Johan Badenhorst is 'n Suid-Afrikaanse skrywer en is in 1959 gebore. Hy ontvang sy laerskoolopleiding by Laerskool Nongoma in Zoeloeland, waar sy pa onderwyser was, waarna hy na Hoërskool Empangeni gaan.

Lewe en werk Reeds op skool begin hy nuus stuur vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK). Hy studeer Regte aan die Universiteit van Pretoria, behaal 'n honneurs in Strategiese Studies aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en werk dan vir 'n tyd lank by die SAUK. In 1990 sluit hy by Scholtz Films aan waar hy onder andere die televisieprogramme “Boude en blaaie” en “Van die Kaap tot die Kunene” oor die skrywer en swerwerkok Pieter Pieterse vervaardig. Hierdie programme was sy leerskool vir koskook- en reisprogramme en sy inspirasie vir die  televisieprogram “Voetspore”, waarvan hy die vervaardiger is. Sedert 2000 onderneem hy en sy span gereelde Afrika-reise, op verskillende roetes, sodat die besienswaardighede en interessante inligting van die kontinent op hierdie manier ontbloot word. Hieruit spruit verskeie reekse van “Voetspore”.

Die sukses van die televisieprogram laat hom besluit om ook die Voetspore- leefstylwinkel en 4x4 monteringsentrum in April 2013 by 'n winkelsentrum in die ooste van Pretoria te begin. Dit verskaf al die benodigdhede vir die mense wat self reise wil onderneem, terwyl die monteringsentrum voertuie uitrus met toerusting soos ekstra water- en petroltenks en spesiale vering. Johan is ook die vervaardiger van die musiekspel “Stuur groete aan Mannetjies Roux”.

Gesinslewe Johan is getroud met Alma en hulle het drie kinders, van wie Nina die oudste is, Heleen die middelkind en Streicher die jongste. Die gesin bly in Kleinmond in die Wes-Kaap.

Skryfwerk Hy vertel die televisieprogram Voetspore se reisavonture in die boeke In die voetspore van die grotes, Voetspore op die strand, Van die Kaap tot Kilimandjaro, Van Kilimandjaro tot by Kaïro, Van Gansbaai tot Gaboen, Casablanca tot die Kaap en Agulhas tot Alexandrië. Dit bevat vertellings oor die reis, meermale op 'n dag-tot-dag verslag van die dag se gebeure, ryklik geïllustreer met foto’s. Voetspore 4x4 kookboek is 'n praktiese kookboek vir mense wat reis.

Publikasies

2001: In die voetspore van die grotes 2002: Voetspore op die strand 2007: Van die Kaap tot Kilimandjaro 2007: Voetspore 4x4 kookboek 2008: Van Kilimandjaro tot by Kaïro 2009: Van Gansbaai tot Gaboen 2011: Voetspore: Casablanca tot die Kaap 2013: Voetspore: Agulhas tot Alexandrië 2014: Voetspore 2 - 'n kookboek vir 4x4-entosiaste 2015: Voetspore op die Ewenaar - 'n reis van Lamu tot Muanda 2020: Voetspore in Suid-Afrika. 'n Reisgids 2021: Voetspore in Suid-Afrika 2. 'n Reisgids.

Bronne Botha, Marzahn: "Dié keer volg span spore deur Oos-Afrika" Beeld 26 Julie 2011. Retief, Hanlie: "Diep voetspore van 'n ‘brother’" Rapport 20 Julie 2014. Blumenthal, Mari: Voetspore: Van een reeks tot sakesukses (Netwerk24 – intekening benodig.)

Verwysings

Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers Kategorie:Geboortes in 1959 Kategorie:Lewende mense