duimnael|250px|alt=In die lug wapper ’n rooi vlag met ’n wit kruis waarvan die vertikale mas na die vlagpaal geskuif is.|Die oudste ontwerp vir ’n nasionale vlag wat steeds in gebruik is, is Denemarke se Dannebrog duimnael|250px|’n Wêreldkaart met al die nasionale vlae
’n Vlag is ’n stuk doek/lap, wat dikwels van ’n paal of mas gehang word en word gewoonlik gebruik om ’n boodskap oor te dra of vir identifikasie. Die mees algemene gebruik van vlae is om lande te verteenwoordig.
Die eerste vlae is gebruik om militêre koördinasie op slagvelde by te staan en sedertdien het dit ontwikkel in ’n algemene instrument vir identifisering en seingewing, veral in omgewings waar kommunikasie moeilik is (soos in skeepvaartomgewing waar semafore gebruik word). Nasionale vlae is patriotiese simbole met uiteenlopende interpretasies wat dikwels ’n sterk militêre verwantskap het weens die aanhoudende militêre gebruike van vlae. Vlae word ook gebruik in die oordra van boodskappe, advertensies of vir ander dekoratiewe doelwitte.
Nasionale vlae
duimnael|200 px|Die Nederlandse vlag is die oudste driekleur duimnael|200 px|Die Vlag van Iran duimnael|200 px|Vlae wat halfmas hang buite Central Plaza, Hong Kong, na die Sichuan-aardbewing. Die Vlag van Saoedi-Arabië is uitgesonder.
Een van die mees gewilde gebruike van ’n vlag is om ’n nasie of land te simboliseer. Sommige nasionale vlae was baie inspirerend vir ander nasies, lande of subnasionale entiteite in die ontwerp van hul eie vlae. ’n Paar prominente voorbeelde sluit in:
Die vlag van Denemarke is die oudste staatsvlag wat steeds in gebruik is. Hierdie vlag, genaamd die Dannebrog, was die inspirasie vir die kruisontwerp van die ander Skandinawiese lande: Noorweë, Swede, Finland, Ysland en Skandinawiese streeksvlae vir die Färoër-eilande, Åland, Skåne en Bornholm asook vlae vir die nie-Skandinawiese Shetland en Orkney. Die Unievlag (Union Jack) van die Verenigde Koninkryk word die algemeenste gebruik. Britse kolonies het dikwels ’n vlag ontwerp wat gebaseer is op die Union Jack of wat die Union Jack bevat. Baie voormalige kolonies het die gebruik van die Union Jack in hul eie vlae behou as erkenning van hul kulturele geskiedenis. Voorbeelde: Australië, Fidji, Nieu-Seeland, Tuvalu en ook die Kanadese provinsies Manitoba, Ontario en Brits-Kolombië; sien ook Vlae wat op Britse insinjes gebaseer is. Die Driekleur van Nederland is die oudste driekleur en het sy eerste verskyning in 1572 as die Prinsevlag in oranje-wit-blou gemaak. Die meer bekende rooi-wit-blou het mettertyd begin verskyn — daar kan nie vasgestel word waarom oranje met rooi vervang is nie. Na 1630 was die rooi-wit-blou die mees algemene vlag. Die Nederlandse Driekleur het as inspirasie gedien vir verskeie nasionale vlae waaronder dié van Rusland, Indië, New York Stad, die Unie-vlag van Suid-Afrika 1928–1994 en die vlag van Frankryk waarna die gebruik van die driekleur selfs verder versprei het. Die vlag van Nederland is ook die enigste vlag in die wêreld wat aangepas word vir sekere gebruike soos wanneer ’n gebeurlikheid betrekking op die Nederlandse koningshuis het, word ’n oranje lint aan die vlag toegevoeg. Die nasionale vlag van Frankryk, die Tricolore, is in 1794 ontwerp. As ’n voorloper van opstand is die Franse driekleur deur talle lande aangepas. Voorbeelde: Italië, Costa Rica, die Dominikaanse Republiek, Ierland, Haïti, Roemenië en Meksiko. Die Vlag van die Verenigde State, ook bekend as die Stars and stripes of Old Glory, het ook, soos die Franse driekleur, gedien as inspirasie vir talle ander vlae omdat baie lande deur die Amerikaanse Revolusie geïnspireer is en gevoel het dat die vlag dit simboliseer. Voorbeelde: Liberië, Chili, Maleisië, Uruguay en die Franse gebied Bretagne. Die vlag van Rusland, die bron van die pan-Slawiewe