Alexander Strachan (1955-) is 'n Afrikaanse skrywer. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit. Hy studeer tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en later ook literatuur-wetenskap aan Unisa. Hy word 'n professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland; hy praat Zoeloe vlot. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort.

Lewe en werk duimnael|regs|300px|Geboue op die perseel van die destydse Hoër Landbouskool Tweespruit, later die Hoërskool Unicorn, waaraan Strachan in 1972 gematrikuleer het.

Alexander Strachan is op 9 Junie 1955 op Ladysmith in Natal gebore as die oudste van drie kinders. Hy het ’n jonger broer en suster. Sy voorouers is aanvanklik van Skotse afkoms, maar hulle verafrikaans gou in Suid-Afrika. Sy oupagrootjie was bekend as oom Daantjie, wat ’n houtbeen gehad het en ’n slaghuis op Harrismith besit het. Selfs nadat hy blind geword het, gaan hy aan om die slaghuis te bestuur en beeste aan te koop deur op beskrywings staat te maak. Alexander is vernoem na sy oupa, Alexander Strachan, wat op 3 Oktober 1899 in Bloemfontein gebore is, agt dae voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Sy oupa word tydens die oorlog in die Sannaspos-konsentrasiekamp geplaas, maar oorleef hierdie ontbering om eindelik 78 jaar oud te word. Van Bloemfontein trek sy oupa, pa en neefs oos en beland so in die Collingspas-distrik, waar sy oupa die familieplaas Oude Hamelberg bekom deur huurlande met ’n span osse te bewerk. Later bekom hy ook die buurplaas deur die eerste motor in die kontrei vir die plaas te verruil. Alexander word groot op die beesplaas Monoughmore naby Ladysmith waar hy saam met werkerskinders speel en vlot Zoeloe leer praat.

Aanvanklik leer sy ma hom op die plaas en hy begin sy formele skoolopleiding dan aan die Keatestraat Skool op Ladysmith. Op dertienjarige ouderdom trek hulle na ’n ander plaas toe en na ’n paar jaar gaan hy in standerd agt koshuis toe en matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit naby Bloemfontein. In matriek is hy die Dux-leerling van die skool. Tydens sy militêre diensplig hierna word hy valskermsoldaat en hy word gekeur vir die verkenningskommando, algemeen bekend as die recce's. Hy neem deel aan verskeie Weermagoperasies, onder andere in Angola, welke ondervindings ’n groot invloed het op sy latere skryfwerk. Hierna studeer hy verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein en behaal in 1977 die B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands, Zoeloe en Suid-Sotho as hoofvakke. In 1979 verwerf hy die B.A. Honneurs-graad in Bantoetale en in 1980 die M.A.-graad met ’n verhandeling oor “Karakterisering in J.M. Ngcobo se ‘Qhude Manikiniki’”. Nadat hy Etienne Leroux ontmoet en na ’n letterkundekonferensie op Leroux se plaas by Koffiefontein genooi word, begin hy skryf.

Hy neem in 1978 ’n betrekking aan as dosent in Afrikatale by sy alma mater in Bloemfontein, waarna hy in 1981 aangestel word by die Universiteit van Suid-Afrika as lektor in die Departement Afrikatale. In 1982 is hy terug by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat as senior lektor en in 1985 keer hy terug na die Universiteit van Suid-Afrika as senior lektor. Hy skryf hom by die Universiteit van Pretoria in vir sy doktorsgraad en behaal in 1988 die D.Litt.-graad met ’n proefskrif oor “’Uthingo Iwenkosazana’ van D.B.Z. Ntuli: ’n narratologiese ondersoek”. In Pretoria woon hy in ’n meenthuis in Faerie Glen. By die Vista-universiteit net buite Pretoria word hy hierna in 1990 aangestel as professor in Zoeloe, ’n pos wat hy in 1994 verlaat om lektor in Afrikaans te word aan die Universiteit van Zoeloeland, terwyl hy op sy eie wildsplaas Moyeni (wat “Plek van die wind” beteken) by Ladysmith in Natal bly. In 1995 word hy bevorder tot senior lektor. In hierdie tyd doen hy navorsing vir ’n tweede doktorsgraad, hierdie keer in Afrikaans, met die onderwerp ’n vergelyking van “Toorberg” van Etienne van Heerden met enkele Zoeloe tekste deur D.B.Z. Ntuli. Hierdie navorsing doen hy aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Louise Viljoen. Na sy bedanking uit die akademie hou hy hom voltyds besig met wildboerdery en sy skryfwerk.

