Nineve (Akkadies: Ninua; voorheen Ninevé in Afrikaans) is ’n antieke Mesopotamiese stad aan die oosteroewer van die Tigrisrivier; dit was die hoofstad van die Nieu-Assiriese Ryk en ’n belangrike kruispunt van handelsroetes op die Tigris. Dit het veral tydens die bewind van koning Assurnasirpal II begin floreer. Die stad het tussen 100 000 en 150 000 inwoners gehad. In sy mure was 15 poorte en ’n uitgebreide stelsel van 18 kanale het water uit die heuwels na Nineve vervoer.

Dit was sowat 50 jaar lank die grootste stad in die wêreld. Die voorspelling van die verwoesting van Nineve in die Bybel het later gelei tot die berou en redding van die inwoners. Dit is egter eindelik in 612 v.C., ná ’n bitter tydperk van burgeroorlog in Assirië, verwoes deur ’n ongewone koalisie van voormalige inwonervolke, die Babiloniërs, Mede, Perse, Galdeërs, Skitiërs en Kimmeriërs. Die stad se ruïnes lê oorkant die rivier van die moderne stad Mosoel in Irak. Die twee belangrikste grafheuwels binne die stadsmure is Kouyunjik, die Noordelike Paleis, en Nabi Joenoes.

Uitgrawings word sedert die 19de eeu op die terrein gedoen, en talle paleise en tempels is al ontdek. Van die stadspoorte is ook gerekonstrueer. Groot kommer bestaan egter tans oor die agteruitgang van die terrein, veral weens moderne uitbreidings in die gebied, plundery en die optrede van die ekstremistiese militantegroep Isis.

Naam Die naam Nineve kom van die Latynse Ninive en Antieke Griekse Nineyḗ (Νινευή), onder invloed van die Bybelhebreeuse Nīnewēh (נִינְוֶה).Oxford English Dictionary, 3de uitg. "Ninevite, n. en adj." Oxford University Press (Oxford), 2013. Dit kom weer van die Akkadiese Ninua (var. Ninâ). of Oudbabiloniese Ninuwā.

Die oorspronklike betekenis van die naam is onseker, maar verwys dalk na ’n beskermgodin. Die wigskrifvorm vir Ninâ is ’n vis in ’n huis, wat dalk na "Plek van Vis" verwys, of dalk na ’n godin wat met visse of die rivier self verbind is. Later is gesê die stad is aan "die Isjtar van Nineve" gewy, en Nina was een van die Babiloniese name van dié godin.

Geografie thumb|270px|'n Kunstenaar se voorstelling van Assiriese paleise in Nineve, deur sir Austen Henry Layard, 1853. thumb|links|220px|'n Uitsig op die dorp Noenia, of Ninive. In 1778 deur Carsten Niebuhr gepubliseer. thumb|270px|'n Dorp in Nineve in 2019.

Die antieke grafheuwels van Kouyunjik en Nabi Joenoes is geleë op ’n gelykte van sowat 750 ha op die vlakte naby die sameloop van die Tigris- en die Chosr-rivier en word afgebaken deur ’n steenwal van sowat 12 km lank. Dit is nou ’n groot gebied vol ruïnes wat plek-plek bedek word deur nuwe voorstede van die stad Mosoel.Geoffrey Turner, Tell Nebi Yūnus: The ekal māšarti of Nineveh, Iraq, vol. 32, no. 1, ble. 68-85, 1970

Nabi Joenoes is die Arabies vir "profeet Jona". Kouyunjik was, volgens Layard, ’n Turkse naam en was aan die Arabiere bekend as Armoesjeea.Layard, 1849" Dit het vermoedelik ’n verbintenis gehad met die Kara Kojoenloe-dinastie..

Nineve was ’n belangrike kruispunt van handelsroetes op die Tigris. Dit het ’n sentrale posisie beklee aan die groot weë tussen die Middellandse See en die Indiese Oseaan, en het die Ooste en Weste so verbind. Sy rykdomme het uit verskeie oorde gekom, en dit het een van die grootste antieke stede in dié streek geword, asook die hoofstad van die Nieu-Assiriese Ryk.

