Die Ford Focus RS WRC was 'n wêreldtydrenmotor wat vir die Ford Wêreldtydrenspan gebou is deur Ford en M-Sport. Verskillende evolusies van die motor het tussen 1999 en 2010 aan die wêreldtydrenkampioenskapsreeks deelgeneem. Dit is gebaseer op die Ford Focus Climate 2-liter produksieluikrug.

Die RS staan vir Rallye Sport en die WRC vir Wêreldtydrenkampioenskapsmotor, 'n motor gebou volgens FIA se spesifikasies. Die Focus RS WRC het van 1999–2010 aan die kampioenskap deelgeneem, en het altesaam 44 wêreldtydrenne gewen, asook twee vervaardigerstitels (2006 en 2007). Dit is vervang deur die Ford Fiesta RS WRC.

Soos alle kontemporêre wêreldtydrenmotors, is die motor swaar aangepas uit die produksieweergawe; dit deel net die basiese bakvorm. Die motor het vierwielaandrywing – eerder as voorwielaandrywing soos die padmotor. Die enjin wat in die 2007-Focus WRC gebruik is, was gebaseer op Ford se 2.0 liter Duratec van ander modelle in die Focus-reeks, aangesien sportreëls nie toelaat dat die standaard 2.5 liter-enjin van die Focus ST of padmodel RS gebruik word nie.

Soos met die meeste tydrenmotors, is die 2.0 liter-enjin hoogsgemodifiseer om sy prestasie te verbeter met behulp van o.a. 'n turboaanjaer. Die 2009 Ford Focus RS WRC gebruik 'n Ford 1998cc Pipo-geboude inlynviersilinder Duratec WRC enjin (vier silinders, 16 kleppe, met 'n boorwydte van 85 mm en 'n slag van 88 mm), Pi elektroniese enjinbeheerstelsel, Garrett turboaanjaer (met 'n verpligte 34 mm inlaatbeperking), lugtussenverkoeler, en 'n katalitiese omskakelaar.

Galery

Kategorie:Ford Kategorie:Tydrenmotors