duimnael|regs|180px|Ds. Daneel teen die aand van sy lewe.
Ds. Alexander Berthin Daneel (distrik Stellenbosch, 14 Februarie 1836 – Heidelberg, Kaap, 22 Maart 1899) was ’n predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat sy hele 37-jarige loopbaan in die NG gemeente Heidelberg, Kaap deurgebring het.
Afkoms en studiejare Alexander Berthin Daneel het die lewenslig op Moddergat in die distrik Stellenbosch aanskou op 14 Februarie 1836. Dit was waarskynlik op die plaas van sy Smuts-grootouers, aangesien sy eie ouers dorpenaars was. Sy grootvader na wie hy genoem is, was uit Wes-Vlaandere afkomstig. Self was hy die oudste van 10 kinders van 'n sakeman, Richard Hurtley Daneel en sy eggenote, Hester Aletta Smuts. Die berig van sy vader se heengaan op Colesberg op 13 Februarie 1859, het Alexander eers op 4 Mei in Holland bereik waarheen hy en drie ander aanstaande leraars op 9 Maart 1855 met die seilskip Meteor vertrek het, nadat hy vanaf 1853 tot 1855 aan die beroemde ou Zuid-Afrikaansch Athenaeum in Kaapstad studeer het. Op 24 Mei het Daneel in Rotterdam aan wal gestap en die volgende dag was hy in die universiteitstad Utrecht waar hy op 1 Junie saam met die latere di. C.T. Scholtz en A.P. Meiring as teologiese studente ingeskryf is. Ná voltooiing van sy studie keer hy op 17 April 1862 in sy vaderland terug, "na eene gevaarvolle reis van honderd dagen" in die brik Juanita. Waarskynlik sy eerste preek in Suid-Afrika het hy in die Nieuwe Kerk, Kaapstad, oor Joh. 1:1–6 gehou, "tot genoegen en stichting der toehoorders". Hy is reeds op 5 Mei na Sutherland beroep wat ook verlangend na 'n eerste leraar uitgesien het en eers ses jaar later geholpe sou raak. Vir hierdie beroep moes hy bedank, want hy sou eers op 21 Julie saam met prop. A. P. Meiring gelegitimeer en beroepbaar gestel word.
Ontvangs en bevestiging op Heidelberg, Kaap duimnael|links|300px|Hierdie skoolkerkie se hoeksteen is gelê op 5 Maart 1856. Dit was die gemeente Heidelberg se kerk tot die inwyding van die tweede kerkgebou op 19 Julie 1873.
Nadat hulle sedert die gemeente se stigting in 1855 (dieselfde jaar as Sutherland) so lank gesukkel het om 'n eie leraar te kry, was die gemeente Heidelberg, Kaap, geseënd om die man te kry wat bestemd was om die eerste leraar van Heidelberg te word. In die fleur van sy lewe het prop. Daneel na die jong gemeente gekom om byna 37 jaar later die pelgrimstaf neer te lê toe hy nog onvermoeid besig was om sy rype kragte aan die gemeente van sy eerste liefde te wy. Vir die gemeente Heidelberg was dit 'n blye dag toe hulle prop. Daneel kon verwelkom en die "temporaire kerkgebouw" was by geleentheid van sy intreerede "opgepropt vol". Volgens oorlewering is die jong proponent langs die eertydse pad na Swellendam, tussen Heidelberg en Karnmelksrivier, verwelkom op die plek wat in later jare nog as Daneelshoogte bekendgestaan het. Die reis met die poskar uit Kaapstad kon bepaald nie baie gerieflik gewees het nie, want uit sy eerste brief uit Heidelberg aan sy verloofde, gedateer 17 September 1862, verneem ’n mens dat die vyf passasiers wat om vyfuur in die oggend van 8 September uit die stad vertrek het, op die twee bankies van die poskar reeds "als pekelharing zaten". By Eersterivierstasie moes Pieter Krige, 'n Heidelbergse diaken wat by sy familiebetrekkinge op Stellenbosch gekuier het, ook nog bykom, en "toen hadden wy het vooruitzicht van twee dagen achtereen zoo naauw op elkander te zitten dat wy ons byna niet bewegen konden. De Pasagiers waren echter zoo vriendelyk om my een van de gemakkelykste plaatsen af te staan".
