duimnael|regs|320px|Die Gereformeerde kerk Strydenburg, gestig as 'n Gereformeerde kerk onder die Kruis. Die gebou is in 1988 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Huis in Paarl vir nageslag bewaar, Die Burger, 27 September 1988

Die Gereformeerde kerk Strydenburg is op 11 Junie 1897 gestig as die eerste gemeente van wat later die Gereformeerde Kerke onder die Kruis sou word en wat in 1914 ingelyf is by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. In 2014 het die gemeente 13 belydende en drie dooplidmate gehad en ook die dorpe Hopetown, Marydale en Prieska ingesluit, naas Strydenburg, waar die kerkgebou geleë is. In daardie jaar is die gemeente ontbind, presies 100 jaar nadat dit opgeneem is in die Gereformeerde Kerkverband.

Die naam van die kerke Die benaming "Kerk onder die Kruis" is in die geskiedenis van die kerk in Nederland nie onbekend nie; trouens, dit kom voor onder verskeie omstandighede eers in die 16de eeu en later weer in die 19de eeu. Op die voetspore van die benaming in die 16de eeu is dit later weer gebruik, hoewel onder gewysigde omstandighede. In die geskiedenis van die Reformasie in Nederland het gedurende die 16de eeu as gevolg van die onderdrukkingsmaatreëls van Karel V en Philips II talle reformatoriesgesinde gelowiges hulle land verlaat en as vlugtelinge in die aangrensende lande tydelike gasvryheid geniet. Hierdie vlugtelinge is in die vreemde georganiseer in gemeentes, wat gewoonlik bekend staan as vlugtelingkerke, maar hulle het ook die naam Kerke onder die Kruis gedra. So blyk dit byvoorbeeld dat die handelinge van die eerste Sinode van die Gereformeerde Kerke in Nederland, wat as gevolg van die gevaarlike toestand in 1571 nog in Emden gehou is, die opskrif dra: "Acta ofte Handelinghen der versamelinghe der Nederlandsche Kerken die onder 't Cruys sitten".

Hieruit kan afgelei word dat die aanduiding "Onder die Kruis" moet heenwys op 'n toestand van geloofsvervolging en as gevolg waarvan die kerke verhinder word om 'n normale bestaan as gelowiges te voer. In dieselfde rigting dui die gebruik van die benaming "Gereformeerde Kerke onder die Kruis" gedurende die 19de eeu in Nederland, toe van staatsweë ook weer onderdrukkingsmaatreëls uitgevaardig is teen diegene wat hulle nie met die staatskerkgedagte in Nederland kon versoen nie. Die gebruik van die benaming "Gereformeerde Kerke onder die Kruis" in Suid-Afrika moet wel op 'n ietwat gewysigde vlak besien word, want hier was destyds nooit sprake van geloofsvervolging van staatsweë nie, maar die gebruik van die naam is tog deur die betrokke persone soos volg geregverdig: "Die groot bedoeling daarvan is dolerende of treurende onder die kruis. Die vraag sou wel gevra kan word of daar dan 'n vervolging is? Daar is wel geen openlike vervolging nie, maar ons moes alles verlaat, kerkgoedere, ens., ook moes daar 'n onderskeid in die naam wees om nie met die tans bestaande Gereformeerde Kerk verwar te word nie. Ons sou ons ewe goed dolerend kon genoem het."

Die ontstaan van die Kerke onder die Kruis duimnael|regs|220px|S.J. du Toit omstreeks 1870 toe hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch was.

Omstandighede en faktore in die bestaan van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gedurende die laaste deel van die 19de eeu bied die historiese agtergrond vir die ontstaan van hierdie kerkgroep. In die 19de eeu het daar ’n groot verandering in die Kerk aan die Kaap plaasgevind, onder meer die nuwe gees van verdraagsaamheid en die verengelsing van die kerklike lewe aan die Kaap. Daar was ook ’n slapper houding jeens die belydenisstukke van die Kerk, die sterker opkomende Liberalisme in die Kerk en die middels wat daarteenoor aangewend is, veral die opwekkingsdienste. Die nuwe gees van verdraagsaamheid hoef nie in sy wese verkeerd te wees nie, maar sodra dit volgens sommige te ver gevoer word, werk dit 'n baie groot mate van geestelike onverskilligheid in die hand, en word dit volgens hulle 'n baie groot gevaar in die kerk.

