Ds. Dirk van der Hoff (Dordrecht, Nederland, 2 September 1814 – Potchefstroom, Zuid-Afrikaansche Republiek, 9 Oktober 1881) was die eerste predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk; trouens, van enige van die latere Afrikaanse Susterkerke in die Transvaal. Sy patriotisme spreek daaruit dat hy die Vierkleur saam met sy broer ontwerp het. Sy pragtige "Vlaggelied" wat spesiaal gedig is vir die geleentheid van die eerste hysing van die Transvaalse vlag en sy optredes tydens die Eerste Vryheidsoorlog, is mooi bewyse van sy liefde vir die Zuid-Afrikaansche Republiek. 1986. Gedenkalbum 1886–1986 van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in woord en beeld. Pretoria: NHW-Pers. Hy was die stigter van die Hervormde gemeente Pretoria, en die naamgewer van die stad wat grotendeels deur sy optrede tot stand gekom het. Engelbrecht, prof. dr. S.P. Engelbrecht. 1955. Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria 1855–1955. Pretoria: NH kerkraad. Van die begin van sy dienstyd tot met sy dood het ds. Van der Hoff hom onderskei as mededraer van die Voortrekker-ideaal, naamlik 'n eie vrye land met 'n eie regering, los van Kaaps-Britse invloed. Hy het uit die staanspoor intens belanggestel in die welvaart van die staat en meegewerk dat orde en 'n Grondwet so spoedig moontlik in Transvaal moes kom.

Herkoms en opleiding duimnael|links|180px|Anna Maria van Otterloo, met wie ds. Van der Hoff in 1845 getroud is.

duimnael|regs|180px|Prof. U.G. Lauts, wat hom besonder beywer het vir hulp aan die Voortrekkers in Transvaal, het ds. Van der Hoff in Nederland bereid gevind om as predikant daarheen te gaan.

Dirk van der Hoff was die tweede seun van Pieter van der Hoff, 'n winkelier, en sy vrou, Jacoba Botbijl. Sy skoolonderwys ontvang hy aan die Latynse skool in Dordrecht en word op 12 September 1833, 10 dae ná sy 19de verjaardag, as teologiese student aan die Universiteit van Leiden ingeskryf. Sy opleiding was grotendeels in die gees van die nuwere, supra-naturalistiese teologiese rigting. In 1840 lê hy die kandidaatseksamen in die teologie met welslae af en word op 6 Mei 1840 deur die provinsiale kerkbestuur van Suid-Holland tot die evangeliebediening toegelaat, maar in Nederland ontvang hy nooit 'n beroep nie, hoofsaaklik vanweë 'n oorvloed aan predikante. Of sy teologiese opvattings hierin 'n rol gespeel het, is vandag nie meer bepaalbaar nie. Volgens latere getuienis was hy 'n boeiende prediker.

Terwyl hy gewag het om beroep te word, het hy 'n aantal buitelandse reise onderneem. Om in sy onderhoud te voorsien, het hy in verskillende kantore gewerk, byvoorbeeld dié van die Amsterdamse boekhandel F. Müller. In hierdie tyd het hy dit oorweeg om as predikant na óf die Kaapkolonie óf Natal te gaan, en deur bemiddeling van prof. W. Moll, hoogleraar in die teologie in Amsterdam, het hy in aanraking met prof. U.G. Lauts gekom, wat hom daarvoor beywer het om predikante en onderwysers vir die Voortrekkers te vind. Op 1 Julie 1852 neem Lauts hom "uit naam van en voor den Volksraad der uitgewekene en onafhankelijke Afrikaansche Hollanders, benoorden de Vaalrivier in Zuid-Afrika" as predikant vir 'n tydperk van vyf jaar aan. Op 18 Augustus 1852 is hy met handoplegging deur die Commissie tot de zaken der Protestantsche Kerken in Neerlandsche Oost- en West-Indiën georden "voor den evangeliedienst bij de Kaapsche Boeren".

Aankoms in Suid-Afrika Nadat Lauts hom gehelp het om die reisgeld na Kaapstad te vind, kom hy en sy vrou op 5 November 1852 daar aan. Hy word verwelkom deur J.J.H. Smuts, redakteur van De Zuid-Afrikaan, wat gasvryheid aan hom verleen gedurende die grootste deel van sy verblyf aan die Kaap. Op 9 November 1852 word Van der Hoff gelegitimeer by die actuarius synodi van die NG Kerk, dr. Abraham Faure, en onderteken die gebruiklike proponentsformulier.

