duimnael|regs|270px|Die administrasie van Suidwes-Afrika het in 1974 'n 4c-seël, ontwerp deur Kobus Esterhuysen, uitgereik ter herdenking van die vertrek van die eerste Dorslandtrek-geselskap in 1874. Die repatriasie van die trekkers en hul nasate vanaf 1928 was die rede vir die ontstaan van die eerste drie Gereformeerde gemeentes in Suidwes-Afrika.
Die Gereformeerde Kerke in Namibië is die gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in Namibië wat sedert Junie 1930 in die destydse Suidwes-Afrika gestig is en teen 2015 reeds 18 gemeentes getel het met 1 917 belydende en 907 dooplidmate. Omstreeks 2015 het vyf gemeentes, Aranos, Outjo, Biermanskool, Namib Kus en Khomas Hoogland hulle losgemaak van die kerkverband. Op 21 September 2023 het die Klassis Etosha oorgegaan in die Nasionale Sinode Namibië.
Die eerste drie gemeentes van die Gereformeerde Kerk is eers in 1930 in die mandaatgebied Suidwes-Afrika gestig, meer as drie dekades ná die eerste NG gemeente, Gibeon, later Mariental genoem. ’n Groot aantal lidmate van die Gereformeerde Kerk is van 1928 tot '31 teen ’n koste van £500 000 deur die Unie-regering uit Angola na Suidwes-Afrika gerepatrieer en plase toegeken in die distrikte Gobabis, Gibeon en Outjo. Hulle was die oorlewendes en nasate van die Dorslandtrek wat vanaf 1874 in twee groot en ’n kleiner groep uit Transvaal deur die Kalahari (vandaar die naam Dorsland) na eers Suidwes-Afrika en toe in 1880 na Angola getrek het. In dié Portugese kolonie het die Dorslandtrekkers hulle in die omgewing van Humpata gaan vestig waar ds. Jan Lion Cachet die Gereformeerde kerk Humpata in 1881 gestig het. Mettertyd het die Angola-Afrikaners ook noord van Humpata gaan woon sodat die Gereformeerde kerk Que in 1906 gestig is om in dié mense se geestelike behoeftes te voorsien.
Redes vir die repatriasie duimnael|regs|300px|In 1928 is die meeste nasate van die Dorslandtrekkers na Suidwes-Afrika gerepatrieer. Hier staan 'n vloot vragmotors op Swartbooisdrift, suid van die Kunenerivier, wat die gerepatrieerdes se besitting na die plaas Gamkarab, noordoos van Outjo naby die pad na Otavi, vervoer het.
duimnael|links|320px|Afgevaardigdes van die Angola-Boere besoek A.J. Werth, administrateur van Suidwes-Afrika van 1926 tot 1933, vir beraadslaging oor die repatriasie van 1928 tot '31. Hulle vestiging in SWA was 'n hoogtepunt van Werth se tydperk as administrateur.
’n Ongeslaagde poging is reeds omstreeks 1883 aangewend om die Angola-Afrikaners terug te bring na Transvaal. Die emigrante het ’n tyd lank ’n taamlik goeie bestaan gevoer. En tog het hulle, nes die oorspronklike aankomelinge, vreemdelinge in ’n vreemde land gebly. Die koms van die spoorweë het hulle ontneem van hul inkomste uit transportryery en die opbrengs van hul jagtogte het mettertyd afgeneem. Die ontwikkeling van grootskaalse plantasies ten koste van kleinskaalse boerdery het ook teen hulle getel. Ook het verhouding met die Portugese owerheid mettertyd versuur omdat die Portugese begin voel het hulle kon sonder die Boere klaarkom by wie hulle al die nodige vaardighede geleer het, soos veeteelt en die skietkuns. Die Sweedse reisiger Peter Möller het dit reeds in 1895/'96 opgemerk, net 15 jaar nadat die Boere hulle hier kom vestig het en meer as 30 jaar voor die byna volledige repatriasie van 1928. Hy het toe al die meeste van die redes uitgesonder waarom hy gemeen het die Afrikaners sou Angola weer verlaat: Die Boere het nooit volle burgerskap geniet nie, hulle kon nie eiendomsreg op hul plase kry nie, Afrikaanse skole is verbied, hulle het gemeen hulle (Protestantse) geloof word bedreig en hulle kon nie meer ’n goeie bestaan voer uit kleinskaalse boerdery, jag en transportry nie.
