Die Gereformeerde kerk Wolmaransstad is ’n gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die dorp Wolmaransstad in die provinsie Noordwes.

Die gemeente ressorteer onder die Klassis Vryburg, wat in 2014 uit 30 gemeentes bestaan het. In dié klassis is Wolmaransstad die tweede oudste en Vryburg (gestig in 1886) die oudste gemeente. Hoewel Wolmaransstad in 2014 net 183 belydende en 46 dooplidmate gehad het, was dit toe die tiende grootste gemeente in die klassis. In daardie jaar was die leraar ds. M.J.J. Erasmus, een van net 14 predikante in die klassis. Die gemeente Wolmaransstad sluit ook Makwassie, Leeudoringstad en Witpoort in. Die kerkgebou is geleë by Bornmanstraat 51, Wolmaransstad.

Agtergrond duimnael|regs|170px|Ds. M.J. Booyens, leraar van 1950 tot 1953.

duimnael|links|300px|Die Gereformeerde kerk Wolmaransstad het sy huidige aansig gekry toe dit opnuut in gebruik geneem is op 14 Mei 1995 nadat 'n gedeelte van die gebou op 4 Desember 1994 in 'n brand beskadig is.

duimnael|170px|regs|Ds. P.J. Steyn, leraar van 1962 tot 1967.

Naby die teenswoordige dorp Wolmaransstad is waarskynlik die vroegste sending in die latere Transvaal onderneem, naamlik in die jaar 1823 en wel deur die Wesleyaanse Kerk. Die sendeling was eerw. Broadbent, later bygestaan deur eerw. Hodgson. Die plek waar hul huise gestaan het, besit 'n fonteintjie waarvan Broadbent in sy dagboek melding maak; dit word Sendelingsfonteintjie genoem.

Ná die ontdekking van diamante by Kimberley in 1871 het die transportpad na die Noorde oor die plase Rooderand en Vlakfontein gegaan waarop Wolmaransstad later aangelê is. In 1876 het die broers W. en T.S. Leask hier 'n winkel opgerig en het dit die middelpunt van 'n klein nedersetting geword. Die Volksraad het in 1884 besluit dat daar 'n dorp gestig kon word (V.R.B. art. 185, d.d. 19.8.'84). Van 1888 af is erwe uitgemeet, maar eers op 16 Februarie 1891 is Wolmaransstad tot dorp verklaar. Die dorp is genoem na Jacobus M.A. Wolmarans, 'n broer van die latere senator A.D.W. Wolmarans en seun van Frederik Wolmarans, in lewe eienaar van die plaas Gerhardminnebron, Gatsrand, Potchefstroom. Jacobus Wolmarans was in 1891 lid van die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek toe die distrik Wolmaransstad afgesny is van Potchefstroom, Lichtenburg en Bloemhof.

Die NG gemeente Wolmaransstad is in 1889 gestig onder die naam Makwassie. Die eerste drie leraars was di. C.J. Snyman, Paul Nel en M.P.A. Coetsee jr., wat in 1892 uit die Gereformeerde Kerk getree het terwyl hy leraar van die gemeente Burgersdorp was. Hy is op 21 April 1898 op Wolmaransstad bevestig. Weens die Tweede Vryheidsoorlog is baie min bekend oor sy drie en 'n half jaar lange bediening in die gemeente. Dit was wel vir hom en sy gesin 'n baie moeilike tyd. Kort ná sy aankoms moes hy Kaapstad toe gaan vir 'n operasie. Hy was erg terneergedruk, maar ook diep gelowig, soos blyk uit 'n brief aan die kerkraad gedateer 22 Oktober 1898: "Die Heere heeft zijn bedoelingen door mij op den weg van lijden te leide, moge zijn naam daardoor verheerlijkt worden!"

Ná 'n paar maande op Wolmaransstad het die onweerswolke van die Tweede Vryheidsoorlog oor die ZAR begin saampak. Die spoor van ellende en smart wat die oorlog gebring het, het Wolmaransstad nie misgeloop nie. Toe die dorp op 'n keer deur die Engelse troepe beset is, het hulle die grootste deel van die skool, die pastorie en die NG kerk afgebrand sodat al die notuleboeke, doop- en lidmaatregisters verlore gegaan het. Ná dié verwoesting het die werksaamhede van die gemeente feitlik tot stilstand gekom. Ds. Coetsee was 'n malarialyer en die knellende omstandighede het sy gesondheid nog verder geknak. Die Skotse sakeman en avonturier Thomas Leask meld dat hy ds. Coetsee tydens die Driejarige Oorlog op Klerksdorp teëgekom het toe hy te voet en in swak gesondheid daar aangekom het. Ds. Coetsee is op 18 November 1901 oorlede.

