duimnael|Nyabêla.

Nyabêla (1825/30 – 1902)https://www.worldstatesmen.org/South_Africa_Bantu.html in Afrikaans ook bekend as Niabel, was gedurende die negentiende eeu 'n opperhoof van die Ndzundza-Ndebele. Hy word onthou vir sy stryd teen blankes vir beheer oor sy stam se eie grondgebied.

Herkoms Nyabêla se voorsate het waarskynlik in die sestiende of sewentiende eeu vanaf die suidooskus van Afrika na die Hoëveld verhuis en hulself naby die latere Pretoria gevestig. Hierdie mense is later die Ndebele van Transvaal genoem. Deesdae noem ons hulle die Ndebele van Suid-Afrika. Een van hul hoofmanne, Ndzundza, het na die Steelpoortvallei in Mpumalanga verhuis. Na vele ontberings het hierdie deel van die stam by 'n plek langs die Steelpoortrivier genaamd Nomtshagelo gaan bly.C.J. Coetzee, Die Strewe tot Etniese Konsolidasie en Nasionale Selfverwesenliking by die Ndebele van Transvaal, D.Phil proefskrif, P.U. vir C.H.O. 1980, p. 245 Nomtshagelo is later opgemeet as die plaas Mapochsgronde. Dit omring die huidige dorpie Roossenekal.

Nyabêla se pa, Mapoch (deesdae Mabhoko of Mapog genoemAldus die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal word geskryf dat Mapog die hoofman van die Mapoggers was.) was die hoofman van die stam toe die emigrante (later Voortrekkers of Boere genoem) in 1845 die gebied binnegedring het. In 1860 het die Boere vier plase (omtrent die huidige Mapochsgronde) aan die Mapochs (deesdae ook die Mapoggers genoem) toegeken. Maar die gebied wat die stam beset het, was groter en het steeds gegroei. Hulle het weer oorlog gevoer, maar in 1865 is vrede gemaak toe die Boere erken het dat 'n veel groter gebied aan die Mapoggers behoort.Transvaal Argief Bewaarplek (TAB): SS67, p. 59 ook R.548/65.Van Jaarsveld, Albert. Die Ndzundza-Ndebele en die Blankes in Transvaal, 1845–1883. M.A. verhandeling, Rhodes-universiteit, p. 119, 188

Mapog is in 1865 oorlede en twee van sy seuns het hom opgevolg. Die Britte het die Transvaal in 1877 geannekseer. In 1879 het Mapog se hoofvrou se derde seun, Nyabêla, die leisels van die Mapogstam oorgeneem. Op daardie stadium was daar reeds verskeie hoofmanne onder hom en hy kon as opperhoof beskou word. Sy onderdane het hom Ingwayama genoem.

Die Britte het intussen vir Sekhukhune oorwin en hom in die tronk gestop. In 1881 het die Boere die Britte oorwin. Laasgenoemde twee strydendes het die Pretoriakonvensie aangegaan. Die konvensie het twee bepalings bevat wat 'n katastrofiese uitwerking op Nyabêla en die Mapoggers gehad het. Ingevolge een bepaling moes Sekhukhune vrygelaat word. Die konvensie het ook bepaal dat 'n lokasiekommissie aangestel word om lokasies vir alle swart stamme in die Transvaal uit te meet.Aylward, A. The Transvaal of Today. William Blackwood and Sons, Edinburgh, 1878, p. 392.

Lokasiekommissie Na die eerste Anglo-Boereoorlog, en wel op 3 Augustus 1881, het die strydendes die Pretoriakonvensie onderteken. Ingevolge artikels 21 en 22 daarvan moes 'n Naturelle Lokasie Kommissie aangestel word om lokasies vir swart stamme af te baken. Die kommissie het bestaan uit kommandant-generaal Piet Joubert, die Britse Resident, ene Hudson, en Hendrik Jacobus Schoeman, die naturellekommissaris van Heidelberg en Pretoria. Hulle het besluit om onmiddellik te werk aan die lokasie vir die Mapoggers.