Leiers van die Afrikanergemeenskap het die Uniale regering genader met die versoek om terug te keer na Suid-Afrikaanse grondgebied, meestal die mandaatgebied Suidwes-Afrika. Ná beraadslaging met die administrateur en die Unie se minister van lande, het die regering van genl. J.B.M. Hertzog £500 000 vir die tweede groot trek van die Angola-Boere beloof, dié keer suidwaarts oor die Kunenerivier tot in Suidwes. Van 22 Augustus 1928, toe die eerste groep die Kunene by Swartbooisdrift oorgesteek het waar daar ’n kamp vir hulle opgerig is, tot 27 Februarie 1929 is 1 922 mense, sowat 373 gesinne, na Suidwes-Afrika gerepatrieer. Ook per skip het ’n aantal mense in 1928 en '29 na Suidwes en Suid-Afrika geëmigreer. Nie al 420 gesinne aan wie treksertifikate uitgereik is, het wel getrek nie. Baie Afrikaners in die noorde van Angola, wat waarskynlik nie van die voorgenome trek geweet het nie, het ook nie sertifikate gekry nie. Die laaste Afrikaners van die repatriasie het Angola in 1930 en '31 verlaat.
Kerkskeuring duimnael|links|180px|Ds. Pieter van Drimmelen het die Hervormde gemeente Humpata op 31 Mei 1910 gestig nadat sommige Gereformeerdes hul lidmaatskap van die Kerk beëindig het. Hy is in 1919 (1918 volgens 'n ander bron) op besoek aan Angola aan griep oorlede nadat hy ook 'n gemeente op Mombolo gestig het.
Die sowat 300 blankes wat Angola in 1880 bereik het, was amper almal lidmate van die Gereformeerde Kerk en dié wat nie was nie, het so te sê almal omstreeks die stigting van die Gereformeerde kerk Humpata by dié kerkverband aangesluit. Maar in 1928, toe die meeste Angola-Boere na Suidwes-Afrika gerepatrieer is, was daar onder hulle ook heelparty lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk, die gevolg van ’n kerkskeuring in Angola in 1908. Daarom het die eerste drie gemeentes van die Hervormde Kerk ook vanweë die repatriasie ontstaan, maar eers in 1937: Gobabis op 31 Julie, Otjiwarongo op 21 Augustus en Grootfontein op 4 September. Ná die repatriasie het net 15 lidmate van die Hervormde Kerk in Angola agtergebly, maar 35 gesinne van die Gereformeerde Kerk. Nietemin het die Hervormde Kerk se gemeente Humpata eers in 1958 (met die laaste groot repatriasie) ontbind, terwyl die Gereformeerde kerk Humpata reeds in 1926 ontbind het. Die verskil in lidmaattalle van destyds word vandag nog in die lidmaattalle van die twee kerkgenootskappe in Namibië weerspieël: In 2015 het die Gereformeerde Kerk amper 2 000 belydende lidmate gehad, vergeleke met die Hervormde Kerk se 1 058.
Die onenigheid in die Gereformeerde Kerk wat tot die skeuring gelei het, het reeds op 'n kerkraadsvergadering van 6 April 1908 na vore gekom toe dit duidelik blyk die meeste lidmate van Humpata verskil van die Sinode se standpunt oor die sending. Die volgende dag het 118 lidmate amptelik uit die Kerkverband bedank. Die lidmate het nie kans gesien dat ds. H.P.J. Pasch, Humpata se leraar van 1908 tot 1911, ook vir die mak volk se sendinggemeente preek en een leer elke drie maande die sakramente aan hulle bedien nie. Op 18 April 1908 het 124 lidmate die skriba van die Sinode in kennis gestel hulle onttrek aan die Gereformeerde Kerk omdat hul gevoelens oor die sendingsaak "geheel afwijken van de inzichten de Synode". Sommige het kort daarna hul bedanking teruggetrek. Die ontevredenes se aansoek om hulp tot die Gereformeerde Kerke van Nederland het hierna misluk omdat die kerk hulle uit die Skrif daarop gewys het dat hulle standpunt verkeerd is. Hulle is ook aangeraai om hulle met ds. Pasch te versoen en hul verband met die Kerk in Suid-Afrika, wat hulle met die jare geestelik en geldelik gesteun het, weer op te neem. Die ontevredenes het dié voorstelle verwerp.
