Anthonie P. Roux (19 Augustus 1927 – 25 Mei 1973) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en uitgewer. Roux skryf nie net onder sy eie naam nie, maar publiseer ook verskeie werke onder die skuilname Dirk Neveling en Wienand Stals.
Lewe en werk Anthonie Petrus Roux is op 19 Augustus 1927 op die plaas Onder-Radyn naby Villiersdorp in die Kaap gebore. Sy ouers is Anthonie Petrus Roux en Janetta Maria Magdalene Joubert.https://www.geni.com/people/Anthonie-Petrus-Roux/6000000010282256556 Op Villiersdorp ontvang hy sy hoërskoolopleiding aan die Hoërskool De Villiers Graaff, waarna hy aanvanklik op sy pa se plaas in die distrik boer. In 1947 verhuis hy na Kaapstad, waar hy ’n betrekking aanvaar wat hom toelaat om deeltyds te studeer en ’n Intermediêre Sertifikaat in Biblioteekkunde te verwerf. Vanaf Julie 1950 is hy bibliotekaris van beroep wanneer hy aangestel word by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens. Hy begin in daardie jaar om in die Streekbiblioteek op Vanrhynsdorp te werk. Hier is hy betrokke by die kultuurlewe op die dorp en neem die leiding met die opvoer van etlike eenbedrywe, terwyl hy as sekretaris en kaptein van die plaaslike rugbyklub ook aan sport deelneem. In 1956 word hy na Kaapstad verplaas en later na George. Hy is die eerste redakteur van Kaapse Bibliotekaris, waar hy aanvanklik optree as redakteur, proefleser, kolleerder, binder en afsender. Hy ontruim hierdie pos in 1965 en werk hierna as uitgewer by Tafelberg-Uitgewers. Hy is in 1950 getroud met Sophia Johanna Loubser en hulle het vyf kinders. Op 25 Mei 1973 is hy in Bellville oorlede. Hy is in die Stikland-begraafplaas in Bellville begrawe.http://www.eggsa.org/library/main.php?g2_itemId=2500518
Skryfwerk Reeds op skool is dit sy begeerte om ’n skrywer te word. Hy begin sy skryfloopbaan deur kortverhale vir Die Huisgenoot te skryf, waarvan die eerste reeds op agtienjarige leeftyd verskyn. Dit word gevolg deur verskeie ander kortverhale en artikels. Sy eerste roman is “Wingerdblare in die wind”. “Die versluierde motief” is ’n speurverhaal. “Die sterwende stad” en “Die vlammende stad” is romans oor die geskiedenis van Karthago. “Rebellie sonder gewere” behandel die gebeure rondom die skip Neptune se aankoms aan die Kaap in 1849 met ’n lading gevangenes, in uitvoering van die Britse regering se besluit om van die Kaap ’n strafkolonie te maak. Die Kaapse boere kom in opstand teen hierdie besluit en weier om enige proviand aan die Neptune of aan sir Harry Smith se magasyn te verskaf. Hierdie besluit het verreikende gevolge, want handel loop dood en vir diegene wat by die verbod bly beteken dit armoede en selfs bankrotskap. Die aksie draai rondom die Storm-familie, boere van Wynberg, met Gert Storm wat vas oortuig is dat die toekoms van sy land en volk op die spel is en dat sy familie sal doen wat nodig is ongeag die prys wat hulle moet betaal. Vir seuns skryf hy die spanningsverhaal “Die Rooikatte word speurders”. Hy vertaal ook werke in Afrikaans, waaronder “Shadow of a bull” van Maia Rodman as “Die seun van die stiervegter” en “The jazz man” van Mary Hays Welks as “Die musiekman”, laasgenoemde geïllustreer met houtsneë van Ann Grifalconi.
Onder die skuilnaam Dirk Neveling skryf hy verskeie spanningsverhale, waaronder “Die voltooide sirkel”. Daantjie en sy pa is in die kloof, waar Daantjie met sy nuwe geweer sy eerste koedoe wil skiet. Hy skiet, maar vind dan uit dat sy pa geskiet is. Hy kan nie glo dat so iets hom kan oorkom nie en dit moet tog hy wees, want wie anders sou sy pa kon geskiet het? Hierna volg ’n spannende speurtog om die waarheid uit te vind. Hy skryf ook boeke onder die skuilnaam Wienand Stals.
Publikasies
As Anthonie P. Rouxhttp://www.worldcat.org/search?q=au%3ARoux%2C+Anthonie+P.&qt=hot_author JaarTitel van publikasie1954Wingerdblare in die wind Die Rooikatte word speurders (as Tonie Roux)1955Die versluierde motief1956Die sterwende stad1958Die onskuldige1960Die vlammende stad1961Die pad na die afgrond1963Rebellie sonder gewere
Vertalings JaarTitel van publikasie1968Die seun van die stiervegter – Maia Rodman1969Musiekman – Mary Hays Welks
As Dirk Nevelinghttp://www.worldcat.org/identities/lccn-no2001066737/ JaarTitel van publikasie1955Vyand sonder vaandel1956Die dalende dag1957Geslote kring1959Todat die skaduwees vlieg1965Die voltooide sirkel1968Duiwelspiraal1973Besoekers op Spookbaai
As Wienand Stalshttp://www.worldcat.org/identities/lccn-no2001066741/ JaarTitel van publikasie1954Donker is die sterre1957Die lang skaduwee1959Ontmaskerde verraad
Verwysings
Boeke Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2” Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983 Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C. “Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde” Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963
Ongepubliseerde dokumente Roux, Anthonie P. Lewenskets Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein
Ander verwysings
Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Geboortes in 1927 Kategorie:Sterftes in 1973