Henriette Grové (1922-2009) was ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg, wat in beide genres die Hertzogprys en verskeie ander pryse verower. Sy was getroud met die letterkundige A.P. Grové. Sy publiseer van haar populêre fiksie onder die skuilnaam Linda Joubert.
Lewe en werk Henriette Grové is op 26 September 1922 in die distrik Potchefstroom gebore. Haar moeder is oorspronklik van Duitse afkoms en haar Afrikaanse vader is skoolhoof op Rooipoort, naby Potchefstroom, waar sy haar skoolopleiding begin.Liefdesverhale: http://www.liefdesverhale.co.za/authors/5479
Na haar matrikulasie in 1938 aan die Hoërskool Gimnasium op Potchefstroom studeer sy vanaf 1939 verder aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege en behaal in 1941 die B.A.-graad met onderskeiding in haar hoofvakke Engels en Afrikaans-Nederlands. As gevolg van hierdie prestasie word die magisterbeurs van die Universiteit van Suid-Afrika aan haar toegeken, maar sy wys dit van die hand.
In 1942 verwerf sy die Universiteitsonderwysdiploma. Sy trou in 1945 met die letterkundige A.P. Grové en uit die huwelik word twee seuns, Niek en Alewyn, en twee dogters, Elsa en Mariet, gebore. In die jare 1949 tot 1959 woon hulle in Pietermaritzburg, waar haar man as dosent in Afrikaans en Nederlands betrokke is by die plaaslike universiteit. In hierdie tyd is sy ’n onderwyseres verbonde aan die Departement van Opvoedkunde en werk sy ook by die Durbanse Afrikaanse tak van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) saam met mense soos Monica Breed en Philip Grobleraar. Haar eerste verhale word deur Die Huisgenoot, Die Taalgenoot, Die Brandwag en Sarie gebruik. In 1947 begin sy onder die skuilnaam Linda Joubert publiseer, onder meer die gewilde Meulenhof se mense.
In 1957 verskyn Kwartet waar van haar kortverhale saam met M.E.R., Elisabeth Eybers en Ina Rousseau verskyn. In 1966 ontvang sy die Eugène Maraisprys vir al haar dramawerk, en ’n jaar later word sy met die CNA-prys en die WA Hofmeyrprys vir haar kortverhaalbundel, Jaarringe, bekroon. Sy word twee keer met die Hertzogprys bekroon – eers vir drama in 1981 en daarna vir prosa in 1984. Sy word ook beskou as 'n randfiguur van die Sestigers. Sedert Julie 1959 woon sy in Pretoria, waar haar man eers dosent en later professor is aan die plaaslike universiteit.
Haar man is op 25 Februarie 2004 in hulle huis in Lynnwood oorlede. Sy is op 15 Desember 2009 in Pretoria oorlede.Rademeyer, Alet. Skrywer Henriette Grové sterf. Beeld, 17 Desember 2009
Skryfwerk
Kinderverhale Hoewel sy reeds as jong kind op laerskool begin skryf, is dit eers na haar troue wat sy hierdie ambag ernstig beoefen. Haar eerste gepubliseerde werk is die kinderboeke Die verlore skoentjie (1948), Die avonture van Bimbo, die sirkusbobbejaan (1948), Bimbo en Prins (1950) en Die lui bytjie (1951), wat sy skryf terwyl haar eie kinders nog klein is. Hierna konsentreer sy op die volwasse mark.
Ontspanningslektuur Aanvanklik skryf sy vanaf 1947 ontspanningsverhale hoofsaaklik onder die skuilnaam Linda Joubert en publiseer in populêre tydskrifte soos Die Taalgenoot, Die Brandwag, Die Huisgenoot, Naweekpos en Sarie Marais.
Linda Joubert As Linda Joubert skryf sy ook die romans Meulenhof se mense en Laat lente.Cilliers, Stoffel. Beeld, 23 Maart 2009.
