Subjektiewe welsyn (SWS) verwys na die wyse waarop mense die kwaliteit van hulle lewe ervaar en behels emosionele reaksies en kognitiewe beoordeling. Sielkundiges definieer geluk as 'n kombinasie van lewenstevredenheid en die relatiewe frekwensie van positiewe en negatiewe affek. SWS omvat dus gemoedstoestande en emosies sowel as evaluerings van 'n persoon se tevredenheid met algemene en spesifieke areas van sy lewe. Konsepte wat deur SWS omvat word, sluit in positiewe en negatiewe affek, geluk, en lewenstevredenheid. Positiewe sielkunde is veral gemoeid met die studie van SWS. SWS is geneig om oor die lange duur stabiel te wees en hou sterk verband met persoonlikheidseienskappe. Daar bestaan getuienis dat gesondheid en SWS mekaar wedersyds beïnvloed, aangesien goeie gesondheid dikwels met geluk geassosieer word, en 'n aantal studies het bevind dat positiewe emosies en optimisme 'n voordelige uitwerking op gesondheid kan hê.
Komponente Diener et al. redeneer dat die verskeie komponente van SWS bepaalde konstrukte verteenwoordig wat afsonderlik verstaan moet word, al hou hulle sterk verband met mekaar. SWS kan dus eerder as "'n algemene area van wetenskaplike belang" as 'n "enkele spesifieke konstruk" beskou word. Weens die spesifieke fokus op die subjektiewe aspekte van welsyn, word objektiewe toestande soos materiële omstandighede of gesondheid gewoonlik by definisies van SWS uitgesluit, alhoewel dit 'n invloed op die gradering van SWS kan hê. Definisies van SWS fokus dus op 'n persoon se evaluering van sy/haar eie lewe, insluitend emosionele ervarings van genot teenoor pyn as reaksie op spesifieke gebeure, en kognitiewe evaluerings van dit wat 'n persoon as 'n goeie lewe beskou. Komponente van SWS wat op affek betrekking het, sluit in positiewe affek (die ervaring van aangename emosies en gemoedstoestande) en lae negatiewe affek (ervaring van onaangename, ontstellende emosies en gemoedstoestande), sowel as 'n "algehele affek" of "hedonistiese balans". Laasgenoemde word as die totale ekwilibrium tussen positiewe en negatiewe affek gedefinieer en word gewoonlik as die verskil tussen die twee gemeet. Daar is 'n dikwels 'n hoë korrelasie tussen 'n hoë positiewe affek en lae negatiewe affek, maar dit is nie altyd die geval nie.
Daar is twee komponente van SWS. Die een is Affekbalans en die ander is Lewenstevredenheid. 'n Individu se tellings volgens hierdie twee maatstawwe word opgetel om 'n totale SWS-telling te bepaal. In sommige gevalle word hierdie tellings apart gehou.
Affekbalans Affekbalans verwys na die emosies, gemoedstoestande en gevoelens wat 'n persoon beleef. Dit kan almal positief, almal negatief of 'n kombinasie van positief en negatief wees. Daar is navorsing wat toon dat gevoelens van beloning van positiewe en negatiewe affek onderskei word.White M and Dolan P, Accounting for the richness of our daily activities, Psychological Science, 20, 8, 1000–1008, 2009
Lewenstevredenheid Lewenstevredenheid ('n persoon se algemene beoordeling van sy lewe) en tevredenheid op spesifieke lewensterreine (bv. werkstevredenheid) word as kognitiewe komponente van SWS beskou. Die term "geluk" word ook dikwels met SWS geassosieer en word onder andere omskryf as die "bevrediging van begeertes en doelwitte" (wat met lewenstevredenheid verband hou), as 'n "oorheersing van positiewe oor negatiewe affek" (wat met emosionele komponente van SWS verband hou), as "vergenoegdheid", en as 'n "volgehoue, optimistiese gemoedstoestand", en kan 'n affektiewe evaluering van 'n mens se lewe as geheel impliseer. Lewenstevredenheid word ook soms as die "stabiele" komponent in 'n persoon se lewe beskou. Affektiewe konsepte van SWS kan in terme van kortstondige emosionele toestande sowel as langertermyn gemoedstoestande en neigings beskou word (i.e. hoeveel positiewe en/of negatiewe affek 'n persoon oor die algemeen binne 'n bepaalde tydperk ervaar). Lewenstevredenheid, en in sommige studies, geluk, word oor die algemeen oor 'n lang tydperk, tot en met 'n leeftyd, geëvalueer. "Lewenskwaliteit" is ook al as 'n konseptualisering van SWS bestudeer. Alhoewel die presiese definisie daarvan wissel, word dit gewoonlik as 'n akkumulasie van welsyn oor verskeie lewensterreine gemeet en kan dit subjektiewe sowel as objektiewe komponente insluit.
