'n Digvorm verwys slegs na 'n soort gedig wat 'n bepaalde stel reëls volg. Die reël kan byvoorbeeld 'n bepaalde aantal lyne, die lengte of aantal strofes, 'n spesifieke rymskema of onderwerp, of enige ander reël wat 'n erkenbare vorm kan bepaal.

Die vorm van die teks kry by gedigte heelwat aandag. Tot die vorm behoort onder andere klank, rymskemas, tradisionele stylfigure soos die enjambement, strofes, beeldspraak, metrum, ritme en tipografie. Dit is egter nie noodsaaklik dat al hierdie elemente in ’n gedig gevind kan word nie. ’n Gedig hoef nie te rym nie, dit hoef nie ’n vaste metrum of rymskema te hê om ’n gedig te wees nie.Kruger, E. 2016.Klaskenades: Verrykende idees vir die onderrig van poësie. Ongepubliseerde klasaantekeninge vir Hons. B.Ed-module. Stellenbosch Universiteit.

Die gedig word dikwels onderskei van prosa, omdat gedigte tradisioneel in versvorm geskryf word en dus nie ’n deurlopende verhaallyn het nie. Daar is egter wel sogenaamde prosagedigte en sommige gedigte het ook stukke prosateks. In die algemeen is poësie as genre daarom moeilik om te definieer en af te baken.

Ook oor die inhoud van gedigte is daar min wat in die algemeen gesê kan word. ’n Gedig kan emosies, toestande, gebeurtenisse, prosesse, idees, waarnemings, taal ens. oproep, beskryf, bevat en/of problematiseer. Die inhoud is in elk geval irrelevant om te bepaal of ’n taalteks ’n gedig is. Daar kan wel vasgestel word watter soort gedig ter sprake is.

Tog is dit duidelik dat digkuns wel ’n woordkunswerk is.

Die lengte van gedigte varieer: daar is gedigte wat slegs uit 1 woord bestaan, maar daar bestaan ook gedigte van honderde bladsye lank.

Sommige gedigte maak deel uit van ’n siklus.

Die skrywer van ’n gedig word ’n digter genoem. Daar moet duidelik onderskei word tussen die skrywer/digter en die spreker in die gedig.

Verder kan onderskei word tussen die volgende elemente van gedigte: genre, titel en tema, atmosfeer en gevoelens, klankherhaling (alliterasie en assonansie, rym en ritme), klanknabootsing, verskillende soorte beeldspraak (vergelyking, metafoor en personifikasie).

Digvorme

Akrostigon (Naampoësie) Die letters van ’n naam word gebruik om versreëls te vorm. Hierdie gediggies is oënskynlik sinloos, maar verwoord tog op ’n spelerige manier gedagtes wat in ’n dinkskrum kan ontstaan. Dit word 'n akrostigon of naamgedig genoem. Dit is ’n soort sintese-oefening wat volg op die ontleding van gedagtes, gevoelens, ervarings, waarnemings. As dit nie eerste nie, maar die middelste letters is wat beklemtoon word, word dit ’n mesostigon genoem. ’n Prettige oefening is om in pare te werk en dan moet elke persoon sy/haar naam skryf en so ook waar hy/sy graag sou wou wees en waarom. Daarna skryf die ander persoon ’n wens vir die eerste persoon in die vorm van sy/haar naam.

Voorbeelde:

’n Mens kan ook dieselfde doen met name van bekende sprokiekarakters om die spot te dryf:

Haiku & Senryu 3 reëls, geen vaste rym of ritme nie

Vaste vorm met 17 klankgrepe: 5 – 7 – 5

Haiku se inhoud het gewoonlik iets met die natuur te doen, impressionistiese waarneming, indrukke eerder as beskrywing.

Senryu se inhoud is meer persoonlik en het te make met mense, verhoudings, ook humor met deernis.

Voorbeelde van Haiku’s:

1.

Loop in die reën kaalvoet oor die bergklippe en paddastoeltjies (C. Strand)

2.

Tyd, ons goeie fee verander traan in glimlag. Tikke-tak, tik tak … (M. Langeveld)

3.

My tralies is my woordeboeke en my slot: die sleutel jou blik (Ester)

4.

Bid vir my ’n blaai want my pen reik nog verder as woord in my mond (Ester)

5.

Stil en ver duine eindelose eggo’s wat doofstom wonder … wag (estelleke)

6.

Branders bars en breek donderende skuim, pienkwit klieker mossels uit (estelleke)

7.

blink perlemoen glim wit skip wuif op horison vaar eindeloos voort (estelleke)

8.

geroeste yster gesketter deur storm en klip pienk seewier wapper (estelleke)

9.

Gedagtes in ’n kleipot vasgevang; stommer gepleit en geplet (Digter onbekend)

Voorbeelde van Senryu’s:

1.

