duimnael|regs|340px|Die Gereformeerde kerk op Reddersburg. Die hoeksteen is op 27 Junie 1925 deur ds. A.S.E. Yssel gelê en die kerkgebou is gedurende 28 tot 30 Januarie 1927 in gebruik geneem.
Die Gereformeerde kerk Reddersburg is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in die Vrystaat en een van die sewe oudste Gereformeerde kerke wat almal gestig is in 1859, die stigtingsjaar van dié kerkverband. Uit dié gemeente is nege dogtergemeentes afgestig, naamlik Bethulie, Ventersburg, Fauresmith, Boshof, Ladybrand, Petrusburg, Thaba Nchu, Wepener en Bloemfontein. Die dorp Reddersburg het sy ontstaan aan die stigting van hierdie gemeente te danke.
Voorgeskiedenis en stigting duimnael|links|270px|Die ou Gereformeerde kerk op Reddersburg, nou die Postmasaal. Hoewel dit nie meer as kerk gebruik word nie, is dit die oudste bestaande kerkgebou van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
regs|200px|duimnael|Die gedenkteken op die kerkperseel vir die burgers wat gesneuwel het in die Tweede Vryheidsoorlog.
duimnael|270px|links|Die inwyding van die tweede Gereformeerde kerk op Reddersburg in 1863.
duimnael|regs|250px|Lugfoto van die kerkperseel tydens die eeufees in 1959.
duimnael|links|270px|Reddersburg se eerste Gereformeerde pastorie.
duimnael|270px|regs|Die Gereformeerde kerk Reddersburg.
duimnael|links|270px|Die gedenksteen by die kerk ter viering van die gemeente se honderdjarige bestaan.
ln die Oranje-Vrystaat was daar al voor die koms van ds. Dirk Postma na Suid-Afrika in 1858 lidmate wat hulle nie kon versoen met die leer, diens en tug van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat nie. So word melding gemaak van die Volksraadslid Jacobus Johannes Venter van die plaas Kaalspruit in die distrik Bloemfontein wat hy hom van "de leraar (ds. Andrew Murray) en kerkraad afgescheiden heeft, omreden zij niet het Evangelium en de Bekering in zijn rechte zin en betee kenis verkondigen". Hy het gevolglik ook namens andere ’n brief na Nederland gerig waarin hy versoek dat 'n gereformeerde leraar gestuur sou word "opdat het goede Woord de Heeren in Geest en waarheid mag verkondigd worden". Hy het 'n leraar verlang soos Koenraad Mel, Smijtegeld, Brakel en Van Leeuwen. Van so groot betekenis was hierdie saak vir hom dat hy bereid was om al sy besittings te verbind vir die reiskoste en onderhoud van die predikant, "als hij maar met blijdschap mag opgaan in 's Heeren Huis".
Die afskeiding het in die Vrystaat dus reeds voor die koms van ds. Postma plaasgevind. Daarom rig hy reeds op 3 Februarie 1859 'n brief aan ds. Postma met die versoek om oor te kom om behulpsaam te wees by die beroeping van nog 'n leraar uit Nederland. Ds. Postma kon nie dadelik na die Vrystaat kom nie, omdat op die eerste kerkraadsvergadering van Rustenburg (11 Februarie 1859) besluit is dat die leraar eers soveel moontlik die Zuid-Afrikaansche Republiek sou deurreis. Nadat hy dan enkele gemeentes in die ZAR gestig het, het ds. Postma in Mei 1859 na die Vrystaat gekom, en op 12 Mei 1859 is die gemeente hier in die Vrystaat gestig. Dit het plaasgevind op 'n plaas in die distrik Bloemfontein. Oorlewering wil dat dit plaasgevind het op die plaas Thorbreck (of in die omgangstaal genoem Dorbreek), 'n plaas wat behoort het aan 'n veldkornet J.P. van der Walt en ongeveer twintig myl noordoos van die huidige Reddersburg geleë is.
