duimnael|regs|270px|Die gebou waarin die Teologiese Skool met sy stigting op 29 November 1869 gehuisves is, voor dit vergroot is.
Die Teologiese Skool Burgersdorp was die opleidingskool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op Burgersdorp in die Noordoos-Kaap waar predikante en onderwysers van 1869 tot 1905 opgelei is, toe die skool na Potchefstroom verskuif het. Daar was dit die voorloper van die latere Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, nou die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit.
Agtergrond links|210px|duimnael|Ds. Dirk Postma was die grondlegger van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, die eerste predikant van die gemeente Burgersdorp en een van die eerste twee dosente aan die Teologiese Skool.
duimnael|regs|270px|Die destydse Teologiese Skool soos dit in 1876 vergroot is. Volgens die boukontrak is 'n "skoolkamer" gebou. Die tweede deur van links gee toegang daartoe. Die groot deur regs gee toegang tot die oorspronklike perdestal en die klein deur langsaan tot die oorspronklike waenhuis. Die oorspronklike deure van die perdestal en waenhuis is verbreek.
duimnael|links|180px|Ds. Jan Lion Cachet van 1869 tot 1875 ds. Dirk Postma se medeleraar in die gemeente terwyl albei doseer het aan die Teologiese Skool.
duimnael|240px|regs|Proff. Dirk Postma en Jan Lion Cachet by vyf van die eerste teologiese studente van die kweekskool op Burgersdorp: M. Pelser, S. Venter, L.J. du Plessis, M.P.A. Coetsee jr. en W.J. Snyman.
Die moeilikhede wat die Gereformeerde kerk Burgersdorp ervaar het om 'n eie leraar te bekom, was die vernaamste dryfveer vir die stigting van die Teologiese Skool. Die eerste voorlopige kerkraadsvergadering van dié gemeente is op 21 Januarie 1860 gehou. 'n Beroep is uitgebring op ds. J.W. te Bokkel, predikant van die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk te Ommen in Nederland, en die beroepsbrief is deur die ouderlinge en diakens namens die gemeente onderteken, maar daarin is die traktement vir eers onbepaald gelaat, terwyl die bedrag van £200 gestem is vir die bestryding van die koste in verband met sy oorkoms. Die traktement sou bepaal word in oorleg met die leraar as hy teenwoordig is.
Van ds. Te Bokkel is later berig ontvang dat hy die roeping nie aanvaar het nie; daarom is weer aandag geskenk aan hierdie belangrike saak. Ná bespreking is besluit om die beroepsbrief wel in te vul en te teken, dog nie 'n naam in te vul nie, maar om die beroepsbrief aan prof. Helenius de Cock van Kampen (dr. Anna Böeseken se oupa en 'n seun van ds. Hendrik de Cock, vader van die Afskeiding in 1834) te stuur met 'n behoorlike lasbrief om in naam van hierdie kerkraad 'n predikant te beroep. Waar, by die eerste geleentheid die beroep uitgebring is sonder vermelding van die traktement, is dit nou behoorlik vermeld, naamlik £250 per jaar, met vrye woning; en dat die bedrag vir die vervoer direk gereël sou word met ouderling Van Andel van 's-Hertogenbosch. Aan die konsulent is egter opdrag gegee om aan prof. De Cock te skryf dat hy nog 'n keer moes probeer om ds. Te Bokkel vir die gemeente te kry.
Prof. De Cock het gedurig pogings in die werk gestel om 'n predikant vir Burgersdorp te bekom, maar sy pogings is nie met sukses bekroon nie. Daarom het die kerkraad ernstig aandag begin skenk aan die vraagstuk van opleiding van predikante deur die Kerk self. So het die kerkraad op sy laaste vergadering, waarin ds. Postma as verantwoordelike konsulent opgetree het – want die kerkraad het ingewillig om ds. Beyer, predikant van Reddersburg, as konsulent te ontvang – besluit om die saak te berde te bring op die eerste Algemene Sinode van die Kerk. Die voorstel het daarop neergekom dat aan die Sinode voorgestel sou word om dit moontlik te maak vir een van die gemeentes om twee predikante te beroep en dat genoemde predikante dan saam met die bediening van die gemeente, aandag moes skenk aan die opleiding van aanstaande predikante.