Die kommissie het op 1 Oktober 1882 op Middelburg aangekom. Nyabêla is per brief aangesê om die kommissie op 6 Oktober op die plaas van Dirk Stoffberg, net onderkant Bothasberg, te ontmoet. Nyabêla is ook versoek om inligting omtrent die aantal hutte, grootvee en onderdane aan die kommissie te verskaf. Grové, die naturellekommissaris van Middelburg, en veldkornet is met die brief na Nyabêla gestuur. Volgens Grové, wat die brief gaan aflewer het, het Nyabêla woedend met sy ampstok op die grond geslaan en gesê: "Gaan en bring Piet, en ek sal met hom praat".Transvaal Argief Bewaarplek (TAB), SS 852, R.4598/83, item 297 Die Piet waarna hy verwys is natuurlik Piet Joubert. Volgens het Nyabêla gesê: "Ek sal my vee en strooihutte nie laat tel nie; nog minder sal ek die getal van my volk opgee. Sê aan Piet hy moet self hierheen kom en dan sal ek vir hom 'n os slag". Grové het probeer om Nyabêla te oorreed om na die Lokasiekommissie te gaan en het selfs belowe om hom weer na sy stat terug te bring, maar Nyabêla het volstrek geweier en herhaal dat Grové vir Piet moes bring. Hy voeg by dat Nyabêla ook gesê het dat hy dit vreemd vind dat die kommissie nie na hom toe wou kom nie. As hy, Nyabêla, na Pretoria gaan om Paul Kruger of Piet Joubert te ontmoet, stop hy nie halfpad daarheen nie.OJO Ferreira (redakteur), Geskiedenis Werken en Streven van SPE Trichard, RGN, 1975, p. 40

Die kommissie het intussen op 5 Oktober by Dirk Stoffberg se plaas aangekom. Tydens hulle vergadering op daardie dag, het Grové berig dat Nyabêla weier om na Stoffberg te kom en aandring dat die kommissie na sy stat moes kom. Die kommissie het toe die aangeleentheid bespreek en besluit toe dat dit onmoontlik vir die kommissie was om verdere stappe te neem, inaggenome die posisie van die kommissarisse en die verslae wat deur hulle ontvang is. Daarop het Hudson aangebied om die volgende dag self na Nyabêla te gaan. Die ander twee kommissarisse het dit egter duidelik gemaak dat hy nie in sy hoedanigheid as kommissaris daarheen kon gaan nie.TAB, SN 177, Notule van Lokasiekommissie, artikel 17.

Die volgende dag het Grové en Veldkornet Trichard Hudson na Erholweni vergesel.TAB, SS 852, R.4598/83, item 298. Aan Trichard, die tolk, het Nyabêla gevra: "Fanis, wat kom jy hier met jou buitgemaakte Engelschman maak, waarom zeg jij voor my dit is een Kapteijn, waarom heb jy niet Piet gebring nie"? Trichard lag toe en Hudson vra hom wat Nyabêla gesê het. Nyabêla wou nie gehad het dat Trichard sy woorde aan Hudson moes tolk nie en vra toe vir Trichard om aan Hudson te sê dat hulle na sy kantoor moes gaan, sodat dit wat Hudson te sê gehad het, voor Nyabêla se raadgewers gesê kon word. Toe hulle by Nyabêla se kantoor kom, sê Nyabêla dat sy raad voltallig was en dat Hudson maar kon praat. Volgens Trichard het hy Nyabêla daarop gewys dat Magelembe, 'n jonger volbroer van Nyabêla, nie teenwoordig was nie. Hy het gewoonlik as voorsitter opgetree tydens sodanige vergaderings. Nyabêla het geantwoord dat sy afwesigheid niks met Trichard te doen gehad het nie. Hudson sê toe dat hy die Resident was en die man wat deur Haar Majesteit se regering aangestel is om toe te sien dat alles tussen die naturelle en die Transvaal goed verloop. Daarna moes hy dan die waarheid aan Haar Majesteit oordra. Nyabêla sê toe aan Trichard: "Vra hom waar Haar Majesteit is". Toe Hudson dit aan Nyabêla duidelik gemaak het, antwoord Nyabêla: "Sê aan Hudson dat ons in hierdie land niks met Haar Majesteit te doen het nie. Sy is te ver; ons werk hierdie sake self uit". Op 'n vraag van Hudson aan Nyabêla of hy weet dat hy ook onder regeringsgesag staan, antwoord Nyabêla: "Ek weet nie dat ek onder 'n regering staan nie, maar dit weet ek, dat ek die regering se maat is".Ferreira, supra, p. 40. Toe sê Hudson dat hy spyt was dat hy probeer het om Nyabêla te oorreed om na die Lokasiekommissie te kom. Die Kommissie is gestuur om 'n lokasie vir hom op te meet. Die Kommissie sou dit doen en die bakens sou opgerig word. Nyabêla vra toe wat was hierdie bakenlyn waarvan Hudson praat.TAB, SS 852, R.4598/83 Hudson moes toe maar onverrigter sake na Bothasberg terugkeer.