’n Senryu vir my ma: ’n wit aronskelk na woedende weer en wind fier, regop: vaarwel (estelleke)

2.

’n Senryu vir my kinders: met vlindervlerke duik julle diep in my hart sterliewelinge (estelleke)

3.

’n Senryu vir my kleinkinders: diewe steel my hart net toe ek hulle kon vang sien ek dis julle (estelleke)

Tanka ’n Uitgebreide haiku

5 rymlose reëls

31 klankgrepe: 5 – 7 – 5 – 7 – 7

Voorbeelde:

1.

Spierwit bergpieke rivierwater verys koud sneeu op grou rotse bome is oral gevries witste skitterende sneeu (Digter onbekend)

2.

Die palet verkleur as die herfswind begin waai geel, oranje, bruin die kleure van die blare val stadig van die bome af

(Digter onbekend)

3.

Argentinië Miskien roep jy my as jy so eindeloos huil, met jou voet fluister saam met die musiek se dans wat grypend om my lyf vou (Andries Olivier)

4.

Braambessieplukker in ekstase vreugdevol hoe naiëf jou vrug jou vreugde vervat in jou kort seer vir ander (André Müller)

5.

Hierdie jaar kweek ek tulpe, ander bolplante op spierwit klippers om te bid, afskeid te neem van my Bolandse vriende (estelleke)

Renga (Digtersdans) ’n Samewerkingsgedig: 2 tot 4 mense nodig vir dié digtersdans. Die patroon word herhaal solank as wat die digters wil.

•          haiku as begin (5 – 7 – 5 klankgrepe)

•          word tanka (+ 7 + 7 klankgrepe)

Voorbeelde:

#1

bliksemstrale skiet                                        (estelleke se haiku)

seemeeue in fladdervlug

donderweer sidder

reën dreun neer op teer gemoed                   (André se renga)

in klakkelose weersin

#2

’n Ystervrou knak                                            (estelleke se haiku)

skarniere roes, kort olie,

voete steeds van klei.

Hier waai ’n soel wind; kruisbeen                      (André se renga)

wag die orakel: magies

#3

André se haiku :

suutjies op sokkies

skielike geur van jasmyn

waar die stilte sing

estelleke se haiku :

die takke hang swaar

gelouter deur die storm

wagtend vir die wind

Renga 1

die geur van jasmyn

gly met sokkies op die wind

hoog in die takke

waar die loutering wag vir

nog ’n naderende storm

Renga 2

takke hang swaar: wag

vir die loutering van wind

woedend, siedend: storm

skielik die geur van jasmyn

stilte, suutjies op sokkies

Cinquain (word ook Elfie genoem a.g.v. elf woorde) 5 rymlose reëls, 22 klankgrepe:

reël 1:      2 klankgrepe, OF een woord wat die titel verskaf;

reël 2:      4 klankgrepe, OF 2 woorde wat beskryf;

reël 3:      6 klankgrepe, OF 3 woorde wat aksie weergee;

reël 4:      8 klankgrepe, OF 4 woorde wat gevoel weergee;

reël 5:      2 klankgrepe, OF ’n ander woord vir die titel.

Voorbeelde:

1.

Cornflakes

oop geel bloeisels

dryf saamgedrom in melk

rustig, wagtend op hul roeping:

ontbyt

(Alida van der Merwe)

2.

Jasmyn

witpienke broos

bloesend, fyne krag

innig en tevrede reinheid

sierplant

(Elzana du Toit)

3.

Varkjag

geesdriftige

duik, bollemakiesie, nael

desperaat, vasberade, moeg

moles

(Beverley Mahana)

4.

spaans

mexikaans vermom

blou brand berg

praat self met prent

kahlo

(Andries Olivier)

Lantern Soortgelyk aan die cinquin.

Vorm lyk soos ’n Japannese lantern.

Klankgrepe ingedeel in 1-2-3-4-1

Elke reël kan opsigself staan.

Soms is daar ’n titel wat as opsomming in die sesde reël staan.

Voorbeelde:

1.

by

die stroom

enkel-vlak

treur ’n wilger

sag

(Brian StrandVertaal. Bron: http://www.poetrysoup.com/poem/lanterne_3_549276 )

2.

klein

verdwaal

sagte mis

in September

vroeg

’n voëlgesang

(Brian Strand)

Diamantgedig 7 rymlose versreëls

Die eerste en laaste selfstandige naamwoorde kan teenoorgesteldes wees, of op een of ander manier met mekaar verband hou (sinoniem of antoniem).

Die woorde tussenin kan bou op die verskille en die onderliggende verbande.

Spesifieke woordsoorte: s.nw b.nw b.nw ww . ww. ww. verlede deelw.   verlede deelw.    verlede deelw.    verlede deelw. ww. ww. ww. b.nw b.nw s.nw

Voorbeelde:

1. Koperboom grof  geskud borrel  worstel  skiet bloeiend  soekend  loerend  voelend vind  rus  stil alleen  gedaan mens (Renate Wessels)

2.

grot toegeval   toegegroei versmoor   verlang   vergaan soekend   vraend   roepend   smagtend vergewe   vergeet   begrawe moeg   verslae klag (estelleke)

3.

