Die passieblom (Passiflora caerulea) is ’n spesie blomplante wat inheems aan Suid-Amerika is (Argentinië, Paraguay, Uruguay en Brasilië). Dit is ’n vinnig groeiende, bladwisselende of half-immergroen rankplant wat sowat 10 meter of hoër word. Die blare is handvormig en die blou-wit, geurige blomme het opvallende kroondrade in blou, wit en bruin stroke. Die ovaalvormige, oranje vrug van sowat 6 cm lank is eetbaar, maar smaakloos.

Eienskappe Die passieblom is ’n bosagtige klimplant. Die blare lyk soos ’n mens se uitgestrekte hand en het vyf lobbe (soms drie of sewe). Aan die onderkant van elke blaar is ’n hegrank van 5–10 cm lank wat om ’n draad of heining krul om die plant regop te hou.

Die blom van 10 cm breed is kompleks, met vyf kroon- en vyf kelkblare wat eenders lyk: witterig en omring deur ’n kroon van blou of pers drade, dan vyf groen-geel meeldrade en drie pers stempels. Die vrug is ’n ovaalvormige, oranje-geel bessie van 6 x 4 cm; dit bevat verskeie sade. Soogdiere en voëls eet die vrugte en versprei dan die sade. Mense kan dit ook eet, maar dit is smaakloos.

Die plant is nie juis geskik vir binnenshuis nie, maar kan in ’n pot in ’n kweekhuis of sonnige vertrek gehou word. Dit word dikwels gebruik teen mure of as ’n dekplant. In tropiese streke sal dit heeljaar blom.

Kultivars ’n Paar kultivars is van die spesie gekweek. 'Chinensis' (kroondrade ’n dowwer blou) 'Constance Elliot' (spierwit, geurige blomme) 'Grandiflora' (blomme tot 20 cm in deursnee) 'Hartwiesiana' (wit blomme) 'Regnellii' (baie lang kroondrade)

Die spesie is ook in talle hibriede gebruik.

Kultuur Die blom van die passievrug is die nasionale blom van Paraguay. Die ingewikkelde struktuur daarvan het ’n Christelike simboliek daaraan verleen. Elke blomdeel verteenwoordig ’n ander deel van die kruisiging: die vyf meeldrade die vyf wonde aan Christus se liggaam, die drie stempels die drie spykers en die styl van die pilaar van die kruis, die kroondrade die doringkrans, en die vyf kroon- en vyf kelkblare die 10 dissipels (sonder Judas en Petrus).

Probleme As die plant nie blom nie, kry dit te min lig of te veel bemesting. Plantluise kan ook voorkom.Longman, David. Gesonde Huisplante, Stap vir Stap Geïllustreer, J.L. van Schaik, Pretoria. 1992.

Galery

Verwysings

Eksterne skakels Passiflora caerulea in Topwalks

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Blomme Kategorie:Rankplante Kategorie:Tuinplante Kategorie:Flora van Argentinië Kategorie:Flora van Brasilië Kategorie:Flora van Paraguay Kategorie:Flora van Uruguay