Die Brixton Moord en Roof Orkes is 'n Afrikaanse rockorkes wat oorspronklik in Johannesburg ontstaan het. Die groep is op ironiese manier vernoem na die "Brixton Moord en Roof"-polisie-eenheid, wat nie meer bestaan nie, en lede van die band het al spottenderwys opgemerk dat sommige mense gedink het dat hulle die polisie se amptelike blaasorkes is. Die band het van vorm verander oor tyd, maar die meeste van die komposisies wat opgeneem is, is deur Brixton Barnard (Drikus Barnard), Moord Greeff (Ockert Greeff), Roof Bezuidenhout (Andries Bezuidenhout) en Kapelaan Pat Plank (Gerhard Barnard) geskryf. Die band se musiek wissel van harde rock tot donker en melodieuse ballades. Tans bestaan die orkes uit Roof Bezuidenhout (sang en akoestiese kitaar), wat in Dikeni in die Oos-Kaap woon, Moord Greeff (tromme), wat in Montreal (Kanada) woon en Kapelaan Pat Plank (sang, elektriese kitaar en baskitaar), wat in Velddrif in die Wes-Kaap woon. Die orkes se lede is almal betrokke by ander kunsvorme as slegs musiek. Ockert Greeff is 'n digter, Roof Bezuidenhout is 'n skilder en digter en Gerhard Barnard is 'n beeldhouer. Tot op hede het die orkes vyf vollengte albums vrygestel.

Agtergrond Ockert "Moord" Greeff (trom) het die orkes in 1999 saam met Andries "Roof" Bezuidenhout (stem en kitaar) gestig toe hulle by die Abelarde Sanction, 'n kroeg in Brixton, begin optree het. Kort daarna het Steve "Brixton" Savage as baskitaarspeler aangesluit. In 2000 het die orkes vir die eerste keer by die Oppikoppi rockfees opgetree. Steve Savage het na Zambië verhuis en is deur Drikus "Brixton" Barnard vervang. Die twee stigterslede, Moord Greeff en Roof Bezuidenhout, het saam met Brixton Barnard die orkes se eerste vollengte album, "Spergebied", opgeneem. Esme Evakwaad (Clair Cantrell), wat saam met Brixton Barnard in die punk-orkes Plank was, was vir die vroulike agtergrondsang verantwoordelik. Die album is deur Paul Riekert opgeneem en gemeng en die klankmeester is deur Rick Wolff behartig. "Spergebied" is in 2002 deur Rhythm Records op laserskyf vrygestel.

In 2002 het Kapelaan Pat Plank as kitaarspeler aangesluit. Met die toevoeging van Pat Plank (Gerhard Barnard) op elektriese kitaar, het die orkes se klank van folk-rock na rock beweeg. Hul tweede album, "Terug in Skubbe", is in 2005 deur Rhythm Records op laserskyf vrygestel. Paul Riekert het weer die klank gemeng en die meeste daarvan opgeneem. Peter Auret het die tromme opgeneem en die lied "Paul van der Zandt" gemeng. Liela Groenewald en Joanne Jaques het agtergrond sang behartig. Die album het ook 'n toonsetting van 'n gedig deur Koos du Plessis deur sy dogter Karla bevat, genaamd "Dagboek van 'n swerwer". Karla du Plessis het saam met die orkes by 'n aantal geleenthede opgetree, onder andere 'n rockfees tydens Aardklop. Die ballade "Fortuinverteller" het op RSG se speellys beland en "Spoed" is in die TV-reeks Orion (gebaseer op Deon Meyer se boek) gebruik.

In Augustus 2007 het Moord Greeff na Montreal in Kanada verhuis en is vervang deur Andrew Evans, wat toe, in die tradisie van die orkes, as Moord Evans bekend gestaan het. Andrew Evans is later deur Louis Graham vervang. Die orkes se album "Slaaptyd in die suburbs" is saam met Louis opgeneem. Brixton Barnard het die opname behartig en Paul Riekert het weer die klank gemeng. Dis as ‘n beperkte oplaag van 100 bundels met lirieke en skilderye van Marguerite Visser aan die einde van 2014 vrygestel en as laserskyf aan die begin van 2015.