Ds. Postma het opdrag van die kerkraad en die gemeente gehad om sodanige voorstel in naam van Burgersdorp op die Sinode te doen, maar of dit presies so geskied het, word nie in die handelinge van die Sinode vermeld nie. Die saak van die oprigting van 'n Teologiese Skool het wel die aandag van die Sinode geniet, maar die Sinode het nie daartoe besluit nie omdat die Kerk nog nie sterk genoeg was nie. Dit was egter maar die begin van hierdie saak, want hoewel die plan van die kerkraad nie deur die Sinode aanvaar is nie, het die kerkraad self dit nie laat vaar nie.
Net op die volgende Algemene Sinode, wat in 1863 gehou is, het die kerkraad weer aan sy afgevaardigdes opdrag gegee om voor te stel dat die Gereformeerde Kerk kragtig sal werk om 'n Teologiese Skool tot stand te bring en as die geldelike sake dit vir die teenswoordige nog nie mag toelaat nie, dat ten minste besluit moes word om gereeld vir die saak te kollekteer. Hierdie gedagte van die kerkraad is deur die Sinode bekragtig. Intussen is gereeld van prof. De Cock verneem dat hy geen sukses kon behaal met die verkryging van 'n predikant vir Burgersdorp nie. Dit het dus meer en meer vir die kerkraad duidelik geword dat daar geen hoop was op uitkoms vanuit Nederland nie.
Die behoefte aan 'n eie opleidingsaksie het dus gaandeweg dringender geword; daarom is op 'n kerk-raadsvergadering gehou op 25 Junie 1864 en waarop ds. Postma ook teenwoordig was, baie ernstig aandag geskenk aan die oprigting van 'n eie skool. Luidens die notule van die vergadering het ds. Postma 'n baie belangrike voorstel insake beter opleiding van predikante voorgedra en hy het hiervoor die steun van sowel die kerkraad as die gemeente verkry. Ds. Postma sou 'n paar weke in die geweste vertoef sodat die voorstel rustig oorweeg kon word. Sy gedagte het hierop neergekom dat die Kerk in die noodtoestand moes trag om ooreenkomstig art. 8 Kerkorde, dit wil sê langs die weg van singuliere (wat buitengewoon of uitsonderlik is) gawes, manne toe te rus om as predikante op te tree, aangesien dit nou duidelik was dat die hulp vanuit die buiteland baie twyfelagtig was. Hierdie toerusting moes dan nog maar geskied deur middel van die diensdoende predikante tot tyd en wyl 'n eie Skool opgerig kon word. Hierdie gedagte van ds. Postma het ook die volle steun van ds. Beyer geniet.
Die oorweging van hierdie gedagte van ds. Postma het egter voor sy vertrek na Transvaal 'n wending geneem wat hy blykbaar nooit kon voorsien het nie en ongelukkig ook nie kon steun nie. Toe die kerkraad weer op 15 Julie 1864 byeenkom, is hulle versoek deur die waarnemende konsulent om die name van sekere persone te noem wat moontlik onder art. 8 Kerkorde kon aansoek doen om toelating tot die studie. Die kerkraad het inderdaad twee persone se name genoem, maar op versoek van ds. Postma is toe besluit dat eers gepoog sal word om 'n vergadering van alle kerkrade van die Kaapkolonie te hou en wel op 9 September 1864.
Op 'n Buitengewone Kerkraadsvergadering gehou op 20 Augustus 1864 het die kerkraad onverwags aan ds. Postma 'n beroepsbrief tot professor in die Teologie oorhandig. Dit was vir hom klaarblyklik 'n verrassing, maar hy wou hom nie daaroor uitspreek nie, aangesien daar 'n vergadering van die kerkrade hangende was en daar juis oor die saak van die opleiding gehandel sou word. Op 9 September 1864 het die kerkraad van Burgersdorp tesame met verteenwoordigers van Middelburg, Colesberg, Philipstown en Aliwal-Noord vergader en toe het dit geblyk dat ds. Postma ook van die ander kerkrade elk 'n beroepsbrief tot professor in die Teologie ontvang het.
