Kepler-186f is ’n eksoplaneet wat om die rooidwergster Kepler-186 wentel. Dit is sowat 500 ligjare van die Aarde af en is die eerste eksoplaneet met ’n radius min of meer dié van die Aarde wat in die bewoonbare sone van ’n ander ster gevind is. Nasa se Kepler-ruimteteleskoop het dit bespeur met die oorgangsmetode, saam met vier ander planete wat nader aan die ster voorkom – hulle is almal effens groter as die Aarde. Dit is op 17 April 2014 aangekondig en daarna in die tydskrif Science gepubliseer.
Kepler-186f wentel elke 129,9 dae om ’n ster met sowat 4% van die Son se ligsterkte. Dit kom voor aan die buitenste rand van die bewoonbare sone, soortgelyk aan die posisie van Mars in die Sonnestelsel. Die enigste fisiese eienskap wat direk afgelei kan word van die waarnemings, is die radius van 1,11 keer dié van die Aarde. Dit is dus sowat 11% groter. Dit beteken die totale oppervlakte van Kepler-186f is sowat 23% groter en die volume sowat 37% groter as die aarde s'n.
Bewoonbaarheid thumb|250px|links|’n Kunstenaar se voorstelling van ’n aardgrootte-eksoplaneet in die bewoonbare sone van sy moederster. Dit stem min of meer ooreen met Kepler-186f se bekende data (Nasa/SETI/JPL). Kepler-186f se ligging in sy ster se bewoonbare sone beteken nie noodwendig dat dit bewoonbaar is nie; dít hang ook af van sy atmosferiese eienskappe, wat onbekend is. Die planeet is te ver om sy atmosfeer te bestudeer met bestaande teleskope, insluitende die James Webb-ruimteteleskoop. ’n Eenvoudige klimaatmodel – waarin die planeet se moontlike vlugtige stowwe beperk is tot stikstof, koolstofdioksied en water, sonder inagneming van wolke – dui daarop dat sy oppervlaktemperatuur bo 273 K (0 °C) kan wees.
Die ster se vier ander planete wat tot dusver ontdek is (b, c, d en e, volgens toenemende afstand van die ster af) is te naby aan die ster en dus te warm om vloeibare water te hê. Hulle het waarskynlik ’n sinchroniese rotasie, maar Kepler-186f is in ’n wyer wentelbaan, waar die ster se getykragte baie swakker is. Vanweë die stadige evolusie van rooidwerge is die Kepler-186-stelsel se ouderdom nie bekend nie, maar dit is waarskynlik ’n paar miljard jaar: volgens onlangse studies sowat 4 miljard jaar. Die kans dat dit ’n sinchroniese rotasie kan hê is sowat 50%.
Volgens ’n artikel van 2015 is Kepler-186f, Kepler-442b en Kepler-62f die waarskynlikste planete om lewe te huisves. Studies in Junie 2018 het daarop gedui dat Kepler-186f dalk seisoene en ’n klimaat soortgelyk aan die Aarde s’n kan hê.
Sien ook Bewoonbare sone Superaarde
Verwysings
Eksterne skakels Kepler-186f by "The Extrasolar Planets Encyclopaedia"
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Superaardes in die bewoonbare sone Kategorie:Eksoplanete ontdek deur Kepler