Oor die album het die musiek- en kuns joernalis Mariana Malan in Die Burger geskryf: "Geen album van hierdie orkes gaan jou die son laat sien sonder om bewus te wees van die wolk wat kan inskuif nie. Dit laat jou egter helder sien, en dink laat dit jou dink. Die lirieke is altyd so vasvat waar. ’n Mens kan jou verlustig in die digterlikheid terwyl ’n mes in ’n wond of twee draai. Wat ’n mens veral van hulle waardeer, is die manier waarop hul musiek jou onmiddellik gryp en jou aandag hou. Hier is geen geteem of tranerige wysies nie. Selfs die einde van dae, verlies, ’n tronksel en verlange wil jy met jubbelende voete op maat van die musiek tegemoet dans” (Mariana Malan, Die Burger, 6 Mei 2015).

In 2015 is Brixton (Drikus) Barnard aan breinkanker dood en in 2021 is Louis Graham tydens die Covid-19 pandemie aan die virus oorlede. Die orkes se oorlewende lede - Roof Bezuidenhout, Moord Greeff en Kapelaan Pat Plank - het in 2022 'n volgende album vrygestel wat opnames en komposisies deur Brixton Barnard van kort voor sy dood inkorporeer. Die album se titel is "Bazaar Punk". In 2023 het die orkes 'n volgende album, "Strate Sonder Bome", vrygestel, weer met Roof Bezuidenhout, Moord Greeff en Kapelaan Pat Plank as komponiste en musikante. Opnames is deur elk in hul onderskeie tuisateljees behartig en Roof Bezuidenhout het die klankmeng behartig. Die album se klankmeester is deur Willem Moller behartig.

Musikaal wissel die groep se styl tussen melancholiese folk-klanke van songs soos "Asyn" en "Geraamtes in jou kas", tot die harde rock van "Road Rage", "Spoed" en "Brixton-dae". Die orkes se musikale inspirasie kom uit genres soos rock, punk, folk, jazz, reggae en kwêla.

Diskografie Brixton Moord en Roof Orkes EP (met Andries "Roof" Bezuidenhout, Ockert "Moord" Greeff en Steve "Brixton" Savage, op die platform "Digital Cupboard" vrygestel, omstreeks 1999) Spergebied (met Andries "Roof" Bezuidenhout, Ockert "Moord" Greeff, Brixton (Drikus) Barnard, Esme Evakwaad, 2002) Terug in Skubbe (met Brixton Barnard (Trike), Kapelaan Pat Plank (Plank), Moord Greeff, Roof Bezuidenhout, Paul Riekert, Peter Auret, Karla du Plessis, Esme Evakwaad (Trike), Liela Groenewald, Joanne Jaques, 2005) Slaaptyd in die suburbs (met Andries "Roof" Bezuidenhout, Brixton (Drikus) Barnard, Kapelaan Pat Plank (Gerhard Barnard) en Louis Graham, 2015, vrygestel deur One-F Music)​ Bazaar Punk (met Andries "Roof" Bezuidenhout, Brixton (Drikus) Barnard, Ockert "Moord" Greeff en Kapelaan Pat Plank (Gerhard Barnard), 2022, vrygestel deur Dikeni Records)​ Strate Sonder Bome (met Andries "Roof" Bezuidenhout, Brixton (Drikus) Barnard, Ockert "Moord" Greeff en Kapelaan Pat Plank (Gerhard Barnard), 2023, vrygestel deur Dikeni Records)​

Sien ook Lys van Suid-Afrikaanse musiekgroepe

Eksterne skakels Amptelike webtuiste Nuwe amptelike webtuiste (sedert 2023)

Bronne http://home.mweb.co.za/bm/bmro/#Waar%20kom%20die%20Brixton%20Moord%20en%20Roof%20Orkes%20vandaan ?. Besoek op 19 November 2007 https://brixtonmoordenrooforkes.co.za/. Besoek op 25 Junie 2026 Hendrik Hancke, "Brixton sing uit die graf." Rapport, 2 Januarie 2022. https://www.netwerk24.com/brixton-sing-uit-die-graf-20220102. Besoek op 15 Julie 2026 AJ Opperman, "Brixton Moord & Roof Orkes kyk terug op ou buurt, behou humorsin." Netwerk24, 2 Februarie 2024. https://www.netwerk24.com/kunste/musiek/brixton-moord-roof-orkes-kyk-terug-op-ou-buurt-behou-humorsin-20240201. Besoek op 15 Julie 2026 "Uitvoergehalte: Brixton Moord en Roof se Strate sonder bome." Onderhoud deur Izak de Vries met Andries Bezuidenhout, Voertaal, 12 Desember 2023. https://voertaal.nu/uitvoergehalte-brixton-moord-en-roof-se-strate-sonder-bome/. Besoek op 15 Julie 2026.

Kategorie:Suid-Afrikaanse musiekgroepe