Uit verskeie terreine van die samelewing is daar reeds opgemerk dat die hedendaagse jeug aan die begin van die een-en-twintigste eeu kenmerke toon van wat bekend staan as die generasie X-subkultuur, die slackers, ook genoem die postmoderne generasie; generasie Y; busters, met millennials as verwysing na die jongeres; die verlore generasie; generasie Dot-Com; generasie Z; en die net-generasie.

Agtergrond en gebruik van terme: Generasie X/Y/Z en millenniërs Alhoewel die beskikbare inligting oor generasie X aanvanklik in hoofsaak gehandel het oor die jeug as subkultuur sedert die tagtigerjare van die twintigste eeu in Amerika, is dit steeds relevant vir die onderrig van Afrikaans wat aan die begin van die een-en-twintigste eeu in Suid-Afrika plaasvind. Die duidelike verband tussen generasie X in Amerika en adolessente (millenniër-) leerders van Afrikaans in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing is geleë in die feit dat al hierdie leerders in 'n laat-kapitalistiese era gebore is. Hulle het grootgeword in ’n milieu waar die toenemende materialisme en welvaart weerspieël word deur die besit en gebruik van die televisie, rekenaarspeletjies en die internet. Dié leerders is dus meestal (kwasi-)inligtingsgeletterd as gevolg van 'n toenemende beskikbaarheid van en blootstelling aan elektroniese massakommunikasiemedia. Die leerders is meestal voorstedelike kinders van middelklas- of welgestelde ouers; hulle stapelvoedsel kom uit McDonalds; hulle tydverdryf bestaan uit rekenaarspeletjies en inkopiesentrums, en hulle opvoeder is die televisie.

Die term "generasie X" het sy ontstaan te danke aan Billy Idol en sy Britse punkmusiekgroep van vroeg in die tweede helfte van die twintigste eeu. Die term het egter meer algemeen bekend geraak met die roman Generation X: Tales for an accelerated culture, deur die Kanadese skrywer Douglas Coupland.Coupland, D. 1991. Generation X: Tales for an accelerated culture. New York: St. Martin's Press. Hierdie blitsverkoper handel oor karakters wat deel uitmaak van 'n generasie jeugdiges wat tussen 1960 en 1980 as kinders van die sogenaamde baby boomers gebore is, die kenmerkende eienskappe van 'n laat-kapitalistiese verbruikersamelewing toon: "Prematurely resigned to lowered expectations, they are ceaselessly ironic about the world in which they subsist, unwilling to buy into its super-consumerist projections but too cynical to believe the alternatives of a previous era …"Rundle, G. 2001. Generation X. [Elektronies}. Beskikbaar: John Mark Ministries, http://jmm.aaa.net.au/articles

Sommige kritici is van mening dat hierdie benaming uitdruklik en uitsluitlik na die Amerikaanse jeug van die vorige eeu verwys. Nietemin kan die term breër beskou word, veral omdat jeugdiges in Suid-Afrika aan die begin van die een-en-twintigste eeu soortgelyke kenmerke toon. In sy uitgebreide M.A.-tesisCodrington, G.T. 1999. Multi-generational ministries in the context of a local church. M.Th-tesis. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika. [Elektronies]. Beskikbaar: http://www.youth.co.za en Ph.D.-proefskrif oor die jeug in Suid-Afrika voer CodringtonCodrington, G.T. 1998. Generation X: Who, what, why and where to? [Elektronies]. Beskikbaar: http://www.tomorrowtoday.biz/mindthegap aan dat die konsep "generasie X" met betrekking tot generasieteorieë geskik is om die plaaslike jeugsubkultuur te beskryf, en noem hy 'n verskeidenheid kenmerke van 'n generasie wat weier om omskryf te word. Uit ander studies blyk dit dat die eienskappe van die Suid-Afrikaanse generasie X en Y wat aan hulle navorsing deelgeneem het, raakvlakke met die eienskappe van hulle Amerikaanse eweknieë toon, veral dié uit hoërinkomste- en hoërgeletterdheidsgroepe. Een van die gewilde tydskrifte wat op die millenniërgenerasie in Amerika gemik is, is ook in Afrikaans op winkelrakke beskikbaar; selfs die naam is dieselfde as dié van die oorspronklike tydskrif Seventeen.Seventeen. Julie 2005. 8 Ink Media. New York: Hearst Communications.

