duimnael|190px|regs|Eerw. J.C. Pauw, sendingleraar en -dosent.

Eerw. Jacobus Cornelis Pauw (Leiden, Nederland, 13 Desember 1837 – Wellington, Kaapland, Suid-Afrika, 13 Junie 1918) was 'n sendeling, medestigter van en leier in die NG Sendingkerk en jare lange dosent aan die Sendinginstituut.

Eerw. Pauw se lewe het in die stad Leiden in Nederland begin en tot op die dag 80 jaar en ses maande later in Suid-Afrika geëindig. Die Suid-Afrikaanse deel van sy ryk en nuttige lewe het in 1861 begin sodat dit uit 57 werkjare bestaan het. Nooit in al dié jare kon hy ooit weer sy geboorteland besoek nie. In Suid-Afrika het hy hom volkome tuisgemaak.

As leraar, prediker en organiseerder plaas hy met welslae al drie gemeentes waar hy gestaan het, op vaste grondslag en bou hulle op stoflike, maar veral geestelike gebied op. Hy was 'n gebore dosent. Naas sy gemeentelike pligte op Wellington was hy ook 34 jaar lank as dosent aan die Sendinginstituut vir die opleiding van sendingleraars van die NG Kerk op Wellington werksaam (1879–1913). Hier het hy die diepste spore nagelaat en heilsame invloed as praktiese sendeling uitgeoefen op die 164 sendelinge (die eerstes van die NG Kerk) wat hy in hierdie periode help vorm het.

Tussen 1891 en 1908 is eerw. Pauw vier keer tot moderator van die Sendingkerk se Sinode gekies. Hy het die vergaderings op waardige en bekwame wyse gelei. Hy het vir die Sendingkerk geleef en gebid. Met reg kan hy as vader van die Kaapse Sendingkerk geroem word. Ook van die gesamentlike konferensie van sendelinge in die Kaapland was hy 'n tyd lank die vertroude leier.

Eindelik, ná 'n onvermoeide arbeid van 48 jaar, was die grysaard, weens hoë ouderdom en toenemende swakheid, genoodsaak om sy bediening neer te lê. Die Kerk, waarvan hy een van die waardigste dienaars was, het hom 'n welverdiende pensioen toegeken. Vir nog drie jaar na sy emeritaat het hy sy werk as dosent aan die Sendinginstituut by Wellington voortgesit. Vir vier-en-dertig jaar was hy werksaam in daardie bekende opleidingskool, en die sukses van die inrigting was grootliks aan hom e danke. Op 13 Junie 1918 is eerw. Pauw sy ewige rus ingegaan.

Eerw. Pauw was drie keer getroud: sy eerste vrou, Cornelia Johanna Linschooten, was Hollands van geboorte en het hom agttien maande na sy aankoms op Zoar ontval (1 September 1862). Daarna trou hy op 29 Oktober 1864 weer met 'n Hollandse dame, Anna Margareta Kirchner (1840–1896), wat reeds enige tyd in Suid-Afrika woonagtig was, die moeder van sy 12 kinders. Hy trou in 1898 met Anna Rath, dogter van die Rynse sendeling eerw. Johannes Rath.

Herkoms Eerw. Pauw was die oudste seun van 'n gesin van vier kinders van Jacobus Cornelis Pauw (gebore 1800), 'n messelaar, en sy vrou, Margaretha Johanna Holtz, gebore in Leiden in 1804, ’n afstammeling van Protestantse vlugtelinge uit Boheme. Albei was lidmate van die Christelijke (Afgescheidene) Gereformeerde Kerk in Nederland, wat ná veel stryd van die Hervormde Kerk van Nederland afgeskei het. J.C. Pauw die ouere was 'n aansienlike burger van die stad en kerkman wat as diaken en later as ouderling gedien het.

In sy ouerhuis is die saad van streng Puriteinse invloed en egte Gereformeerde vroomheid vroeg in eerw. Pauw se hart gesaai. Van sy vader het hy 'n onbuigsame, eerlike karaktervastheid met 'n standvastige en oortuigende godsdienssin gepaard met 'n verbasende werkkrag geërf, en van sy moeder innige vroomheid, beslistheid en opgeruimdheid. Van albei het die toekomstige sendingleier die beginsels van Bybelkennis en godsdiensleer ontvang.