Hy is verantwoordelik vir vele navorsingpublikasies in vaktydskrifte, asook populêre publikasies wat in De Kat, Insig en Tydskrif vir Letterkunde verskyn. In 1995 kry hy ’n Pica-toekenning vir joernalistiek met sy artikel “Terug na die Caprivi”, wat in Julie 1995 in De Kat verskyn. In 2002 skryf hy ’n artikel in Insig oor die Suid-Afrikaanse militêre operasies in Angola, waarvoor hy benoem word vir ’n Mondi-benoeming vir die beste artikel. Hy tree op by die Wits-beraad van 1985, waar hy sy eie werk en dié van tydgenote soos Etienne van Heerden, Louis Krüger en Koos Prinsloo bespreek. In 1997 gee hy by die Indaba skryfslypskool op Brits leiding met die skryf van prosa, terwyl hy ook verskeie lesings by die Afrikaanse Skrywersgilde se beraad en die Weekly Mail se boekeweek hou. Sy professionele lidmaatskappe sluit in die Afrikaanse Skrywersgilde (waar hy ook vir ’n termyn van twee jaar voorsitter is), die Afrikaanse Letterkundevereniging en die Afrikatale-vereniging van Suider-Afrika.

Waar hy aanvanklik gaste op die chalets op sy wildsplaas Moyeni naby Ladysmith ontvang en ook ’n restaurant bedryf, stop hy op die ingewing van die oomblik hierdie bedrywighede en bly daarna in privaatheid alleen op die plaas. Later trek hy tydelik Johannesburg toe, waar hy ’n kothuis in Melville huur en steeds universiteits- en korporatiewe opleiding gee. Hy koop verder die wildsplaas Mphemba (wat “draaijakkals” beteken) net buite Heidelberg, wat hy na drie jaar weer in 2001 verkoop. In 2004 koop hy en sy broer Johannes sy oupa se familieplaas naby Harrismith in Natal waar hy met beeste boer. Aangesien die oorspronklike opstal vernietig is, vestig hy hom in ’n huis op die dorp. Hy is ’n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied. Op jeugdige ouderdom is hy vir drie jaar getroud voordat hy skei en gedurende 1988 ly hy aan erge depressie, so erg dat hy slegs tussen lig en donker kon onderskei. Daarna verkies hy om swart en wit klere te dra. Later verhuis hy na Clarens in die Vrystaat, waar hy voltyds skryf.

