Karl Kielblock (* 23 Oktober 1907, Beaufort-Wes - † 26 November 1991, StrandKarl Kielblock in Strand oorlede, Beeld, 27 November 1991) was 'n Afrikaanse skrywer van ontspanningslektuur. Hy skryf jeug- sowel as volwassefiksie. Verskeie van sy werke speel af teen 'n historiese agtergrond, hy lewer ook 'n beduidende bydrae tot die moord- en speurverhaalgenre in Afrikaans.Springbokboeke: http://www.springbokboeke.co.za/html/skrywers.html#K Deur die loop van sy loopbaan verskyn daar meer as 40 boeke uit sy pen.Storiewerf: http://www.storiewerf.co.za/cvs/cv_karelkielblock_ph.htm

Lewe en werk Karl August Kielblock is op 23 Oktober 1907 op Beaufort-Wes gebore as die naasjongste van elf kinders. Sy vader, ’n ingenieur by die poskantoor, is Herman Frederick Kielblock en sy moeder is Karoline Luïse, gebore Artz. Sy ouers praat meestal Duits maar ook Engels by die huis. In 1914 is sy vader oorlede, toe hy slegs sewe jaar oud is, waarna sy moeder alleen na die groot gesin moes omsien.

Hy ondergaan sy skoolopleiding op sy geboortedorp en matrikuleer in 1925 aan die Beaufort-Wes Boys High School. Met ’n lening studeer hy aan die Paarlse Onderwyskollege en bekwaam hom in 1927 as laerskoolonderwyser. Hy begin sy loopbaan as onderwyser in 1928 aan die Laerskool Hendrik Louw in die Strand in die Wes-Kaap en hou hier skool tot met sy aftrede as onderhoof aan die einde van 1967. Daar is slegs ’n onderbreking van ses maande, wanneer daar weens die groot leerlingtal by Hendrik Louw besluit word om af te stig en die Laerskool Lochnerhof in Julie 1956 tot stand kom. Vanaf Julie tot Desember 1956 neem hy dan waar as hoof aan hierdie skool.

Sy liefde vir skryf veroorsaak dat hy verskeie hoofskappe van die hand wys om sodoende genoeg tyd te hê om hom op sy skryfwerk toe te lê. Hy is ’n ywerige sportman en speel tennis, rugby, krieket, sokker en gholf. Vir jare is hy voorsitter van die Strand Tennisklub en word later lewenslange lid, terwyl hy ook by talle geleenthede die Bolandse Tenniskampioenskap in die Strand reël.

Verder is hy die laaste voorsitter van die ou Munisipale Biblioteek voordat dit deur die Provinsiale Biblioteek vervang is. Na sy aftrede in 1967 wy hy hom voltyds aan sy skryfwerk. In die Strand raak hy bevriend met Mikro, wat hom aanspoor om te skryf en ’n groot invloed op sy vorming as skrywer uitoefen.

Hy trou op 31 Maart 1939 met Susan Vera Abel, wat ook ’n onderwyseres by Laerskool Hendrik Louw is, en die egpaar het twee kinders, ’n seun (Johan) en ’n dogter (Suzette).

Karl Kielblock is op 27 November 1991 in die Strand oorlede.Anoniem. Kielblock van Jasper le Feuvre-faam sterf. Die Burger, 27 November 1991Du Plessis, Bertie. Kielblock se dood soos dié van ou vriend. Beeld, 5 Desember 1991Korrespondent. Bekende Karl Kielblock is oorlede. Die Volksblad, 27 November 1991

Skryfwerk Aanvanklik publiseer hy ’n aantal versies en kortverhale in tydskrifte. Hy spits hom later toe op die skryf van ontspanningsverhale wat deur sowel oud as jonk gelees kan word en eindelik word meer as veertig van sy boeke gepubliseer. Sy skryfloopbaan begin in alle erns wanneer hy sy leerlinge aanspreek oor hulle verbeeldinglose opstelle. Hulle vra hom toe hoe dit dan gedoen moet word en hy skryf paragrawe op die swartbord oor ’n pistoolskoot wat hulle hoor terwyl hulle op die strand speel. Hulle hardloop oor die sandduine om te kyk wat aangaan en hy beveel hulle om verder te skryf. Hy sou ook sy eie weergawe skryf. Die klas soebat hom toe om die “opstel” te voltooi en Die skat van Java, sy eerste boek, is die resultaat. Dit is ’n seerowerverhaal wat twee kere in gedramatiseerde vorm deur die SAUK se radiodiens uitgesaai is. Die legendariese skat van Java is aangedui op ’n skatkaart, maar die twee helftes is in die besit van twee manne wat aartsvyande van mekaar is en nie met mekaar wil saamwerk nie. Die gepaardgaande intriges soos die partye probeer om met lis die ander te uitoorlê sorg vir volop spanning en ’n vaartbelynde verhaal. Ongelukkig is die taal en styl van hierdie verhaal nog onbeholpe. Gideon Roos verwerk die boek vir die radio en dit word in 1938 uitgesaai. Die radioverwerkings is so gewild onder die jeug dat daar in Die Jongspan daaroor berig word, waarna hy die verhaal verwerk met ’n jong seun as held, wat in 1964 uitgegee word as Die verlore skat. Sy geskiedkundige en tegniese navorsing is altyd baie deeglik, sodat sy seeterme agter in hierdie boek die eerste keer is dat so iets in Afrikaans verskyn. Hy besoek ook die areas waar sy verhale afspeel voor die tyd. Soos Die skat van Java is baie van hierdie boeke spanningsverhale.

