Die Klas 5 is 'n tipe stoomlokomotief wat deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë in die vorige eeu gebruik is. Die klas het vier subklasse. Hierdie klas staan bekend as die Karoo's.

Klas 5A Hierdie klas is 'n Kaapse Regeringspoorweë (CGR)-lokomotief, ontwerp deur H.M. Beatty en gebou deur Kitson and Company in 1903. Die eerste twee lokomotiewe was toegerus met Stephenson skakels en was nie met superverhitters toegerus nie. Die stoomketel moes spesiaal aangepas word om voorsiening te maak vir die groot dryfwiele. Die klas is in 1940 uit diens onttrek.

Klas 5B Gedurende 1904 is nog vier lokomotiewe afgelewer deur Beyer, Peacock and Company. Hulle was soortgelyk aan Klas 5A, maar is geklassifiseer as Klas 5B.

Klas 5BR Klas 5B-lokomotiewe wat nuwe stoomketels benodig het, is toegerus met die standaard nommer 1 stoomketel en hergeklassifiseer as Klas 5BR.

Die hoof-meganiese ingenieur A.G. Watson het ook Klasse 5B en 5BR toegerus met klepsilinders maar nie hulle klassifikasie verander nie. Voorbeelde van die klas het diens gedoen in die Kaap en was bekend in die Strand en Stellenbosch.

Klas 5 en Klas 5R Vier lokomotiewe met groter stoomketels wat effens hoër geïnstalleer was, is afgelewer deur Vulcan Foundry in 1912 en geklassifiseer as Klas 5. Hulle was ook bekend as die Verbeterde Karoo's. Slegs een lokomotief se stoomketel is later vervang en hergeklassifiseer as Klas 5R. Die res van Klas 5 is uit diens gestel in 1942 en Klas 5R het toe diens gedoen in die Strand en Stellenbosch. Later is die lokomotief oorgeplaas na Germiston waar dit diens gedoen het tot in 1969 waarna dit uit diens gestel is.

Verwysings

Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika Kategorie:Treine