Verdere motivering vir hierdie algemene benaming vir die hedendaagse jeug kan in MokrosMokros, H.B. (red.). 2003. Identity matters. Cresskill, NJ: Hampton Press. se bespreking gevind word wanneer hy na die beweeglikheid van tekens kyk, en in navolging van Foucault aanvoer dat betekenisgewing kan verskuif. Mokros beweer dat die betekenis van die term "generasie X" toegeëien, getransformeer en gekoöpteer kan word. Ondanks Coupland se pogings om te verhoed  dat die term versprei, het dit bly voortleef. Dit word algemeen gebruik (soms as stigmatiserende, ontmagtigende identiteitsmerker) om na 'n struktuurlose, hoogs diverse generasie jongmense te verwys wat nie volgens hul ouderdom omskryf kan word nie, maar wel volgens hulle wêreldbeskouing.

Vervolgens word die algemene kenmerke en onderrigbehoeftes van millenniërleerders bespreek, met die oog op die uiteindelike toepassing daarvan op die gebruik van humormateriaal as onderrigstrategie.

Kenmerke van die millenniërs (as deel van generasie X/Y/Z) Soos enige subkultuur, het generasie X (lees: millenniërs) 'n spesifieke lewens- en wêreldbeskouing wat in hulle kleredrag, kreatiewe uitdrukkingswyses en vryetydsbesteding gestalte kry. Volgens SherSher, S. 2005. Why Generation X couldn't get serious: Part I. [Elektronies]. Beskikbaar: http://www.getunderground.com . kan dit as 'n niemorele evaluering en onverskilligheid teenoor gebeure en voorwerpe in hulle wêreld beskryf word, omdat millenniërs die vorige generasie se verromantisering van die verlede en hulle optimisme oor die toekoms verwerp. SchaubSchaub, D. 1999. On the character of Generation X. [Elektronies]. Beskikbaar: http://www.thepublicinterest.com/archives . noem hierdie generasie "sluttish women, brutish men".

Die intellektuele van generasie X se identiteit is volgens Sher aan die een kant deur die postmoderne filosofieë van Derrida, Lyotard en Foucault gevorm, waarin alle objektiewe waarheidstellings skepties bejeën word. Aan die ander kant het teenkommersialisme eweneens 'n groot invloed op generasie X gehad, en beskou hulle alle media met agterdog en ironie, omdat enigiets wat betekenis kan hê ook as onbelangrik afgemaak kan word. Die gevolg van hierdie verwerping en agterdog is dat generasie X hoogstens daarna streef om eg en opreg te wees. Selfs dít is ironies, omdat die postmodernisme enige stelling van waarheid bevraagteken. Wat dus vir generasie X oorbly, is angs en frustrasie met die samelewing; iets wat dikwels in eklektisisme, ironie en satire verwoord word. Die verband tussen generasie X se emosionele afgestomptheid en die postmodernisme word deur NehringNehring, N. 2003. Jigsaw youth versus Generation X and postmodernism. In: Ulrich, J.M. & Harris, A.L. (reds.). GenXegesis: Essays on alternative youth (sub)culture. Wisconsin: University of Wisconsin Press. 59-78. uitgelig. Hy verduidelik dat die verhouding tussen emosies en ideologie toenemend problematies geword het, en dat dit vir hierdie generasie jongmense moeilik (selfs onmoontlik) is om betekenis in hulle emosionele ervarings te vind of enige vertroue in ideologiese konstrukte te plaas.

AnnesleyAnnesley, J. 1998. Blank fiction: consumerism, culture and the contemporary American novel. New York: St. Martin's Press. stel dit aan die hand van duidelike voorbeelde dat generasie X-skrywers se bleek/uitdrukkinglose ("blank") fiksie met behulp van skerp ironie uitdrukking gee aan 'n siniese beskouing van die postmoderne samelewing se verval, verslawing, selfvernietiging en die jeug se soeke na ervarings. Tog blyk dit dat daar 'n verband bestaan tussen generasie X se behoefte aan die emosionele, en hulle klaarblyklike emosionele afgestomptheid. Die postmoderne argument is dat hierdie generasie se "mindlessness of emotions” meebring dat hulle kwessies nooit voldoende verwoord kan word nie, hetsy in die kuns of in die lewe, juis omdat hulle verwoording van woede en jeugdige opstandigheid deur kommersialisering as onbelangrik en goedkoop afgemaak word. Hulle weersin in presiese, afgebakende omskrywings en formulerings lei daartoe dat hulle, soos die postmoderne paradigma aanvoer, op soek is na "vryheid van keuse, pluralisme, diversiteit en 'n algehele agnostisisme in die absolute mag van rasionalisme. . . Daarom is New Age, smart drugs, ervaring, identiteit in musiek en ervaringsleer so hoogmode by die postmoderne jeug.".Van der Watt, J.S. & Prins, J.G.M. 2003. Interpretasieskemas binne jeugpastoraat in ’n postmoderne kultuur: ’n Eko-hermeneutiese perspektief. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 44(3/4):578-589.

