme, Edwardiaanse Musiekdramas, Musiekteater. Die twintigste eeuse en een-en-twintigste eeuse teater wat onder andere die Realisme, Naturalisme, Teater van die Absurde, Die Postmoderne drama, Teater van die Onderdrukte en die Eksperimentele drama insluit.