Sondagkrale koffieshop gekunsteld   onopgesmuk redeneer    konstrueer    dartel ondersoekend   verlangend   uitdagend   vervangend kantel    wankel    wandel selfstandig    afhanklik teë-tempel (André Müller)

Limeriek ’n Humoristiese versie met vyf reëls.

Spesifieke VORM, RYM en RITME.

Dit spot met ’n plek of ’n persoon.

Speel met woorde en betekenisse.

Daar’s ’n grappie in die laaste reël.

Rympatroon: aabba

Die Afrikaanse skrywer wat as die limeriek-koning bekend staan, is Philip de Vos. Hy sê as dit nie presies pas in die spesifieke vorm nie, is dit bloot ’n lawwe versie.

Philip de Vos se voorbeelde:

Daar’s vyf reëls in ’n limerick:

Hul’s snaaks of stout, of effens siek.

Hul het iets om die lyf

En die angel in vyf

Is die fyn draai van die briek

Vorm:

’n Tannie woonagtig in Bloem

Was bang toe ’n by om haar zoem.

Toe slaan sy hom plat

Dat heuning so spat

En spuit hom glo poegaai met Doom.

Ritme:

taTAM tataTAM tataTAM

taTAM tataTAM tataTAM

taTAM tataTAM

taTAM tataTAM

taTAM tataTAM tataTAM

Voorbeelde:

1.

Gebaseer op ’n ekologiese spotprent:

’n Jagter van Groot Buffelsbaai

Het stadig sy skietgoed gelaai

Toe trek iets hom plat

Sy koeëls het gespat

En nou kan ons almal net raai …

(estelleke)

2.

Gebaseer op die sprokie “Rooikappie”:

’n Girl met ’n rooie punthoed

het gou besef als is nie goed

Sy slaan met die kolf

en plat is ou Wolf

En nou is ons meisies meer soet

(estelleke)

Pantoen 12 reëls in 3 strofes met vaste vers- en reëlformaat.

Rym is opsioneel.

Opskrif is opsioneel. Strofe 1:

Reël 1  Nuut

Reël 2  Nuut

Reël 3  Nuut

Reël 4  NuutStrofe 2:

Reël 5             Herhaal reël 2 in strofe 1

Reël 6             Nuwe reël

Reël 7             Herhaal reël 4 in strofe 1

Reël 8             Nuwe reëlStrofe 3:

Reël 9             Herhaal reël 2 van strofe 2

Reël 10           Herhaal reël 3 van strofe 1

Reël 11           Herhaal reël 4 van strofe 2

Reël 12           Herhaal reël 1 van strofe 1

Voorbeelde:

1.

Versteekte woorde

hou op lees:

en krap in die sand…

die soet basiliekruid -

vars in jou hand

en krap in die sand…

’n knippie sout;

vars in jou hand

’n spoeldiamant

’n knippie sout;

die soet basiliekruid –

’n spoeldiamant

hou op lees:

(André Müller)

2.

hierdie is my hemel, my stukkie grond:

saffiere, smarag, blou doudruppels

purper strale val oor die berge

die nagtegaal se sang: eindeloos, weemoedig

saffiere, smarag, blou doudruppels

’n winterlandskap in wolke opgesluit

die nagtegaal se sang: eindeloos, weemoedig

lig in die donker – dagbreek kom

’n winterlandskap in wolke opgesluit

purper strale val oor die berge

lig in die donker – dagbreek kom

hierdie is my hemel, my stukkie grond

(Elizabeth Punt)

3.

Langafstrand

Anderkant die horison:

Waar die see die strand ontmoet,

Trek die gety nou terug;

En in rotspoele krioel die lewe

Waar die see die strand ontmoet,

Daar spoel die seeslakkies uit –

En in rotspoele krioel die lewe

Soggens en saans teen ’n verre kus

Daar spoel die seeslakkies uit –

Trek die gety nou terug;

Soggens en saans teen ’n verre kus

Anderkant die horison:

(André Müller)

4.

die stap teen die berg op is altyd die moeite werd

klippetieklap, klippetieklap

by die stalle hyg ek na my asem

die swart hings runnik hardop

klippetieklap, klippetieklap

die wind in my hare jaag my hartklop

die swart hings runnik hardop

sy spiere span styf oor sy liggaam

die wind in my hare jaag my hardklop

by die stalle hyg ek na my asem

sy spiere span styf oor sy liggaam

die stap teen die berg op is altyd die moeite werd

(Charmé Agenbag)

5.

Rooi

teen die hange van die berg waar stekelrige fynbos nou-nog groei