Ds. Rudolphus Meerlandt (of Maerlandt) (IJselstein), Utrecht – 1699, Colombo, Ceylon) was die vyfde predikant wat in diens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika getree het.
In sy geboortestadjie was sy oom Gerard van Meerlant burgemeester en sy pa Elias van Meerlant `n steenmaker. Op 1 Augustus 1661 is hy as teologiese student aan die Universiteit van Leiden ingeskryf en tussen Julie 1663 en Julie 1664 is hy deur die Klassis van Leiden geëksamineer en as proponent toegelaat. Dit is nie bekend waar hy van hierdie tyd tot 1673 was nie. Dis wel bekend dat hy in laasgenoemde jaar deur die Klassis van Hoorn as predikant na Oos-Indië gestuur is.
Op 24 Januarie 1674 het hy met die skip De Gekroonde Vrede by die Kaap aangekom. 'n Week later het nog ’n skip geland en daarop was ook ’n predikant wat vir die diens in die kerk in Oos-Indië bestem was, naamlik ds. Rudolphus van Varick. Die owerheid aan die Kaap het aan ds. Adriaan de Vooght toegestaan om ter wille van sy gesondheid na Batavia te gaan, en in sy plek moes een van die twee pas aangekome predikante dan aangestel word. Albei het blykbaar goed beval en albei wou ook blykbaar graag aan die Kaap bly sodat besluit is dat daar dan maar geloot moes word, waarby die lot op ds. Meerlandt geval het.
Hy het sy dienswerk op 11 Februarie aanvaar. Die gemeente was nie groot nie; dit het slegs ongeveer 70 lidmate getel. Daar het ook nog 'n paar Rooms-Katolieke huisgesinne gewoon en aangesien die ruime doopspraktyk aan die Kaap toegepas is, is die kinders van hierdie Roomse persone ook gedoop. Maar die gebruik was dat, wanneer so 'n kind van Roomse ouers gedoop moes word, die Roomse doopouers met Roomse doopgetuies voor die preekstoel gestaan het om die formulier aan te hoor en op die vrae te antwoord. Hieraan het ds. Meerlandt 'n end gemaak. Die kerkraad het onder sy leiding besluit dat die Roomse doopouers Protestantse doopgetuies moes bring en, as dit nie moontlik was nie, kon die kinders alleen gedoop word nadat aan die Roomse doopouers die betekenis van die doopsformulier en die doopbelofte goed duidelik gemaak is, in die hoop dat hulle later na die Hervormde Kerk (soos die NG Kerk toe nog bekendgestaan het) sou oorgaan.
In Maart 1676 het ds. Meerlandt na Batavia vertrek, waar hy op 7 Junie aangekom het en reeds die volgende dag sy kerklike stukke by die kerkraad ingedien het. Hy is op 13 Augustus as predikant beroep van die Hervormde gemeente van Cochin, in die suide van die latere Brits-Indië, waar hy op 12 September sy dienswerk aanvaar het. In 1692 is hy na Colombo verplaas. In 1699 is in Ceylon hy oorlede.
Kaapse predikante tydens die 17de eeu Joan van Arckel (ook Johannes), 1665 - 1666 Johannes de Vooght, 26 Februarie tot 23 November 1666 Petrus Wachtendorp, November 1666 - Februarie 1667 Adriaan de Vooght, 1667 - 1674 Rudolphus Meerlandt, 1674 - 1675 Petrus Hulsenaar, 1675 - 1677 Johan Frederick Stumphius, Mei 1678 Johannes Overney, 1678 - 1687 Johannes van Andel, 1687 - 1689 Pierre Simond, 1688 – 1702 Leonardus Terwoldt, 1689 - 1693 Hercules van Loon, 1695 - 1697 Petrus Kalden, 1697 - 1707
Bronne Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1952. Die Kaapse predikante van die sewentiende en agtiende eeu. Kaapstad en Pretoria: H.A.U.M.-De Bussy. Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
Kategorie:Suid-Afrikaanse predikante Kategorie:Predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Kategorie:Geboortes in 1641 Kategorie:Sterftes in 1699