Evaluering van SWS Lewenstevredenheid en Affekbalans word gewoonlik afsonderlik en onafhanklik van mekaar gemeet. Lewenstevredenheid word normaalweg aan die hand van 'n selfverslag geëvalueer. 'n Algemene meetinstrument vir lewenstevredenheid is vraelyste. Affekbalans word ook oor die algemeen met behulp van 'n selfverslagmetode gemeet. 'n Voorbeeld van 'n meetinstrument van Affekbalans is PANAS (Positiewe Affek Negatiewe Affek Skedule). Die probleem met die huidige meetinstrumente van lewenstevredenheid en affekbalans is dat dit selfverslae is; deelnemers kan jok of ten minste nie die volle waarheid op die vraelyste invul nie. Deelnemers kan jok of sekere inligting weerhou omdat hulle óf verleë is óf invul wat hulle dink die navorser in die uitslae wil sien. Ten einde meer akkurate uitslae te verkry, word ander meetinstrumente gebruik om 'n persoon se SWS te bepaal. Een manier om te staaf of te bevestig of die uitslae van die selfverslag akkuraat is, is deur informantverslae. Informantverslae word aan die deelnemer se naaste vriende en familie gegee en hulle word gevra om 'n vraelys of vorm oor die deelnemer se gemoedstoestand, emosies en algemene lewenstyl in te vul. Die deelnemer kan in die selfverslag skryf dat hy baie gelukkig is, maar sy vriende en familie kan meen dat hy altyd neerslagtig is. So 'n duidelike weerspreking sal tot onakkurate uitslae lei. Nog 'n metode waarmee 'n beter begrip van die ware resultate verkry kan word, is deur ESM, oftewel die Experience Sampling Method. Deelnemers ontvang 'n bieper/roeper wat deur die loop van die dag 'n geluid maak. Telkens wanneer die bieper/roeper afgaan, hou die deelnemer op waarmee hy besig is en maak 'n aantekening van daardie betrokke aktiwiteit en sy huidige gemoedstemming en gevoelens. Deur dit vir 'n tydperk van 'n week of 'n maand te monitor, sal navorsers 'n beter begrip van die individu se ware emosies, gemoedstemmings en gevoelens verkry. 'n Derde meetinstrument om geldigheid te verseker is die Day Reconstruction Method. Deelnemers hou dagboek van die vorige dag se aktiwiteite. Hulle word dan gevra om elke aktiwiteit te beskryf en 'n verslag te skryf oor hoe hulle gevoel het, wat hulle gemoedstemming was en enige emosies wat na vore gekom het. Ten einde 'n akkurate uitslag te verseker, maak navorsers dikwels gebruik van 'n selfverslag in kombinasie met een van die ander bogenoemde meetinstrumente. Daar word gesê dat 'n persoon met 'n hoë lewenstevredenheid en 'n positiewe affekbalans 'n hoë SWS het.
Teorieë Teorieë oor die oorsake van SWS is geneig om óf bo-na-onder óf onder-na-bo-invloede te beklemtoon.
Bo-na-onder perspektief In die bo-na-onder beskouing word 'n persoon se ervaring van gebeure deur algemene persoonlikheidskenmerke beïnvloed. Individue mag dus oor die algemeen geneig wees om die lewe deurlopend positief of negatief te ervaar, afhangende van hulle stabiele persoonlikheidstrekke. Bo-na-onder teorieë van SWS voer aan dat mense 'n genetiese predisposisie het om gelukkig of ongelukkig te wees en dat hierdie predisposisie hulle SWS-"vaste punt" bepaal. Die Vaste Punt-teorie impliseer dat 'n persoon se basislyn- of ekwilibriumvlak van SWS 'n resultaat van oorerflike eienskappe is en dus by geboorte reeds amper volledig voorafbeskik is. Bewyse vir hierdie genetiese predisposisie spruit uit gedragsgenetiese studies waar bevind is dat positiewe en negatiewe affek albei 'n hoë oorerflikheid het (onderskeidelik 40% en 55% in een studie). Verskeie tweelingstudies bevestig die Vaste Punt-teorie, maar dit ontken ook nie die moontlikheid dat individue langtermynveranderinge in SWS kan ervaar nie.