S.J. du Toit, die vader van die Kruiskerke Soos self te begrype is, het die toestande in die Kerk nie onopgemerk verbygegaan nie, maar het daar ernstige stemme van protes en waarskuwing opgeklink. Hierdie protesstemme is die duidelikste gehoor vanuit die Paarl, waar ds. S.J. du Toit destyds die hoofwoordvoerder was teen die "nuwighede", soos dit genoem is. Du Toit was feitlik die geestelike leidsman was van die mense wat later die Gereformeerde Kerke onder die Kruis gestig het. Stephanus Jacobus du Toit is gebore op 9 Oktober 1847 en het opgegroei op die plaas Kleinbos naby die Paarl. Die ouerhuis waarin hy opgegroei hef, was eg ortodoks-gereformeerd, en die onderwys was in die dae maar erg primitief. Sy buitengewone gawes en veral sy sterk geheue het vroeg reeds die aandag getrek sodat hy sonder moeite preke wat hy gehoor het, kon sit en opskryf.

Toe hy 19 jaar oud was, kon hy na Stellenbosch gaan vir sy admissie-eksamen om toelating tot die Kweekskool van die NG Kerk. Gelukkig was hy aanvanklik nie, want hy het self verklaar: "Die godsdienstige oortuiging in die Paarl by my aangekweek, het my bietjie soos 'n uil onder die voëls laat voel in Stellenbosch. Byna al die studente het vyandig teenoor my gestaan". Tog het daar gaandeweg verbetering ingetree, want hy verklaar verder: "Voor die vier jaar om was, het die meeste met my saamgestaan en is ek gekies as president van die studentekorps." Gedurende sy studiejare was dit veral prof. Nicolaas Hofmeyr van wie hy veel geleer het van die Gereformeerde leer en veral van die profesieë. En met die hulp van prof. Hofmeyr en ds. Andrew Murray sou hy na voltooiing van sy studie op Stellenbosch oorsee kon gaan vir verdere studie, maar dit het misluk.

As proponent het hy die geleentheid gekry om 'n reis deur Transvaal te onderneem en is as gevolg daarvan byna beroep na die Hervormde gemeente van Pretoria; maar aangesien daar een en ander gehaper het wat eers deur 'n Algemene Kerkvergadering reggestel kon word, het dit te lank geduur en het prop. Du Toit intussen 'n beroep na die NG gemeente Noorder-Paarl ontvang en dit aangeneem. Sy koms na Noorder-Paarl het ook met moeilikheid gepaardgegaan, want 'n gedeelte van die gemeente Paarl wou Du Toit graag as opvolger van wyle ds. Van der Lingen gehad het, omdat hulle in hom dieselfde gees en gesindheid ontwaar het as wat ds. Van der Lingen gedurende sy bediening in Paarl geopenbaar het, veral ten opsigte van die onderwys. Maar dit sou dan meegebring het dat in Paarl 'n tweede gemeente gestig sou moes word sonder dat daar grense tussen die twee gemeentes vasgestel word. Dit het heelwat moeilikheid veroorsaak maar is tog eindelik bewerkstellig, sodat ds. Du Toit op 26 Julie 1875 daarheen beroep kon word.

Tydens sy bediening daar het hy in 1878 'n twaalftal lesings gehou oor die onvervulde profesieë, en dit het ook buite sy gemeente belangstelling gewek. Hy het verder 'n groot werkkrag geopenbaar, want saam met al sy ampspligte het hy nog aandag geskenk aan die onderwys, Bybelvertaling, taalstryd, Die Patriot en die Afrikaner-Bond; dus kerklik, kultureel en politiek-burgerlik. In 1880 het hy as gevolg van 'n ernstige keelkwaal 'n reis oorsee onderneem en toe kennis gemaak met Palestina as die land waar die profesieë in vervulling moes gaan, en verder ook met Nederland, waar hy kennis gemaak het met dr. A. Kuyper sr. en sy Vrije Universiteit, asook met die besondere stryd wat daar op kerklike gebied gestry is deur Kuyper en ander teenoor die "afwykende" teologiese rigtinge aldaar.

Ná sy terugkoms het hy sy bediening in Noorder-Paarl voortgesit, tot hy in Oktober 1881 superintendent van onderwys in Transvaal geword het. Hy het hierdie benoeming eers aanvaar nadat die Transvaalse regering sy drie voorwaardes bekragtig het, naamlik (a) dat hy sy leraarsamp mag behou, (b) dat sy grondbeginsel insake onderwys as beleid aanvaar moes word en (c) dat hy later 'n bekwame sekretaris van onderwys by hom sou kry. Hierdie betrekking het hy gevul tot 1891, toe hy na die Paarl teruggekeer het om sy persarbeid opnuut en met erns voort te sit.