Die dienste van die feesnaweek het Donderdagaand 18 September begin toe die ernstige prediker dr. Servaas Hofmeyr van Montagu, die woord gevoer het oor Neh. 4:3 en 2:20: "Ik doen een groot werk. . . . De God van den hemel Die zal het ons doen gelukken, en wy, Zyne knechten, zullen ons opmaken en bouwen." Die diens is afgesluit met 'n paar aanmerkings deur dr. William Robertson en 'n ernstige gebed vir die jong leraar. Die Vrydagoggend was daar 'n vroeë biduur onder leiding van ds. Petrus Borcherds (Riversdal, 1843–1880). Die voormiddagdiens het aangevang met Skriflesing en gebed deur ds. A.G.M. Kuys (Napier), gevolg deur 'n toepaslike bevestigingsrede deur dr. Robertson oor 1 Kor. 11:3. "En ik was by ulieden in zwakheid en in vele beving."
Nadat ds. Borcherds die formulier gelees het, het die jong leraar neergekniel vir die plegtige handoplegging waaraan die vier besoekende leraars deelgeneem het. Hierna het ds. Borcherds die bevestigde en die gemeente toegespreek en afskeid geneem van die gemeente waaroor hy gedurende byna sewe jaar as konsulent die herderstaf gevoer het. Vrydagmiddag het die nuwe leraar sy intreerede gehou oor Markus 4:26-29, die gelykenis van die opskietende saad. Ná die diens het die leraars, saam met die magistraat van Riversdal, eerw. W.F. Taylor van die Episkopaalse kerk aldaar, die heer Thomas Barry van Port Beaufort en talle ander vriende aan by "eene weltoebereide tafel" wat die kerkraad in die pastorie voorberei het. Hierop het meeste van die besoekers huis toe vertrek.
Ds. Borcherds is Saterdagoggend deur 22 rytuie met agt perderuiters vooraan tot buitekant die dorpie uitgeleide gedoen waar groot waardering vir sy werk in die vroeër herderlose gemeente betuig is. Vrydagaand het enige vriende van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap saamgekom en dié blye dag met die stigting van 'n tak van die genootskap afgesluit. Ds. Daneel is dadelik as voorsitter van die plaaslike komitee gekies en tot aan die einde van sy lewe het hy 'n sterk ondersteuner van die genootskap met sy geseënde werk gebly. Joseph James Barry was die eerste sekretaris-penningmeester en (eerw.) Henry Charles Helm die boekebewaarder. 'n Aantal persone het gereelde jaarlikse bydraes aangebied.
Gesinslewe duimnael|links|170px|Ds. Alexander se oudste seun wat predikant geword het, Johannes Wynand, was van 1891 tot 1935 gemoeid met die Zoupansbergse sending.
duimnael|regs|200px|Ds. en mev. Margaretha Daneel kort ná hul huwelik in 1863.
duimnael|links|170px|Ds. Marthinus Daneel was die jongste van die twee van ds. Alexander en mev. Margaretha Daneel se nege seuns wat predikant geword het. Hy het net in drie gemeentes gearbei: Calvinia van 1898 tot 1906, Fraserburg van 1906 tot 1914 en toe Victoria-Wes tot sy aftrede in 1934. Hy is oorlede op 26 Junie 1937.
duimnael|regs|300px|Ds. Daneel en sy gesin met vakansie aan die strand by Witsand in 1880. Die naam White Sands word reeds in 1867 aangetref, maar ds. Daneel en sy gesin het eers omstreeks 1880 hul vakansies hier begin deurbring. Tussen die ou riethuisies en tente van die "strand gasten" het ds. Daneel die eerste huis gebou en baie dekades daarna het dit nog as die Ou Pastorie bekendgestaan.
Meer as 'n jaar ná sy bevestiging, het die jong dominee op 7 Oktober 1863 in die huwelik getree met die sewentienjarige Margaretha Johanna Louw wie se moeder 'n niggie van sy eie moeder was. Die plegtigheid is ten huise van die bruid se ouers op hulle plaas Babylonstoren in Groot-Drakenstein voltrek deur die eerbiedwaardige leraar van Kaapstad, dr. Abraham Faure. Kort hierna is die egpaar in hul gemeente met 'n pragtige adres deur 'n 38-tal gemeentelede onderteken, hartlik verwelkom. In Margaretha Louw het ds. Daneel 'n eggenote gekry wat hom gedurende baie jare nie alleen getrou ter syde gestaan het nie, maar hom ook wonderlik aangevul het. Terwyl hy miskien soms stug voorgekom het, was sy die minsaamheid self; terwyl hy die deftige waardigheid van die ouer geslag predikante 'n volle mate gehandhaaf het, het sy gemeensaam met almal omgegaan; terwyl erns by hom oorweeg het, het sy oor 'n blye humorsin beskik wat haar tot op hoë leeftyd gekenmerk het.