Skryfwerk Kortverhale In 1979 begin hy om kortverhale te skryf, waarvan sommiges (soos “Huldeblyk” in Februarie 1980) in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer word. Hy maak sy debuut met die kortverhaalbundelAucamp, Hennie “Dagblad” HAUM-Literêr Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe Eerste Druk 1987 “’n Wêreld sonder grense”, bestaande uit nege aaneengeskakelde kortverhale,Buys, Junita “Kakkerlak” Uitgawe 2, 2005 wat almal onderdele is van ’n oorlogsverhaal.Roos, Henriette “Standpunte” Nuwe reeks 184, Augustus 1986 Deur die tema van die grensoorlog verkry die titel beide ’n ironiese en paradoksale betekenis. Die grense binne die mens en die grense van menslikheid word ook oorgesteek sodat die mens mettertyd al hoe verder gaan en al hoe meer soos ’n dier of masjien word, met die geweld wat in kort sinne en emosieloos beskryf word. Hoewel sommige van die kortverhale beide binne die geheel en afsonderlik funksioneer, kan ander se vermoë om outonoom te funksioneer bevraagteken word weens ’n te sterk afhanklikheid van die kruisverwysings in die bundel.Smuts, J.P. “Die Burger” 13 September 1984 In hierdie verhale is deurlopende bindingselemente die soektog na ’n dubbelganger, ’n bloedskandelik-getinte verhouding tussen ma en seun (na aanleiding van die Oedipus-figuur in die mitologie),Smuts, J.P. “Burgerband” Tafelberg-Uitgewers Beperk Kaapstad Eerste uitgawe 1985 buitestaanderskap, eksistensiële wanhoop en bevestiging van bestaan deur sinlose seks en geweld. Die afstomping wat volg na blootstelling aan te veel geweld word geïllustreer deur die gebrek aan emosie waarmee andersins skokkende gebeurtenisse oorgedra word.Van Zyl, Ia “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 23 no. 2, Mei 1985 Daar is egter ’n toonaard van werklikheid en onmiddellikheid in die verhale wat die leser laat voel dat die verteller die gebeure werklik deurleef het. Deur die loop van die boek groei die verteller van jong seun wat nie die weermag en oorlog ken nie tot ’n geharde soldaat, wat na sy traumatiese ervarings sukkel om in die samelewing en in gesinsverband aan te pas. “Visioen” is die laaste verhaal in die bundel. Die verteller word weer uit die burgerlike milieu opgeroep en beveel om die groep soldate wat een van Swapo se basisse ingeneem het en weier om te onttrek, te oorreed om terug te keer. Die bevelvoerder van hierdie eenheid is Jock, die verteller se eertydse spanleier en vriend. Jock weier om te onttrek, waarna die verteller hom vermoor. Hy neem bevel oor van die groep soldate en probeer dan om die visioen van sy vader, naamlik ’n eie volk om oor te regeer, te verwesenlik. Hierdie kortverhaal word deur Abraham H. de Vries in “Die Afrikaanse kortverhaalboek” opgeneem, die belangrikste versamelbundel van Afrikaanse kortverhale. “’n Wêreld sonder grense” word in 1985 met die Eugène Marais-prys bekroon en verower ook die FAK se Helpmekaar-prys vir ontspanningsleesstof. In 1987 word die verhaal verfilm, waarvoor Strachan self die draaiboek skryf. Die boek word ook in Engels en Nederlands vertaal en aan verskeie universiteite voorgeskryf.

“Agter die suikergordyn”Kannemeyer, J.C. “Rapport” 22 Maart 1998 se nege kortverhale het ’n opmerklik ligter aanslag.Kannemeyer, J.C. “Op weg na 2000” Tafelberg-Uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998 Die titel het betrekking op ’n Zoeloelandse verblyf, maar dui ook op afgesonderdheid en ’n wêreld met grense, waar dinge aan verskillende kante van die grens anders beleef word.Van Coller, H.P. “Insig” Maart 1998 Hierdie bundel ondersoek veral die Afrikaanse leefwyse na demokratisering, met verskeie van die verhale wat kennelik outobiografies is. Op die oog af verander weinig aan die leefwyse, met rugby, partytjies, jagtogte en seks wat bedryf word soos voor die koms van demokrasie.Visagie, Andries “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 35 no. 2, Mei 1998Hierdie leefwyse word gekontrasteer met die flardes herinneringe aan die traumatiese ervarings as soldaat aan die grens. Terwyl die grensoorlog steeds nie verdwyn het uit die Afrikaner-psige nie, gesels eertydse vyande tydens ’n herbesoek aan die Caprivi lekker saam. Nou is die Boere-soldate egter vegters aan die kant van die MPLA in Angola en nie Unita nie, want ’n soldaat veg aan die kant wat hom goed betaal. So word morele oortuigings nou vervang deur ekonomiese oorwegings. Deur suggestie gee die bundel dan indringende kommentaar op die rigtingloosheid van die Afrikaner na demokratisering. Soos in sy eerste bundel kortverhale is hier ’n hegte eenheid, wat meegebring word deur ’n ek-verteller in al die verhale en verskeie karakters wat in opvolgende verhale herverskynings maak, terwyl die verhale ook chronologies op mekaar volg. Van sy kortverhale word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder “Die Afrikaanse kortverhaalboek”, “Story Flight”, “Koker”, “Kort-kort”, “Die wond en ander verhale” en “Vuurslag”. Hy publiseer ook kortverhale in letterkundige tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde.

Romans