Opmars Sekhukhune was die opperhoof van die Bapedi, 'n stam wat tussen die Olifants- en Steelpoortrivier gewoon het. Sy halfbroer, Mampuru, se trawante het Sekhukhune op 13 Augustus 1882 vermoor. Daarna het Mampuru op verskeie plekke gaan wegkruip en aanvalle geloods teen hoofmanne wat die Boere of Sekhukhune goedgesind was. Piet Joubert, die kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), het vroeg in Oktober 1882 al die ZAR se kommando's opgeroep om Mampuru te gaan vang en na Pretoria te bring.TAB, SS 1907, p. 189; R.5637/82 Sy roete het hom verby Middelburg in die rigting van die Steelpoortvallei geneem.

Joubert en die kommando's het op 29 Oktober 1882 die plaas Hoedspruit bereik. Dit was omtrent 30 kilometer suidoos van Erholweni. Terwyl die kommando by Hoedspruit was, het Nyabêla se veggeneraal, Swaas, en sy tolk, Kleinbooi, by die laer opgedaag.Die Volksstem, 4 November 1882. Daar is verskeie weergawes van die gebeure. Die volgende is Joubert se weergawe. Nyabêla het 'n boodskap aan hom gestuur om te verneem of Joubert teen hom wou optree. Indien Joubert teen hom wou veg, moes hy dit openlik sê en hom nie bekruip nie. Joubert het geantwoord dat hy gestuur is om Mampuru te haal en al sou Nyabêla hom ookal insluk of verberg in sy maag, dan moet Joubert hom daar uithaal. Hy het bygevoeg dat dit die plig van elke onderdaan van die staat was om mee te werk om die wet te handhaaf en moordenaars te laat straf.TAB, SS 852, R.4598/83, item 307: Joubert se getuienis in Nyabela se verhoor. SS 1907, p. 14 (R.3801/83: Brief van Joubert aan regering, 8 Augustus 1883.

duimnael|Nyabêla bronsbeeld deur Sarah Richards. Die volgende is Kleinbooi se weergawe. Nyabêla het hom na die generaal by Hoedspruit gestuur om te sê dat die kommando nie naby Nyabêla se stat verby moes trek nie. Nyabêla wou nie oorlog maak nie en die vroue en kinders sou bang word as die kommando naby hulle kom. Die generaal het geantwoord dat hy nie teen Nyabêla opgetrek het nie, maar dat hy Mampuru jag. Al was Mampuru agter Nyabêla se skouer, sou hy hom kom afhaal. Toe het die generaal aan Swaas gesê: "Zeg aan jou broer, Nyabêla, als Mampoer in zijn buik zit zal ik hem kom uithalen". Die generaal het ook gesê waar Mampuru ookal mag wees, selfs in die lug, dan sou hy Mampuru gaan haal. Daarop het Swaas en Kleinbooi herhaal dat Nyabêla nie vir Mampuru gehelp het nie. "Hij is niet onze natie en wij willen geen oorlog". Die Generaal het toe gevra welke pad die kortste pad na Mampuru was. Kleinbooi het geantwoord dat die pad by hulle verby baie sleg was, maar dat 'n ompad by hulle stat verby, die beter pad was.TAB, SS 852, R.4598/83, item 311: Kleinbooi se getuienis in Nyabela se verhoor.