Die kleinbyvreter (Merops pusillus) is 'n algemene standvoël.
Identifikasie Die voëltjie word aan sy klein, slanke grootte en helder kleure, nl. 'n geel keel, oranjebruin onderkant en feitlik reghoekige stert uitgeken. Die koppie en vlerke is groen en bruin met 'n swart bek. Die swart kraag ontbreek by die jonges en hulle onderkante is liggroen. Dit is die kleinste byvreter, ongeveer 15–17 cm lank. Beide geslagte lyk eenders. Hulle broei hoofsaaklik in sandwalle naby water, maar soms ook in die openinge van erdvarkgate. Die wyfie lê gewoonlik 6-8 ronde wit eiers waarop albei geslagte om die beurt broei.
Habitat Hulle hou in pare of swerms naby groot riviere of by oop kolle in boomveld of bosveld. Hulle sit meestal saam op 'n lae tak of draadheining vanwaar hulle jagvlugte uitvoer. Vreet hoofsaaklik insekte, veral bye en perdebye, en raak ontslae van die angel deur die insek herhaaldelik teen 'n harde oppervlakte te slaan.
Verspreiding Kom meestal voor in Afrika suid van die Sahara. Migrasie is beperk tot seisoenale reënvalpatrone.
Geluid Uiter 'n rustige "tjip,tjip trriee-trriee-trriee".
Ander name Engelse naam: "Little Bee-eater"
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Bronnelys Newman se Voëls van Suider-Afrika.
Kategorie:Byvreters Kategorie:Voëls van die Krugerwildtuin