Die negatiewe opvatting oor die kenmerke van generasie X weerspieël hoofsaaklik hoe hierdie generasie deur hulle voorgangers, die sogenaamde boomers gebrandmerk is. Dit is waarskynlik die rede waarom die meeste generasie X-ers nie graag met hierdie benaming verbind wil word nie, omdat hulle persoonlike identiteit daarmee gestigmatiseer word en hulle dit as intimiderend ervaar.

Nietemin is party van hierdie jongmense nog betreklik naïef en nie so skepties oor die samelewing waarvan hulle deel uitmaak nie. Sommige deel nog in 'n mate die optimisme wat met welvaart en materialisme gepaardgaan, eienskappe wat kenmerkend is van leerders aan hoërskole waar huidige onderwysstudente sal onderrig gee. Hierdie leerders word in Aldous Huxley se wetenskapfiksie Brave New WorldHuxley, A. 1955. Brave new world: A novel. Harmondsworth: Penguin. uitgebeeld, waarin hy ’n samelewing skets wat rasionele denke en nadenke verruil het vir die voortdurende sug na vermaak in elke faset van die lewe.Sacks, P. 1996. Generation X goes to college: An eye-opening account of teaching in postmodern America. Chicago: Open Court. Generasie X soek iets interessants, humoristies, beweeglik, sterk en kleurvol. Sacks haal 'n leerder aan wat wil hê dat onderwysers moet ". . .dance, sing, and cry . . . we expect so much more from everything now because of the media".

In teenstelling met die negatiewe beskouing van intellektuele en ouer lede van generasie X, soos vroeër beskryf, is daar dus ook die optimisme van jonger verteenwoordigers, meer bepaald die jeug tussen sestien en een-en-twintig (die millenniërs), wat nog na hulle eie persoonlikheid en identiteit op soek is. Hierdie soeke het die fokuspunt gevorm van strategieë soos dié van Strategic MarketingStrategic Marketing. [S.a.] Creating brand personality for Generation X. [Elektronies]. Beskikbaar: http://www/strategicmarketing.com. waarmee hulle van 2003 tot 2004 hulle bromponies bemark het. Hulle teikenmark was tieners wat hulle tersiêre loopbaan begin, en dus hulle eie vervoer benodig. Die jeugdige persoonlikheid wat hulle suksesvol as teikenmark geskep het, word as "youthful, fun and aspirational" beskryf. Die advertensie met sy swart-en-silwervoorkoms is ontwerp om mode-tendense na te volg; ’n produk wat nie bepaald vroulik of manlik lyk nie, oulik maar nie aggressief is nie, en lig is op brandstof, sodat ouers maklik daardeur oortuig kon word. Die bromponie het plek gehad vir 'n selfoon, 'n FM-radio en 'n koeldrankblikkie.

Uit intensiewe studies oor die kenmerke van die millenniërs blyk dit dat hul verbruikersmentaliteit opval, dat hulle opgevoed is deur televisie, video en rekenaarspeletjies, en dus digitaal geletterd is. Verder is hulle meestal die middelpunt van hul ouers se belangstelling, verwagtings en ideale, en toon hulle min self-refleksie, veral omdat hulle as 'n generasie nie aan baie verliese blootgestel is nie. Daarbenewens is millenniërs groepsgeoriënteerd, rasveelsydig en goed afgerig om te presteer. Om vir die leerbehoeftes van hierdie generasie leerders voorsiening te maak, is dit noodsaaklik om alternatiewe onderrigstrategieë te ondersoek.

Die millenniërs en humor