Hoewel hy versoek word om 'n eed van trou aan die Britse gesag in Suid-Afrika af te lê, doen hy dit, op advies van dr. S.P. Heyns, nie. Tot April 1853 vertoef hy in Kaapstad, terwyl hy op 'n beroepsbrief en reisgeld vir sy verdere tog wag. Nadat onderhandelinge tussen die Transvaalse Volksraad en die Kaapse kerklike owerheid om hom van reisgeld te voorsien, misluk het, leen Van der Hoff self die nodige reisgeld van vriende. Tydens sy verblyf lei hy intussen verskeie godsdiensoefeninge in die Groote Kerk in Kaapstad, in Wynberg en in die Lutherse kerk in Strandstraat. Hoewel hy 'n beroep in die Kaapkolonie sou kon kry, sien hy met vurige verlange uit na sy werkkring in Transvaal.

Na Transvaal duimnael|regs|300px|Nagmaal op Potchefstroom in die 1880's. Die Hervormde kruiskerkie is op 25 Februarie 1866 plegtig ingewy en is die oudste kerkgebou in Transvaal. duimnael|links|300px|Potchefstroom se Hervormde kerkgebou soos dit sedert November 1891 lyk nadat dit verfraai is met 'n sinkdak, 'n daktoring en ingangsportaal.

Op 14 April 1853 vertrek Van der Hoff, sy vrou en sy dogter, wat op 24 Februarie 1853 in Kaapstad gebore is en op 13 Maart deur haar vader gedoop is, oor Natal na Transvaal. In Natal preek hy op Pietermaritzburg en Ladysmith en ontvang ook 'n versoek van die inwoners van New Germany om hom daar as predikant te vestig. Hy sit sy reis egter voort en kom op 27 Mei 1853 op Potchefstroom aan, waar hy oorval word deur die blydskap en aandag van die gemeenskap. Op 6 Junie 1853 kom die kerkraad van Potchefstroom, onder voorsitterskap van ouderling F.G. Wolmarans, byeen en nadat ds. Van der Hoff se stukke sorgvuldig nagegaan is, word hy as wettige leraar van die gemeente erken en aanvaar. Hy was dus die eerste predikant in Transvaal.

Ds. Van der Hoff staan egter voor 'n enorme taak om as enigste predikant in 'n pioniersgemeenskap kerklike orde en bestendigheid te skep, waar dit slegs in baie geringe mate bestaan het. Dit was 'n taak wat hy byna manalleen moet beplan en deurvoer en wat hoë eise aan sy geloof, moed, volharding en toewyding sou stel. Die omstandighede dat die Oorvaalse pioniersgemeenskap heeltemal ongeorganiseer, in partye en groepe verdeel is, sonder 'n vaste en gereelde uitvoerende staatsgesag, terwyl kommunikasiemiddele uiters primitief was en daar van 'n gereelde ekonomiese sisteem in die boerderygemeenskap nog geen sprake was nie, bemoeilik sy taak baie. Tog pak hy, terwyl hy hom volkome vereenselwig met die vryheidsideale van die pioniers, sy taak met groot sekerheid en roepingsbewustheid aan. Hy staan dan ook meermale voor groot struikelblokke en uitdagings en kan alles nie altyd met ewe veel welslae deurvoer nie.

Verhouding tot die Kaapse Kerk Sy koms na Transvaal bring die hele saak van die verhouding van die Transvaalse gemeentes tot die Sinode van die NG Kerk in die Kaapkolonie (die Kaapse Kerk), wat in Mei 1852 voorlopig gereël is, weer opnuut na vore. Hoewel ds. Van der Hoff aanvanklik die aansluiting van die selfstandige Transvaalse gemeentes by die Kaapse Kerk bepleit het, vereenselwig hy hom tog later met die strewe na 'n onafhanklike kerk in die onafhanklike Oorvaalse republiek. Die verhouding tot die Kaapse Kerk vorm deel van die verskil van opvatting wat bestaan tussen die regionaal-politieke groepe, Wes-Transvaal en Lydenburg. Wat die kerklike kwessie betref, was Wes-Transvaal steeds huiwerig oor die aansluiting by die Kaapse kerkverband terwyl Lydenburg ten gunste daarvan was. Met die koms van ds. Van der Hoff sien die Wes-Transvaalse groep die geleentheid om inlywing by die Kaapse Sinode te voorkom. Vanweë die afwesigheid van Lydenburg by die kerklike en volksraadsvergadering van Augustus 1853 op Rustenburg, is daar dan ook so besluit.

