duimnael|links|220px|Ds. J.C. Krüger, van 1898 tot sy dood in Junie 1905 die gemeente se eerste leraar, en sy eggenote.
duimnael|170px|regs|Mev. ds. D.P. du Plessis (gebore Martha Vorster, die dogter van ds. L.P. Vorster), predikantsvrou van die gemeente van 1920 tot haar man se dood in 1941.
duimnael|regs|240px|Ds. H.P.J. Pasch en sy gesin. Agter: Anna. Voor: Lena, Gerrit, Johanna, Babie en Schutte. Hy was Ladybrand se leraar van 1911 tot 1920.
duimnael|300px|Die kerkraad neem afskeid van ds. Pasch, volgens die fotogegewens 1918, maar hy het eers in 1920 vertrek.
duimnael|regs|170px|Ds. D.P. du Plessis, leraar van 1920 tot sy dood in 1941.
Die Gereformeerde kerk Ladybrand is die oudste gemeente in die GKSA se Klassis Oos-Vrystaat. Einde 2015 was dit met 72 belydende en 10 dooplidmate ook die tweede kleinste in die klassis. 'n Jaar vantevore was die getalle onderskeidelik 74 en nege.
Aanvanklik was Ladybrand ’n wyk van die eerste Gereformeerde kerk in die Vrystaat, Reddersburg. Op 20 Desember 1872 het Ladybrand van die moedergemeente afgestig. Aan die begin is dienste in ’n kleiner kerkgebou gehou, maar dit was bouvallig en een gewel het gedreig om in te tuimel.
Die gemeente het toe besluit om ’n nuwe kerkgebou op te rig en daarvoor het hulle £100 van die Vrystaatse Volksraad ontvang. Die totale koste van die oprigting van die nuwe kerk was £864,11 en dis op 13 Julie 1883 in gebruik geneem. Eers in 1890 is ’n houtvloer en banke ingesit. In 1895 is ’n konsistorie aangebou.
Mettertyd het dié kerkgebou bouvallig geraak en aandag gekort. In ’n stadium is die dak herstel, maar in 1971 is dit deur ’n nuwe kerkgebou vervang.
Reeds in Oktober 1966 het diaken Kleynhans dat die gemeente moes oorgaan tot die bou van ’n nuwe kerkgebou omdat die destydse kerkgebou, volgens hom, nie tot eer van die gemeente gestrek het nie. Ná bespreking en beplanning het die gemeente ’n lening van R24 000 by Sanlam aangegaan. Dit was terugbetaalbaar oor 25 jaar teen ’n rentekoers van 9 persent.
Die nuwe kerkgebou is in die naweek van 24 en 25 April 1971 in gebruik geneem. Op die Saterdag (die 24ste) het die leraar, ds. P.J.S. de Klerk, die hoeksteen onthul. Dr. G.C.P. van der Vyver het die feesdiens op die Sondag gelei nadat die kerkgebou in gebruik geneem is. Dié kerkgebou, wat sitplek aan genoeg 200 kerkgangers bied, is vandag nog in gebruik. Dit het ’n klein pyporrel. ’n Netjies uitgelegde tuin versier die kerkterrein.
Twee gemeentes wat in 1897 gestig is, Wepener en Tweespruit (vroeër Thaba 'Nchu), is in onderskeidelik 1954 en 2013 by Ladybrand ingelyf.
Predikante Krüger, Jan Christoffel, 1898 – 26 Junie 1905 (oorlede in die amp) Pasch, Hendricus Philippus Josephus, 1911 – 1920 Du Plessis, Dirk Postma, 1920 – 11 Julie 1941 (oorlede in die amp) Van der Merwe, Christiaan Dirk Jacobus, 1953 – 1954 De Bruyn, Frans Roelof Petrus, 1956 – 1958 Liebenberg, Thomas Arnoldus, 1960 – 1965 Smit, dr. Erasmus Johannes, 1965 – 1966 (in kombinasie) De Klerk, Philippus Jacobus Stephanus, 1966 – 1971 Erasmus, Johannes Jacobus, 1973 – 1981 Van der Walt, Petrus Jacobus, 1981 – 2011 (in kombinasie met Tweespruit; aanvaar sy emeritaat) Lee, Sarel Johannes Barend, 2012 – 2018 (aanvanklik in kombinasie met Tweespruit, wat ontbind het)
Bronne Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1957. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1958. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1958. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1959. Potchefstroom: Administratiewe Buro. Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
Sien ook NG gemeente Ladybrand Pieter Venter, jare lange ouderling
Kategorie:Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Kategorie:Vrystaat