Daarna het die Nederduitsch Hervormde Kerk tot Angola toegetree en stig ds. Pieter van Drimmelen op 31 Mei 1910 'n Hervormde gemeente op Humpata. Nadat ds. Van Drimmelen sy kerk se kerkwet voorgelees het, het 34 mense, op een na almal gesinshoofde, dit onderteken. Op 11 Januarie 1919 is ook die gemeente Mombolo met 14 lidmate deur ds. Van Drimmelen gestig. Op sy terugreis na Humpata is hy oorlede. In 1923 het ds. S.J. Strydom van die Hervormde Kerk bevind die verhouding tussen die twee Afrikaanse kerkgenootskappe in Angola was steeds nie na wense nie, hoewel dit beter as net ná die kerkskeuring, toe dit as "ellendig sleg" beskryf is. Teen 1926 was die vroeëre vyandigheid glo iets van die verlede. Gereformeerdes het dienste van Hervormde predikante bygewoon, maar daar was wel Hervormdes wat nooit weer hul voete in 'n Gereformeerde kerk wou sit nie.
So het dit gebeur dat Gereformeerdes sowel as Hervormdes na Suidwes-Afrika gerepatrieer is en lidmate van albei genootskappe verantwoordelik was vir die koms van hul kerkverband na die mandaatgebied. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, van wie amper geen lidmate aan die Dorslandtrek deelgeneem het nie en wat sy enkele lidmate indertyd aangespoor het om by die Gereformeerde Kerk in Angola aan te sluit, is nie deur die repatriasie geraak nie; trouens, die NG gemeente Gobabis, gesetel op die vernaamste sentrum van die teruggekeerde Afrikaners, is eers in 1939 gestig, nege jaar ná die plaaslike Gereformeerde kerk en twee jaar ná die Hervormde gemeente. Die NG gemeentes Aranos (1952) en Outjo (1943) se stigting was ook nie die gevolg van die repatriasie nie.
Gobabis gestig duimnael|regs|180px|Die Partikuliere Sinode van Kaapland het ds. Hendrik Stephanus van Jaarsveld, leraar van die gemeente Philipstown van 1924 tot 1946, afgevaardig om lidmate uit Angola by Gobabis te gaan opsoek. Hy het die Gereformeerde kerk Gobabis op 6 Junie 1930 gestig.
'n Groot aantal van die Angola-Boere is op plase in die distrik Gobabis gevestig. Hierdie lidmate van die Gereformeerde Kerk was die fondament waarop die nuwe gemeente Gobabis, gestig in 1930, gebou is.
In Kerk in 'n beter land: Die Kerkverhaal van die Dorsland- en Angolatrekkers 1873–1937 skryf J.M. van Tonder (red.) as volg oor die vestiging van die Afrikaners in dié omgewing: "Die Partikuliere Sinode van die Gereformeerde Kerk Kaapland het op 26 Mei 1930 vir ds. H.S. van Jaarsveld afgevaardig om hierdie lidmate uit Angola en ander uit die Unie van Suid-Afrika te gaan opsoek, kerklik te organiseer en Woord en Sakramente te bedien. Ds. Van Jaarsveld is deur ouderlinge Sarel du Plessis en E.T. Meyer ontmoet. Hulle het na Plaas 412 vertrek, waar 'n groot groep lidmate hulle ingewag het." Prof. Dr. Jooste skryf in die Gedenkboek van die Dorstandtrek: "Gedurende die eerste week in Junie was ds. Van Jaarsveld besig met belydenis-katkisasie. Op Saterdag 6 Junie 1930 (in werklikheid eers die volgende dag) het die stigting van die gemeente van Gobabis (op die plaas Auheib) plaasgevind. Tydens die stigtingsverrigtinge het ds. Van Jaarsveld se toespraak uit Efesiërs 2:19-22 gekom: 'So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.'