Kinderjare Aangesien sy ouers uit godsdienstige oorwegings hom nie teen pokke laat inent het nie, kon hy nie tot 'n skool toegelaat word nie. (Volgens ’n ander bron het hy as knaap en jongeling sy onderwys in die publieke skool in Leiden ontvang.) Van sy sesde tot sy tiende jaar is hy dus tuis deur sy moeder onderrig. Aangesien hy 'n aanleg vir die tekenkuns gehad het, was dit sy ambisie om argitek te word en so besoek hy as seun 'n ambagskool, maar hy wou net ’n ambag leer as hy daardeur iets blywends tot stand kon bring. Die gedagte dat hy iets moes maak wat binne afsienbare tyd sou verslyt of vergaan, was vir hom ondraaglik. Geen wonder nie dat sy eerste verdienste van ses pennies in die week by 'n steenhouer was wat met graniet gewerk het! Maar sy swak oë het hom belet om lank in hierdie spannende werk te bly. Daarna het hy 'n tyd lank die timmermansambag gevolg, en ook die krulle van die skaafbank by bakkers verkoop. Hy was in hierdie dae goed op pad om argitek te word.

Daar was destyds egter nog by die jonge Pauw selfs 'n afkeer van vroomheid en vromes. En tog het die invloed van sy diep godsdienstige ouers en hul strenge leefwyse hom bygebly. Toe hy op 17-jarige leeftyd belydenis aflê as lidmaat van die Christelik-Afgeskeie Kerk, was daar by hom geen vyandskap meer teenoor die godsdiens nie. Sy leraar en sy moeder veral het hom grootliks beïnvloed. Sy brandende begeerte tot die evangelie-bediening is op hierdie leeftyd vervul toe die pad vir hom geopen is tot die Christelike Normaalskool by die Klokkenberg, in Nijmegen. Eers was die plan dat hy as sendingonderwyser na China sou gaan vanweë die behoefte aan werkkragte vir daardie land. Aan die end van sy tweede jaar in Nijmegen het hy byna beswyk aan 'n baie ernstige siekte. Oberholster, mev. J.A.S. 1940. Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente te Wellington. 'n Geskiedkundige Oorsig van sy Honderdjarige Bestaan 1840–1940. Wellington: NG Kerkraad.

Opleiding 210px|duimnael|regs|Isaac da Costa het 'n groot invloed op die jong Jacobus Pauw uitgeoefen aan die seminarie van die Vrye Skotse Kerk in Amsterdam.

Hy het ná Nijmegen eers na Rotterdam gegaan vir sy teologiese opleiding, maar dié instelling was na sy mening te "liberaal". Deur bemiddeling van Groen van Prinsterer, die bekende kampvegter vir die regsinnigheid, het hy tereggekom in die Seminarie van die Vrye Skotse Kerk in Amsterdam, waaruit ook Frans Lion Cachet kort tevore na Suid-Afrika gekom het. Aan dié seminarie was dr. C. Schwartz en Isaac da Costa leidende figure. Pauw was nie net op koste van die beherende liggaam aan dié instelling nie, maar hy sou ook ná afgelegde studie vrylik kon kies waarheen hy wou gaan. Dit was vir hom die duidelike leiding van God en hy het hom vervolgens met vlytige toewyding aan die studie gewy. Da Costa, wat leerling en geesverwant van Bilderdijk was, het veral veel invloed op die toekomstige sendeling uitgeoefen. Gedurende sy studietyd is hierdie leermeester oorlede en het ook die jonge student J.C. Pauw die voorreg gehad om die stoflike oorskot na sy laaste rusplek op aarde te help dra. Die portret van Da Costa het die muur van die latere dosent se studeerkamer op Wellington al die jare versier. Pauw is waarskynlik enduit besiel om student te bly, terwyl hy al leermeester was. “Ook om student te bly en vir jou gesondheid te sorg, behoort tot die Christendom.” Met hierdie woorde het hy meermale afskeid geneem van studente wat hom kom groet het.

Dit was 'n interessante saamloop van omstandighede vir die jong student dat juis in 1860, ses weke voor hy sy akademiese kursus as evangeliedienaar voltooi het, die eerwaardige dr. William Robertson, destyds predikant van Swellendam, in Holland op besoek was. Een van die belangrikste redes van sy besoek aan Amsterdam was om seker jong manne te beweeg om as evangeliedienaars (predikante en sendelinge) na Suid-Afrika te verhuis. Dit was in die dae na die geseënde Herlewing wat op Worcester begin het en nog voor die Kweekskool (gestig in 1859) en die Sendinginstituut hul manne begin lewer het. Pauw was dadelik gereed om as sendeling na Suid-Afrika te gaan.

