'n Prenteboek is teks, illustrasies, totale ontwerp: … 'n sosiale, kulturele, historiese dokument; en in die eerste plek 'n ondervinding vir 'n kind. As kunsvorm draai dit om die interafhanklikheid van prente en woorde, op die gelyktydige uitleg van twee teenoorstaande bladsye en op die drama van omblaai.Arizpe, E. en M. Styles. 2003. Children reading pictures: Interpreting visual texts. Londen: RoutledgeFalmer.

Die styl van 'n prenteboek kan betekenis oordra deur gebruik te maak van konvensies wat alreeds konnotasies het. Selfs kinders wat maar min literêre ondervinding het, het geleer om te verwag dat prente in strokiesprentstyl of oordrewe karikature snaaks sal wees.Nodelman, P. 1992. The pleasures of children's literature. New York: Longman.

Kinders hou van prente en kinders het prente nodig. Prente trek ons aandag en wek ons belangstelling. Prenteboeke het 'n merkwaardige vermoë om te put uit dinge wat 'n diep emosionele betekenis vir kinders het.Spitz, E.H. 1999. Inside picture books. Londen: Yale University Press. Hierdie boeke vereis die deelname van warm, lewende grootmense (ouers, onderwysers of versorgers) met skote om op te sit, skerp oë en ore, arms wat jou kan vashou terwyl daar omgeblaai word en miskien 'n dramatiese aanleg.

Die boek wat in hierdie artikel bespreek word, is Hinkel en Pinkel: die muise wat die verkeerde tande gevat het (hierna Hinkel en Pinkel genoem),Van Straten, C. en J. Pritchard. 1982. Hinkel en Pinkel: Die muise wat die verkeerde tande gevat het. Pretoria: Juventus. geskryf deur Cecily van Straten en geïllustreer deur Joy Pritchard. Volgens die inhoud van die verhaal is hierdie prenteboek ideaal gerig om veral kinders tussen 5 en 7 jaar te vermaak.

Prenteboeke en ouers/onderwysers Vir die ouer of onderwyser wat prenteboeke benader met 'n bietjie bewustheid van hoe dit werk, kan die voorlees van 'n prenteboek baie meer betekenisvol wees as intellektuele prikkeling saamloop met estetiese genot, soms met emosionele weerklank en dikwels met 'n bietjie humor daarby. Niks kom by die opwekkingskrag van die visuele beeld nie.Gombrich, E.H. 1972. The visual image. Scientific American, 227:82-94.

Die vermoë om humor in 'n situasie te sien voeg 'n dimensie by die ondervinding; as jy iets snaaks in 'n ding sien, raak jy ontslae van die bedreiging wat dit inhou; die vermoë om te lag gee aan jou 'n manier om pyn weg te stoot.Braude, S. 1995. The implications for humour in children's literature, with particular reference to the contemporary South African situation. In:  Machet, M., Olën, S. & Van der Walt, T. (reds.). Other world other lives: Children's literature experiences. Pretoria: Unisa Press. Proceedings of the International Conference on Children's Literature, Vol 3: 94-106.‘

'n Prenteboek moet 'n goeie storie vertel, visuele stimulasie verskaf en die aanhoorder in 'n verbeeldingswêreld intrek. “Prenteboeke kan kinders se verbeelding en kreatiwiteit fasiliteer ...dikwels het dit 'n klugtige element. Die karakters in hierdie humoristiese en verbeeldingryke boeke kan diere, speelgoed of vermenslikte voorwerpe wees … hulle praat, het menslike gevoelens en bevriend natuurlike vyande”.Cho, B.K. en J. Kim. 1999. The improvement of children's creativity through Korean picture books. International Focus Issue, 75(6):337-41.

Kinders en humor Kinders teen die ouderdom van 5-7 het al geleer om hulle wêrelde perseptueel te organiseer en te klassifiseer deur dinge bymekaar te voeg wat hulle as dieselfde ervaar. Hulle verstaan alreeds verhoudings en kan dinge klassifiseer volgens sekere gedeelde eienskappe soos kleur, grootte, vorm en gebruik. Hierdie klassifikasies is sintuiglik. Kinders van hierdie ouderdom het dus 'n vermoë om om voorwerpe volgens die versterking van belangrike eienskappe te groepeer, maar hulle baseer nog steeds hulle reëls op hoe dit vir hulle lyk. Hulle baseer nog steeds hulle reëls op onmiddellike waarneming en hulle leer deur regte situasies. Dit is hierdie ontwikkelingseienskap wat dit vir kinders moontlik maak om ongerymdhede in vir hulle bekende situasies te geniet.McGhee, P.E. 1977. Children's humour: a review of current research.  In: Chapman, A.J. & Foot, H.C. (reds.). It's a funny thing, humour. New York: Pergamon.

