Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal, ook bekend as die "Scouts"-kerk, was ’n kortstondig kerkgenootskap in die destydse Transvaal wat ontstaan het uit lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat ontevrede was met die behandeling wat hulle gekry het weens hul deelname aan Britse kant tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die lidmate van die "Scouts"-kerk het in 1914 deel geword van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nadat hulle vroeër aangesluit het by die Gereformeerde Kerke onder die Kruis.
Ontstaan duimnael|regs|220px|S.J. du Toit omstreeks 1870 toe hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch was.
Afgesien van die groep van agt Gereformeerde Kerke onder die Kruis wat ds. S.J. du Toit van die Paarl bedien het, en wat van 1897 af uit ontevrede lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk ontstaan het, het daar nog in Transvaal vanaf 1905 'n groepie gemeentes los van die Ned. Herv. of Geref. Kerk bestaan onder die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal, en eers vanaf 1910 het hulle die naam Gereformeerde Kerke onder die Kruis aanvaar. Die ontstaan van hierdie Kerk gaan direk terug na die Engelse Oorlog. Weens die verbittering en verwydering tussen die twee groepe lidmate, naamlik die "bittereinders" onder die boere en "scouts", wat wapens opgeneem het saam met die Engelse teen die Boere, het die kerk 'n uiters moeilike taak gehad om vrede en versoening tussen hulle te probeer bewerkstellig. Laasgenoemde groep was eintlik in twee afdelings, naamlik diegene wat van mening was dat na inname van die hoofstede van die Republieke die oorlog gestaak moes word – vandaar dat sommige van hulle toe huis toe gegaan het – en die ander deel wat wapens opgeneem het teen die boere en in die wandeling "scouts" of "joiners" genoem is.
Dit was veral tussen laasgenoemde groep en die bittereinders wat so 'n mate van verbittering gegeld het, en aan skerp uitdrukkings oor en weer het dit nie ontbreek nie. En dit was veral rondom die Nagmaalstafel waar die gespannenheid besonder skerp aan die lig getree het, aangesien hulle geweier het om saam aan die Nagmaalstafel te gaan sit. Op die Sinode van die Ned. Herv. of Geref. Kerk wat in 1903 gehou is, het hierdie saak ook ter sprake gekom deur middel van 'n beskrywingspunt wat gelui het: "Hoe moet gehandel word met lede wat ontrou geword het aan regering en volk ?" Verder het ook die Ring van Utrecht die Sinode om leiding gevra in hierdie saak.
Die Regskommissie het aan die Sinode advies voorgelê, wat ook die besluit van die vergadering geword het. Saaklik weergegee kom dit hierop neer: Die Sinode is van oordeel dat persone wat in die jongste oorlog ontrou was aan hulle regering en volk deur wapens op te neem of andersins hulp te verleen aan die vyand, deur woord of daad, 'n ernstige sonde begaan het en nie onberispe gelaat mag word nie. Maar aangesien dit nou vrede is en die kerk se roeping is om vrede te bewerkstellig; daarom besluit die Sinode om sodanige persone ernstig te vermaan tot bekering en verbetering van hulle lewe sodat hulle weer met vrymoedigheid as lidmate in die voorregte van die Kerk mag deel. Dit word die predikante en kerkraadslede verder op die hart gedruk om sodanige persone te besoek en hulle te vermaan en om hulle langs hierdie weg terug te bring.
Met hierdie besluit van die Sinode was albei groepe teleurgesteld: Die bittereinders omdat dit nie ver genoeg gegaan het nie, en die "scouts"-groep omdat hulle van mening was dat die besluit 'n sydelingse sensuur op hulle was, en daardeur het groot ontevredenheid onder hulle ontstaan. As leidende figuur onder hulle het 'n sekere S.P. Grobler van Bethal opgetree. Hy het versoek dat die Sinode 'n kommissie van 12 uit hulle moes ontmoet en dat 'n onpartydige persoon van regeringsweë as voorsitter moes optree. Die Sinode het 'n kommissie benoem om hulle te ontmoet, maar wou nie instem met die gedagte van 'n owerheidsverteenwoordiger as voorsitter nie omdat die Kerk nie verwag dat die owerheid hom moet bemoei met streng kerklike sake nie.