Ná dr. Robertson die hoogleraars aan die seminarium geraadpleeg het, het hy aan die jonge Pauw 'n skriftelike uitnodiging gestuur om as kruisgesant na Suid-Afrika oor te kom. Hy het die beroep aangeneem en ná voltooiing van sy studie, is hy in 1861 tot die evangeliebediening toegelaat. So het dit gebeur dat die ywerige jong Nederlander in sy 24ste jaar na Afrika gekom het, nadat hy aanvanklik vir China bestem en later vir Indonesië gevra het.

As sendeling na Suid-Afrika duimnael|170px|links|Ds. Hermanus van Broekhuizen, ds. Herman van Broekhuizen se vader, en sy vrou, Johanna van Beest van Andel, het 'n dame met hulle uit Nederland saamgebring wat later eerw. Pauw se tweede vrou sou word.

regs|duimnael|300px|In eerw. Pauw se tyd was daar 'n vyandige gevoel tussen Suurbraak en Amaliënstein (die Lutherse kerk verskyn op die foto) wat baie van die kerk vervreem het.

Op 6 Julie 1861 het die jong sendeling sy vaderland verlaat nadat hy enige weke tevore met Cornelia Johanna Linschooten in die huwelik bevestig is. Ná ’n egverbintenis van net anderhalfjaar is die jong vrou van eerw. Pauw in sy eerste werkkring oorlede; dus het sy nooit die voorreg gehad om haar ouers en vaderland weer te sien nie.

Tagtig dae ná hul vertrek, op 23 September 1861, het die jonge egpaar voet aan wal gesit in Tafelbaai, toe hy nog geen 24 jaar oud was nie. Eerw. Paulus Teske (1830–’97) het saam met hulle in die Kaap aangekom. Eerw. Pauw het opdrag van die sinode van die Kaapse NG Kerk ontvang dat sy toekomstige arbeidskring by Zoar sou wees, 'n sendingstasie op die tweede terras, ver in die binnelande van die Kaapkolonie. Soar is in 1817 aangelê deur die SA Sendinggenootskap, is 'n tyd lank deur die Berlynse Sendinggenootskap bearbei, in 1858 aan die NG Kerk gegee, in 1867 weer deur die Berlyners oorgeneem en eindelik in 1888 aan die NG Kerk teruggegee.

Die trein het destyds slegs tot by Wellington geloop, en die jonge man moes die ontsaglike afstand met 'n wa of 'n kar afreis. Die rotsgetande berge, klowe, uitgestrekte vlaktes, heuwels en dale, en veral die heerlike, hoë, blou uitspansel van die Afrikaanse suidhoek moes 'n wonderlike indruk op sy gemoed gemaak het. Nog interessanter was sy ervaring toe hy die bestemde plek eindelik bereik het om te sien dat Zoar 'n nietige uithoekie was, met ongeveer 'n dosyn hartbeeshuisies. Vir sy eggenote, 'n jong, pasgetroude Nederlandse dame uit die hoofstad van Holland, moes die ondervinding nog meer indrukwekkend gewees het.

Die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, wat teen die einde van 1862 in Kaapstad vergader het, het die leraar van Zoar offisieel as sendeling van die Kerk erken, en as gevolg van die besluit is hy drie maande later op Swellendam formeel georden. Vir eerw. Pauw sou dit 'n lang verblyf op Zoar wees; vir sy vrou baie kort. Nog voor hy 'n jaar op Zoar, naby Ladismith, was, moes hy sy eggenote en haar eersgeborene in dieselfde graf weglê. Dit was 'n dubbele en uiters gevoelige slag. Die sendingstasie was destyds baie verwaarloos nadat dit geruime tyd leeg gelê het. Nou moes die baanbreker sy eensame weg nog meer alleen bewandel. So goed moontlik is deur 'n vrou uit die gemeente vir hom gesorg, maar op die duur kon dit nie so voortgaan nie.

Reeds van sy heengegane eggenote het hy verneem van 'n jonge vrou wat uit Holland met ds. en mev. Herman van Broekhuizen saamgekom het. Hy het aan haar geskrywe en haar reguit die vraag gestel, aangesien sy tog na Suid-Afrika gekom het om vir die Here te werk, of sy nie geneë sou wees om by hom in sy werk aan te sluit nie. Hy het verduidelik dat hy, wat sy statuur betref, nader by Saggeüs staan as by Goliat. Ook het hy laat weet dat hy swaar die pokkies gehad het en dat sy aangesig wel daardeur enigsins geskend was, maar in elk geval nie so erg as sy leermeester Da Costa s'n nie. Die betrokke vrou was Anna Margaretha Kirchner, met wie hy ook op 17 Februarie 1864 op Graaff-Reinet in die huwelik bevestig is, 'n huwelik wat hom al sy 12 kinders geskenk het en wat volgens oorlewering gelukkig was.