Nelmari Kock is ’n Afrikaanse skrywer van liefdesromans en geestelike boeke. Sy is in 1941 gebore. Sy werk by Mintek in Randburg, waar sy vir Faan Coetzer ontmoet. Hulle trou op 29 November 1988 en vestig hulle in Randburg.
Skryfwerk Sy skryf ontspanningslektuur. “Anika, liefste meisie” (1978) is die verhaal van Anika Joubert. Haar lewe verander drasties toe sy na haar pa se dood van Kaapstad na Johannesburg moet trek. Haar pa se testament bepaal dat ’n vriend van hom, Cor van der Linde, haar finansiële voog moet wees totdat sy mondig word. Anika woon by Cor, sy niggie en haar man en sit haar studies voort. Sy kom goed oor die weg met Cor se vriendin, Marida Taljaard. Antoinette Willemse verskyn egter op die toneel en beweer dat Cor oneervol ontslaan is by sy vorige werk en dat duisende rande se geld verduister is. Anika en Marida probeer verbete om Cor se onskuld te bewys. In “’n Droom aan skerwe” (1982) verwesenlik die komponis Larno Schreuder se seun Nokkie (bynaam vir Nico) al Larno se ideale vir hom. Daar is slegs een teleurstelling. Ten spyte van Nokkie se ingebore talent en die feit dat hy elke kompetisie wen waaraan hy deelneem, ontwikkel hy nie ’n passie vir musiek nie. Onverwags kom daar egter ’n ernstige bedreiging vir Nokkie se heerskappy onder die jong musici in Transvaal. Die bedreiging is Pierre Schreuder, die seun van Emile Schreuder, Larno se broer. Die twee broers praat nie met mekaar nie na ’n hewige twis baie jare gelede. Emile se afkeer van Larno spruit juis daaruit dat Larno altyd die beste presteer het. “Tuin van herinnering” (1982) speel af in hedendaagse Israel. Na ’n liefdesteleurstelling besluit Raylene Schmidt om op ’n kibboets in Israel te gaan werk. Hier maak sy kennis met baie jongmense met hulle eie stories, en ook met die jong Afrikaanse predikant, Deon Visagie, wat hom geroepe voel om onder die Jode te bedien. Sy voormalige vriendin, Mieke Marais, daag onverwags weer op en Raylene is ontsteld hieroor. Selfs al is Deon niks van haar nie, gun sy hom iemand beter as Mieke. “’n Tyd om lief te hê” (1983) is ’n roman oor die lewe van Michelangelo. “So min tyd” (1983) speel in Israel af, waar die hartchirurg Stefan Roux vir twee jaar kom werk. Hy bring sy vrou, Loretta, en hulle twee seuns saam. Stefan ontmoet weer vir Mari, die jongmeisie wat so ’n spesiale plek in sy lewe het. Die band tussen hulle veroorsaak wrywing tussen Stefan en Loretta en tussen Mari en haar vriend André. Kersfees word nie erken in Israel nie, maar hulle wil dit tog vier, ten spyte van die onmin tussen hulle.
Die Christelike roman “Vanya” van Myrna Grant vertaal Nelmari Kock in Afrikaans. Dit is die ware verhaal van die Ivan (Vanya) Moiseyev, ’n soldaat in die Sowjet Rooi Leër wat genadeloos vervolg en gevange gehou is op grond van sy geloof.
“Vakansiekaskenades” is ’n jeugverhaal vir ongeveer 9-14 jariges. Ockie en Bets van Niekerk is ’n boetie en sussie wat op hulle oom en tante se plaas in die Vrystaat vakansie hou. By hul aankoms hoor hulle die ontstellende nuus dat Christof, die pleegseun wat daar woon, in diefstal betrap is en deur die polisie aangehou word. Dieselfde aand klop Christof egter aan hulle kamervenster en vertel dat hy glad nie skuldig is nie en dat hy hulle hulp nodig het om die regte skelm vas te trek. Hulle help hom en steek hom weg, maar dan gebeur daar dinge wat hulle laat twyfel aan Christof se onskuld.
Publikasies s.j. - Vakansiekaskenades
1973 - Reik na die verste ster
1974 Net skerwe van liefde
Reik na ’n droom 1975 Ons goue liefdespad
Ons liefde was ’n droom
Want ek het jou nodig 1976 Erfgenaam vir Nuutbegin
Haar laaste anker
’n Vergete oomblik 1977 Eens het ek jou lief gehad
My liefde op die altaar
Die Rousseau’s van La Rochelle 1978 Anika, liefste meisie
Ek sal wag Lucille
Môre bring die antwoord
Die vriende wat jy het
Want dalk gaan Hy verby 1979 ’n Lied vir Lydia
Die rondloper
Skepe in die nag 1980 Liefde se lente
Linda
Miskien eendag
Onweerswolk op Wilgenhof
Ter wille van Marietjie 1981 Net ’n ver verlange
Totdat die tyd verby is 1982 ’n Droom aan skerwe
Eens toe ons jonk was
’n Enkel goue oomblik
Na al die jare
Tuin van herinnering 1983 So min tyd
’n Tyd om lief te hê
As die bergstiltes fluister 1988 – Nooi van Marein
1989 – Ek sal U volg
1994 - Spore van gister
1995 Hoe lank is altyd?
Ken jy hom, nursie? 2000 – Die helper
Vertaling
1978 - Vanya – Myrna Grant
1982 - Bou jou huwelik – Charles R. Swindoll
Verwysings
Boeke Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2” Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk 1983
Tydskrifte en koerante Anoniem “Sprokiesgeleentheid” “Die Vaderland” 28 November 1988
Internet Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Kock,_Nelmari OCLC Classify: http://classify.oclc.org/classify2/ClassifyDemo?search-author-txt=Kock,%20Nelmari,%201941- Worldcat: http://www.worldcat.org/identities/lccn-no2014157629/
Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Geboortes in 1941