Geskiedenis Antieke geskiedenis Nineve was een van die oudste en grootste stede van die antieke tyd. Die gebied is al in 6000 v.C. bewoon, en teen 3000 v.C. was dit ’n belangrike plek vir die aanbidding van die Akkadiese godin Isjtar. Die vroeë stad is gebou op ’n verskuiwingslyn en het groot skade gely in ’n paar aardbewings. In een so ’n voorval is die eerste tempel van Isjtar verwoes – dit is toe in 2260 v.C. deur die Akkadiese koning Manishtushu herbou.

thumb|links|200px|Die bronskopbeeld van 'n Akkadiese leier wat in 1931 ontdek is. Dit is vermoedelik óf van Sargon óf sy seun Manisjtoesjoe. Volgens tekste uit die Hellenistiese tydperk en later was ene Ninus die stigter van Nineve, hoewel daar geen historiese bewyse daarvoor bestaan nie. Die historiese Nineve word genoem tydens die bewind van Sjamsji-Adad I omstreeks 1800 v.C. as ’n plek vir die aanbidding van Isjtar, wie se kultus die rede vir die stad se vroeë belangrikheid was. Die godin se standbeeld is in die 14de eeu v.C. na farao Amenhotep III van Egipte gestuur op bevel van die koning van Mitanni. Die Assiriese stad Nineve het vir ’n halfeeu een van Mitanni se afhanklike state geword tot in die vroeë 14de eeu v.C., toe die Assiriese koning Assur-uballit I dit in 1365 v.C. herower het. Hy het die Mitanniryk omvergewerp en die Middel-Assiriese Ryk (1365-1050 v.C.) gestig.Volgens Genesis 10:11 is Nineve deur Nimrod gebou: "Van hier af het hy na Assirië toe gegaan en Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou."

Daar is nie veel bewyse dat Assiriese konings in die tweede millennium v.C. baie bouwerk in Nineve laat doen het nie; dit lyk of dit net ’n plattelandse dorp was. Eers in die tyd van die Nieu-Assiriese Ryk, veral tydens die bewind van Assurnasirpal II (bewind: 883–859 v.C.) en daarna, is die stad aansienlik uitgebrei. Daaropvolgende konings soos Sargon II, Sanherib, Esarhaddon en Assurbanipal het nuwe paleise laat bou: tempels vir Sin, Assoer, Nergal, Sjamasj, Ninoerta, Isjtar en Naboe (die Bybelse Nebo).

duimnael|’n Albaste kunswerk van Nineve, c. 695 v.C. (Pergamon-museum, Berlyn. duimnael|Die koning jag leeus vanaf die Noordelike Paleis in Nineve (Britse Museum). Dit was Sanherib wat Nineve uitgebrei het tot ’n grootse stad (c. 700 v.C.). Hy het nuwe strate en pleine laat aanbring en die beroemde "paleis sonder weerga" laat bou; die plan van die paleis is ontdek en daarvolgens was die gebou 503 x 242 m. Dit het minstens 80 kamers gehad, waarvan baie standbeelde teen die mure gehad het. ’n Groot getal wigskriftablette is in die paleis gevind. Daarvolgens was die soliede fondament van kalksteenblokke en modderstene gemaak en was dit 22 m hoog. Die moddersteenmure daarop was nog 20 m hoog. Weerskante van die belangrikste deuropeninge was enorme steenfigure van tot 30 000 kg; daaronder was baie leeus en bulle met vlerke en ’n man se kop.

Ook klippanele van 3 000 m wat in vlakreliëf uitgebeitel is, is ontdek waarop bouwerk aan die paleis uitgebeeld is, ook van die kap van die standbeelde. Die meeste van die standbeelde het tussen 9 000 en 27 000 kg geweeg."The Seventy Wonders of the Ancient World", red. Chris Scarre, 1999 (Thames and Hudson) Gevegstonele is ook op die klippanele uitgebeeld, soos mense wat deurboor word en Sanherib se manne wat voor hom paradeer met oorlogsbuit. Hy het ook met sy oorwinnings gespog; hy het van Babilon geskryf: "Sy inwoners, jonk en oud, het ek nie gespaar nie, en ek het die strate van die stad met hul lyke gevul." Hy het later ook oor ’n ander veldslag geskryf: "En Hiskia van Juda wat nie aan my juk wou oorgee nie . . . hom het ek in Jerusalem, sy koninklike stad, stilgemaak soos ’n voël in ’n hok. Ek het beleëringswalle teen hom gegooi en enigeen wat by sy stadspoort uitgekom het, laat boet vir sy misdaad. Sy stede wat ek geplunder het, het ek uit sy grondgebied gesny." Time Life Lost Civilizations series: Mesopotamia: The Mighty Kings. (1995)

In dié tyd het Nineve sowat 7 km2 beslaan en in sy mure was 15 poorte. ’n Uitgebreide stelsel van 18 kanale het water uit die heuwels na Nineve vervoer en verskeie dele van ’n manjifiek geboude akwaduk wat Sanherib laat bou het, is by Jerwan, sowat 65 km van die stad af, ontdek.Thorkild Jacobsen en Seton Lloyd, Sennacherib's Aqueduct at Jerwan, Oriental Institute Publication 24, University of Chicago Press, 1935 Die ommuurde stad het meer as 100 000 inwoners gehad (dalk nader aan 150 000), amper dubbel soveel as Babilon in dié tyd; dit was dus een van die grootste stede ter wêreld.