Volgens die roosterboek van ds. Postma het op die dag van stigting 45 lidmate aangesluit. Ds. Postma het meer as 'n maand in die omgewing vertoef, en volgens gegewens het die gemeente op 10 Junie reeds aangegroei tot 179 lidmate. Die eerste kerkraad het uit die volgende lede bestaan: ouderlinge: Jacs. J. Venter, Johs. P. van der Walt, Johs. Venter; diakens: Michiel A. van der Walt, Tjaart Johs. van der Walt en Roelof van der Walt. Ongelukkig ontbreek die eerste notules van die kerkraad. Die notuleboek begin op 20 Augustus 1859. Daaruit blyk dat die gemeente besluit het om 'n nuwe dorp as kerkplek aan te lê. Ongelukkig word geen rede genoem waarom besluit is om tot so 'n stap oor te gaan nie. Vir die aanlê van die nuwe dorp is die plaas Vlakfontein van diaken M.A. van der Walt vir die prys van £3 598-5-2 aangekoop. Geld vir die doel is opgeneem hy twee lidmate, naamlik A.A. Venter en sy seun F.J. Venter, albei van die plaas Exrivier.
Oor die naam van die dorp was daar nogal verskil. Oudl. J.J. Venter wou nie die naam "Reddersburg" gehad het nie, 'n naam wat op daardie datum al in omloop was. Sy beswaar was onder meer "omdat wij onszelven niet boven onzen Heiland verheffen, daar wij ons niet als redders kunnen beskouwen". Hy wou die naam Dordrecht aan die dorp gee. Oudl. J.P. van der Walt het egter verklaar "dat Dordrecht niet de stichter onzes geloof is, maar wel God, onzen Redder". Daarmee wou hy die gepastheid van die naam Reddersburg aandui. 'n Ander beswaar wat teen die naam ingebring is, is dat dit aan ander nog 'n verdere geleentheid sou bied om met die Gereformeerdes te spot. Dit is dan ook bekend dat in 'n koerant van daardie tyd allerhande smalende opmerkings gemaak is oor die dorp wat die "Doppers" gestig het. Ten spyte van al die besware het die kerkraad tog besluit om die naam Reddersburg te behou.
Interessant is die koopvoorwaardes wat die kerkraad vir die verkoop van erwe bepaal het. Die koper of toekomstige eienaar moes hom ten alle tye rustig en vreedsaam en onderworpe hou en geen persoon of persone op die erf toelaat wat kwelagtige of laakbare woorde uiter nie. Indien hy nie hieraan gehoor gee nie, kon sy erf verbeurd verklaar word. Verder is ook bepaal dat geen kerk of skool of openbare godsdiensoefening op die dorp Reddersburg getolereer sou word sonder toestemming van die kerkraad nie.
Die stigting van 'n eie dorp onder beheer van die kerkraad was geen ongemengde seën vir die gemeente nie. Dit het baie moeilikhede en probleme meegebring wat eintlik nie tot die werk van die kerkraad behoort nie. Gedurende die eerste jare word dan ook die meeste van die kerkraad se tyd in beslag geneem deur dorpsake, soos goedkeuring van die verkoop van erwe, invordering van rekognisiegeld, waterverdeling, beheer oor verkoop van drank, en so meer. Tot oormaat van ramp het die Volksraad, om te besuinig, ook nog die landdros en die konstabel van Reddersburg weggeneem, as gevolg waarvan heelwat onwettighede op die dorp plaasgevind het, waaraan die kerkraad eintlik niks kon doen nie. Herhaalde vertoë van die kerkraad tot die Uitvoerende Komitee kon egter baie jare lank hierin geen verandering bring nie. Van daar reeds vroeg al die gedagte by sommige kerkraadslede om die dorp oor te maak aan 'n munisipaliteit. Dit sou egter nie gebeur voor 1894 nie, toe die kerkraad afstand gedoen het van die besit van die dorp vir die skamele bedrag van £33 per jaar as ewigdurende erfpag, behoudens enkele onbelangrike serwitute.
Wat nou die eintlike kerkwerk betref, is dadelik oorgegaan tot die oprigting van 'n kerkgebou. In Oktober 1859 is die kerkgebou voltooi, maar die uitbreiding van die gemeente was so vinnig dat reeds in November besluit is om die kerk te vergroot. Ds. Postma het die gemeente as konsulent bedien. By afwesigheid van die konsulent, is die eredienste deur 'n voorleser waargeneem wat teen ’n vaste bedrag per jaar aangestel is. Die ouderlinge en diakens het beurtorde ontvang om die eredienste op die dorp by te woon. Alleen oudl. J.J. Venter is hiervan onthef omdat sy menigvuldige staatspligte hom nie toegelaat het om gereeld op Reddersburg te wees nie.