Spanningsverhale Skuil in die skaduwees is ’n moderne spioenasieverhaal, waar luitenant Arné Herholdt van die Veiligheidspolisie ’n man agtervolg wat per valskerm in Suid-Afrika neergelaat word om ’n waardevolle pakkie in Kimberley te besorg.

Eben Lingar oorleef in Die Raaisel in die spieël ’n helikopterongeluk waarin sy neef Dirk sterf en sy gesig deur die vlamme vermink word. In die hospitaal word Eben vir Dirk aangesien en dit pas hom, want hy word verkeerdelik van die moord op sy oom verdink. Eben ondergaan plastiese snykunde en na sy ontslag word hy as Dirk ingetrek in ’n organisasie wat die landsveiligheid bedreig. Hy verkoop inligting oor eksperimentele wapentuig aan Shirley Groschke se ouers se ryk vriende wat hulle in staat sal stel om meer geld op die aandelebeurs te maak. Hulle is egter landsvyande en die Veiligheidspolisie kom op Eben se spoor.

Die erfenis vertel van ’n man wat diamante as erfenis ontvang, maar dan in allerhande intriges betrokke raak. Ross Burkard se vrou Marguerite verklaar onverwags dat sy hom gaan verlaat en sterf dan kort daarna in ’n raaiselagtige motorongeluk. Sy laat vir hom ’n unieke versameling diamante as erfenis na en hy het geen idee waar sy daaraan gekom het nie. In sy soektog na die waarheid ontmoet hy die weduwee Naomi Rykse, wat deur onbekendes geterroriseer word om haar grond in die hande te kry en haar kind ontvoer. Blykbaar weet hierdie terroriste ook van Marguerite en haar diamante.Brink, André P. Rapport. 3 April 1983

Liefdesverhale Sonia Clercq is ’n grappige liefdesverhaal met geestige situasies en gevatte dialoog. Sonia erf die plaas Verlatenheid van haar oom Jaap nadat sy haar verlowing met Giel Suter verbreek het. Haar familie raai haar af om in hierdie wilde wêreld te probeer oorleef, want Verlatenheid het sy naam verdien. Sy steur haar egter nie aan die waarskuwings nie. Uit die staanspoor lyk dit of alles teen haar is en gou bots sy met haar buurman, Joël Dancker.

Rivier van drome is ’n liefdesverhaal wat afspeel teen die agtergrond van die delwerye aan die oewers van die Vaalrivier. Lidia Lessiter daag vrou alleen op in hierdie ruwe manswêreld op soek na haar man Charl. Sy moes hulle plaas in die Oostelike Provinsie afgee aan skuldeisers en hulle enigste kind is dood aan ontbering. Charl is egter ’n swakkeling en ook hier op die delwerye staan Lidia effektief alleen. In hierdie omstandighede wonder sy of sy steeds getrou moet wees aan haar man, veral noudat ’n nuwe liefde op die horison verskyn.

Werke teen 'n historiese agtergrond Verskeie van sy werke word teen ’n historiese agtergrond geplaas. Lodewyk Alleman se soektog speel af in die geskiedenis van Suidwes-Afrika (nou Namibië), in die tydperk nadat die kleurlingstamme in die omgewing van die Oranjerivier die rivier oorgesteek het, die Namastamme oorrompel het en al verder noordwaarts getrek het totdat hulle met die Herero-nasie gebots het. Lodewyk Alleman is ’n kleurlingseun wat in die barre suidelike geweste van hierdie land die skynbaar onmoontlike aandurf. Nadat hul jaggeselskap uitgemoor word deur ’n gewetenlose Nama-rowerbende, besef hy dat hulle sy vader se lewe gespaar het omdat hy as smid vir hulle baie nuttig is. Lodewyk onderneem om hom te gaan red. Op pad kry hy onverwagse hulp van die meisie, Eva Jonker, en haar geleerde ou donkie, ou Valetjie. Hy ontmoet ook vir Hendrik Witbooi, met sy strewe om ’n onafhanklike nasie te stig.