In hulle persoonlikheidsontwikkeling besef kinders op hierdie stadium dat hulle hulle eie identiteit het wat verskil van ander lede van die gesin; hulle het 'n taamlik konstante selfbeeld ontwikkel; hulle identifiseer hulleself as “ek” en het 'n stel gevoelens oor hulleself. Omdat hulle minder selfgesentreerd word, kan hulle met ander simpatiseer en word meer sosiaal.

Op sosiale gebied het hulle geleer dat ander mense gevoelens het en hulle kan ander se gevoelens identifiseer deur na hulle gesigsuitdrukkings te kyk. Vrese van onbekende situasies veroorsaak soms dat kinders vertroue en beheer oor hulle gevoelens verloor. Om dié rede het hulle steeds warm en veilige omgewings nodig. Hulle voel steeds dat hulle beredenering oor en oplossings van probleme dieselfde moet wees as dié van ander. Hulle word nou ook bewus van hulle kultuurerfenis, want die groep word vir hulle belangrik.

Die humor van leerders in die grondslagfase kan beskou word as 'n weerspieëling van die hoogs fisieke aard van hierdie kinders. Soos die geval is met kleuters het graad 1-leerders 'n neiging om byna alles snaaks te vind. Snaakse stories, foute wat ander maak (dit wys dat hulle weet watter gedrag sosiaal aanvaarbaar is), skewebekke of gesigsuitdrukkings is alles vir hulle snaaks. Hulle hou nog vas aan die konkrete, maar het tog 'n vermeerderde vermoë om abstraksie te hanteer. Verleenthede van ander is snaaks, sowel as poetse bak en lawwe grappies (graad 3). Reëls wat in die teenwoordigheid van die onderwyser oortree word, is 'n bron van humor.

Die herkenning van eienaardighede in situasies is veral effektief tussen die ouderdomme van 6-7 jaar. Suiwer en oplosbare ongerymdhede word waardeer van 4-6 jaar. Die vermoë om te differensieer groei vanaf omtrent die ouderdom van sewe jaar en die kinders word verruk deur poetse. Absurditeit en stereotipe vergeetagtigheid word goed aanvaar. Kinders van 7-8 jaar wat konkreet-operasioneel dink word bewus van die feit dat menslike gedrag dikwels teenstrydig is en dit gee hulle die vermoë om meer ingewikkelde tipes humor te verstaan.

Dierekarakters in stories wat leef en praat soos mense en ook menslike eienskappe het, kan nou personifikasie verskaf waarmee kinders kan assosieer en hulle help om hulle eie krag te ervaar. Humoristiese stories kan die leser help om bo sy onmiddellike daaglikse persoonlike probleme uit te styg en die grappigheid daarin te sien. Dit help die individu om die menslike swakhede van homself en ander te hanteer (Gordon 1996:205). Menslike simpatie word afgelei van empatie met ander, en humor is die gevolg van persepsies wat afgelei word van die aansteeklikheid van gevoelens waarna verwys word as “primitiewe passiewe simpatie”.Gordon, L. 1995. Revolting rhymes: Humour as a subversive activity in children's literature. In:  Machet, M., Olën, S. en T. Van der Walt, (reds.). Other world other lives: Children's literature experiences. Pretoria: Unisa Press. Proceedings of the International Conference on Children's Literature, Vol 1: 203-218.

Spel en humor In watter mate is humor 'n integrale deel van spel? Die vraag is kompleks en kontroversieel. Humor is net so vlugtig en moeilik om te definieer, en net so kultureel gekondisioneer as spel. Albei word egter as genotvolle aktiwiteite ervaar, en albei kan as reaksie 'n glimlag of hardop lag uitlok. Die skeidslyn tussen humor en spel is dus baie fyn. Dit is moeilik om eenvormig toepaslike kriteria te verskaf om die twee te onderskei as gevolg van die aanmerklike kruis-kulturele en intrakulturele kontekstuele variasies in hulle gedrags- en kognitiewe aspekte.

