duimnael|regs|200px|Prof. P.J. Nienaber.
Prof. dr. Petrus Johannes Nienaber (distrik Fauresmith, Oranje-Vrystaat, 1 Oktober 1910 – Bloemfontein, 24 Mei 1995)Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Nienaber,_Petrus_Johannes was 'n Afrikaanse skrywer en een van Suid-Afrika se voorste letterkundiges. P.J. Nienaber sterf op 84 in Bloemfontein, Die Burger, 25 Mei 1995. Hy skryf ook onder verskeie skuilname wat I.R. van Niekerk, Ryno de Villiers en Jac J. Rousseau insluit.
Herkoms Petrus Johannes Nienaber is as derde seun van die Nienaber-gesin gebore. Twee van sy broers, C.J.M. en G.S., was ook letterkundiges. Sy pa, ook P.J. Nienaber, was 'n saggeaarde man wat sy kinders altyd met die woorde "Lekker leer, my kind" aangemoedig het wanneer hy hulle by die skool afgelaai het. In teenstelling met sy pa was sy ma ('n nooi J.P. van der Berg) streng en het geen streke van die kinders geduld nie. Sy het hulle getugtig met die woorde dat sy hulle nie vir die verderf grootmaak nie. Petrus was een van vyf kinders — Hansie, Gawie, Petrus, Stoffel en 'n suster, Louisa.Geni: https://www.geni.com/people/Petrus-Johannes-Nienaber/6000000025906191990 Gawie was die oudste en Petrus moes sy voorbeeld volg. Saans ná ete het die seuns afgedek en die Bybel in sy fluweelsakkie vir die huisgodsdiens nadergebring. Elke seun moes onthou wat voorgelees is. Nadat klein Petrus een sin uitgesonder het, het hy sy vingers in sy ore gedruk sodat hy nie ander aanloklike sinne kon hoor nie. Maar Gawie was die oudste en het eerste geantwoord, dikwels dieselfde sin as Petrus s'n. Hy het grootgeword op die plaas Erfdraai aan die Modderrivier naby Perdeberg in die distrik Boshof. Vir hom was Boshof daar ver na die noorde die einde van die wêreld. Eers op 18 het hy met 'n groter wêreld kennisgemaak toe hy as student Bloemfontein toe gegaan het.
Skoolonderrig regs|420px|duimnael|Die matriekklas van Boshof in 1929. Petrus Nienaber staan regs in die derde ry. duimnael|200px|links|Petrus Nienaber as matriekseun op Boshof in 1929. Tot op ses het hy sy dae as skaapwagter in die veld deurgebring. Toe hy sewe was, het hy na 'n privaat skooltjie gegaan en daarna na 'n skool op Koedoesrand, waar hy by meester J.P. Jacobs die liefde vir die Afrikaanse letterkunde geleer het. Aanvanklik het hy swak gevorder op skool; hy het moeilik leer lees en gesukkel met somme maak. Maar geskiedenis was vir hom baie interessant. Mnr. Jacobs het in sy later skooljare by Petrus, benewens 'n onversadigbare leeslus, ook 'n liefde vir die letterkunde aangewakker. In dié jare het hy elke beskikbare boek gelees — alles wat tot 1925 in Afrikaans verskyn het. Sy broer Gawie het gereeld vir hom boeke van die universiteit af gebring om te lees. Hy het begin skryf en sy eerste verhaal het in Huis en Haard verskyn; daarna het verhale in Die Huisgenoot gevolg. Van mnr. Jacobs het die jong Nienaber Ampie as prys vir 'n opstel ontvang. Sy eerste boek, Op die plaas van (C.M. van den Heever), het hy gekoop met vyf sjielings wat hy present gekry het. Al sy spaargeld is aan boeke bestee.
Sy bekende versameldrang het reeds as seun begin posvat. Elke Vrydag het sy pa Die Landbouweekblad gekry. Petrus het dan dadelik Die Huisgesin, 'n byvoegsel by Die Landbouweekblad, opgeraap en gelees. Al dié eksemplare het hy bewaar en vandag is die volledige stel in die Nienaber-versameling. Vir sy middelbare onderwys is hy Boshof toe. Hy het later vertel: "In st. 6 op Boshof het ek gevrees ek sal die paal aan die end van die jaar nie haal nie. My broer Gawie, toe lektor aan die Natalse Universiteitskollege, het vir my geskryf: 'Doen maar net jou bes, broer. As 'n mens jou plig gedoen het, hoef jy nie ongelukkig te voel as jy jou ideaal nie bereik nie. Wat jy doen, doen dit góéd. 'n Engelse digter het gesê: "If a cobler I am, a good cobler be." Die nederigste werk is nie belangrik nie, maar wel hoé jy dit verrig.'