Rebel handel oor ’n Kaapse rebel ten tye van die Anglo-Boereoorlog en word in 1970 met die Scheepersprys vir Jeugliteratuur vir Jeuglektuur bekroon. Gustaf Lubeck sluit by generaal Manie Maritz en sy manne aan en hulle behaal groot sukses. Gustaf het sy oog op ’n mooi nooi, maar haar ouers het ander politieke sienswyses as hy.

Die swaard verteer het ’n Bybelse agtergrond, met Joab, die leërowerste van Dawid en ’n groot nasionale stryder vir die eenheid en vryheid van sy volk, se lewensgeskiedenis as tema. Die eerste deel van die verhaal is denkbeeldig en beskryf hoe Joab aansluit by koning Saul se leër en saam met Jonatan veg om die Filistyne uit Israel te verdryf. Hy gaan dan na Gat om sy vader Kaleb, ’n wapensmid, te bevry en word gewond. Ná baie wedervaringe beland hy in Egipte en keer terug om sy volk te verenig en van sy vyande te verlos. Dan volg die geskiedenis van Joab soos dit in die Bybel opgeteken is. Kielblock gee in die boek ’n duidelike beeld van die lewenswyse en gewoontes van die tyd, in Egipte en ou Israel.

Daar het ’n ster verskyn is ’n roman met die Bybelse tema van die wyse manne wat uit die ooste getrek het om die krip in Bethlehem te besoek. Ninda en Isar is twee kinders wat na die verwoesting van hulle dorpie die woestyn tussen Babilon en Damaskus invaar om hulle vader te vind. Hy is een van die kameeldrywers van die wyse manne.

Die helder stad se agtergrond is die Kinderkruistog aan die begin van die dertiende eeu. Die hoofkarakter is ’n jong seun uit die suide van Nederland, Erwin, wat by die Kinderkruistog aansluit op soek na sy pleegsuster Uta. Die Kinderkruistog se deelnemers kom uit die hele Europa en is op pad om die Heilige Land uit die hande van die Turke te gaan bevry.

Verder put hy baie materiaal uit die tyd van die Hollandse besetting van die Kaap. In Die vreemdeling vertel die baasspelerige Abraham Lauffeld vir Jeanne de la Nois dat sy met niemand anders as hy sal trou nie. Sy verafsku hom, veral oor die wyse waarop hy sy teenstanders in tweegevegte om die lewe gebring het, maar weet nie hoe sy hom kan teëgaan nie. Haar broer en voog was volkome in sy mag, terwyl die ander mans aan die Kaap wat haar miskien sou wou help, bang was vir sy invloedryke vriende in die Kompanjie en sy dodelike behendigheid met die swaard. Toe daag die vreemdeling Jan Egmont asof uit die bloute op De Bos op.

Soos water op die grond vertel van die tydperk 1791–1795 en die Slag van Muizenberg waarmee die Engelse beheer oor die Kaap geneem het. Na die Franse Revolusie het die skynvoorspoed aan die Kaap in duie gestort en die burgers besef dat bankrotskap hulle in die gesig staar. In hierdie vroeë roman spreek Kielblock reeds verligte menings oor die rassekwessie uit en word die kleurlinge in ’n positiewe lig gestel. Petrus ten Rhyn neem deel aan die woelinge wat in hierdie jare in die land voorkom en hy het ’n ogie op die mooi Isabeau Bosch.

Adriaan Deneys is ’n geskiedkundig-romantiese verhaal uit die tyd van goewerneur Ryk Tulbagh. Kaptein Deneys moet die geheim van die gestrande skepe oplos. Intussen maak sy verhouding met die mooi ryk nooi Priscilla Reynders nie werklik vordering nie, want daar blyk onoorkomelike struikelblokke te wees.

Twintig Hollandse weesmeisies word in Nooi uit die vreemde na die Kaap gestuur om met onbekende Kompanjie-dienaars te trou. Anna van’t Rode is nie die mooiste onder hulle nie, maar haar sterk persoonlikheid en regverdigheidsin laat Pieter Barentz in haar belangstel. Anna wil egter hê dat Pieter gestraf moet word vir sy onverantwoordelike optrede teenoor die onbekende barones Gerda van Mecklenhof.