Sommige geleerdes glo die tuin met sy uitgebreide besproeiingswerk wat Sanherib langs sy paleis laat bou het, het die oorspronklike Hangende Tuin van Babilon ingesluit.Dalley, Stephanie, (2013) The Mystery of the Hanging Garden of Babylon: an elusive World Wonder traced, Oxford University Press.

Nineve het nie lank ’n grootse stad gebly nie. Omstreeks 627 v.C., ná die dood van sy laaste groot koning, Assurbanipal, het die Nieu-Assiriese Ryk begin verbrokkel weens ’n paar bitter burgeroorloë, en in 616 v.C. is Assirië aangeval deur sy voormalige leenmanne, die Babiloniërs, Galdeërs, Mede, Perse, Skitiërs en Kimmeriërs. Kalhu (later Nimroed, ook naby Mosoel) is omstreeks 616 v.C. verwoes en die geallieerde magte het Nineve eindelik in 612 v.C. bereik en die stad beleër en verwoes ná bitter gevegte van huis tot huis. Die meeste van die inwoners wat nie kon vlug nie, is óf vermoor óf uit die stad na die platteland verban. Argeoloë het baie geraamtes hier ontdek van lyke wat nie destyds begrawe is nie. Die Assiriese Ryk het hierna teen 605 v.C. tot ’n einde gekom, en die Mede en Babiloniërs het die kolonies tussen hulle verdeel.

Die stad was hierna eeue lank onbewoon, met net ’n paar Assiriërs wat tussen die ruïnes gewoon het tot met die Sassanidiese tydperk, hoewel daar steeds Assiriërs in die omliggende gebiede woon. Die stad is weer genoem met die Slag van Nineve in 627 n.C. tussen die Oos-Romeinse Ryk en die Sassanidiese Ryk van Persië naby die antieke stad. Van die Arabiese oorname in 637 n.C. tot in die moderne tydperk is die stad Mosoel aan die oorkantse oewer van die Tigris die opvolgerstad van die antieke Nineve.

Bybelse geskiedenis In die Hebreeuse Bybel word Nineve die eerste keer in Genesis genoem en Asjoer as die stigter daarvan. Die vertalers van sommige moderne Bybels vertolk die naam "Asjoer" in die Hebreeuse teks as die land "Assirië" eerder as ’n persoon, en dit maak Nimrod, eerder as Asjoer, die stigter van Nineve. In die Afrikaanse Bybel word Nimrod pertinent genoem as die stigter: "Nimrod se koninkryk het begin by Babel, Erek, Akkad en Kalne, almal in Sinar. Van hier af het hy na Assirië toe gegaan en Nineve, Regobot-Ir en Kalag gebou." (Gen 10:11, 12.)

Nineve was tydens die Bybelse bewind van Hiskia van Juda en die lewe van die profeet Jesaja die florerende hoofstad van Assirië en die tuiste van koning Sanherib (2 Kon 19:36). In die Bybel word ook genoem Nineve was die plek waar Sanherib deur sy twee seuns vermoor is voordat hulle na die leengebied Ararat gevlug het (Jes 37:38). Die Bybelboek Nahum bestaan amper net uit profetiese veroordelings van Nineve. Die verwoesting van die stad word ook voorspel (Nah 3:7, 3:19, 2:10, ens.); dit sou vreemd, skielik en tragies gewees het. Volgens die Bybel sou dit deur God se toedoen gewees het weens Assirië se hoogmoed en verdrukking (Nah 1:15). Ook die profeet Sefanja voorspel die stad se verwoesting en die val van die ryk waarvan dit die hoofstad was (Sef 2:13-15).

Die boek Jona, wat afspeel in die dae van die Assiriese Ryk, beskryf Nineve ook as ’n "baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap" (Jona 4:11). Maar dit kan ook wees dat dit drie dae geduur het om deur al die buurte te stap, wat ooreenstem met die grootte van die antieke Nineve. Die ruïnes van Kouyunjik, Nimroed, Karamles en Chorsabad vorm die vier hoeke van ’n ongelyksydige vierhoek. Die ruïnes van Nineve, wat binne dié vierhoek lê, word gewoonlik beskou as bestaande uit dié vier terreine.