Meulenhof se menseKriel, Sugnet. Inset, Oktober 1961. verskyn in 1956 as vervolgverhaal in Sarie Marais voordat dit in boekvorm gepubliseer word. Die verhaal word in nege briewe vertel wat die onderwyseres Annemarie Herbst aan haar vriend skryf en speel aan die begin van die twintigste eeu af op die Bolandse dorpie De Rust, waar Annemarie in 1904 begin skoolhou. Sy loseer by die drie Vermeulen-susters, waar die opstal al is wat van vervloë rykdom oorbly en die susters diep in die skuld is. Die buurman is Malan du Toit en al persoon wat hulle kan help, maar Sarah Vermeulen sal eerder sterf as om sy hulp te vra. Vyftien jaar gelede was hulle twee op die punt om te trou, maar dinge het toe skeef geloop. In elke hoofstuk vertel ’n ander karakter aan Annemarie wat destyds gebeur het, sodat die gebeure soos in ’n legkaart stukkie vir stukkie in plek val. Dit is ’n verhaal van familietrots, persoonlike trots en tradisie wat die oorhand kry oor medemenslikheid en gesonde verstand. Hierdie roman word vir die radio verwerk en as vervolgreeks oor die senders van die destydse Afrikaanse diens uitgesaai, waarna Stephan Bouwer dit na die koms van televisie ook in ’n televisiereeks verwerk en laat beeldsaai.Cilliers, Stoffel. Beeld, 22 Junie 2009.
Die laat lente handel oor die wewenaar Johannes van Brakel wat vir Lina op’t Hoff aanstel as goewernante van sy oorlede vrou se dogter. Die dogter en haar oppasster is baie vyandig teenoor Lina en die plaasbestuurder beskuldig Van Brakel dat hy sy vrou vermoor het. Lina kry deur haar interaksie met verskillende persone antwoorde op die raaisels van wat werklik gebeur het en vind liefde in die proses. Die oorheersende tema is die mag wat die verlede oor die hede uitoefen.
Die bundel kortverhale Roosmaryn en wynruit verskyn ook onder die naam Linda Joubert en bevat sestien kortverhale wat oor die senders van die SAUK uitgesaai is en in Sarie Marais en Die Huisgenoot verskyn het. Die titel verwys na die soet en die suur van die lewe en het ook ’n suggestie van die teenstelling tussen die ware en die valse en die noodsaak om tussen die twee te onderskei. Oorheersend in die bundel is die motief van verlange na die ver plekke, die eksotiese en die uitsonderlike, met die karakters wat eindelik die oplossing in die aanvaarding van die burgerlike bestaan van liefde en familie vind. So het Ou wyn, Ouma Eileen se hangertjie en Hanteer versigtig dieselfde tema van die meisie wat ontevrede is met haar huidige situasie, maar eindelik tot die besef kom dat sy slegs gelukkig kan wees in haar bekende omgewing. Oor die algemeen munt die verhale uit deur die naïewe verteller se gebruik van geestige en ironiese effekte en die aanwending van die volkstaal, kleurryke idioom en besondere beeldspraak. Die draer beskryf die kleinlike bekrompenheid binne ’n kerkraad. Oom Dirk het weens die geld daaraan verbonde koster geword en as ouderling bedank, maar word nou uitgesluit uit die kerkraad se aktiwiteite. Wanneer hy hoor dat die skoenmaker Hermanus ernstig siek is, hoop hy om verlore aansien te herwin deur as draer by Hermanus se begrafnis op te tree. Met hierdie voorneme kom hy in botsing met ouderling Mans. Oom Dirk is eindelik baie teleurgesteld wanneer hy verneem dat Hermanus beter is. In Die grootwiel vind die hoofkarakter die onsekerheid van ’n avontuurlike lewe sonder geroetineerdheid verkieslik bo sy kleinburgerlike bestaan. Die arme Dorie word opgeneem in die versamelbundel Dames 17 onder redaksie van C.J.M. Nienaber, Die musiekles in Op Afrikaanse werf van A. Schwerdtfeger en N.J. Snyman, Die draer in Mosaïek onder redaksie van J.P. Smuts en R. van Rensburg en Die liefde sal steeds seëvier word opgeneem in Johan de Jager se versamelbundel Allegaartjie.