kleure is aangepas deur baie Slawiese state en volke as hul simbole. Voorbeelde: Slowakye, Serwië, Kroasië, Slowenië en Bulgarye (waar blou deur groen vervang is). Die oorspronklike driekleur vlag van Iran, die bron van die Pan-Irannese kleure van groen, wit en rooi, is aangepas deur verskeie Indo-Irannese of Ariese state en volke as hul simbole. Voorbeelde: Tadjikistan, Koerdistan, die Republiek van Ararat en die Outonome Talysh-Mugan Republiek. Sommige van Iran se nie-Irannese buurlande het ook die kleure aangeneem soos Koeweit en Oman. Ethiopië is as ’n model vir opkomende Afrikalande gesien in die 1950’s en 1960’s omdat dit een van die oudste onafhanklike state in Afrika was. As gevolg daarvan het die vlag van Ethiopië die bron van die Pan-Afrika kleure geword (dit staan ook bekend as die “Rasta-kleure”). Voorbeelde: Togo, Senegal, Ghana, Mali, Burkina Faso en Benin. Die vlag van Turkye, wat ook die vlag van die Ottomaanse Ryk was, het gedien as inspirasie vir die vlagontwerpe van verskeie Moslem-nasies. Gedurende die Ottomaanse tydperk is die sekelmaan met Islam begin assosieer en dit word gereflekteer in die vlae van Algerië, Azerbeidjan, die Comore-eilande, Maleisië, Mauritanië, Pakistan en Tunisië. Die Pan-Arabiese kleure (groen, wit, rooi en swart) is afgelei van die vlag van die Arabiese Opstand en kan gesien word in die vlae van Jordanië, Koeweit, Soedan, Sirië, die Verenigde Arabiese Emirate, Wes-Sahara, Egipte, Irak, Jemen en Palestina. Die Sowjetvlag, met die goue hamer en sekel op ’n rooi agtergrond, was ’n inspirasie vir vlae van die ander kommunistiese state, soos Oos-Duitsland, die Volksrepubliek China, Viëtnam, Angola, Afghanistan en Mosambiek. Die Vlag van Venezuela, ontwerp deur Francisco de Miranda om die onafhanklikheidsbeweging in Venezuela voor te stel wat later aanleiding gegee het tot die totstandkoming van die Groot-Colombia, was die inspirasie vir die vlae van Colombia en Ecuador. Laasgenoemde twee lande se verspreiding van die bane is gelyk en saam met die vlag van Venezuela is die kleure geel (bo), blou (middel) en rooi (onder). Die Vlag van Argentinië, ontwerp deur Manuel Belgrano gedurende die onafhanklikheidsoorlog, was die inspirasie vir die vlag van die Verenigde Provinsies van Sentraal-Amerika wat op sy beurt die vlae van Guatemala, Honduras, El Salvador en Nicaragua was.
Siviele/burgerlike vlae ’n Siviele of burgerlike vlag is ’n weergawe van die nasionale vlag wat gebruik word deur burgerlikes op nie-regeringsinstellings of -tuie. Die gebruik van siviele vlae was in die verlede meer algemeen en het gedien as aanduiding op geboue en skepe wat nie onder beheer van die weermag was nie. In sommige lande is die siviele vlag dieselfde as die oorlogsvlag of die staatsvlag maar sonder die landswapen soos in die geval van Spanje en in ander gevalle is dit ’n gewysigde weergawe van die oorlogsvlag.
Oorlogsvlae
duimnael|regs|180px|As teken van die VK se Royal Air Force toon die Insinje van die Koninklike Lugmag die rondeau van die RAF
Verskeie lande wat die Verenigde Koninkryk en die Sowjetunie insluit, het unieke vlae wat deur hul onderskeie weermagte gebruik word, eerder as die nasionale vlag.
Die weermagte van ander lande, waaronder dié van die Verenigde State en Switserland, gebruik hul standaard nasionale vlag. Die weermag van die Filippyne gebruik hul standaard nasionale vlag, maar in tye van oorlog word die vlag onderstebo gehang — dit is die enigste geval waar ’n onderstebo nasionale vlag ’n oorlogstoestand aandui— nie net ’n noodtoestand nie. Hierdie vlae staan ook as oorlogsvlae bekend maar die terminologie is slegs van toepassing op die militêre gebruik van die vlae.
Internasionale vlae Die vlag van die Verenigde Nasies, die Olimpiese vlag en die Wêreldvlag is voorbeelde van internasionale vlae.