Die voorgestelde ontmoeting het op 29 September 1903 in Pretoria plaasgevind. Die vergadering kon egter nie die geskille op broederlike wyse uit die weg ruim nie, met die gevolg dat hulle onverrigter sake uitmekaar is. S.P. Grobler het dieselfde dag aan ds. H.S. Bosman geskryf en hom in kennis gestel dat op 8 Oktober 1903 'n monstervergadering op Vlaklaagte gehou sou word met die bepaalde doel om 'n afsonderlike kerk te stig. Die vergadering is gehou; en nadat verslag gedoen is van die samespreking, is besluit om 'n aparte gemeente te stig. Ds. Bosman, wat die vergadering bygewoon het, het toe eers geleentheid gekry om die vergadering toe te spreek. En nadat hy die Sinodebesluit verduidelik het en tot kalmte gemaan het, is besluit om eers te wag met die stigting totdat 'n verdere onderhoud met die kerklike kommissie gereël kon word, om sodoende 'n vreedsame skikking te probeer tref.
Nadat sommige van die persone reeds vertrek het, het Grobler weer die origes bymekaargeroep, en toe is besluit om 'n eis op te stel wat voor die kerklike kommissie by weerontmoeting gelê kon word. Dit het die volgende behels: (a) Hulle eis terugtrekking van die Sinodebesluit die vorige Mei geneem insake "ontroues aan regering en volk in die jongste oorlog", omdat die Kerk hom nie met die politiek moes inlaat nie. (b) Verder eis hulle vernietiging van die eensydige verkiesing van kerkraadslede ná die vredesluiting, aangesien meesal "bittereinders" in die ampte verkies is, en (c) eindelik eis hulle dat die terugtrekking van die besluit op drie agtereenvolgende Sondae van al die kansels van die Ned. Herv. of Geref. Kerk afgekondig sal word.
duimnael|160px|Ds. Hercules Enslin du Plessis het i 1902 uit die NG Kerk getree en in 1908 daarna teruggekeer. In 1903 het hy kinders van beswaarde lidmate op Vlaklaagte, Bethal, gedoop.
Twee dae ná hierdie vergadering het ds. H.E. du Plessis, 'n gewese predikant van die NG Kerk, op versoek van Grobler, kinders van beswaarde ouers op Vlaklaagte gedoop. Die ontmoeting met die kerklike kommissie is eers bepaal vir 8 Desember 1903, maar moes toe verskuif word na 14 Desember. Op 8 Desember het die beswaardes egter op Bethal vergader en toe besluit dat hulle, omdat die vergadering nie op 8 Desember, soos bepaal, plaasgevind het nie, slegs drie persone sou benoem om hulle eis van 8 Oktober 1903 aan die kerklike kommissie voor te lê en te vra dat 'n antwoord binne twee dae na inlewering ontvang moes word. Op 14 Desember het die kommissie toe vergader en die eis aangehoor maar kon dit natuurlik nie toestaan nie. Die kommissie het onderneem om 'n stuk op te stel waarin hulle die saak sou toelig, en het verder die ontevredenes versoek om te wag met verdere stappe totdat die stuk kon verskyn. Dit wou die ontevredenes nie toestaan nie, met die gevolg dat op 22 Desember 1903 'n byeenkoms op Vlaklaagte, Bethal, gehou is waar besluit is om 'n aparte kerk te stig onder die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk van Transvaal.
Daarna het ook op ander plekke aparte gemeentes tot stand gekom, sodat toe die Algemene Vergadering van hierdie kerkgroep in 1906 gehou is, daar ses gemeentes verteenwoordig was, naamlik Bethal, Standerton, Ermelo (Breyten), Pretoria (Scheerpoort), Heidelberg en Zeerust. Die gemeentes is aanvanklik bedien deur ds. H.E. du Plessis, maar toe hy in 1905 (volgens ’n ander bron 1908) weer predikant van die Ned. Herv. of Geref. Kerk geword het, het ds. S.J. du Toit ook hierdie gemeentetjies bedien. Gemelde Algemene Vergadering van 1906 het 'n ope brief gepubliseer waarin hulle die volgende redes vir hulle stap aangegee het: (i) Omdat die besluit ons feitlik onder tug geplaas het deur die ontsegging van die gebruik van die bondseëls en dit onverhoord, wat in stryd is met alle goddelike en menslike wette ; (ii) omdat die Sinode met die bewuste besluit buite sy eie kerkwette en bepalinge gegaan het, aangesien die tug op gemeentelede by die kerkrade berus met voorsiening vir behoorlike beskuldiging en geleentheid vir verdediging en selfs vir hoër beroep indien nodig en (iii) omdat voornoemde besluit berus op die politieke gedragslyn deur ons as party gevolg, en die Kerk dus daardeur kant gekies het tussen twee politieke partye.