Transvaal se eerste predikant duimnael|links|270px|Die eerste kerkgeboutjie op Pretoria, opgerig in 1855. Dit het so gelyk tot dit met 'n vleuel vergroot is in 1865.

duimnael|regs|270px|Die ou Nederduitsch Hervormde kerk op Rustenburg. In 1894 is 'n hofsaak gevoer oor die besitreg van dié kerk waarna dit weer volledig in besit van die NH Kerk gekom het. Dié kerkgebou op die geskiedkundige kerkplein is omstreeks 1950 gesloop om plek te maak vir die bestaande kerkgebou.

duimnael|links|270px|Die eerste kerkgebou op Kerkplein in Pretoria ná die vergroting. So het hy gelyk tot hy verniel is in 'n storm in 1872 en kort daarna afgebrand het, "deur 'n vernielende hand".

duimnael|regs|190px|Die tweede kerkgebou van die Hervormde gemeente Rustenburg, in 1945 geskilder deur A. Reynolds, vyf jaar voor dit gesloop is. Die hoeksteen van dié kerk is in 1864 gelê.

Ds. Van der Hoff is deur die Algemene Kerkvergadering, wat op 8 Augustus as sodanig gekonstitueer is, as wettig geordende leraar erken met die hele Transvaal as sy werkkring. Ná afloop van hierdie vergadering is ds. Van der Hoff deur F.G. Wolmarans in sy amp bevestig en so verval die reëling om hom deur ds. Andrew Murray van Bloemfontein te laat bevestig. Ds. Van der Hoff raak dus byna onwillekeurig verbonde aan die Wes-Transvaalse standpunt en dit sou nog ernstige reperkussies in die gemeenskap as geheel hê. Die Lydenburgers was nie met die Rustenburgse reëlings tevrede nie en die Volksraad bepaal in September 1853 dat ds. Van der Hoff nog op Lydenburg bevestig moet word. Om die aangeleentheid op te klaar, word 'n gesamentlike vergadering van die Volksraad en die Algemene Kerkvergadering in November 1853 op Potchefstroom gehou. Hier bepleit ds. Van der Hoff en Wolmarans die handhawing van die onafhanklikheid van die Transvaalse gemeentes, terwyl C. Potgieter van Lydenburg inlywing by die Kaapse Sinode voorstaan. Eindelik verwerp die gesamentlike vergadering die inlywing met algemene stem. Die Kerk in Transvaal beskou hom nou "als eene onafhankelijke Kerk onder haar eigen bestuur", hoewel die geestelike bande met die Kaapse moederkerk beklemtoon word.

In Februarie 1854 vlam die hele verskil van mening op tydens 'n kerkraadsvergadering op Lydenburg, waar ds. Van der Hoff en J.A. Smellekamp heftig bots oor die vraag of daar gedurende Junie 1854 andermaal 'n algemene kerkvergadering gehou moet word om die aanbod van Smellekamp – om te bemiddel vir die koms van verdere predikante en onderwysers uit Nederland – te oorweeg. Teen die sin van ds. Van der Hoff en die Lydenburgse kerkraad bepaal die Kommissieraad van Lydenburg dat daar wel 'n algemene kerkvergadering saam met 'n volksraadsitting in Junie 1854 gehou sou word.

Dié aangeleentheid groei vinnig uit tot 'n konfrontasie van ds. Van der Hoff met Smellekamp, as verteenwoordigende figure van die twee botsende groepe in die Transvaalse samelewing. Persoonlike antipatieë speel ook 'n rol toe Smellekamp verklaar dat ds. Van der Hoff met despotiese dwingelandy aan die hoof wil staan van 'n kerk wat sy eie maaksel is, om daarmee die staatsgesag te oorheers. 'n Sterk geïrriteerde ds. Van der Hoff roep Smellekamp op die Algemene Kerkvergadering van 5 Junie 1854 tot verantwoording en hy laat hom summier vir 'n jaar lank onder sensuur plaas.

Hierdie aangeleentheid kom op die volksraadvergadering ter sprake, waar albei figure moet verskyn. Hier verloor ds. Van der Hoff sy humeur en toe hy later opgeroep word om voor 'n hof van landdros en heemrade te verskyn, weier hy om dit te doen. Die Algemene Kerkvergadering roep die hulp van die Wes-Transvaalse krygsraad in, wat druk op die Volksraad uitoefen sodat dié liggaam Smellekamp vonnis. Hierdeur verander die spanning tussen Wes-Transvaal en Lydenburg in 'n skeuring wat eers op kerklike en daarna op staatkundige vlak sy loop neem.