Provinsiale vlae duimnael|Die Stadsaal van Walkirch toon die vlae van Duitsland, Baden-Württemberg (provinsie) en Waldkirch (stad) In baie lande het subnasionale eenhede soos provinsies en stede hul eie vlae. Die reëls en tradisies rondom die gebruik van sulke vlae verskil van land tot land, maar in baie Wes-Europese lande soos Frankryk, België, Nederland en Duitsland is dit algemeen om die nasionale vlag, die provinsiale vlag en die plaaslike munisipale vlag vanaf die stadsaal te wapper. In baie gevalle word die EU-vlag saam met die nasionale vlag en die vlae van plaaslike entiteite gewaai.
Vlae ter see duimnael|regs|120px|Die internasionale seevaartseinvlag Delta (letter D)
Ter see is vlae van besondere belang en kan dit die verskil tussen lewe en dood beteken en die reëls en regulasies vir die vertoon van ’n vlag ter see word streng gereguleer. ’n Nasionale vlag wat op see vertoon word staan bekend as ’n vaandel. ’n Beleefde vredeliewende koopvaartskip of -jag toon dikwels sy vaandel (in die gewone vaandelposisie) saam met die vlag van die plek waar hy besoek aflê (bekend as die beleefdheidsvlag). Indien die vaandel op sy eie in vreemde waters, ’n vreemde hawe of in die aanwesigheid van ’n buitelandse oorlogskip vertoon word, is dit gewoonlik ’n teken van gewilligheid om te veg. In moderne tye word hierdie tradisie steeds ernstig opgeneem deur baie vloot- en hawe-owerhede en word dit vinnig bekragtig in baie wêrelddele deur entering, konfiskering en ander siviele boetes.
In party lande verskil jagvaandels van koopvaartvaandels as ’n aanduiding dat die jag nie ’n vrag dra wat doeaneklaring verlang nie. Wanneer ’n kommersiële vrag egter op ’n boot met ’n jagvaandel gevind word, word dit gewoonlik in baie regsgebiede beskou as smokkelary.
Daar is ’n stelsel van internasionale vlootseinvlae vir getalle en die letters van die alfabet. Elke vlag of wimpel het ’n spesifieke betekenis wanneer dit op sy eie gehang word.
’n Seintoestel (semafoor) kan ook gebruik word om te kommunikeer op ’n ad hoc basis van een skip na ’n ander oor kort afstande.
Vorme en ontwerpe duimnael|regs|120px|Die vlag van Nepal, die enigste nasionale vlag wat nie reghoekig is nie
Vlae is gewoonlik reghoekig in vorm (dikwels in die verhouding 2:3, 1:2 of 3:5), maar kan enige vorm of grootte aanneem wat prakties is om op te hang. Dit sluit vierkante, driehoeke of swaelstertvlae in. ’n Ongewone vorm kan gevind word in die vlag van Nepal wat in die vorm is van twee driehoeke wat op mekaar gestapel is.
In ’n poging om die vervaardigingskoste van vlae so laag as moontlik te hou word baie vlae op so ’n manier gemaak dat dit van albei kante af dieselfde lyk. Dit bied twee moontlikhede: Indien die ontwerp van die vlag simmetries in ’n as met die vlagpaal is, sal die voor- en agterkant identies wees soos die vlag van Indië en Kanada. Indien die vlag nie simmetries is nie sal die voor- en agterkante twee variante van dieselfde ontwerp wees waarvan een se hyskant (die kant van die vlag wat teen aan die vlagpaal is) links is en een waarvan die hyskant regs is (wat gewoonlik as die teenoorgestelde kant beskou word). Dit is baie algemeen en dikwels nie steurend wanneer teks ontbreek op ’n vlag nie.
Sommige ingewikkelde vlagontwerpe is nie bedoel om van agter gesien te word nie en het dus ’n agterkant nodig wat verskil van die voorkant. In sulke gevalle is daar ’n ontwerpelement (dikwels teks) wat nie simmetries is nie en van agter ook leesbaar behoort te wees, ongeag of die hyskant van die vlag links of regs is. Daar is twee tipes gevalle: Dieselfde (asimmetriese) ontwerp kan op albei kante aangebring word. Sulke vlae kan vervaardig word deur twee identiese vlae met hul rûe teen mekaar vas te werk, maar dit kan die manier waarop die vlag wapper beïnvloed. Afbeeldings van sulke vlae word aangedui met die simbool Lêer:IFIS Equal.svg wat aandui dat die voor- en agterkant van die vlag identies is (die agterkant is dus nie ’n spieëlbeeld nie). In unieke gevalle verskil die agterkant van die voorkant, hetsy in geheel of gedeeltelik. Voorbeelde hiervan is die vlae van Paraguay, Oregon en die historiese vlag van die Sowjetunie. Afbeeldings van sulke vlae word aangedui met die simbool Lêer:IFIS Two-sided.svg.
duimnael|regs|185px|Die vlag van Kiribati, ’n skildbanier