Volgens Diener et al. is oorerflikheidstudies beperk daarin dat dit die langtermyn-SWS van 'n groep persone in 'n moderne Westerse samelewing beskryf, maar nie noodwendig van toepassing is op meer ekstreme omgewings wat 'n invloed op SWS kan hê nie. Verder is daar nie absolute aanwysers van genetiese effek nie en bestaan daar teenstrydighede in die verskillende studies se oorerflikheidsberamings.
Verdere bewyse vir 'n genetiese vatbaarheid ten opsigte van SWS spruit uit bevindings dat persoonlikheid 'n groot invloed op langtermyn-SWS het. Dit het tot die dinamiese ekwilibriummodel van SWS gelei. Volgens hierdie model skep 'n individu se persoonlikheid 'n basislyn vir emosionele reaksies. Eksterne gebeure kan mense van die basislyn laat afwyk, soms dramaties, maar hierdie verskuiwings is geneig om vir beperkte tydperke te wees, en die meeste mense sal uiteindelik na hulle basislyn toe terugkeer.
Onder-na-bo perspektief Vanuit 'n onder-na-bo perspektief verteenwoordig geluk 'n akkumulasie van gelukkige ervarings. Bo-na-onder invloede behels eksterne ervarings en breë situasionele en demografiese faktore, insluitend gesondheid en huwelikstatus. Onder-na-bo benaderings is gebaseer op die idee dat daar universele basiese menslike behoeftes is en dat die vervulling daarvan tot geluk lei. Hierdie beskouing word ondersteun deur bewyse dat daagliks aangename gebeure met 'n toename in positiewe affek geassosieer word, en daagliks onaangename gebeure of probleme met 'n toename in negatiewe effek verband hou.
Volgens navorsing is eksterne gebeure egter vir 'n veel kleiner gedeelte van die variansie in selfverslae van SWS verantwoordelik as bo-na-onder faktore, soos persoonlikheid. 'n Teorie wat die beperkte impak van eksterne gebeure moontlik kan verklaar, is hedonistiese aanpassing. Volgens hierdie teorie, wat oorspronklik op die konsep van 'n "hedonistiese trapmeul" gebaseer is, sal positiewe of negatiewe gebeure 'n tydelike invloed op gevoelens van SWS hê, maar met verloop van tyd is mense geneig om aan hulle omstandighede gewoond te raak en na hulle persoonlike SWS-"vaste punt" of basislynvlak toe terug te keer.
Volgens die hedonistiese trapmeul-teorie is daar oorspronklik voorgehou dat die meeste mense na 'n neutrale vlak van SWS (nie gelukkig of ongelukkig nie) toe terugkeer namate hulle aan gebeure gewoond raak. Latere navorsing het egter getoon dat die meeste mense se basislynvlak van SWS na die positiewe neig, aangesien die meeste persone rapporteer dat hulle oor die algemeen taamlik gelukkig is en gewoonlik 'n positiewe gemoedstemming ervaar wanneer hulle nie spesifiek teëspoed ondervind nie. Bykomende verfyning van hierdie teorie het getoon dat mense nie eenders by alle lewensgebeure aanpas nie; ons is geneig om vinnig by sekere gebeure (bv. gevangeneming), stadig by ander (bv. die dood van 'n geliefde), of glad nie by sekeres (bv. geraas en seks) aan te pas nie.
Persoonlikheid en genetika 'n Aantal studies het bevind dat daar 'n noue verband tussen SWS-konstrukte en 'n verskeidenheid persoonlikheidstrekke, insluitend dié in die vyffaktormodel, is. Bevindings van verskeie persoonlikheidstudies toon dat genetika vir 20-48% van die variansie in die Vyffaktormodel verantwoordelik is en dat die variansie in subjektiewe welsyn ook oorerflik is. Veral neurotisisme voorspel 'n swakker subjektiewe welsyn terwyl ekstraversie, inskiklikheid, konsensieusheid en openheid vir ervaring geneig is om 'n hoër subjektiewe welsyn te voorspel. In 'n meta-analise is daar bevind dat neurotisme, ekstraversie, inskiklikheid en konsensieusheid 'n opvallende verwantskap met alle bestudeerde fasette van SWS (positiewe, negatiewe en algehele affek; geluk; lewenstevredenheid; en lewenskwaliteit) toon. Neurotisme was die grootste voorspeller van algehele SWS en is die grootste voorspeller van negatiewe affek.