Sy skoolwerk het soveel verbeter dat hy, soos ook in sy later lewe, daarna werk van hoogstaande gehalte gelewer het. In sy matriekjaar, 1929, het hy sodanig presteer dat die gesogte Thomas Robertson-beurs vir verdere studie aan hom toegeken is. Dié beurs van £50 (R100) is toegeken aan leerlinge wat die beste in matriek gevaar het.
Universiteitsopleiding Petrus Nienaber het in 1930 aan die Grey-universiteitskollegeEsat: http://esat.sun.ac.za/index.php/P.J._Nienaber (GUK, later die Universiteit van die Vrystaat) in Bloemfontein as student in die klassieke tale ingeskryf. In 1932 het hy die graad B.A. met Latyn en Nederlands as hoofvakke behaal en Grieks en Hebreeus op tweedejaarsvlak geslaag. Hy wou predikant word en het die primêre toelatingseksamen vir die Stellenbosse Kweekskool afgelê, maar is intussen deur prof. C.M. van den Heever oorreed om die kursus vir die graad M.A. in Afrikaans te volg. In 1933, die jaar dat die Bybel in Afrikaans verskyn het, skryf Nienaber onder prof. D.F. Malherbe sy M.A.-verhandeling, Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling, wat later gepubliseer is. Daarin maak hy die belangrike stelling dat die Afrikaanse Taalbeweging teen die agtergrond van die Bybelvertaling beskou moet word, wat dus beteken dat die Eerste Taalbeweging 'n uitvloeisel was van die behoefte om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Hy behaal die graad M.A. aan die einde van dié jaar met onderskeiding.
Die herinneringe aan die Universiteitskollege wat prof. Nienaber die langste bygebly het, het hy later gesê, is dié van sy aankoms in Bloemfontein. Hy kon nie 'n huurmotor bekostig nie en het voor die stasie 'n seuntjie met 'n kaskarretjie gevra om sy kis op te laai en tot by die universiteit te trek. Daarvoor het hy hom 'n tiekie betaal. Voor die koshuis Abraham Fischer het die senior studente uitgestorm en by aanskoue van sy sakkie toebroodjies geskree: "Hier kom Padkos ..." Hulle het ook gesê dat hy seker vrekarm moes wees as hy nie eens 'n huurmotor kon bekostig nie. Die volgende dag is hy na die registrateur toe, want hy het £10 gekort om sy studies te betaal; die beurs was net voldoende om sy losiesgeld van £50 te betaal. Maar die registrateur was ongenaakbaar en het gesê Petrus kom "swenk" net voor hom (sy pa het die vorige dag vir hom 'n nuwe hoed op skuld gekoop) en dat hy nie geld het om aan hom te leen nie. Nienaber is toe na dr. S.H. Pellissier, wat hom die £10 teen vyf persent rente geleen het. Dr. Pellissier het hom dit kwytgeskeld nadat hy sy graad behaal het, want sy uitstekende prestasies was vir hom genoeg beloning. Hy is GUK toe met die vaste voorneme dat hy die drie jaar wat hy daar sou deurbring, die beste sou benut. Op skool het hy reeds bewys dat hy hardwerkend was en aan die GUK het hy "begin met 'n ywer en entoesiasme wat sy hele kollege tot eer gestrek het", volgens die Grey-universiteitskollegeblad.
Petrus was nie net 'n uitstekende student nie; hy het ook aan alle studentebedrywighede deelgeneem. Hy het vir die derde en af en toe ook vir die tweede span rugby gespeel en die dameskoshuise "gereeld en met mening besoek", ook volgens die universiteitskollegeblad. Hy het hom ook in die verenigingslewe onderskei. Reeds in sy tweede jaar is hy tot die verteenwoordigende studenteraad verkies en in 1933 is hy met 'n oorweldigende meerderheid tot voorsitter van dié raad verkies. In 1933 het die drie Piete van UKOVS — Piet Meyer, Piet Nienaber en Piet Beukes — met die steun van onder meer Frits Steyn van Tukkies besluit om 'n studenteliggaam naas Nusas te stig. Die Studenteraad het met 'n meerderheidstem standpunt ingeneem teen Nusas, en dit het gelei tot die stigting van die Afrikaanse Studentebond (ASB), waarvan dr. Nic Diederichs (staatspresident 1975–1978) die eerste voorsitter geword het. Nienaber het ook in talle ander verenigings gedien. Hy was onder andere sekretaris van die Letterkundige Vereniging (1933); komiteelid van die ASB-vereniging (1933); voorsitter van die CSV-bestuur (1932–1933); sekretaris van die sosiale komitee (1932); en voorsitter van die Klassieke Vereniging. Hy was ook op die huiskomitee van die koshuis Abraham Fischer, waar hy in dieselfde kamer tuisgegaan het as dr. Diederichs voor hom.