Integrale deel van Potchefstroom Nes die geval met die NG en die Hervormde Kerk, is die Gereformeerde lidmate in die beginjare vanuit Potchefstroom bedien. Die wêreld het oopgelê en lidmate het soms so ver en so vinnig getrek dat hulle baie keer selfs buite die grense van die verste wyk van die gemeente beweeg het. Die betrokke gemeente het dit dikwels moeilik gevind om selfs maar uiterlike kontak met sulke lidmate te behou. So word verneem dat die leraar, 'n ouderling P.A. Venter en 'n diaken F.R.P. de Bruin in Julie 1877 so ver as die plaas Salpeterpan beweeg het om kontak te maak met twee lidmate van die Potchefstroomse Gereformeerde gemeente. Toe dié kommissie van drie Salpeterpan daardie Maandagmôre verlaat, was vyf "persone ondersoek t.o.v. hulle geloofsbelydenis, en voorgestel as lidmate van die gemeente; was daar 'n hele wyk van veertien lidmate; en is 'n diaken gekies en voorgestel vir daardie groep mense".

Die tydperk van konsulentskap, 1899-1923 duimnael|links|180px|Dr. J.D. du Toit, bekend onder sy skrywersnaam, Totius, was konsulent van Wolmaransstad van 1903 tot 1911. duimnael|regs|180px|Ds. W.J. de Klerk was konsulent van Wolmaransstad van 1911 tot 1919. Sy kleinseun F.W. de Klerk was staatspresident van Suid-Afrika van 1989 tot 1994.

Die eerste notuleboek van die gemeente vermeld in 1899: "In het vorige jaar verzochten 26 manslidmaten om als een afzonderlyke gemeente gesticht te worden, het welk de kerkeraad van Potchefstroom goedkeurde en de Algemene Vergadering dezes lands in Januarie l.l. bekrachtigde, van daar dat nu de stichting commissie het werk verrichte. Dit is het begin van de nu gestichte gemeente Wolmaransstad. Joh. Leop. Maury h.t. Praeses. T.J. v.d. Heever, Ouderling en scriba."

Die eerste kerkraad van die nuut gestigte gemeente was: ouderlinge: W.M. Flemming, J.C. Rossouw, J.H. Fouché en T.J. van der Heever. Diakens: A.G. Roodt, P. Venter jr., L.J. Fouché en A.T. Renke. 'n Klein groepie huisgesinne het 'n eie gemeente gevorm, sonder kerk en pastorie. Klaarheid oor waar die sentrum van die gemeente sou wees, het nog nie bestaan nie. Die eerste kerkraadsvergadering is gevolglik op die plaas Wolvenkop op 22 April 1899 gehou. Net soos in die geval van die Hervormde Kerk, waar die notule van die eerste kerkraadsvergaderings deur die eerste predikante opgeteken is, staan hierdie notule ook opgeteken in die handskrif van ds. J.L. Maury wat die vergadering gelei het. Die eerste oogmerk vir 'n sentrum was die plaas Witstinkhoutboom. Op bogenoemde, eerste vergadering van die kerkraad is dan ook besluit: "Met algemene stemmen wordt besloten dat eene commissie bestaande uit de ouderlingen W.M. Flemming, T.J. van den Heever en diaken P. Venter jr. aangesteld worde om kennisgeeving aan de Hoog Ed. Achtbare Regeering te richten dat de stichting der Gemeente te Wolmaransstad heeft plaatsgevonden en verdere handelingen en Korrespondentie over de plaats Witstinkhoutboom te doen en alles te behartigen ten behoeve dezer gemeente om eene Kerk te bouwen. Alsmede kennisgeving aan den Correspondent der Gereformeerde Kerk dezer Republiek". Die onderhandelinge oor Witstinkhoutboom het op 'n dooie punt uitgeloop. Die besluit op 'n kerkraadsvergadering van 23 Junie 1899 om Witpoort as sentrum te ondersoek het eweneens vrugteloos verloop. Voorts het die algemene gevoel vir óf Makwassie óf Wolmaransstad ontwikkel, maar absolute klaarheid het ontbreek.