Kortverhale en vertellings Mettertyd begin Henriette Grové egter konsentreer op ernstiger werk wat tematies meer kompleks is en waarin sy ook eksperimenteer met styl en tegniek. Sy lewer van haar beste werk met die kortverhaal as genre, sommige waarvan in Standpunte gepubliseer word. Haar kortverhaal Die Bethlehemster wat in 1956 in Standpunte verskyn (en later opgeneem word in die versamelbundel Kwartet en haar eie kortverhaalbundel Jaarringe), word deur Elize Botha uitgelig as een van die werke wat die begin van die vernuwing in die Afrikaanse prosa inleBotha, Elize. Prosakroniek. Tafelberg Uitgewers Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1987. bl. 64-68.Die verhaal demonstreer hoe problematies konsepte soos reg en verkeerd en waarheid en leuen is. In die verhaal is die kind Lena die verteller, wie se idealisme in botsing kom met die harde werklikheid van die grootmenswêreld. Uit lojaliteit teenoor haar voorbeeldige maar koue moeder strewe sy daarna om in die Sondagskool die gesogte Bethlehemster van waarheid te verwerf. Sy poog om Dina Swart se stories oor die buite-egtelike verhouding van haar vader as leuens te bewys en so aanspraak te maak op die ster. Lena se waarnemings bevestig egter Dina Swart se stories. In haar vader se nuwe huis ondervind sy egter ’n vreugdevolle en warm atmosfeer, in teenstelling met die koue stilte en afsydigheidvan haar moeder se huis. Lena vertel dan ’n leuen aan haar moeder oor toestande in haar vader se huis om nie haar moeder seer te maak nie, maar verbeur so die Bethlehemster, wat Dina nou beskore is. Hierdie kortverhaal is een van vyf van haar wat in die versamelbundel Kwartet opgeneem word, wat ook kortverhale van M.E.R., Ina Rousseau en Elisabeth Eybers bevat.
Van die ander verhale in hierdie bundel (Kwartet) word ook eers elders gepubliseer, soos Die dag van môre in Sarie. Hierdie verhaal skets die kontras tussen die verteller se mense se spaarsin en veroordeling van uitspattigheid en die De Beers se roekelose maar gelukkige leefwyse. Dit beklemtoon die verskil tussen diegene wat onmiddellike lewensgenot prysgee ter wille van toekomstige finansiële gemoedsrus en diegene wat in die hede lewe.
Die swart haan is voorheen in Die Huisgenoot gepubliseer. Hierin is die verteller ’n buitestaander wat op ’n eiland in Maleisië die Botha egpaar, Frederik en Magriet, ontmoet. Magriet sit haar Suid-Afrikaanse leefwyse voort, maar Frederik gaan op in die sinnelike Oosterse manier van doen. Die swart haan met sy gekraai simboliseer vir hom iets van sy vrou se ordelikheid, wat die magiese bekoring en ritmiese swaai van die danseresse versteur, waarna hy die haan doodmaak. Hierdie spanning tussen ’n ordelike lewe en die drang na ’n eksotiese bestaan vorm ook die kern van die verhaal Die ver plekke. Juffrou Truida is van kleins af spaarsamig grootgemaak en om nie finansiële risiko’s te loop nie. So verbeur sy haar kans op geluk. Wanneer sy vir die tweede keer in haar lewe die geleentheid kry om die eentonige reëlmaat van haar bestaan op te hef en die ver plekke te besoek saam met Willem, die spesiale vriend uit haar jeugjare, besluit sy andermaal daarteen. By sy vertrek draai sy die lamp verder af, waarmee sy in werklikheid wil sê dat sy nie kan bekostig om so “luidrugtig” te lewe nie. Tant Nelie se veerpluime is die verhaal van die baie mooi maar selfsugtige Kittie, wat die hartstog in ’n man se hart kon laat opvlam. Sy wou die prys wen vir die beste gereg en maak die voorwaarde vir ’n huwelik met die jong boer Peet Brink dat hy tant Nelie se veerpluimresep vir haar kry. Peet kry toe met behulp van sy vriendin Ursula die resep en op hierdie slinkse wyse word ’n intieme geheim openbaar. Kittie verklaar toe onverskillig haar toestemming om met die boer te trou, maar hy bedank dit omdat hy voel dit wat sy gedoen het, die prys nie werd is nie. Hy haas hom terug na die meer betroubare Ursula en vra haar eerder om te trou. Die verhaal word aan ’n dogtertjie vertel en dit word duidelik dat dit die storie is van haar pa en ma se verhouding. Grové ontvang die W.A. Hofmeyr-prys saam met M.E.R., Elisabeth Eybers en Ina Rousseau vir Kwartet in 1957 en die Havenga-prys word ook aan hierdie bundel toegeken. Hierdie verhale is ’n belangrike toevoeging tot die kortverhaalskat in Afrikaans en sy volg dit op met nog twee kwaliteit kortverhaalbundels, naamlik Jaarringe en Winterreis.