Reeds gedurende sy eerste verblyf in die Paarl het hy in die voorste linies gestaan van die stryd om Afrikaans as taal, en toe in 1875 die Genootskap van Regte Afrikaners opgerig is, is die stryd met mening gevoer, veral ná die oprigting van die blad Die Patriot. En teen hierdie agtergrond moet ’n mens ook sy aandeel in die totstandkoming van die Afrikaner-Bond as politieke organisasie in 1879 sien. En wanneer ds. Du Toit 'n leidende aandeel neem in die bewegings, is dit met 'n beroep op Nehemia, die vrome patriot, in wie patriotisme en godsvrug, vryheidsin en geloofsmoed, vaderlandsliefde en godsdiensywer so lieflik en leerryk verenig is.

Nog voor sy vertrek na Transvaal het daar reeds stemme opgegaan teen die rigting waarin ds. Du Toit met Die Patriot beweeg het, sodat reeds op die Sinode van 1880 daaraan aandag geskenk is omdat dit die mense aangemoedig het teen die Engelse goewerment en dit deur sommige beskou is as rebelliestigting. Maar dit was veral gedurende sy tweede verblyf in die Paarl dat ds. Du Toit sy groot stryd vir kerkherstel gestry het. As sy biograaf, dr. J.D. du Toit, hierdie periode behandel, laat hy hom daaroor soos volg uit: "Ds. Du Toit kampvegter vir die ou gereformeerde waarheid wat aan ons volk soos 'n kosbare kleinood toevertrou is. Met die ou beproefde gereformeerde fondament onder sy voete het hy volhardend daarvoor gestry sonder om sy oë te sluit vir gesonde uitspruitsels uit die ou stam."

Aanloop tot Strydenburg se stigting duimnael|regs|300px|Die eerste kerkraad van die Gereformeerde kerk Strydenburg (toe nog 'n Kruiskerk) onder leiding van ds. S.J. du Toit, 1897. Hy sit tweede van regs. Voor: N.J.J. Badenhorst sr. (oudl.), C.J. Liebenberg (oudl.), ds. S.J. du Toit, N.J.J. van Rensburg (diak.). Agter: J.P. Koen (oudl.), N.J.J. Badenhorst jr. (diak.), A.L. Badenhorst (diak.), H.J. van der Merwe (diak.), P.J. Badenhorst B. zn. (diak.) en L.H.J. Badenhorst (oudl.).

Dwarsdeur sy strydlewe was dit veral drie dinge wat ds. Du Toit benadruk het: taal, nasionaliteit en godsdiens, en hulle is deur hom genoem 'n snoer van drie kosbare pêrels wat van voor of van agter benader kan word maar altyd ewe lieflik is. Op grond van hierdie eenheidsgedagte is die Taalkongresse wat in 1896 en 1897 in Paarl gehou is, omgeskep in "samekomste van gelowiges" wat weer kerklike aangeleenthede bespreek het. En uit hierdie besprekinge het dit afdoende geblyk dat die sake wat ds. Du Toit in sy verskillende tydskrifte behandel het, geredelik weerklank gevind het by dié wat saam met hom bekommerd was oor die rigting waarin die NG Kerk beweeg het. Hierdie besware wat gekoester is, het grootliks ontspruit as gevolg van die afkeer van die vreemde invloede op maatskaplik-kulturele gebied of, soos een van die afgevaardigdes, ene N.J.J. Badenhorst van Strydenburg, dit in 1897 gestel het: Ons het afgewyk van die ou paaie, en ons word onkerklik en ongodsdienstig, en die oorsaak hiervoor is die vreemde sedes wat ons navolg en die vreemde tale wat ons napraat.

Dit was dan ook grootliks op hierdie "samekomste van gelowiges" waar die planne van die beswaardes bespreek is en in 'n groot mate ook vorm aangeneem het. So het ds. Du Toit die samespreking van 1897 beskrywe in De Getuige en die resultaat daarvan aangedui: Die Here het deur sy Woord en Gees die samekoms gelei tot die eenstemmige besluit: (a) dat nie Nederduits nie maar Afrikaans ons Moedertaal is wat God ons gegee het; (b) dat taal en nasionaliteit en godsdiens onafskeidelik aan mekaar verbind is. Maar hoe sal ons of weer (dolerend) Nederduits Gereformeerde Kerke gaan stig, aangesien "Nederduits" tog nie ons taal is nie; of hoe sal ons ons by die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika kan voeg, waar Nederduits tot hede die enigste erkende taal is? Daarom as ons konsekwent aan ons beginsel wil bly, dan moet ons Gereformeerde kerke stig waarin die eise van die taal en nasionaliteit tot hulle reg kan kom.