Intussen is op talle plase, soos Ysterspruit en Blinkklip en Rietvallei, kerk gehou, totdat laasgenoemde 'n soort van natuurlike saamkomplek geword het. Eindelik, op 3 Februarie 1906 besluit die kerkraad om 'n aanbod van die heer J.A.J.P. Jonker te aanvaar dat die waenhuis op sy plaas, Rietvallei, as kerkplek gebruik kan word. "Overeenkomst: Tusschen den Weled. Heer J. A. J. P. Jonker ter eene zyde en de Kerkraad der Gereformeerde Gemeente van Wolmaransstad ter andere zyde: De Weled. Heer Jonker als party ter eene zyde komt overeen ten behoeve van de Gereformeerde Gemeen-te van Wolmaransstad in gebruik te geven: 1. Syn wagenhuis voor openbaren eeredienst en verrichtingen in verband met de kerkgelegenheid; 2. Uitspanning en weiding voor de kerkdagen; 3. Water voor de menschen en dieren. De Kerkeraad der genoemde Gereformeerde Gemeente ter andere zyde verbindt zich: 1. het gebouw niet te beschadigen en in goede orde te houden; 2. dat de plaats, tuinen ens. niet beschadigd zullen worden door de kerkmensschen en houdt zich aansprekelyk voor mogelyke schade, door kerk-mensschen veroorzaakt; 3. een commissie aan te stellen om heel deze zaak van 's kerkraadszyde te behartigen. Party ter eene zyde J.A.J.P. Jonker. Party ter andere zyde J.D. du Toit, Praeses. Namens de Kerkeraad. Rietvallei. 5 Februari 1906."

Hierdie klein ooreenkoms was ook die moeite werd, want Rietvallei met sy waenhuis sou die plek vir eredienste bly tot 1911 toe Makwassie die formele saamkomplek met 'n eie kerkie geword het. Onder datum 27 Mei 1910 staan genotuleer: "Na uitvoerige bespreking wordt besloten te Maquassi de kerk te bouwen, mits er weidingsrechten gegeven worden over de dorpsgrond en zuipingsrechten." Hierdie toegewings is gemaak en op 18 November 1910 is twee planne, naamlik een van £633 en een van £450 vir 'n kerkgebou by die kerkraad ingedien. Terselfdertyd is gerapporteer dat die boufonds slegs £127.14.0 bevat. Op 'n gemeentevergadering van 24 Februarie 1911 is 'n boukommissie gekies bestaande uit J. Hoffman, L. Fouché, P. Venter, J.C. Botha en N.P. Fourie jr.

Reeds op 8 September 1911 kon die eerwaarde kerkraad notuleer: "De kerkopening wordt geregeld. De bouwcommissie zal haar voorzitter verzoeken voor de deur een korte toespraak te houden." Op laasgenoemde datum kon die boukommissie ook aan die gemeentevergadering rapporteer dat die totale boukoste £532 beloop, naamlik £500 vir die kerk, £29 vir die preekstoel, en £1.11.0 vir 'n klok en £1.9.0 vir diverse uitgawes. Die boufonds kon £332 byeenbring en £200 moes geleen word.

Die gemeente Wolmaransstad is deur die volgende konsulente vanuit Potchefstroom bedien: Ds. J.L. Maury (1899-1903), dr. J.D. du Toit (1903-1911), ds. W.J. de Klerk (1911-1919), ds. D.P. du Plessis (1919-1920), ds. D.N. Kotzé (1920-1921) en ds. J.V. Coetzee (1921-1923).

Die kerkie op Makwassie van £500 was nie alleen 'n gesogte plek vir lidmate van die Gereformeerde gemeente ten opsigte van alle kerklike bedrywighede nie, dog ook die Hervormde Kerk en Anglikaanse kerk het vir ruim tydperke van hierdie fasiliteit gebruik gemaak. Elke drie maande het die konsulent van Potchefstroom oorgekom en dan was dit 'n groot Nagmaalsnaweek op Makwassie. Lang rye ossewaens en tente was 'n gesig waaraan die inwoners van die dorpie hulle keer op keer kon verlustig. Hierdie tonele was nog ewe besielend as gereeld gedurende die twintigerjare van die 20ste eeu. Aan hierdie gemeente is 'n besondere geestelike klimaat besorg – 'n klimaat wat as waarborg teen baie jare van droogtes in die toekoms kon dien.

Danksy die dienste oor 'n lang tydperk van sestien jaar van dr. J.D. du Toit en ds. W.J. de Klerk. In die geval van dr. Du Toit is sy geestelike boodskappe warmer opgeneem deur baie draers en bewonderaars van die Totius-profesieë. In die geval van ds. W.J. de Klerk – vader van oudminister Jan de Klerk en oupa van oudpres. F.W. de Klerk – was lidmate sowel as nie-lidmate van die Gereformeerde Kerk bewonderaars van sy aangename en minlike persoonlikheid. Hierby moet ook die "voor"-ouderling van die gemeente, t.w. mnr. Nicolaas P. Fourie genoem word – 'n persoon wat vir drie jaar ook Provinsiale Raadslid van Wolmaransstad was, en wie se seun, Brand Fourie, voorbestem was om later verteenwoordiger van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies te wees.

Tydperk van kombinasies, 1924-1960 duimnael|links|300px|Ds. D.F. Malan het die saalkerk se hoeksteen is op 10 November 1956 gelê. Die argitek was Johan de Ridder.