Die kerkraad van Burgersdorp het die gewigtige saak formeel aan die orde gestel deur sy voorstel aan ds. Postma gedoen hier te herhaal, naamlik dat sy eerwaarde afgesonder moes word om die werk van die opleiding van aanstaande predikante te behartig. Dit is ook deur die kerkraad van Middelburg gedoen. Toe hierdie saak bespreek word, het ds. Postma ook briewe vanuit Transvaal voorgelees, sommige waarvan offisieel en ander partikulier was, maar in almal is gehandel oor hierdie saak. 'n Brief is ook van ds. Beyer voorgelees waaruit geblyk het dat hy van mening was dat die tyd nog nie ryp was vir die daarstelling van 'n algemene Skool van die Kerk nie, maar dat hulle maar moes voortgaan ooreenkomstig die besluit van die laas gehoue Sinode, naamlik dat die diensdoende predikante die voornemende studente in hulle studie moes lei en dat die Sinode die kandidate self sou ondersoek en toelaat al dan nie.
Nadat die gedagtes van die vergadering duidelik aan die lig gekom het, het ds. Postma homself skriftelik verklaar oor die hele aangeleentheid. Uit die stuk wat hy in die vergadering voorgedra het, blyk dit duidelik dat hy hom verbly oor die belangstelling wat in hierdie belangrike saak geopenbaar is, maar dat nie uit die oog verloor moet word nie dat die opleiding van predikante 'n saak is wat deur die Kerk in sy geheel moet behartig word en gevolglik deur die Algemene Sinode daargestel moet word. Wat sy persoon betref het hy onomwonde verklaar, trots die kerkrade van mening was dat hy afgesonder moes word vir die werk van die opleiding van predikante, hy hom hoegenaamd nie bekwaam daartoe beskou nie. Hy het die kerkrade egter versoek om hulle begeerte insake die opleiding van predikante aan die eersvolgende Sinode bekend te maak.
Dr. G.P.C. van der Vyver skryf in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek oor ds. Postma: "Hoewel hy weinig skoolonderrig en teologiese opleiding ontvang het, stel Postma se hoë intellektuele begaafdheid en ywerige selfstudie deur die jare hom in staat om sy professorale pligte met eer na te kom. In sy onderrig sou hy 'n besondere liefde vir die ou tale openbaar, 'n voorliefde wat hy oorplant op sy nageslag. As professor moes hy die hele terrein van die teologiese wetenskap dek. Hy kon nooit sy studie op 'n bepaalde rigting toespits nie, en sy kennis en begrip van sommige vakke, waaronder kerkreg, kan selfs as swak bestempel word. Al die jare van sy verbintenis aan die skool dien hy dit ook op bekwame wyse as rektor."
Van der Vyver skryf in My erfenis is vir my mooi, die gedenkboek van die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool, ds. Postma was 'n vurige pleitbesorger vir Christelike onderwys en die beoefening van Christelike wetenskap. "vandaar sy ywer vir die oprigting van Christelike skole, die oprigting van die Teologiese Skool in 1869, die uitbouing van hierdie inrigting sodat dit altyd meer diensbaar kon wees aan kerk en volk. Voortdurend het hy gepleit vir die ereplek van Hollands naas Engels en vir die deeglike onderrig van Vaderlandse Geskiedenis." Van der Vyver sê Postma se woorde voor die sinode van 1873 was sprekend van sy visie vir Christelike opleiding toe hy 'n eie inrigting in die vooruitsig stel, 'n normaalskool waaraan onderwysers kon studeer en 'n inrigting wat vir universiteitsgrade kan oplei, om daarna vir doktor of advokaat te gaan studeer, en die wat wens om predikant te word, kan aan die inrigting hulle hele opleiding geniet met 'n universiteitsgraad. Dit was inderdaad ds. Postma, die versiende idealis, wat vooruitgegryp het na 'n eie inrigting vir hoër onderwys, die uiteindelike Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O., en die eerste stene gelê en daarop begin bou het.
Stigting
duimnael|regs|350px|Die studente en dosente van die Teologiese Skool in 1892. Proff. Jan Lion Cachet (derde van links) en Stephanus Postma (vierde van links) sit in die middelste ry.
duimnael|links|340px|Op 1 September 1886 is hierdie gebou deur die Vrye Christelike Skool en die Teologiese Skool betrek. Die foto is bes moontlik geneem met die ingebruikneming daarvan.
duimnael|340px|links|Die studente en professore van die Teologiese Skool in 1888. In die voorste ry sit, tweede van links, Stephanus Postma, gevolg deur prof. Dirk Postma, prof. Marthinus Postma en P.S. Snyman. Agter, derde van links, staan J.A. van Rooy.