Prinses Charlotte van Wallis (Charlotte Elizabeth Diana; geb. 2 Mei 2015 in Londen) is die tweede kind van William, Prins van Wallis, en sy vrou, Catherine, Prinses van Wallis. Sy is 'n kleindogter van koning Charles III van die Verenigde Koninkryk en die derde aanspraakmaker op die Britse troon ná haar pa en broer. Haar oudste broer, George Alexander Louis, is op 22 Julie 2013 gebore, en haar jongste broer, Louis Arthur Charles, op 23 April 2018, albei ook in Londen.
Aankondiging van die swangerskap Op 8 September 2014 het Clarence House aangekondig dat prins William en Catherine hul tweede kind verwag. Die aankondiging is in 'n persverklaring en op sosiale media gemaak. Die nuus het internasionale mediadekking en goeie wense van Britse politici ontvang, maar ook kritiek dat die hoeveelheid aandag oorbodig was.
Daar is verwag dat die hertog en hertogin saam die Dickson Poon-universiteit van Oxford se China Centre-gebou by die Universiteit van Oxford op 8 September sou open, maar omdat die hertogin by Kensington-paleis vir oggendnaarheid behandel is, was sy nie in staat om die hertog te vergesel nie. Die aankondiging van die swangerskap is op dieselfde oggend gemaak om haar afwesigheid te verduidelik.
In Oktober 2014 het Kensington-paleis aangekondig dat die baba na verwagting in April 2015 gebore sou word.
Geboorte Op 2 Mei 2015 om 08:34 BST het die hertogin by die St. Mary's Hospital, Londen, die lewe geskenk aan 'n dogter wat 3,71 kg geweeg het. Die Hertog van Cornwall en Cambridge was teenwoordig by die geboorte. Die baba is in die wêreld gebring deur dr. Alan Farthing, die snydokter-ginekoloog van koningin Elizabeth II, en Guy Thorpe-Beeston, 'n kenner in hoërisikoswangerskappe en snydokter-ginekoloog van die koninklike huishouding; albei was ook teenwoordig by die geboorte van die Cambridges se eerste kind, prins George, in 2013. Prinses Charlotte het haar eerste openbare verskyning buite die hospitaal op 2 Mei teen 18:11 BST saam met haar ouers gemaak.
Op die aand van dieselfde dag is landmerke soos Tower Bridge in Londen en die Vredestoring in Ottawa, Ontario, pienk verlig om die geboorte van die prinses aan te kondig. Op 4 Mei is 'n kanonsaluut afgevuur deur The King's Troop, Royal Horse Artillery, by Hyde Park, en deur die Artilleriekompanjie by die Londense Tower. Later die dag is haar naam bevestig as Charlotte Elizabeth Diana.
Titel en stamboom Die prinses staan bekend as Haar Koninklike Hoogheid prinses Charlotte van Wallis.
Deur koning Charles is sy lid van die Huis van Windsor en ’n afstammeling in die manlike lyn van die Huis van Glücksburg, wat as konings van Denemarke en Griekeland regeer het. Deur haar pa se ma, Diana, stam sy af van die Spencer-familie. Die prinses is die derde aanspraakmaker op die Britse troon ná haar pa en ouer broer. Volgens die Kroonwet van 2013 kan sy nie in die opvolging van die troon deur enige jonger broers vervang word nie. Sy is koningin Elizabeth II se vyfde agterkleinkind en vierde agterkleindogter. Sy is ook die vierde aanspraakmaker op die trone van die 16 Volkebondslande.
Voorgeslag van prinses Charlotte van Cambridge
Verwysings
Kategorie:Britse prinsesse Kategorie:Geboortes in 2015 Kategorie:Huis van Windsor Kategorie:Lewende mense