Mev. Daneel het haar man met baie jare oorleef. Ná sy dood het sy met die kinders wat nog in die huis was, op Stellenbosch gaan woon waar sy steeds die gasvryheid self was en waar Heidelbergers van 'n gulle ontvangs en 'n gesellige tydjie verseker was. Op 88-jarige leeftyd het sy op 1 Junie 1934 op Gordonsbaai die tydelike met die ewige verwissel. daar is toe lank reeds al besluit dat sy langs haar eggenoot op Heidelberg sou rus. Te midde van die grootste belangstelling het ds. W.N. van der Merwe (leraar van Heidelberg van 1930 tot 1957) die begrafnisrede gehou oor Spreuke 14:1: 'n bouende Moeder. Daarna het lede van die kerkraad die stoflike oorskot om die kerk na die graf gedra waarop daar later 'n steen geplaas is wat by dié van ds. Daneel pas.
Ds. en mev. Daneel se huwelikslewe was hoogs gelukkig en is met 'n kroos van nege seuns en drie dogters geseën. 'n Droewige slag het die gesin getref toe hul dogtertjie Hettie op 27 Oktober 1876 aan brandwonde beswyk. In tere herinnering aan hierdie kindjie wat haar moeder se naam gedra het, het ds. Daneel die res van sy lewe 'n lokkie van haar haartjies in 'n raampie bewaar.
"Met gezondheid en welstand heeft de Heer ons boven mate gezegend," skryf ds. Daneel by die kwarteeu-jubileum van sy bediening op Heidelberg, "en wy verheugen en verblyden ons op dezen dag dat de band in onzen Familiekring niet gescheurd maar hechter geworden is." In dieselfde stuk verklaar hy : "Elk myner kinderen heb ik van het geboorte-uur den Heer opgedragen en Hem gewyd, en myn vertrouwen is, dat Hy ze in genade aangenomen heeft en ze naar Zynen Raad op den weg des lewens leiden en ze als Zyne verlosten door het Bloed des Lams, in Zyn Koninkryk gebruiken zal." Twee van die seuns het bekende leraars van die NG Kerk geword, by name ds. Johannes Wynand Daneel (1865–1940), skoonseun en opvolger van die godsalige eerw. Stephanus Hofmeyr in die Soutpansberge en ds. Marthinus Smuts Daneel (1869–1937) wat drie gemeentes in die destydse Kaapland met seën bedien het: Calvinia, Fraserburg en Robertson. Twee van laasgenoemde se seuns, George en Marthinus, het weer op hul beurt predikant geword. Twee van die Heidelbergse pastorieseuns het geneeshere geword, een 'n tandarts, drie boere en een 'n timmerman. Die oudste dogter het met die wetsagent H.R. du Preez jr. van Heidelberg getrou en is op hoë leeftyd in 1952 op Bredasdorp oorlede. Die jongste dogter het in 1955, toe die Heidelbergse gemeente haar eeufees gevier het, nog as die weduwee Maggie Beyers op Stellenbosch en saam met haar het destyds van die 12 kinders nog net die snydokter Pieter Daneel en die broer Attie geleef.
Twee opwekkings (1860 en 1868) duimnael|200px|links|Ds. en mev. Daneel in die krag van hul jare. In die jare om 1860 het die Gees van die Here met groot krag in talle gemeentes van Wes-Kaapland gewerk, veral na die merkwaardige Worcesterse Konferensie van 1860 wat ook indirek tot die geseënde instelling van die jaarlikse Pinksterbidure aanleiding gegee het. Van die uitwerking hiervan in Heidelberg is nie veel opgeteken nie, maar in 1860 kon die Kerkraad "met meerderen lus . . . en tot onze blydschap" getuig dat daar ’n lewendiger belangstelling in die godsdiens was en dat die Gees van genade en smekinge in die harte uitgestort is. Vanaf 1861 is daar ook bidure in die gemeente gehou. Eers vanaf September 1862 het die gemeente in die voorregte van 'n gereelde evangeliebediening, huis- en krankebesoek en katkisasie gedeel. Die werk het van jaar tot jaar voortgegaan, soms met hoopvolle verwagting en dan weer met diepe neerslagtigheid, tot die gemeente 'n ware geestelike verkwikking beleef het in die Opwekking van 1868.
Die tweede kerk (1873-1912) duimnael|regs|320px|Die tweede kerk op Heidelberg wat tydens ds. Daneel se tyd ingewy is.