Na Nederland Petrus Nienaber het op 4 Desember 1933 per boot na Amsterdam, Nederland, vertrek waar hy aan die Gemeentlike Universiteit in die Nederlandse taal en letterkunde met byvakke Opvoedkunde en Fonetiek onder proff. A.A. Verdenius en Prinsen sou studeer. Hy het 'n studiebeurs van die Nederlandse regering ontvang wat net aan baie knap studente toegeken is. Tydens die bootreis het hy Bettie Conradie ontmoet van wie hy geleer het dat die belangrik is wié jy in die lewe ken en dat jy jou kontakte moet behou. Oor sy aankoms in Amsterdam het hy die volgende geskryf: "Op Oujaarsdagaand in Amsterdam aangekom. Jan Bouws het my op die stasie ontmoet en na my 'petision' geneem. Daar het my verloofde se lugposbrief gewag. Sy het nie meer kans gesien om jare vir my te wag nie. Buite in die nag was dit spierwit gesneeu. Ek het stadig die straat opgestap: 'n vreemdeling in 'n ou land. Ek was bitter eensaam, ver weg van sonnige Suid-Afrika. Ek was reeds op die Keizergracht. Skielik hoor ek bekende klanke: Afrikaans! Hu11e sing O Boereplaas, geboortegrond. Ek het stilgestaan. Toe volg: Op my ou ramkietjie met nog net een snaar. Daarna Prinses van verre. Sonder om te dink, het ek aangeklop. Later verneem ek dit was die huis van proffie Burger. Daar was ongeveer twintig Afrikaners, mans en vrouens, saam: besig om Oujaarsdagaand te vier. Met gejuig is ek binnegehaal. Weg was my vreemdelingskap! Ek sal 31 Desember 1933 nooit vergeet nie."
Aanvanklik was Nienaber baie eensaam en het hy terugverlang na Suid-Afrika. In dié tyd het hy die roman Die Gebou teen die Bult geskryf wat handel oor die studente by die Grey-universiteitskollege, eens sy alma mater. Dit was die eerste roman in Afrikaans met die studentelewe as tema. Daar was 60 Afrikaners in Amsterdam wat gereeld Woensdagaande by Vondelstraat 60 bymekaargekom het. Daar het hulle pos uit Suid-Afrika ontvang en ure lank oor die politiek geredeneer. Saterdagaande het almal ontspan en bymekaargekom en prof. Benedictus Kok het op sy trekklavier volksliedjies gespeel. Die Nederlanders het nader gestaan aan dié vrolikheid en saamgesing. Piet Meyer het dan onder die toeskouers begin kollekteer en met dié geld is hulle bioskoop toe. Prof. Kok, later rektor van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, het in dieselfde tyd as prof. Nienaber in Nederland studeer. Hul kamers was langs mekaar in dieselfde gebou en 'n hegte vriendskap het tussen hulle tot stand gekom. Toe reeds was Nien, soos sy vriende hom al die jare genoem het, se doelgerigtheid een van sy opvallendste kenmerke. Hy het presies geweet wat hy gaan doen en hy het hom intens daarop voorberei. Wanneer die groot jaarlikse vakansie aangebreek het, het al die Suid-Afrikaanse studente planne beraam vir hul vakansie, planne wat geen verband gehou het met hul werk nie. Maar Nienaber het sy eie koers gegaan. Hy is België toe op soek na bekende skrywers of na Duitsland, waar daar groot boekerye was.
In 1936 het hy die doktorale eksamen (D.Litt. et Phil.) afgelê en daarna per boot teruggekeer na Suid-Afrika. Hy het in 1938 teruggegaan na Nederland en gepromoveer op die dissertasie Die Afrikaanse Romantematologie.
Dosent