Ds. J. Beijer (1862-1869) links|duimnael|180px|Ds. Johannes Beijer, uit Nederland beroep en van 1862 tot 1869 Reddersburg se leraar, waarna hy, terwyl hy in Nederland met verlof was, besluit het om daar te bly.
duimnael|250px|regs|Die Statebybel wat die gemeente destyds gebruik het.
duimnael|links|330px|Ds. J. Beijer en sy tweede vrou, Beitske van der Heide (30 Junie 1823 – 4 November 1875), met wie hy op 22 Maart 1862 in die huwelik bevestig is op Reddersburg. Die seuntjie met die sweep in die hand is die latere ds. J. Beijer, predikant van die Hervormde gemeente Zeerust en later van Standerton. Ds. Beijer het eindelik die Gereformeerde Kerk verlaat en is op 1 Maart 1876 in Rotterdam oorlede.
duimnael|350px|regs|Stigters van die Gereformeerde kerk Reddersburg wat met die halfeeufees in 1909 nog gelewe het, by ds. L.J. du Plessis (regs).
As eerste herder en leraar van die gemeente is beroep ds. Johannes Beijer, van Leeuwarden, Nederland. Hy was 'n student van ds. Postma in hul vaderland. In November 1861 word hy in die gemeente verwelkom en in Februarie 1862 word hy deur ds. D. Postma in sy amp bevestig. Met sy aankoms hier was die gemeente al besig om 'n nuwe kerkgebou op te rig, waarvan ds. D. Postma die hoeksteen gelê het. Op 2 Januarie 1863 is die nuwe kerkgebou betrek wat teen 'n koste van £5,100 opgerig is. In daardie stadium het die gemeente ongeveer 570 lidmate getel.
Ds. Beijer het 'n wye arbeidsveld gehad. Hy was eintlik predikant van die hele Oranje-Vrystaat. Dit het beteken dat hy ook dikwels van Reddersburg afwesig was om oral wyksdienste te hou. Bowendien het hy ook nog opgetree as konsulent van die gemeentes in die Kaapkolonie. Hierdie toestand het gemaak dat daar naderhand ontevredenheid op Reddersburg ontstaan het. Gevolglik het die kerkraad besluit dat die konsulentsgemeentes vir elke keer dat ds. Beijer by hulle dienste hou, £5 moet betaal aan die kerkkas van Reddersburg, iets wat die gemeentes geredelik gedoen het.
Behalwe hierdie arbeid het ds. Beijer ook nog studente opgelei vir die amp van bedienaar van die Woord. Studente wat by hom opleiding ontvang het, was S.D. Venter, J.S.L. Venter, A.A.J. de Klerk Coetzee en J. Kloppers. Van hierdie studente het alleen S.D. Venter in 1866 sy studie onder ds. Beijer voltooi. Die ander studente het ná 1866 na Burgersdorp vertrek en hulle studie onder ds. Postma voltooi, behalwe J. Kloppers. Dit spreek vanself dat op die duur Reddersburg nie die enigste kerkplek in die hele Vrystaat kon bly nie. Daarvoor was die gebied van die gemeente te uitgestrek. Daarom het vanaf 1862 versoekskrifte by die kerkraad ingekom van verafwonende lidmate om afgestig te word tot selfstandige gemeentes. Dit het onmiddellik probleme vir die kerkraad geskep. Want die Gereformeerde Kerk in die OVS het spesiaal teen groot koste 'n dorp in die Vrystaat aangelê as kerkplek. Bowendien is groot koste gemaak om die leraar vanaf Holland te laat oorkom en alles op Reddersburg behoorlik in te rig. 'n Duur kerk, vir daardie tyd, was in aanbou. Daarom is die houding van die kerkraad te verstane toe die lidmate wat op Heidelberg (Bethulie) gewoon het, in Julie 1862 met die versoek kom om af te stig. Die kerkraad het die saak eindelik so opgelos dat op Bethulie kerkraadslede verkies mag word, 'n hulpkerk daar gebou mag word, maar dit alles onthef hulle nie van hulle verpligtinge teenoor Reddersburg nie. Baie duidelik word gestipuleer dat Bethulie nie 'n afsonderlike gemeente word nie, maar "Bethulle bly as 't ware Reddersburg, in alles een, slegs die plek van godsdiensoefeninge is daar". Hulle mag ook geen predikant "beroep sonder toestemming van die leraar nie, en sal elke sewende week dienste op Bethulie ontvang. Hoe lank Bethulie in hierdie verhouding tot Reddersburg, gebly het, is nie uit die notule van Reddersburg te bepaal nie. Waarskynlik het Bethulie eers in die sewentigerjare selfstandig geword toe ds. S.D. Venter daar as predikant bevestig is. (Later is die stigtingsdatum as 1863 bepaal.)