Geleerdes verskil in hulle siening oor die verhouding tussen spel en humor.Apte, M.L. 1985. Humor and laughter. An Anthropological approach. Londen: Cornell University Press.

Huizinga: Beide is die teenoorgestelde van erns; Beide weerstaan alle pogings om dit te reduseer tot ander terme;

Hulle logiese begronding en onderlinge verhouding moet in 'n baie diep laag van ons gees ingebed lê.

Norbeck: Spel hou dikwels verband met geestigheid en humor, maar is tog nie sinoniem daarmee nie. Apte: Humor is enige spel wat saamgaan met, of 'n glimlag of lag tot gevolg het; Humor is grootliks deel van ongestruktureerde spel en van spele wat nie kompetisie inhou nie; Albei word gewillig onderneem. Die konteks van spel is essensieel vir alle humor. Speelse aktiwiteite word uitgevoer ter wille van hulleself of ter wille van genot. Hulle staan in teenstelling met ernstige aktiwiteite wat te doene het met maklik identifiseerbare liggaamlike behoeftes of eksterne bedreigings of andersins, spesifiseerbaar praktiese doeleindes. Humor en spel is albei nie die primêre lewensproses nie, tog maak dit belangrike bydraes tot die lewensproses. In sowel humor as spel is daar fases van spanning, opwinding, dan verligting van spanning en ontspanning. Dit is welbekend dat spel die humorvaardigede van kinders kan voed en versterk.

Kreatiwiteit en humor Daar is geen probleem om humor te laat konformeer met die basiese definisie van kreatiwiteit nie. KoestlerKoestler, A. (1964). The Act of Creation. Londen: Hutchinson & Co. spits hom daarop toe om die verband te trek tussen humor en kreatiwiteit. Daarby vestig die meeste omskrywings van humor die aandag op elemente van kreatiwiteit, naamlik teenstrydigheid, onverwagtheid, verrassing, onsekerheid of onaanpasbaarheid wat daaruit voortkom as 'n mens die komponente bymekaarbring waaruit 'n grappie bestaan, of wat ookal die humorrespons gestimuleer het. Beide het sosiale waarde en uitermatige praktiese gebruiksmoontlikheid; Beide hou verband met spel. 'n Sleutelfaktor wat saam met humor gaan, is fantasie wat self deel is van kreatiwiteit. Humor verskaf die moontlikheid om die werklikheid deur verbeelding met meer kreatiwiteit en minder verwondbaarheid te benader.

Humor stimuleer kreatiwiteit en maak die leser se horisonne wyer deur te ontsnap aan lineêre, logiese, praktiese denke. Stories is 'n produk van 'n skrywer se vrugbare verbeelding, en maak dikwels die onmoontlike 'n werklikheid. Verbeelding wek innerlike moontlikhede op – die bevrediging van (soms onmoontlike) begeertes en die voorlopige deurwerking en beheersing van basiese vrese deur middel van fantasie, gedagte-avonture en magiese transformasies. Prenteboeke … kan die verbeelding in hierdie sin prikkel en jong kinders innerlik versterk in hulle voortgaande ontdekking van die beperkinge van die regte wêreld. Prenteboeke is vol magiese elemente wat maklike uitweë vir die oplossing van moeilike probleme verskaf … Al die beeldende aspekte van uitstaande illustrasies besit oorspronklikheid en kunstige kreatiwiteit. Ekspressiewe illustrasies versterk en verbeter die storielyn. Kinders visualiseer en verstaan dan woorde deur middel van illustrasies. Die oorspronklike en eksperimentele tegnieke van illustrasies dra by tot onderskeidende denke en kreatiwiteitsontwikkeling.

Prenteboeke as kuns Soos kunswerke vir volwassenes berus prenteboeke op aanvaarde konvensies van narratiewe styl en ontwerp om betekenisvolle ondervindings aan hulle lesers te verskaf … mag dit angstigheid sowel as pret en plesier uitlok – vonke van spanning wat normaalweg opgelos word in bevredigende sluitingsoomblikke.

Wanneer kunstenaars prente vir 'n boek skep, verbind hulle prente en woorde. Die visuele teks vul die geskrewe teks aan, brei dit uit en verbeter dit sodat die leser eindig met 'n indruk wat baie meer is as die som van die dele van die boek.