Die Kerke onder die Kruis probeer ’n eie kerkverband stig Uit die oorsig van die totstandkoming van hierdie Kerkgroep het dit duidelik geblyk dat hulle nie gelyktydig ontstaan het nie maar met tussenposes van selfs jare gestig is. Daar het dan ook aanvanklik geen kerkverband onder hulle bestaan nie, maar gaandeweg het die behoefte daaraan blykbaar na vore getree. Teen die einde van 1909 het ds. S.J. du Toit ses Kruisgemeentes en vier gemeentes van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal bedien; twee van die gemeentes van laasgenoemde Kerkegroep, naamlik Bethal en Heidelberg, het toe reeds met goedkeuring en medewete van ds. Du Toit by die Gereformeerde Kerk aangesluit.
Op 21 Februarie 1910 is 'n Algemene Vergadering gehou van die kerke wat deur ds. Du Toit bedien is, waar agt gemeentes verteenwoordig was. Een groot moeilikheid het die totstandkoming van 'n kerkverband in die weg gestaan, naamlik die feit dat dit twee aparte Kerkgroepe was, wat tot sover los van mekaar bestaan het en selfs twee aparte name gedra het. Op hierdie vergadering moes dus eers gepoog word om 'n eenheid tussen die twee groepe te bewerkstellig. Dit het voorspoedig gegaan, want die afgevaardigdes van die sogenaamde "Scouts"-kerk het die vergadering meegedeel dat hulle bereid is om die naam Gereformeerde Kerk onder die Kruis te aanvaar. Hierdie bekendmaking is met algemene byval begroet, en gevolglik kon die Algemene Vergadering daartoe oorgaan om 'n kerkorde op te stel. Die doel van die Kerkorde was : (1) om vas te stel wat die Kerke as belydenisskrifte aanvaar, (2) op watter wyse die gemeentes regeer sou word, en (3) watter mag die Algemene Vergadering sou hê. Die Algemene Vergadering het verder 'n broederlike brief gerig aan die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, en nog 'n "ope brief" waarin die besware teen die NG Kerk saamgevat is, is wêreldkundig gemaak. Met hierdie stap het dit dus geblyk of daar konsolidasie gekom het tussen die Kerke onder die Kruis onderling en verder ook vereniging met die gemeentes van die Ned. Geref. Kerk in Transvaal.
Deur die optrede van hierdie Kerkvergadering is daar dus 'n kerkverband gesmee, aangesien daar van toe af 'n gemeenskaplike belydenis en Kerkorde was waarop die kerkverband volgens gereformeerde opvatting moet berus. Die Kerke het dus ongetwyfeld vooruitgesien na 'n rustiger en verenigde voortbestaan maar het nie geweet dat 'n moeitevolle tydperk vir hulle vlak voor die deur gestaan het nie. In 1910 was ds. Du Toit in ’n ongeluk, met die gevolg dat sy herderlike reise nie meer kon plaasvind nie. Op 19 April 1911 is 'n Algemene Vergadering van die Kerke onder die Kruis op Daljosafat bepaal, maar ds. Du Toit kon dit ook daar nie bywoon nie. Daardie Vergadering moes dus ernstige aandag skenk aan die geestelike bearbeiding van die gemeentes noudat die konsulent deur sy ongesteldheid verhinder is om op te tree. 'n Kommissie bestaande uit oudll. C.J.J. du Plessis (Lindley), P.J. Badenhorst (Strydenburg) en C.J. Taljaard (Standerton) is benoem om hierdie saak te hanteer. Op 28 Mei 1911 is ds. Du Toit oorlede sodat die Kerke onder die Kruis herderloos gelaat is.
Gereformeerde Kerk en die Kruiskerke se bedieningsnood